waaragtige waarheid daarvan" sal _Piet Retief_ gelees word, want Preller
het daarmee 'n duursame monument opgerig van die wordingstydperk van ons
nasie. Buitendien het _Piet Retief_ deur sy verskyning in 1906 'n
besonder plaas in ons letterkundige geskiedenis. Saam met _Johannes van
Wyk_, wat in dieselfde jaar in boekvorm verskyn 't is dit die eerste
prosawerk van betekenis onder die Twede Beweging.
Kaptein Hindon, (1916).
Dit is die _Oorlogsaventure van 'n Baas-Verkenner_, "'n getroue weergawe
van die middellike dagboek-aantekeninge van die krygsman self."
(Voorwoord). Maar groter waarde het Preller se bewerking: "Die
toevallige omstandigheid, dat die outeur die grootste gedeelte van
dieselfde gebeurtenisse as Hindon--al was 't ook soms op 'n
afstand,--meegemaak 't, (is) vanself bevorderlik gewees aan 'n
lewendiger opvatting by die beskrywing dan anders die geval kon gewees
't; en ... 'n gevolgelik dieper ingeleefde voorstelling." Hieraan is dit
te danke dat Preller se bewerking van die dagboek nie geword 't 'n
eentonige relaas van awonture nie, maar 'n lewendige voorstelling van
belangrike episodes uit die twede vryheidsoorlog. Daarby verloor hy
nooit die historiese verband uit die oog nie, en word al die
alleenstaande oorlogsfeite ingeskakel in die groot geheel. So word dit
'n saamhangende verhaal van die gebeurtenisse tussen 1895 en die vrede
van Vereniging. Deur 'n handige gebruik van Engelse bronne, soos die
outobiografie van Sir William Butler, geluk dit Preller om tallose
belangrike historiese feite te staaf en onverdiende laster aan die kaak
te stel. Onder ander word die opstokery van die Kaffers op oortuigende
manier bewys.
Die tallose heldefeite van Hindon en sy maats word op aanskoulike wyse
beskryf. Dit geld ook veral van die veldtog in Natal, wat met groot
uitvoerigheid geteken word. Vermaaklik is Hindon se awontuur by die huis
van die Middelburgse volksraadslid (p. 291 vlg., 2^de druk). Deur
talryke anekdotes, wat 'n helder lig werp op die toestande tydens die
stryd en die mentaliteit van albei vegtende partye word die beskrywing
van die militêre gebeurtenisse op aangename wyse afgewissel.
Hoe mooi Preller daarin slaag om sy veldslag-indrukke te verklank, blyk
o.a. uit die volgende: "Die eienaardige dubbele koe-ka knal van die
Engelse lee-metfordgewere, wat mens in die begin duidelik kon onderskei
van die dowwe mouser s'n énkele dodelike doef-slaggie, smelt nou saam in
éen gelykmatige kraakgeluid, wat soos springmielies in 'n vetpot sing
deur die laagte en teruggewerp word van die bergkante af, deurmekaar in
'n sware dreuning, waarin net die kanonne-bas naderhand oorheers. By die
skansmuurtjes zip-zip die klein koëltjes teen die klippe, en stukkies
fluit vrolik een-kanttoe, of 't skuur met so 'n snaakse sing-sangetje
skielik deur die lug oorheen, waarvan mens die dodelike vyandskap eers
merk as 't raak is, en 'n man inmekaar sak op die grond, of die fyn
blaartjes van die mimosa-boompies hier bokant afspat, op die vilthoede"
(p. 58). "Bom na bom breek briesend op hul klipskanse uitmekaar, en bars
met brullende giering bôkant hul toegewyde hoofde in nydige
moment-blitse oop, om hul inhoud oor die Boere uit te braak, soms vyf,
ses tegelyk, wat die kante van die kop omkarn in kokende kraters en 'n
onweer van skerwe en rotse opjae." (p. 125).
Baanbrekers, (1915).
