geproes, waarmee hy eers die seekoeitjie wou uitlok, onderwyl hy
opgewonde op die oewer ronddrentel en die sagte brak vol ronde
spoortjies trap, het langsamerhand, namate sy maat verder en verder
swem, in 'n smekende gepiep oorgegaan.... Nog 'n rukkie staan die donker
figuurtjie daar op die wit brak, af en toe sag kwiekende onderwyl hy oor
die water staar, die knoestige koppie vooruitgestrek in 'n poging om
verder te sien met die klein ogies. Eensaam en verlate genoeg lyk hy,
met sy kneukelige dik lyfie, gerimpelde moddervelletjie en swaarmoedige
renostergesiggie" (p. 204-6). So vind Sangiro vir al die woudbewoners
die juiste, tekenende woord. Van 'n gekweste seekoei kry ons die
volgende realistiese skildering: "In stomme wanhoop-staar hang die
massiewe kop omlaag, die verbryselde kakebeen bloederig-kwylend in
aanhoudende vergeefse poginge om tande op mekaar te knars." (p. 225.)
Ook die atmosferiese verskynsels, die tropiese sonsondergang, die
miswolke teen die hang van die berge, die sombere reënseisoen laat
Sangiro in fyn stemmings-beskrywinge vir ons leef. "Dae het verbygegaan,
en nog duur die sonskyn. Met die groei van die maan het die weer skielik
verander, en na 'n week van woeste, stikdonker nagte en droefskemerige
reëndae wasem die oerwoud weer geur uit onder 'n sonnige safierhemel; en
wellustige dae word gevolg deur toweragtige maanlignagte, wanneer
vuurvliegies oor 'n misties-glimmende watervlak dans en dowwe
eggo-klanke van nagdiere onder 'n donker, vogtige oerwoud rondom
weerklink." (p. 229.) Mens voel dat die skrywer sy gedagtes gekoester
het, sy woorde liefhad en hul met sorg neergeskryf 't. Daar is 'n
vloeiende buigsaamheid, 'n musikale streling in sy sinne. Telkens word
ons verras deur raak seggingskrag en fyngevoelige uitbeelding, sonder
dat aanstellerige en bygemaakte woordpronksels die klare eenvoud van sy
styl bederf.
'n Enkele maal skryf hy aan die diere miskien te spesifiek menslike
gevoelens toe, en soms twyfel ons aan die juistheid van sy psigologie.
"Die renostertjie (staan) nog snuiwend in die rondte, gereed om te storm
... en heeltemal seker dat hy nou vreeslik boos en luidrugtig is." (p.
233.) In so 'n geval bring die skrywer sy eie waarneming op die dier oor
en oortuigend is dit seker nie. Maar daarteenoor staan, dat hy hom so
ingeleef het in die diereverstand, dat sy intuïesie hom selde op 'n
dwaalspoor bring.
Oor die beeldspraak nog 'n opmerking: maak dit nie 'n komiese indruk
nie, as ons lees dat renosters "in alleryl die _hase_pad gekies het"?
(p. 188.)
§ 2. Hans Anton Aschenborn.
Aschenborn is in 1888 gebore in Kiel. Sy vader is 'n Duitse admiraal.
In Mecklenburg het hy op 'n groot landgoed prakties leer boer. Van Prof.
Burmester in Kassel het hy skilderles gehad en sedert 1910 boer en
skilder hy in Suid-Wes-Afrika. Op die gebied van die artistieke
afbeelding van ons wilde diere is hy 'n baanbreker en verskeie uitgawes
is al deur hom geïllustreer.[400] In 1921 het verskyn: _Uit die Lewe van
'n Gensbok_, die eerste van 'n reeks, waarin Aschenborn ook die koedoe,
wildebees en eland wil beskryf en afbeeld. "Die gensbok het ek op my
plaas in Suid-Wes so noukeurig gadegeslaan, dat hy vir my 'n intieme
vriend geword het", verklaar hy in sy voorwoord. Maar so 'n
woordkunstenaar soos Sangiro is hy nie. Sy boekie is van meer betekenis
vir die skilderkuns as vir die letterkunde. In eenvoudige, soms
gebrekkige taal skets hy 'n paar insidente uit die lewe van 'n gensbok.
VOETNOTAS:
[391] Oorspronklik in _Die Huisgenoot_ verskyn.
