Dan kom egter "'n groot versoening ... my ou teëparty is almal bekeerd;

wat my vyande was is vandag my vriende" (p. 136). "Soos met 'n towerslag

is ons gevoelens teen mekaar verander en van onverdraagsaamheid tot

liefde oorgegaan. Makpaatrie en Broes is nie meer uitlanders nie; hulle

is Afrikaners.... Op die ent van vergaderings en konserte sing ek God

save the King uit volle bors ... (p. 67). Die groot versoening het nie

alleen van die Engelse Jingo's Afrikaners gemaak nie, maar ook die

Afrikaner-Jingo's bekeer (p. 86). Voortaan werk Oom Stoffel saam met

Miesies Ja-mes by die verkiesings.

Maar die kastige "versoening" is juis die toppunt van alle ironie! Oom

Stoffel gee homself sy eie doodsteek! Hy het die teëparty so ongenadig

gekneus en gelooi, dat ons voel dat húlle nooit ofte nimmer met hom kán

saamwerk nie. Hoe moet ons dan die psigologiese raaisel van die

versoening verklaar? Delila-Soetlief het die ou takhaar se baard

afgeskeer! Nie alles nie--hy het nog heelparty van sy ou

swaap-nukke--maar Soetlief "knip elke oggend (s)y bokbaardjie vir (hom)

met die skêr reg volgens die nuutste S.A.P.-mode" (p 142). En al die tyd

verbeel hy hom, dat Soetlief en sy ou vyande "aan (s)y kant kom staan

het en saam met (hom) voel vir die beginsels en ideale, wat (hom sy)

lewe lank besiel het ..."! (p. 141.) So kom daar 'n vlymende politieke

ironie in die boek. En dit is 'n raak hou, omdat Langenhoven dit reg

gekry het om die ou takhaar homself te laat veroordeel.

"If you detect the ridicule, and your kindliness is chilled by it, you

are slipping into the grasp of Satire. If instead of falling foul of the

ridiculous person with a satiric rod, to make him writhe and shriek

aloud, you prefer to sting him under a semi-caress, by which he shall in

his anguish be rendered dubious whether indeed anything has hurt him,

you are an engine of Irony."[369] Die "satiric rod" was Oom Stoffel se

kareekierie; die "semi-caress" het van Soetlief gekom.

"The foppish irony fretting to be seen, and the irony which leers, that

you shall not mistake its intention, are failures in satiric effort

pretending to be treasures of ambiguity"[370]. Omdat Langenhoven so goed

daarin geslaag het om ook hierdie fout te vermy, daarom sal die satiere

ook vir later tyd sy oorspronklike frisheid behou, wanneer die politieke

koaliesie daarin gehekel al lank reeds tot die geskiedenis behoort. Hy

het self die grootste gedeelte van Oom Stoffel se ervarings deurleef en

kon die oubaas teken in 'n stemming van vergewende spot. Sy humor is

soos Höffding sê "das Gefühl des Lächerlichen auf Grundlage der

Sympathie". Al is hy vandag Oom Stoffel se politieke teenstander, hy het

die ou bondgenoot nog lief. "Der Humor trägt die Versöhnung im Gemüte.

Er unterscheidet sich von dem Witze, dasz er an den Dingen mit denen er

spielt einen innigen Herzenanteil nimmt, und das die Lust des Lachens

ein inniges Mitgefühl der Rührung für das Verlachte begleitet und

durchklingt."[371] Die simpatie behoort Langenhoven in staat te stel om

ook die langsame groeiproses van die versoening in Oom Stoffel se gemoed

uit te beeld.