Hierdie brosjure, 'n herdruk van _Brandwag_-artiekels bevat "'n
Hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal", waarin die moord van
ag-en-twintig persone by Moorddrif in 1854 en die belegering van
Makapaansgat deur 'n strafkommando beskryf word. By dié ekspediesie was
ook Paul Kruger en besonder interessant is die waagstukke wat van hom
meegedeel word. Preller moet weer verskillende verdraaide voorstellings
weerleg. "Die dinge is verby, en die laster-kampanje het sy uitwerking
gehad. Praktiese, materiële voordeel kan 't nie meer aanbring om 't te
weerleg nie. Tog is 't tyd om, terwille van die waarheid alleen, 'n
oordeel wat op dié manier gevorm werd teen die Boere-volk, in hersiening
te neem, en inplaas van die fantasie-beelde van politieke
feuilletoniste, of die sentiments-oorweginge van 'n wekelike altruïsme,
die onweerlegbare feite alleen te laat spreek" (p. 33). Met die
optekening van so 'n "heroiese insident" het Preller ongetwyfeld nuttige
werk gedoen.
Preller en C.J. Langenhoven het saam uitgegee:
Twee Geskiedkundige Opstelle, (1919).
Eersgenoemde se opstel oor _Suid-Afrika s'n Boere-Republieke_ is 'n
bondige opsomming van die vernaamste feite uit ons geskiedenis in die
tydperk 1486-1910. In enkele pagina's word daarvan 'n handige oorsig
gegee en juis die snelle opeenvolging van die gebeurtenisse laat 'n
sterk indruk van ons "eeu van onreg" na.
Langenhoven gee _'n Paar Algemene Oorweginge omtrent
Geskiedenis-studie_. Met aanskoulike beelde toon hy aan "dat die hele
wilde natuurlewe 'n onafgebroke stryd is" (p. 114.) Een van die
vernaamste stellings in die betoog is "dat die geskiedenis 'n eindelose
ketting is van oorsake en gevolge wat nie plotseling begin en nie
plotseling afbreek nie." (p. 130.) Na 'n paar opmerkings oor die
kudde-instink word die ontwikkeling van ons volksbewussyn geskets en
daarop aangedring, dat geskiedenis-studie meer behoort te wees as 'n
ondersoek van "die blote geraamte van uitwendige datums en
gebeurtenisse" (p. 143). "In ons vurige idealistiese vaart word ons
skielik nugter geskok teen 'n feit van die guurste en nakendste
realisme" (p. 147)--ons honderd-duisend arm blanke naamlik. "Dit is 'n
baie ernstige siekte-verskynsel. Die geskiedkundige moet die diagnose
van die kwaal vind en daaruit moet ons die remedie soek" (p. 154.)
Preller beweer daarenteen in sy _Eksplanasie_: "Die diagnose is egter
die werk, nie van die Geskiedenis nie, maar van die Staat. Die
geskiedenis word eers daaruit opgebou" (p. XII). Preller wil die
statistiese metode van ondersoek op die arm-blankevraagstuk toepas.
Generaal Botha, (1920).
In hierdie brosjure het Gustav S. Preller 'n paar artiekels oor Genl.
Botha verenig. Dit is "meer brokstukke van die boustof (vir 'n
lewensbeskrywing) as dat 't aanspraak wil maak op 'n afgeronde
behandeling." (Voorwoord.) Hy deel dan verder mee dat hy op hom geneem
't "die byeenbrenge van die materiaal vir 'n uitvoeriger 'lewe' van
Suidafrika s'n grootste staatsman". Die brosjure bevat enkele
herinneringe van persone wat Genl. Botha intiem geken 't en 'n herdruk
van 'n artiekel uit _Neerlandia_ deur Dr. J.H. Kiewiet de Jonge. Daar is
meedelings oor die generaal se famielie en kindsdae, oorlogservarings,
sy politiek en huislike lewe. In kleine omvang is heel wat interessants
bymekaar gebring.