[392] Over Literatuur, Twede Bundel: _Pit-tah, De Grijze Wolf_, door
Jack London, p. 205 vlg.
[393] _Friday Nights_: Hudson's "Nature Books," p. 15 vlg.
[394] Vgl. J.H. van den Bosch, Inleiding by Hooft's _Granida_, Zw.
Herdr.
[395] Garnett, t.a.p.
[396] Wanneer hy ons in sy voorwoord verseker, dat die verbeelding geen
rol speel nie, dan bedoel hy alleen dat sy interpretasie op self
waargenome feite berus.
[397] _Het Intieme Leven der Vogels_, p. 221.
[398] Edward Garnett, t.a.p.
[399] Vgl. o.a. p. 83 vlg.
[400] Ontleen aan _Die Huisgenoot_ Des. 1920.
HOOFSTUK IX.
Reisbeskrywing.
§ 1. A.J. Jacobs.
Reisavonture op Land en See deur 'n Dómine, (1920).
Volgens _De Goede Hoop_, Augustus 1919 is _Dómine_ die skuilnaam van
A.J. Jacobs. Hy het oor Madeira 'n reis gemaak na Buenos Aires en
vandaar na die Boerekolonie in Argentinië om vir die geestelike belange
van die uitgewekene te sorg. 'n Lywige boekdeel het hy nodig om al sy
ervarings te vertel. En dan betreur hy dit nog, dat hy nie alles haarfyn
kan meedeel nie! "Dis tog jammer dat hulle nog nie 'n instrument soos 'n
gramafoon uitgevind het nie, wat mens op reis by jou kan dra nie. Dit
moet nes 'n sakkamera wees en daarmee moet mens _alles wat jy hoor kan
opvang en bewaar_. Daar gebeur so baie dinge, wat mens hoor en dis
moeilik om alles akkuraat weer te gee."[401] Die neiging om _alles_ mee
te deel is juis _Dómine_ se fout. Hy veronderstel, dat tallose
besonderhede, wat vir hom persoonlik van belang is, ook die leser sal
interesseer en weet eenvoudig van geen ophou nie. En dit is jammer, want
hy het ongetwyfeld slag om 'n anekdote smaaklik te vertel, soms met so
'n droog-humoristiese draaitjie, dat iedereen daarby moet glimlag. Maar
sulke onderhoudende gedeeltes lê diep toegepak onder wavragte van
onbelangrike sake. So kry ons b.v. allerlei banaliteite oor die _Saxon_;
tot selfs die tonnemaat van die skip word meegedeel! (p. 18.) Soms lyk
dit of die skrywer hom 'n klein agterveldse leserskring voorstel, wat hy
met groot syfers kan dronkslaan! Is dit nou nodig om nog in 1920 te
vertel: "Eendag is die pond sterling veel meer waard as op 'n ander
keer"? (p. 61.) Dit is maar een voorbeeld van die tallose uitweidings,
wat allermins op 'n fris oorspronklikheid kan aanspraak maak en
eenvoudig 'n herkouery van oorbekende sake word.
Soms lyk dit weer of die skrywer 'n handleiding vir toekomstige
emigrante wou skryf.[402] Hy gee selfs kook-resepte![403] En so word sy
reisbeskrywing 'n sonderlinge byeenskraapsel van allerlei wysheid.
Dat _Dómine_ op spellinggebied geen deskundige is nie, blyk al uit die
tietel van sy boek. Afgesien van die tallose drukfoute kry mens op byna
iedere bladsy rariteite soos die volgende: "vollende, dokse, hemdjie,
kerritse, nuwes, baik, stadte, raste (i.p.v. rasse), geflatter" ens. Ook
anglisismes is volop en dwarsdeur die boek stuit mens telkens op sinne
waarin die negatief, woordskikking en voorsetsels verkeerd is. Lomp
uitdrukkings soos "puur bloed inboorlings" (p. 169), "die besnedenis van
sy gesig" (p. 148) ens. toon duidelik, dat _Dómine_ sy taal glad nie
beheers nie. Hoe sou hy anders so iets, soos die volgende kan skryf:
"Verre van in 'n soort afsondering, as in 'n groewe, vas te sit, het
hulle met hul sedelike en nywerheids talente gewoeker. Die rykes het die
armes voortgehelp deur onderlinge geselskappe om hout te saag, land van
bosse rein te maak en alle soorte ambagte te beoefen." (p. 184.)