Oom Stoffel word ons voorgestel as 'n ongeletterde takhaar. Sagmoedige

Neelsie, sy neef skuld hom 'n klompie geld en die moet sy spelling en

interpunksie verbeter. Dat Neelsie die Akademie-spelreëls op krietiese

wyse toepas--daaroor sal weinig hom seker berisp; maar van die kommas

het hy seker 'n goeie honderd vergeet. "Inhoud woordekeus en

styl"--alles is van Oom Stoffel. Hoe goed Neelsie hom ingeleef het in

die psiege van die ou takhaar blyk uit iedere pagina. Oom Stoffel word

vir ons 'n lewende persoonlikheid. Hy redeneer met die egte

boere-logika. "Soetlief het rooihare. Met 'n rooihaar-ding--of jy hom

ruil of koop of aanteel of trou; hoé jy hom ook kry--steek jy jou in 'n

waag." (p. 19.) Dié stelling bewys Oom Stoffel deur sy ervarings met

vosperde. "Onder al ... die klomp was maar een goeie. Nou kan die leser

by homself uitsyfer wat die kanse is wanneer 'n man 'n rooihaar-ding

aanskaf." Dit is 'n raak psigologiese uitbeelding, wat ons direk tref

deur sy egtheid. Ook Oom Stoffel se gesukkel om die hoe en die waarom

van al die dorpse instellings en gewoontes te verstaan is goed

weergegee. "Hoe dít uitwerk weet ek nie en Neelsie kan my dit ook nie

uitlê nie.... Waarom kan die Engelse kerk my kerk vat en hom uit 'n

blote dorp optel en in 'n city neersit?" (p. 29.) Dit is deur sulke

trekke, dat Oom Stoffel lewendig voor ons kom staan. Hy bly nie in die

boek nie. Die dorpelinge het straatlampe, "om hulle op hulle pad hel-toe

te verlig" (p. 34). Die dokter "kap met die punte van sy vingers oral

oor my bors en my maag rond _nes 'n houtkapper aan 'n vrot

wilgerboomstam_" (p. 46). "Waarom sou ek daardie ou koeie uit die sloot

opgrawe _en aan hulle dooi beendere kou en gallamsiekte kry?_" (p. 136).

"Ou Ja-mes wat anders so suinig is dat hy 'n vlooi sal afslag en dan die

soutkorreltjie viermaal middeldeur maak om die vel in te pekel" (p. 84).

Uit sulke en tallose ander voorbeelde blyk hoe diep Langenhoven

ingedring het in Oom Stoffel se gedagtewêreld. Oom Stoffel is 'n

afsonderlike persoonlikheid. Hy leef, en hy leef sy eie lewe. Hy praat

ook sy eie taal, maar wanneer hy skryf, dan herken ons af en toe

_Neelsie_ se gladdigheid, regsgeleerdheid en humor. Opvallend is dit

nie, maar ons voel dit tog in sinne soos die volgende: "Maar toe die ou

weer met my oor die muur aan 't raas gaan, beskuldig ek hom dat hy met

vrou en kinders en volk, en _met die medepligtigheid en korrupsie en

kollusie_ van ou Broes Dekstrooi, my stelselmatig van my water besteel."

(p. 66.) Só kan 'n ou takhaar nie skryf nie.

Enkele minder gelukkige uitdrukkings kom voor: "gedryfde gelukjag (p.

17); dat ek _aan_ 'n boek _aan_ 't skrywe was"[372] (p. 1); ook 'n paar

anglisismes, o.a. "die doem van die Adamskind (p. 26).

"Ek het geen rede om te dink dat Oom Stoffel Multatuli lees nie," sê

Sagmoedige Neelsie (p. 83 voetnoot). Ons ook nie, maar vir Neelsie self

moet Multatuli in baie opsigte 'n simpatieke skrywer wees. Fonkelende

vernuf, bytende sarkasme, 'n voorliefde vir paradokse en soms ook vir

oud-testamentiese wendings, dit en nog meer het Langenhoven met

Multatuli gemeen. Ook sy spelling-opstandigheid en afkeer van

"hooggeleerde akademiese here" en deskundiges herinner ons aan

Multatuli. "Die geleerde mense is alleen geleerd--die verstandige mense

is ongeleerd" (p. 135). "Die land wemel van skitterende deskundiges"

(_Die Burger_, 14 Aug. 1922). En dat hulle self so weinig presteer en

net "die verstandige mense" se werk wil kritiseer--dit steek Langenhoven

in die krop. Is dit nie of ons Multatuli se uitdaging hoor aan die

"hooggeleerde Muurling": "Laat zien wat _gij_ voor den dag brengt, gij

... geen doctorandus meer, maar doctor, leeraar! Gij, geen doctor meer,

geen leeraar meer, maar _hoog_-doctor, _hoog_-leeraar, leeraar van

doctoren, doctor _van_ leeraren, opperleeraar, opperdoctor!" (Idee 279.)