* * * * *
Vir die kennis van Preller se letterkundige opvattings is van belang een
en ander uit sy reeks artiekels: _Eerstelinge--'n Persoonlike
appresiasie van J.H.H. de Waal s'n Roman, Joh. van Wyk_. (_De Volkstem_,
18 Aug. 1906 vlg.). _Joh. van Wyk_ is volgens die artiekel "op s'n best
'n vernuftig inmekaar gewarde verhaal van 'n paar mense met hul haat,
afguns en liefde, wat s'n 'boeiendheid' ontleen aan die manier waarop
dit inmekaar geset is, aan die ontknoping en aan 'n gemaklike
verhaaltrant. Die mens-tragedie daarin blyf klein ... die romantiek is
partykeer voos, die stylmiddele gebrekkig, die psychologie hopeloos
vals." Tog kon hy die kulturele waarde van die roman insien: "Dis net
die ding wat ons nodig het om te leer lees. Al die ander sal later kom."
Maar dit is merkwaardig, dat hy van die staanspoor af sy mening sonder
doekies omdraai uit, en sy letterkundige oordeel nie deur bykomstige
omstandighede laat benewel nie. _Eerstelinge_ open die literêre kritiek
van die Twede Beweging op waardige wyse. Onder ons prosaskrywers is daar
seker weinig wat al in 1906 so 'n fors, persoonlike styl had. Wie kon
toe al iets so raak sê, soos die volgende: "Die klompie afgejakkerde
woorde ... wat 'n sukkellewe bymekaar gesweet het ...; Die hele wereld
bekyk hul van die hopie waar húl op staan; ómdat húl die hang anderkant
die bult nie kan sien nie, is die aarde pannekoek-plat op syn pilare
gegrondves." Ook met sy _Inleiding tot Jan Celliers_ in _Die Vlakte_
(1908) het Preller 'n kloek stuk prosa gelewer wat uitmunt deur fris
beeldspraak en kragtige geluid.
Vir sy taalgebruik is die volgende van belang: "Dis glad nie nodig om
voor wat hul taal-barbarisme noem ... juis so wild te wees als 'n
histeriese jong meisie voor 'n groot miskruier-gogga...." En in sy werk
is woorde soos _touchant, subiet, marsiale, parafernalië, imminente,
violente, skrupules_ ens. glad nie skaars nie.[413]
Oor dialoogkuns maak hy die volgende juiste aanmerking: "Dialoogkuns ...
is in algeval nie die nakende natuurlikheid nie; maar, gepaard aan
grondige mensekennis die neerslag van 'n skeppende verbeelding; iedere
stenograaf sou 'n mens kon verseker dat jij die grootste onsin van die
wereld sou hoor als jij presies moes neerskrijf, woord voor woord, wat
daar gesproke word...." Dan leg hy die vinger op 'n tegniese fout, wat
vandag nog deur byna àl ons verhaalskrywers gemaak word: "'n Techniese
fout wat De Waal nou en dan maak is om telkens _self_ so 'n gemoedelike
gesprekkie met sijn lesers te hou, wat totaal nie te pas kom nie." Hy
wys ook daarop dat De Waal "Adam Tas als historiese figuur ... geen reg
laat wedervaar nie."
Die volgende pleidooi vir fris beeldspraak is vandag nog net so nodig
as in 1906: "De Waal sal in sijn latere werke ... 'n groter en 'n warmer
liefde (krij) voor sijn _woord_, voor die afgebeulde, seerrug woord, wat
waarlik tog nie meer kan nie. Die sal hij bêre, en alleen gawe, ronde,
hele woorde inspan, en mooi agtermekaar, so's 'n span breed-gerugde
vaarlandse osse, wat gelijkweg beur om sijn mening te trek en te draag.