Natuurbeskrywings kom daar baie in die boek voor, maar gewoonlik word
die land uit die oogpunt van 'n boer gesien. "Die plek waar ons sou
staan, was besonder waterryk; groot kuile en helder strome loop deur die
ganse breedte van die kañedón of vlei. 'n Boer se hart sal bly word, as
hy die rykdom van gras en water kan aanskou" (p. 227). Hy is gedurig in
die stemming van 'n boer, wat 'n nuwe landstreek opneem om die beste
plek vir 'n plaas uit te soek, en ondertussen bereken watter soort
boerdery daar die voordeligste sal wees. In 'n handboek vir emigrante
sou sulke aanwysings seker onmisbaar wees, maar die skrywer wou tog iets
anders gee. As hy by die glanspunt van sy reis kom, en sy tog oor die
mere en deur die oerwoude moet beskryf, is hy 'n opmerksame toeris, wat
gedurig syfertjies en berekeninge in sy sakboek opteken. "Die formasie
van mere tussen hoë berge is in veel opsigte merkwaardig. Op gesag van
Delgado weet ek dat hierdie een 12,000 vt. bokant die oppervlak van die
see geleë is" (p. 174). Gevoel vir skoonheid het hy ook, maar wanneer
dit tot uiting kom, blyk sy volslae magteloosheid as taalkunstenaar.
"Alles skyn omtower in iets onnatuurliks, denkbeeldigs, fantasties!...
Nee, geen kunstenaar kan op die doek verewig, wat daar ieder dag
afgespeel word nie. Die Skepper wat daardie _onbeskryflik heerlike
gloed_ van lig as met 'n towerslag op berg en bos heenwerp ... laat Sig
nie naboots nie!... Bokant ons hoofde _ver_skiet bundeltjies
agterblywende sonstrale _ver_by.... Dit word aand en die stil maar _guur
lug voel skerp_ teen hande en gesig.... Van alles wat mens sien en
ondervind, skyn die bloedsomloop vinniger en warmer in sy werk te gaan:
_geen_ honger of _koue_ hinder in hierdie towerwêreld nie...."[404] Wie
sou nou in só 'n omgewing praatjies verkoop oor honger, kou en
bloedsomloop--en nogal teenstrydige praatjies ook! "Majestueuse en
reuse-berge, ontsaglike kratermond, onpeilbare diepte, toweragtige
effek" ens.--dit is almal holle frases, wat ons gladenal nie kan ontroer
nie.
By die beskrywing van die oerwoud kom die sakboekie weer te pas. Die
"sirkelvormige bek van die onderaardse blaasbalk ('n krater) moet enorm
groot wees ..." (p. 177); ongelukkig kon _Dómine_ hom nie meet nie! Maar
die bome is 150 vt. hoog, die uitholling vir die pad 20 vt. diep en die
boomstamme lê 15 vt. dik op mekaar gestapel in 'n moerassige plek. "Een
boom was 6 vt. dik, as die vet humus van varens en struikgewas wat
daaraan kleef, meegereken word". Sulke duimstokbeskrywings kan nou
eenmaal geen "onvergetelike afdruk op die geheue" maak nie. Dit doen
_Sangiro_ wel, al meet hy sy bome nie.
Beter slaag _Dómine_ as hy die toestande en gewoontes in Suid-Amerika
beskryf. Hier val sy neiging om oor-akkuraat te wees nie so in die oog
nie. Ook die ervarings van die trekkers en hul moeilikhede in die
vreemde land het hy op lewendige wyse geteken.
VOETNOTAS:
[401] p. 85. Ek kursiveer.
[402] Vgl. o.a. p. 103 vlg.
[403] p. 173.
[404] p. 175. Ek kursiveer.
HOOFSTUK X.
Historiese Prosa.
§ 1. Inleiding.