"Komäan, hoog-geleerden en zeer-geleerden, lever eens wat

volkeren-wijsheid aan 't volk dat uwe wijsheid in huur heeft, en

betaalt!" (Idee 281.) Sou Langenhoven hom nie met Multatuli vrolik maak

nie oor "den armen speciaal-professor die gestruikeld is over 'n

speciaal eigenschapje van 'n speciaal-atoom zijner specialiteit"? Ons

gun hom die plesier, as hy maar onthou dat 'n kunstenaar nog iets anders

is as 'n hooggeleerde.[373] En ons lag saam met hom oor "taal- en

spelling-grille" as hy net nie in ernstige letterkundige werk daaroor

peuter nie![374]

VOETNOTAS:

[357] In _Die Huisgenoot_, Jan. 1921, waaraan hierdie lewensskets

ontleen is. Enkele feite kom uit _Die Brandwag_, Des. 1918.

[358] Twede druk 1909. Die datum van die eerste druk is my onbekend.

_Doppers_ en _Die Boervrou_ word in hoofstuk X bespreek.

[359] Vgl. Boshoff: _Volk en Taal van S.A._, p. 76 vlg.

[360] Des. 1918.

[361] Derde druk, p. 31.

[362] Vgl. _Richteren_ 15:15.

[363] Voorwoord by die 3de uitgaaf.

[364] _Welt als Wille und Vorstellung_ II, p. 109.

[365] Bedoel word Oberammergau, wat tog nie in Switserland lê nie.

_Vollendam_ op p. 120 moet wees Volendam.

[366] _An Essay on Comedy_ by George Meredith, p. 65.

[367] _English Comic Writers_: W. Hazlitt, p. 10. (Bohn's edition).

[368] Sien voorwoord, No. 4.

[369] Meredith, t.a.p., p. 79.

[370] id., p. 83.

[371] Backhaus: _Das Wesen des Humors_, p. 70.

[372] Vgl. _Sonde met die Bure_: "En toe gaan ek aan 't skiet aan die

haan", p. 24.

[373] Oor die onvrugbaarheid van akademiese professore het Langenhoven

hom herhaaldelik uitgelaat. In _Die Banier_, Julie 1921, beweer hy

selfs, dat dit daarna lyk of 'n akademiese opleiding vir die vorming van

'n kunstenaar noodlottig is--wat seker 'n onjuiste bewering is. So 'n

opleiding "het uitgeloop, nie op 'n mislukking nie, maar op 'n sukses:

op die sukses van 'n beoogde mislukking, want hy was opsetlik bereken om

te misluk"! Vir sulke spitsvondigheidjies is Langenhoven maar àl te

lief!

[374] Vgl. b.v. _Ons Weg deur die Wêreld^2_, p. 81: "gesteelde--nee,

gestole moet ek sê--...." In _Aan Stille Waters_ is daar ook

spellinggrappies.

HOOFSTUK VII.

Didaktiese Prosa.

§ 1. Adv. C.J. Langenhoven.

Ons Weg deur die Wêreld I, IV, VI, IX.[375]

Die eerste afdeling: _Naarheid en Waarheid_ bevat aforismes. Bestaande

spreekwoorde word aangevul, verbeter of ontken. "Dis wáar, klere maak

nie die man nie. Maar slordigheid nog minder." "Een swaaltjie maak geen

somer nie. Hy maak nie eers 'n nes nie." "Daar mag halwe eiers wees wat

beter is as leë doppe, maar die halwe eiers wat naar my koers toe gekom

het was nog altyd vrot." 'n Groot aantal spreuke is woordspelings: "Om

te weet is net so maklik as om nie te weet nie. Wat swaar is, is om te

weet wát jy weet deur te weet wat jy nie weet nie." In andere klink daar

'n sarkastiese toon: "In 'n vrye land behoort elke koerantskrywer die

reg te hê om dwaasheid te verkondig." Die sonde-met-die-bure-motief is

hier ook aanwesig: "Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou

buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se famielie." Oom

Stoffel sal seker instem met die volgende: "As die son nou met die

beskawing wil saamgaan, moet hy in die nag skyn wanneer die mense wil

wakker wees en in die oggend ondergaan wanneer hulle wil slaap."

"Vroutjie" se redeneerkuns word so getiepeer: "Oortuig 'n vrou dat sy

nie reg is nie, sy klap jou om met simpel almiskié."

Die spreuke is 'n pittige samevatting van die skrywer se lewenswysheid.

Daar is raak opmerkings, wat getuig van 'n helder, logiese gedagtegang

en 'n uitgebreide ervaring; nuwe waarhede, op pakkende wyse uitgedruk;

ou waarhede, in 'n nuwe, oorspronklike vorm. As voorbeelde van sy

kernagtige styl kan die volgende dien: "Waar die vader op 'n donkie gery

het en die seun op 'n galop, kry jy die kleinkinders te voet."

"Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid."

In die _Ligte Leekprekies_ (IV) is daar 'n preek vir kinders oor

wedywer. "As julle nie weet wat kompetiesie is nie, soek 'n handvol

koring en gooi die vir 'n klompie hoenders. Dan sal julle kompetiesie

sien." (p. 71, Derde druk.) Die verskille tussen "hoender- en

mens-kompetiesie" word dan uitgewerk na aanleiding van wedywer op

sportgebied. Die deurmekaar Engels en Hollands pratery "is my

skoolmeester se skuld" verklaar Langenhoven. Mooi is dit seker nie!

In _'n Preek vir Nooiens_ word die deugde van die voorouers teenoor die

hedendaagse nuwighede geplaas, en die vergelyking val nie ten gunste van

die laaste uit nie, soos blyk uit die volgende lang-asem sin met sy

komieklike nadraaitjie: "En onse jonge dogters begint in te teken vir

ryk ge-illustreerde mode-joernale en 'n aangeleerde smaak te ontwikkel

vir bloedsomloop-versperrende nou-ryg borste-rokke, voet-martelende en

senuwee-renewérende spyker-polfytjies; vir die gesig-belemmerende

wa-wiel-hoed en die bene-belemmerende hobbelskirt; vir die lae-nek blous

en die ope-werk kous." (p. 80.) Teen die wedywer in huweliksgeskenke

word ook protes aangeteken: "Maar onder die teenswoordige opjaagvendusie

wat van menige bruilof gemaak word, weet jy nie watter geskenk 'n

konvensionele pligvervulling verteenwoordig en watter werklik van harte

gemeen is nie...." (p. 83).

In _Beweging_ word die ontwikkeling van ons vervoermiddels geskets en

die voorgeslag verheerlik: "Baie van ons voorouers had stoomharte by die

remskoenwaens; baie van ons het remskoenharte by die stoomwaens." (p.

88.) Al die menslike voertuie is egter onvolmaak, wanneer dit vergelyk

word met een "deur die liewe God gemaak." "So stil, so absoluut

eengalig, loop die ou aarde wat vir ons oor en deur die peillose

afgronde van die hemelruim veilig meevoer, dat die oorgrootste

meerderheid van die mensdom vandag nog oortuig is dat sy dood-stil bly

staan in een plek, beweegloos, roerloos." (p. 89.) Die aarde is "ons ou

moeder-wa" waarop die lewensreis afgeleg word. Dan ontstaan die vraag:

"Waarheen? Waartoe? Waarom?"

In die kinderprekie oor _Ideale_ word die volgende spreuk nader

uitgewerkt "Die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die wêreld

is maar die oeste van ongesiene gedagtesaadjies."

In die sesde afdeling word _Die Betekenis van Opvoeding_ op aanskoulike

en helder wyse uiteengeset en nagegaan wat _Die Kenmerke van 'n goeie

Toespraak_ is.

In die negende afdeling, waaraan die boek sy naam ontleen, tree

Langenhoven op as 'n gids op _Ons weg deur die Wêreld_. In 'n honderdtal

kort prekies, elkeen voorsien van 'n pittige teks word onderwerpe van 'n

groot verskeidenheid behandel. Daar is preke oor die mode, dronkenskap,

skindery, politiek, sedelike kwessies, ons eksamenstelsel, opvoeding,

skuldmaak, fariseïsme, liefdadigheid, eerlikheid, borgstaan, godsdiens,

die dood. Ook maatskaplike vraagstukke, soos die verhouding tussen

kapitaal en arbeid word bespreek. Hy probeer om homself en sy bure

grondig te leer ken. Hoe moeilik die _ken jouself_ is, weet hy maar al

te goed: "Die enigste mens in die wêreld wat in die posiesie is om jou

te beoordeel is jyself, maar jy is die onbevoegdste, want jy is tegelyk

regter en beskuldigde. Jy alleen kan in jou hart inkyk: maar ongelukkig

dis jy wat inkyk--die baas en dienaar van die hart." (72.)

Op sy weg deur die wêreld vind hy baie dinge wat verkeerd is, maar tog

bly hy optimisties: "Laat ons moed hou, maat, die ou wêreld is darem nie

so sleg nie!" (92.) "Die grote waarhede van godsdiens en wetenskap en

idealisme en vaderlandsliefde: immers dié regeer die wêreld." (id.) Tog

moet hy af en toe peins oor die volmaakte wêreld, wat sou ontstaan as

die menslike natuur anders was: "Veronderstel die hele mensdom sou

volkome waarheid-sprekend word, wat sou almal nie win daarby nie!" (50.)