'So geseg, so gedaan' ... gaat ons perbeer opvolg, maar als 'n vorm van
uitdrukking voor éwig begrawe, en in die uitbeelding van gedagte en
gevoel gaan ons altijd soek naar die raakste woorde, en al die
verslonste ou plunjes en toiens weggooi.... Gee ons maar 'n kans; ons
gaat ons woorde navoel, en wik en weeg iedereen, sodat iedereen
naderhand weer inbom, en dreun en gons so's die ko'els van 'n pompom, in
plaats van so's 'n uitgewaaide ou stofstorm op ons neer te sak." Word
hier nie op tiepies Afrikaanse wyse die denkbeelde van die Tagtigers
weergegee nie? Dat Preller dit al _aan die begin_ van die Twede Beweging
gesê het, is merkwaardig. En dat die strewe na 'n persoonlike woordkuns
by hom erns was, blyk uit al sy prosawerk. Dit sou seker nie moeilik
wees om daarin ook pagina's aan te wys, wat nie meer as goeie
joernalistiek is nie, bladsye waarin "die afgebeulde, seerrug woord" nog
gemoor word, uitdrukkings met die haastigheid van 'n koerantskrywer
neergeklits. Maar meestal klink uit sy prosa op 'n eie stem en telkens
verras hy ons deur skoonheid van segging en mooiheid van klank.[414]
Omdat by ons nog soveel muwwe, onpersoonlike stylkuns is, so 'n oorvloed
van "verslonste ou plunjes en toiens", of anders aanstellerige
woordpraal, daarom is dit 'n ware verademing om te luister na die
harmoniese deining en wieging, wat Preller se periodes vorentoe stoot.
Hy is ten minste iemand, wat nie sommer die eerste die beste frases wat
in sy gedagte opkom afskryf nie; sy sinne maak nie die indruk van "so
gemaak en so gelaat staan" nie; hy hoor nog die taalklanke, deurvoel die
nog in hul volle betekenis.
Dat Preller historiese gegewens ook kan omwerk tot 'n aangrypende
verhaal, daarvan het hy die bewys gelewer in _Moedersmart_.[415] Op
treffend-realistiese wyse word daarin uitgebeeld die foltering van 'n
moeder, wat die sterwensgeroep van een kind moet veronagsaam om 'n ander
gesonde uit die hande van die kaffers te red. In sy historiese werk word
die moordlustige bedrywe van die kaffers op saaklike wyse meegedeel,
maar hier is dit deur plastiese tekening tot 'n roerende tragedie
gegroei.
Oor Preller se taalgebruik hoef na die genoemde bespreking van Dr. E.C.
Pienaar nie uitgewei te word nie. Op enkele minder mooie uitdrukkings
kan hier nog gewys word: "In die tyd het hy en hy alleen in breë en
diepe trekke in die kinders van Suidafrika _uitgehou_ die wye omvang van
'n selfstandige Afrikaner-nasie" (_P. R._ p. 350); "Die werke van dié
manne ... wat _verminder aan_ die nasionale onbewustheid ... (id. p.
347); "sodat honderde gesinne ... van gebrek sou moes _krepeer_" (id. p.
300); "Die Nylstroom ... wat hier breed is en ruig _bewas_ met bos en
riet; twee stamme ... van die oorspronklike ras _afgespring_
(_Baanbrekers_, p. 9, 12); "g'n kopere _bendes_ om begeestering van
buite in of uit te blaas nie" (_K. Hindon_, p. 31); "dan kan jy enige
tyd jou weg uitkry" (id. p. 293); "In die verdere loop van dieselfde
gesprek sê hy te glo, dat...." (id. p. 317); "Weinig wonder, dat baie
van hulle die voorkeur daaraan gegee het...." (_Trigardt_, LXXIII); "die
welsprekende wond in sy hofie" (_Moedersmart_).
§ 3. J.H. Malan.[416]
Boer en Barbaar, (1913).