Reeds voor die oprigting van die _Genootskap van Regte Afrikaners_ het
'n paar voorstanders van die moedertaal gewerk aan _Die Geskiedenis van
ons Land, in die Taal van ons Volk_.[405] By die verskyning van die boek
in 1877 word opgemerk: "Engelse, mar gen Hollanse Geskiedenis van ons
land bestaan daar tot nog toe. En dat ons op die Engelse Geskiedenisse
nie so mar o'eral kan afgaan nie, sal elke leser wel sien voor hy ons
boek uitgelees het." Nog lange jare het dit geduur voordat Theal en Cory
dié uitspraak in sy algemeenheid geloënstraf 't, en telkens moet ons
historisie nog optree teen 'n uitgebreide laster-kampanje. Preller het
op een van die oorsake daarvan gewys in die voorrede by die sewende druk
van _Piet Retief_ (1911), waar sprake is van "die gaotiese en primitiewe
toestand waarin ons openbare dokumente-versamelinge asnog verkeer.... As
die dokumente beskikbaar was ... dan is daar net een geskiedkundige
waarheid bestaanbaar; dié naamlik, wat stap vir stap gesteun staan op
die oorspronklike stukke."[406] 'n Stelselmatige geskiedverdraaiing
wortelende nie alleen in politieke animositeit nie, maar met voorbedagte
rade as politieke wapen gebruik--dit is een van die grootste prikkels
wat tot historiese studie aangespoor 't. Die navorsingswerk van ywerige
historisie met liefde en groot opoffering gedaan, het 'n felle lig
gewerp op ons _eeu van onreg_. Onder sulke omstandighede is dit
verstaanbaar dat naas die besadigd-wetenskaplike weerlegging ook die
bitterste verontwaardiging opgelaai het.
Die verhoogde belangstelling in ons vaderlandse geskiedenis is 'n uiting
van die groeiende volksbewussyn, want eers wanneer 'n nasie volkome
oortuig is van sy eie selfstandigheid ontwaak die begeerte om die helde
van die wordingstydperk te eer. Die grootste gedeelte van ons historiese
prosa bestaan dan ook uit biografieë. Rondom groot figure soos Piet
Retief, President Steyn, Generaal De Wet en ander word die geskiedenis
van 'n hele tydperk gegroepeer.
Die historisie wat daartoe bygedra het om die eer van ons nasie te
rehabiliteer en aan die volk 'n gevoel van eiewaarde en selfrespek te
gee kan reken op die eerbiedige hulde van 'n jonger geslag, wat nog maar
gister verlos is van die benoude nagmerrie van hul skooljare. En hul
aantal is veel groter dan die wat vir die volgende paragrawe in
aanmerking kom. Hier word alleen 'n oorsig gegee van die vernaamste
historiese werke in Afrikaans onder die Twede Beweging en 'n ondersoek
ingestel na die _letterkundige_ gehalte daarvan, 'n Bespreking van die
historiese waarde val buiten die kader van hierdie werk.[407] Dit spreek
natuurlik vanself, dat ook die dorste kroniek vir die historikus groot
waarde kan hê.
Die herstelling van die Voortrekkerskerk in Pieter-Maritzburg en die
inrigting daarvan as museum, die Vroue-monument en tallose ander
gedenktekens--dit is maar 'n paar bewyse, dat die Afrikanervolk ontwaak
tot 'n besef van die betekenis van sy nasionale verlede. Die oprigting
van die Historiese Bond in 1920 met die doel om bronne op te spoor en te
versamel, die tiende druk van Preller se _Piet Retief_ in dieselfde jaar
is ook tekens in dié rigting, terwyl op die jaarlikse Dingaansvierings
die tradiesies van die voorgeslag bestendig word.
* * * * *
='n Nuwe nasie het besit geneem van sy erfporsie en is besig om sy
geestelike onafhankelikheid uit te werk! Die Afrikaanse Bestemming is
"wyd en breed soos die Afrikaanse veld=."[408]
§ 2. Gustav Schoeman Preller.
Preller is 4 Okt. 1875 gebore op die Plaas Klipdrif, distrik Pretoria.
Sy oorgrootvader Preller was wat ons ou mense nou nog 'n "blommesoeker"
noem, d.i. natuurkundige. Hy het aan die Kaap gewoon, terwyl die
grootvader veeboer geword 't in Natal, waar sy Friese beeste die aandag
getrek 't. Komdt. Robert Preller ([oorlede] 1916), die vader van die
skrywer het na die Vrystaat verhuis en in die oorlog onder Genl. De la
Rey gedien. Hy was getroud met 'n dogter van H. Schoeman ([oorlede]
1890), wat met die Voortrek saamgekom 't en in die tyd van President
Pretorius generaal en waarnemende president geword 't.
Gustav Preller se eerste herinneringe gaan terug na 'n plaas in die
nabyheid van Standerton, Paardekop, wat destyds aan sy vader behoort 't.