"Die wêreld kon 'n soort van lushof gewees het waar ons al singende en

huppelende 'n lower-beskadude en bloem-bestrooide weg vervolg het van

ons wieg tot aan ons graf." Maar ons moet "met skaamte bely: ... Alles

is hier skoon en edel en groots behalwe die inwoners." (53.)

Enkele volkstiepes word raak gekarakteriseer; in nommer 10 die man wat

by alles voor-op-die-wa wil wees, in 64 die lastige kuiergas, wat "nie

gesels nie, maar gesels-maak". In 78 kom een van die weinige anekdotes

voor, want die direkte preektoon word maar uiters selde deur 'n verhaal

onderbreek.

In die honderdtal preke vind ons veel wat fris en oorspronklik is, en

selfs die ou waarhede word op 'n besonder persoonlike wyse uitgedruk,

sodat dit prikkel tot nadink. "As jy op trou staan sal jy geen goeie

raad aanneem nie, en as jy op sterwe lê sal jy dit nie kry nie." (14.)

"My liewe man, moenie vrees vir jou dood nie: vrees vir jou lewe. By jou

dood sal jy verby kom: hy sal nie te swaar wees nie; want as hy te swaar

sou wees, sou hy onmooglik wees; en as hy onmooglik sou wees, sou jy

onsterflik wees. Wees gerus oor daardie laaste plig wat van jou gevorder

sal word op die aarde: jy sal nie kortkom nie--daardie laaste skuld sal

jy betaal tot op die uiterste greintjie van die uiterste penning" (55).

Dit is deur so 'n ongewone manier van sê, deur sulke verrassende

wendings, dat Langenhoven meestal daarin slaag om ons aandag vas te hou,

want sy preke is pure pit-kos, wat nie in oomblikke van verstrooiing

moet gelees word nie. Die oorvloedige gebruik van abstrakte begrippe,

die epigrammatiese styl met sy vernufspelings, paradokse en parallele

sinsbou vorder die grootste opmerksaamheid van die leser. "'n Bekwame

booswig sou minder van 'n booswig gewees het als hy 'n onbekwame booswig

was. Dáár, o mens, is jou kostelikste besitting: jou karakter wat jou

bekwaamheid bekwaam kan maak ten goede" (68). "Die meeste wyse mense wat

ek nog raak geloop het is dom mense, en die meeste slim mense dwaas"

ens. (9). "Al ons geluk is verbeelding en alle verbeelde geluk is geluk"

(_Aan Stille Waters_). "Leugenliewende waarheidgierigheid (92), die

ontsag vir sy gesag (93), die onreg dat 'n ander die reg ... het"

(77)--vir sulke knal-effekte is Langenhoven besonder lief. Dat hy met sy

puntige gesegdes soms 'n mooi indruk maak is seker; maar die vuurwerk

van sy vernuf verteer ook soms die gedagte wat hy wil uit. Op die manier

gaan die eenvoudigheid wat hy bo-alles na streef verlore. "Die

eenvoudigste sprekers, die eenvoudigste skrywers, is die wat die

diepste, diepste denkers is.... 'n Suiwere gedagte, 'n suiwere waarheid,

is van self soveel wêrd dat hy die beste indruk maak as hy op sy eie

verdienste, op sy eie waarde, ten toon gestel word in plaas van deur 'n

misdamp onduidelik bespeurbaar te wees." (_'n Goeie Toespraak_.)

Op enkele minder gelukkige taalvorme kan hier nog gewys word: "Die man

_wiens_ raad (21 et passim); toe hulle van alle invloede van Kerk en

Skool en Wet _ont_stoke was (27); die taktieke voordeel (37); meineders

(85); verrottenheid (86); om te wanregeer (91); ons _beweeg_ die graaf

in die grond in" (p. 85, Derde Dr.). Die woordskikking is soms foutief

o.a.: "Anders maklik kan jou eie redenasies jouself naderhand ...

verlei" (p. 218). Troebel is die volgende beeldspraak: "die lente van

nuwe lewe en bottende, bloemende, bloedgalop." (p. 90, Derde Druk.)