By die twede druk in 1918 het Malan sy werk in omvang byna verdubbel. Hy
gee "die geskiedenis van die Voortrekkers tussen die jare 1835-'40 en
verder van die kaffernasies met wie hulle in aanraking gekom het," soos
die ondertietel lui. Dit is "volgens sy beskeiden mening, ('n) volledige
geskiedenis van die eerste Voortrekkers tydperk" (p. IX).[417]
Malan begint met Slagtersnek, bespreek die oorsake van die Groot Trek
breedvoerig, asook die kafferoorloë van dié tydperk. Hoofstuk V bevat 'n
kultuur-historiese beskouing, waarin uitvoerige meedelings oor vee- en
wynboerdery voorkom en 'n beskrywing van die huislike lewe van die
Afrikaner tydens die Trek. Dan volg 'n oorsig van die eerste trekke
onder Trigardt en Van Rensburg, en 'n breedvoerige verhandeling oor die
verhoudings, oorloë en swerftogte van die talryke kafferstamme, asook
die betrekkinge van die emigrante met hulle. Groot aandag word ook gewy
aan die optrede van die Engelse en Amerikaanse sendelinge. Vervolgens
kry ons 'n breedopgesette geskiedenis van al die ander trekke, die
opkoms en ondergang van die Soeloenasie, die eerste Engelse kolonie in
Natal, die moord van Retief met die daarop volgende moorde en veldtogte
en die vestiging van die Boere-republiek in Natal. As aanhangsel volg
nog 'n verhandeling oor die argitektuur in die westelike provinsie.
Sedert 1901 is Malan besig met sy ywerige navorsingswerk en die groot
aantal bronne deur hom ondersoek getuig van 'n onvermoeide vlyt en 'n
hartstogtelike speursin. Hy het dan ook heelwat interessants en
belangriks opgediep uit die voortrekkersperiode. Maar tot die historisie
wat die uitkomste van hul ondersoek in skone vorm weet om te werk
behoort Malan nie. Sy styl mis artistieke kwaliteit en die gawe om op
helder, logiese wyse die gang van 'n groot beweging te teken, ontbreek
by hom maar al te dikwels. Die beeldende fantasie, wat al die tallose
feite en besonderheidjies moet orden en rangskik, sodat dit tot 'n
grootse tafereel vergroei, die besielende asem wat die stof van die ou
foliante wegblaas en die vergete helde in lewende lywe voor ons laat
staan--die besit Malan slegs in geringe maat. Dit help nou eenmaal nie
om net te praat van "die hartroerendste episodes" (p. 286),
"onuitwisbare tonele" (p. 299), "hartdoorborende reise" (p. 301),
"ontsettende toestande", "verbryselde manne" (p. 302), want dit is tog
maar niksseggende woorde, só banaal, dat dit ons alleen hinder. As die
toneel dan werklik "onuitwisbaar" is, teken dit dan in al sy kleure en
geure, in al sy roerende droefheid, met al sy tragiese nasleep, sodat
ook óns daar iets van kan voel. Toon ons die ding self, moenie net
daaroor praat nie. Want Malan wil meer gee as 'n gekatalogiseerde
feiteversameling of 'n wetenskaplike verhandeling. Hy raak telkens aan
die moraliseer en wys op die deugde van die voortrekkers, wat dan met
die teenswoordige sedebederf gekontrasteer word. (o.a. p. 317-8). Die
geskiedenis is vir hom "die leermeesteres des lewens" (p. 396). As die
nageslag "afdwaal van die eienskappe van welvoeglikheid, statige
fatsoenlikheid, ysterklip karakter en godsvrug van ons wegbaners", dan
raak hy op die pad wat lei "tot ondergang en vernietiging".
Malan probeer ook om deur te dring tot die gevoelslewe van die
trekkers. Hy laat vir 'n paar bladsye die kroniekstyl met al sy feite en
syfers staan en beskryf "die laaste aand" in die ou Kaapse woning (p.