Op sy vyfde jaar is hy te perd met sy vader saam na die Swasielandse
bosveld. In 1886 is hulle verhuis na Rietspruit, ook in die distrik
Standerton. Toe kort daarop hy en sy suster egter moes skoolgaan, het sy
vader die skaapboerdery opgegee en dorp toe gegaan, omdat losjies vir
die kinders nie te kry was nie. In 1891 gaan die famielie na Pretoria,
waar Gustav eers 'n rukkie in 'n Boere-winkel gewerk 't, toe op 'n
prokureurskantoor en later in staatsdiens getree 't. Voordat hy egter
sover was moes hy verskeie jare hard werk onder private onderwysers en
ook daarna het hy sy studie voortgeset. Hy was eerste klerk op die
hoofkantoor van mynwese toe die twede vryheidsoorlog uitbreek. Dié stryd
het hy meegemaak met die derde battery van die staatsartillerie tot vier
maande voor die vrede, toe die hele res van sy afdeling oorrompel en
gevangegeneem is. Na sy terugkoms uit Indië was al wat hy besit 't skoon
weg. Op versoek van Eugène Marais word hy toe redakteur van _Land en
Volk_. Voor die oorlog al het hy dikwels artiekels geskryf vir die
koerante en tydskrifte--dikwels in Engels!--o.a. in _The Moon_ en _De
Pers_. Vir _De Volkstem_ het hy gedurende enige jare al die mynnuus
gelewer en _Land en Volk_ voortgeset tot Maart 1903, toe hy subredakteur
van _De Volkstem_ word, 'n pos wat hy vandag nog beklee. Die meeste
opstelle en stories wat tussen 1905-'10 in dié krant verskyn 't as
feuilletons is van sy hand. Die bekende artiekels getietel: _Knop oor
Landsake_ is ook van hom. Hy is lid van die S.A. Akademie, van die
Historische Genootschap in Utrecht en die Maatschappij van Nederlandsche
Letterkunde. Van hom het verskyn: _Laat 't ons toch Ernst Wezen_ (1905);
_Piet Retief_ (1906); _Baanbrekers_ (1915); _Kaptein Hindon_ (1916);
_Dagboek van Louis Trigardt_ (1917); _Voortrekkermense_ I en II (1918 en
1920); _Generaal Botha_ (1920). Saam met Dr. Engelenburg het hy ook
geskryf: _Onze Krijgsofficieren_ (1903) en _De Familie Kruger_ (1904).
_Charley's Aunt_ het hy vertaal, (_Piet s'n Tante_), _Les Héritiers
Rabourdin_, (_Erfgename van Erasmus_) en _Jock of the Bushveld_ van Sir
Percy Fitzpatrick. Die voortrekkers-rolprent is onder sy leiding
opgestel. In 1919 het hy met C.J. Langenhoven geskryf: _Twee
Geskiedkundige Opstelle_. Op sy aandeel in die taalstryd en sy werk as
redakteur van _Die Brandwag_ is alreeds gewys.[409]
Sy vernaamste werksaamheid is op geskiedkundig terrein en sy navorsings
oor die Voortrekkersperiode veral verseker hom 'n plaas as baanbreker
onder die Afrikaanse historisie. "Uit 'n aantal oorspronklike historiese
dokumente, in die koerant (_De Volkstem_, 13 Des. 1905) openbaar gemaak
... is langsaam gegroei" die kloeke boekdeel _Piet Retief_, waarvan die
oplaag in 1920 al veertienduisend eksemplare bereik 't.[410] "Sedert die
tyd (1905) het daar ander werke van Preller oor die Voortrek gevolg.
Want hy set sy arbeid onvermoeid voort.... Wie op sy studeerkamer kom,
sal kan sien die reeks gekatalogiseerde lewens van Voortrekkers, soveel
moontlik met die portret of portrette van die betreffende man of vrou
daarby.... Preller leef =in=, leef =vir= daardie tyd. Die naspeur en die
bekendstel daarvan het langsamerhand sy eintlike lewenstaak geword,
sodat ons vandag oor die lengte en breedte van ons land tevergeefs sal
soek na die eweknie van Preller as kenner van die Voortrek en sy mense,
tot selfs van die kleredrag wat in die tyd gedra is."[411]
'n Hele reeks belangrike dokumente oor die Voortrek het Preller bymekaar
gemaak in
Voortrekkermense, I en II, (1918 en 1920).[412]
Daarin kom o.a. voor die herinneringe van Van Gass, J.H. Hatting, L.C.