Afgesien van die storende gebruik van Engelse woorde soos: dres, mistyk,

blackmailer, safe, snobbery, jollie, shabby, independent, ens. is die

aantal anglisismes taamlik groot. Die volgende voorbeelde is aan

afdeling IX ontleen: "'n Klassiek van die literatuur (12); in growwe

opsigte (20); naar 'n gevolgtrekking te spring (21); op die lange baan

verydel die luiaard sy eie doel (25); sy professie van reine bedoelings

(37); nou en dan trek ons 'n blank; om deliberaat meineed te pleeg (48);

raar (Eng. _rare_) (52); die eerste plig is die makliker plig (61); die

wilde-hawer-saaiers in hulle jeug ...; sy iedere woord (71); die ou

vriende van jare lange stand" (83). In _'n Goeie Toespraak_ hoor ons van

welsprekendheid, wat _platval_ (p. 216). Ook in die sinsbou stuit mens

op Engelse wendings.

Uit die reeks artiekels _Aan Stille Waters_ kan ons Langenhoven se

letterkundige opvattings leer ken. "Die hedendaagse Europese dekadensie

van die kubiste en futuriste en impressioniste (volgens wie 'n ding moet

lelik wees om mooi te wees)" moet nie "aan ons Afrikaanse waarheidssin

en eenvoudsgevoel ... af(ge)smeer" word nie. (_Die Burger_, 14/8/22.) In

dieselfde artiekel spreek hy hom teen 'n beroepstoneel uit: "Ek (sou)

liewer ons kultuur op die gebied van die drama onontwikkeld sien bly as

dat ons beroepsbeoefenaars sou hê.... Ek hoef nie meer te sê nie as dat

volgens my insigte 'n klas van beroeps-vermaak-skaffers nie tot genoeg

nut vir die samelewing is om op te weeg teen die besware wat daar in te

bring is nie." As 'n beroepstoneel niks anders dan "vermaak-skaffers"

oplewer nie, sal baie die bewering seker onderskryf; maar van 'n goeie

toneelspeler verwag ons tog veel meer dan bloot _vermaak_! Ook "vir die

gewone mens" moet die kuns méér wees as "ontspanning ... tussen die

harde en dikwels onlieflike pligte van die lewe." (28/8/22). Maar hoe

hoog Langenhoven sy roeping as kunstenaar opvat, blyk uit die volgende:

Vir die kunstenaar sal die kuns "nie 'n afwisselende tydverdryf wees

nie; dit sal sy hele lewe wees." (id.)

Die Bybel, die psalms en gesange is vir hom die toppunt van alle

bereikbare skoonheid. "Hy (d.i. Langenhoven) haal uit die Bybel aan,

omdat hy van geen letterkunde in die wêreld weet wat, as 'n saak van

blote verhewenheid en skoonheid, in die verte daarby kom nie; en uit ons

Psalms en Gesange, _omdat hy van niks in die Nederlandse lettere weet

wat daarby kom nie"_ (31/7/22).[376] By so 'n uitspraak het die gewyde

inhoud van die aangehaalde werke met hul geheiligde herinneringe seker

swaar geweeg. Veral die gekursiveerde stelling wek verwondering, want

wanneer die Bybel, weens sy unieke posiesie as die geïnspireerde Woord

buiten beskouing bly, dan is daar tog seker genoeg geestelike liedere

wat 'n vergelyking met die offisiële gesange glansryk kan deurstaan.

Langenhoven se ideaal is om 'n boek te skryf "wat genot verskaf by die

veewagterskraal en nie benede die aandag van die hoogsgeleerde

uniwersiteits-professor (is) nie." (12/6/22). "Skryf ek vir die geleerde

mense, met die veronderstelling van kennis en ontwikkeling wat hulle

reeds klaar besit, dan word ek vir die grote meerderheid van die volk

onleesbaar--dan kan hulle geen vattigheid by my kry nie. Skryf ek met

die oog op die onbevoorregtes, waar my hart van jammerte en medelye is,

dan loop ek die gevaar dat teen die hoof van my nasie die vernederende

vreemde verwyt kan geslinger word: Julle is onbeskaaf; julle kultuur is

benede die hedendaagse ontwikkelde peil" (id). Die "versoening tussen

hierdie twee teenstrydige uiterstes" vind hy in die Bybel en by Homerus.

"Daarin is die verhewenste bereik waartoe die kuns van die lettere in

staat is, en bereik _langes die weg van die allernederigste

eenvoud_."[377]

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 21 / 27 段