136 vlg.).[418] Hier sê hy nie: "Niemand kan sig inbeel, welke tonele
deur die brein van elkeen ... gevlieg het" (p. 285); hy is nie meer 'n
blote toeskouer op 'n distansie van 'n "onuitwisbare toneel" nie, maar
die trekker self wat afskeid neem. Omdat hy die geval werklik deurleef
het in sy eie gemoed, daarom hoor ons ook die ontroering in sy woorde,
al stuit ons taalgevoel telkens op wanklanke en al verdwyn die
weemoedige stemming geheel en al deur so 'n potsierlike beeld: 'n
Maanstraaltjie is "_'n teken van die Ewigheid, sag, op wolle slippers
wadend oor die menslike stipjes_...."! (p. 140). Daar is nog tallose
voorbeelde van viesie-verknoeiing, o.a.: "'n hartebranding, wat
onuitspreeklik was" (p. 275); "snoewende woordegloed" (p. 398); "Shaka
rol die golwe van kaffers oor die Drakens Berre soos 'n grote bosbrand"
(p. 156); ens.; ook onbeholpe uitdrukkings soos: "'n diepheuse buiging"
(p. 123); "geen Britse leërmag met hulle destyds verwaande
Europees-Waterloo militêre geflikker.... (p. 348); hy "was bestemd, om
die finale verwoesting van Dingaan se kolossale mag ... te help
vernietig (p. 381); die gevolg was 'n sieklike jammerte ... wat as 'n
hitte stroom deur Europa gestroom het...." ens. (p. 49); "hy had egter
intussen 'n groot verlies van bloed wat die mensliewende, dappere
Afrikaner in 'n floute skok (p. 310). Die onbeholpenheid bereik sy
toppunt in onleesbare sinne: "Piet Retief was seker een van die
merkwaardigste leiers onder die voortrekkers gewees en besonder bekwaam
en--lankmoedig sowel as takvol om oor die grootste swakhede, veral in
die begin, onder die emigrante: 'n volslae gebrek aan disipline, sug
naar eer en 'n possie bekwaam of onbekwaam, te kom." (p. 186.) "Stuart
vertel, dat die weduwee van P. Retief, wat 'n nooi de Wet was, en na
eers met Jan Greijling gehuud te wees, na sy dood met P. Retief in 1814
was getroud, en dat hy in 'n huis aan die Mooi Rivier die veldfles van
Piet Retief aan die muur het sien hang, synde in die huis van die heer
H.S. Lombaard en daarop was die simbole van vrymetselary te sien" (p.
289). Sulke voorbeelde van 'n verwronge, hopeloos verwarde sinsbou staan
by klompies op byna iedere bladsy. Skoonheid uit letterkundige oogpunt
hoef ons seker nie te soek in 'n boek waar die argitektuur van die sinne
so 'n gaotiese warboel is nie--'n ordelose hoop klippe van alle
moontlike soorte,--agteloos op mekaar gesmyt, sonder vaste plan, sonder
sierlike lyne. Watter fyngevoelige leser sal nie struikel oor sinne soos
die volgende nie: "Ek het dadelik enige poorte van die laer laat
opemaak, skryf hy op die 23^ste Des., 1838 naar Kaapstad en verskyn in
die _Zuid-Afrikaan_...." (p. 349); "Hulle noem die raad deur 'enige
persone' te syn gekies." (p. 202); "Op die 28^ste Jan., 1837 was ... die
Kommando terug, sonder een enkele man, behalwe vier van Moroko se
Barolongs gesneuwel, verlore te hê." (p. 186); "toe Paul Kruger hem die
hand in sy stoel gesete en waarom sy kinders en kindskinders geskaard
was, druk, ..." (p. 147).
Dan is daar nog staaltjies van mislukte hoogdrawendheid soos: "Die
_Mayflower_ kwaker pelgrimvaders is nou verander in 'n weelde baaiende,
onsindelikheid en bedrog...." ens. (p. 133).
Die taalkundige sal ongetwyfeld 'n paar wavragte onkruid in Malan se
akker kan oplaai. Hier kan alleen gewys word op die storende inwersie
van onderwerp en gesegde wat dwarsdeur die boek voorkom, om van ander
foute in die sinstelling en onafrikaanse wendings nie eers te praat nie.
Tot die anglisismes behoort o.a.: "'n warme tyd" (p. 30); "die Londen
Sending Genootskap" (p. 35); "China skoteltje" (p. 132); "Wat die
opvolging van Shaka betref, het Mbopa vir Mahlangana vals gespeel" (p.
235).
Wat ook al die streng-historiese waarde van _Boer en Barbaar_ mag wees,
dít staat in elk geval vas: deur sy gebrekkige styl en taal is die
letterkundige waarde daarvan gering. Laat ons hoop dat die boek van
Malan, wat met soveel toewyding gewerk 't en daarby gewillig was "to
scorn delights, and live laborious days" vir die historikus groter
waarde het. Deur die belangstellende leek sal dit meer geraadpleeg as
gelees word.