de Klerk, Karl Trichardt, Anna Steenkamp en 'n herdruk van Erasmus Smit
se dagboek. Die laaste is oorspronklik uitgegee deur Ds. H.F. Schoon
(1896). 'n Groot gedeelte van die gegewens het Preller in sy _Piet
Retief_ verwerk. L.C. de Klerk het hy in 1908 "teruggeneem naar die
Natalse slagvelde Van die Voortrek, en dáar ter plase opgeskryf wat hy
daarvan te vertelle had" (I, p. 211). "Hier had ik een van die
Voortrekkers op die eienste grond van die Voortrek; my doel was om, as
't kon, die ander Voortrekkers _as mense_ daar te sien herleef, inplaas
van die steriotiepe "itinerant prayer-meeting", waar ander van vertel."
(id., p. 212.) Die dokumente stel ons in staat "om die Voortrekkers te
leer ken soos hulle hulself gesien het, op die trek, in die laer, op die
jag en in die huislike kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake,
in hul gewoontes en in die kleredrag van hul tyd. Buitendien verskaf 't
uitsluitsel oor tal van belangwekkende historiese gebeurtenisse" (id.,
p. 1). Die krietiese opmerkings van Preller getuig van groot
skerpsinnigheid en 'n intieme kennis van die voortrekkerperiode. In die
twee dele het hy dokumente van die grootste belang op wetenskaplike wyse
uitgegee.
Op dieselfde manier het hy ook (1917) in opdrag van die Akademie
uitgegee die
Dagboek van Louis Trigardt (1836-8).
"Vir die kennis van ons volk besit ons uit die tyd van die Voortrek geen
ander dokument wat hiermee te vergelyke is--die daaglikse aantekeninge
van 'n Afrikaner wat die grote, ja grootse in die historie volbring
sonder dit nogtans as bewuste doel voorop te stel, maar tevrede is om 't
vanself, as dominante gevolg van sy handeling voor 'n dag te laat tree
uit 'n kroniek van die kleine" (p. XI). Preller toon verder aan hoe
belangrik die _Dagboek_ is "vir ons kennis van die inboorling bevolking
van Transvaal, vir verskeie seer merkwaardige historiese uitkomste, vir
(ons) aankomende nasionale letterkunde, vir die volkekundige en ons
kennis van Suid-Afrikaanse meteorologiese toestande." (XII vlg.). Die
belangrikheid van die _Dagboek_ word seker aanmerklik verhoog deur die
voortreflike inleiding en note, asook deur die feit dat die teks op 'n
wetenskaplike wyse behandel is. Ontroering tril daar in die woorde
waarmee die resultate van Trigardt se trek beskryf word: "Die voorste
Voortrek is volbring! Dis slegs 'n Verkenning gewees vir die
Afrikaner,--van die Vryheid en die See. 'n Verkenning egter, net soos
dié van Piet Retief, wat nie vrugteloos is nie.... Hans van Rensburg se
ongelukkige trek had tot eind-bestemming die oseaan; en die 49 manne,
vroue en kinders wat daar aan die Limpopo-boorde geval het onder die
Soeloe-asgaai, was die eerste dúre offer wat die Boere Nasie gebring het
aan 'n ingeskape vryheidsdrang. Trigardt se trek en ál die mensewee, wat
uit hierdie Dagboek soos 'n seëning oor die nageslag saggies snik, was
aangeleg op éen-selfde hoë nasionale Bestemming...." (CXXVI vlg.)
Piet Retief, (1906).
Dit is Preller se hoofwerk, wat hy met jarelange ywer en groot liefde
tot stand gebring het. Alles wat van die groot Voortrekker bekend is
word meegedeel. Maar uitsluitend biografie is dit allermins. Ons kry 'n
volledige beeld van die moeilikhede op die Kaapse grens, die oorsake van
die Trek, die onderlinge verhoudings en geskille tussen die aanvoerders,
die internasionale status en grondwettelike instellings van die
Trekkers, die moeilikhede van hul togte en hul betrekkinge met die
naturelle. Die gebeurtenisse wat aanleiding gee tot Dingaan se groot
verraad word haarfyn uitgepluis en die konklusies van die skrywer se
ondersoek op helder wyse uiteengeset en gestaaf. Ook die gebeurtenisse
na Retief se moord tot aan die Bloedrivierslag word beskryf en die
betekenis van Retief se optrede bepaal.