§ 4. Dr. S.P.E. Boshoff.
Stephanus Petrus Erasmus Boshoff is in 1891 gebore op Vaalbank, distrik
Senekal. Eers het hy in die Boland skool gegaan en later na die Grey
Kollege gekom. Na sy M.A. eksamen in 1912 het hy aan die Uniwersiteit
van Amsterdam in die Nuwe Lettere gestudeer. Met die uitbreek van die
oorlog het hy na Suid-Afrika teruggekeer en daar deelgeneem aan die
rebellie. Sy ondervindinge op kommando en in die tronk het hy beskryf in
_Vaalrivier, die Broederstroom_ (1916)[419] en _Rebellie-Sketse_ (1918).
Na die troebele is hy aangestel as professor aan die Potchefstroomse
Uniwersiteitskollege. In 1921 het hy sy studie in Amsterdam voltooi en
_cum laude_ gepromoveer tot doktor in die Nederlandse Taal en Lettere op
'n dissertasie: _Volk en Taal van Suid-Afrika_.
Hy sê self "dat hy hom nog nie en miskien nooit sal reken tot die
Afrikaanse skrywers nie. Wat hy doen is maar houthakkers- en
waterputterswerk vir ons ontluikende letterkunde" (_Die Brandwag_, Des.
1918). Hy is in die eerste plaas dan ook filoloog, en sy dissertasie is
'n monumentale werk, die vrug van jarelange arbeid. Ook uit bowegenoemde
sketse blyk sy voorliefde vir taalkundige waarneming. In samewerking met
L.J. du Plessis het hy ook uitgegee twee deeltjies _Afrikaanse
Volksliedjies_, 'n versameling van piekniek- en minne-rympies. Die
inleiding getuig van onvermoeide nasporingsywer op die gebied van
folklore. Meer as een fyn liedjie, wat in een of ander uithoek van ons
land lê en roes, sal deur die bundels algemeen bekend word.
Van Boshoff het verder nog verskyn 'n toneelstuk _Jannies, Johnnies en
Jantjies_ en 'n gewysigde bewerking van Ds. S.J. du Toit se _Magrieta
Prinsloo_. Hy is onlangs tot lid van die Leidsche Maatschappij benoem.
Vaalrivier, die Broederstroom en Rebellie-Sketse.
_Vaalrivier_ behandel veral die laaste dae van Generaal C.F. Beyers,
terwyl _Rebellie-Sketse uit my Dagboek 1914-1915_ verskillende gevegte
en ook die tronklewe beskryf. Dit is feitlik alles persoonlike
ervarings, wat die skrywer meedeel en hy doen dit op 'n aangename
verteltoon, in 'n goed versorgde styl. Hy het daar mooi in geslaag om
die taamlik eentonige militêre en topografiese meedelings af te wissel
met lewendige dialoog, waardeur ons 'n goeie kyk kry op die stemming
onder die burgers. Veral die beskrywing van die tronklewe munt uit deur
aanskoulikheid en raak humor. Mooi staaltjies van boerekwinkslae word
ook gegee en o.a. die knaende rooklus goed uitgebeeld. Daar is burgers
wat selfs van die dominee twak kry "want die predikante was prakties en
hul roltwak was gewoonlik langer as hul predikasies" (_R. S._ p. 132).
"Na die preek kon 'n mens dan ook gewoonlik 'n gelukkige roker hier en
daar onder die skare onderskei aan die blou rookwolkies om hom heen, en
aan die streep minder gelukkige broeders, wat agter hom aanstryk om tog
maar net die ruik van die rook te kry." (t.a.p., p. 133.) Daar is meer
sulke voorbeelde van goeie waarneming, wat getuig van intieme kennis van
die boere-mentaliteit. Die rake slag, waarmee sommige persone uitgebeeld
word is 'n aanduiding, dat die skrywer ook op die gebied van die roman
sukses sou hê.