Dit gaan uiters moeilik om objektief te staan teenoor 'n boek soos _Piet
Retief_, want die tragedie daarin uitgebeeld is op sigself al só roerend
in sy dramatiese afwikkeling en só betekenisvol vir die lot van ons
nasie, dat selfs 'n uitgedroogde kroniekskrywer sonder 'n vleugie
verbeelding nog daarin sou slaag om ons die grootsheid van die
worsteling te laat gevoel. Dit het Preller blykbaar ook besef, want hy
gee 'n onopgesmukte verhaal, in sober gehoue styl waarin die tragiese
gebeurtenisse self tot hul reg kom, sonder dat die aandag afgelei word
deur bykomstige woordfraaiigheid. Treffend is dit veral by die
hoogtepunt van die verhaal, waar in die beskrywing van die oorrompeling
deur die dansende kaffers alleen 'n joernalistieke draaitjie in die styl
hinderlik is. In 'n _Volkstem_-artiekel mag so 'n uitdrukking soos "die
welwillende leser" (p. 272, 10^de dr.) op sy plek wees--híer seker nie!
Nadat die posiesie van die _dramatis personae_ aangegee is, word die
dansbeweging mooi beskryf:
"Drieduisend pare voete kom in forse beweging om tyd te hou na 'n
wild-eentonige maatsang, wat al naarder en wilder word na gelang
Dingaan se improwisasie hul opwinding aanspoor, sodat naderhand die
nugtere aarde dril en dreun onder die neergehurkte Boere...." (p.
273). Wanneer Retief protesteer as "die bokspringende rye" teen sy
vrinde aanstort in hul lawaaierige dans, vervolg Dingaan sy
onheilspellende deuntjie: "Drink, o drink van die bier! Jul brandende
kele roep daarom! Drink soveel jul kan; want môre sal jul nie meer
drink nie." (p. 274.) Dan klink meteens temidde van die "barbaarse
orgie" die fatale sein: "_Boelàlánie abatágatie_!" Juis deur die
sobere eenvoud in die styl, die kalme weergawe van die historiese
besonderhede raak die toneel ons tot in die hart, moet dit ook iemand
van 'n ander nasie raak. Saggies huiwer die ontroering in die woorde:
"Retief ... troue, moedige Retief, regskape, opregte Afrikaner, siel
van die aankomende Afrikaner-nasie!--sy marteling moes die
onmenslikste gewees het van almal!... Met knopkieries werd hy
afgemaak--laat ons hoop vóórdat Dingaan se laaste bevel aan sy
afgebeulde liggaam voltrek was!" (p. 277.)
Hoofstuk XXIX is 'n meesterlike samevatting van Retief se optrede en die
betekenis daarvan. Hier kom Preller se forse styl meer tot sy reg, omdat
hy geen historiese dokumente hoef aan te voer nie. Met breë blik oorsien
hy die hele Trek en met simpatieke aanvoeling van die Boere-standpunt en
lewensbeskouing deel hy in helder, logiese redenering sy gevolgtrekkinge
mee. "Piet Retief het 'n nasie gestig; of, as dit histories te veel gesê
is, het hy ten minste met volkome bewustheid die grondslag gelê waarop
'n nasie ontstaan is. Hy was idealis in nasionale sin--dit is te sê, hy
het hom met die Voortrekkers, met sy volk, duidelik voor oë gestel die
nastrewing van 'n ideaal, wat insluit 'n onafhanklike ontwikkeling en
voortbestaan van dié volk as nasionale eenheid op die wêreld." (p. 345.)
Retief het "die Afrikaanse Bestemming in woorde ontwerp--wyd en breed
soos die Afrikaanse veld...." (p. 351.) "Hy is die eerste gewees wat die
gebore Afrikaner se nasionaliteit in woorde gebring het, toe hy van
Suid-Afrika as sy "vaderland" gewaag het; terwyl die meeste ander die
land sowel as hulself nog maar beskou het as 'n volslae willose
aanhangsel van een of ander Europese ryk." (p. 350.) Hy het "deur sy
werk, sowel as deur sy dood, die Hollands-Afrikaanse Emigrant laat
begryp ... dat hy nie somar 'n op sigself rondswerwende eenling is nie,
maar deel uitmaak van 'n groot volksverband, met een belang en een
bestemming." (p. 355.)