medisynetrommeltjies gehelp 't. Spoedig begint die taalmoeilikhede en in
'n donker onweersnag doen hy die ontdekking, dat ons liewe Heer ook
Afrikaans verstaan. Op skool is dit van die eerste dag af 'n gedurige
stryd teen die _step-by-step_-denasionalisering, wat die doel was van 'n
verpolitiekte stelsel, as so 'n onpedagogiese gedoente ten minste die
naam stelsel ooit verdien het. Mooi word die wisselwerking tussen die
skool- en huislike invloed beskryf. "Wel, die Boere het van al daardie
Royal Reader gedoente niks geglo nie as ek hulle bietjie wou vertel. Al
wat ek vir my moeite gekry het, was: "Jou Rooinek, glo jy al daardie
leuns?"[361] Langsamerhand groei die verset van die aanvanklik deur
skoolwysheid oorblufte seuntjie. Die omgang met Boerfamielies, wat
vashou aan die ou _Trap der Jeugd_ en die Bybel versterk die Boergees in
hom, totdat hy die geleerde weefsel van bedrog wegvee en met volle
selfkennis sy Engelse meester toevoeg: _Ek is 'n Boer_ (p. 44). Hy wil
nie langer "'n agterryer in sy eie land", 'n jingo of weeluis wees nie
(p. 42). Wanneer die seun 'n man word, maak hy 'n eselskakebeen
vogtig[362] met die trane van sy lang opgekropte spyt en dan dreun die
mokerslae op "die Filistyn in die Afrikaner". Dit word 'n geweldige
wapen in sy hand, waarmee hy seker meer as 'n "duisend man" verslaan
het! In die begin is daar 'n bietjie goedaardige skerts o.a. oor die
dominee se gesukkel met die Hollandse geslagte (p. 16), maar wanneer hy
die toestande op die Engelse skool beskryf, word die toon
kwaai-sarkasties en bitter. Die eensydige onderwys uit die _Royal
Reader_, oor _British en Cape History, Geography_, ens. word met
satieriese skerpsinnigheid aan die kaak gestel. Met 'n speelse vernuf
word die oorsprong van die Engelse nasie uitgepluis. "Daar is van die
geskiedskrywers, wat die oorsprong wil aflei uit die naam, nl. Angel
(Engel) en dan wil meen dat hulle van 'n Engele-geslag is. Of dit van
die gevalle engels is of van die ander is onmoontlik om uit te maak"! Op
aanskoulike wyse word aangetoon dat die geïmporteerde eksamenstelsel
geen rekening hou met die eise van ons samelewing nie. "Jannie het op
skool net 'n bietjie algemene kennis en die _School-Higher_-sertifikaat
opgetel. Vir die lewe moes hy daarna eers klaar maak." (p. 55.)
Selfs vandag het die boekie nog aktuele waarde, en dis 'n
kultuur-historiese dokument, wat selfs die verre nageslag nog met
belangstelling sal lees. Al sal dit hulle nie so heftig ontroer nie soos
ons, wat al die ervarings self ondervind het, tog moet dit altyd
treffend bly deur sy raak voorstelling en bytende spot. Daar is enkele
uitweidings, wat die eenheid van die strydskrif verstoor, 'n paar
anekdotes, wat die direktheid van die aanval verminder, maar omdat dit
iets is wat werklik "uit (die) hart opgeborrel het"[363] sal dit altyd
sy waarde behou.
§ 2. Reenen J. van Reenen.
Die Agterstevoortrekkers (1917).
Johan van Heemskerck het in sy _Batavische Arcadia_ (1637) 'n paar
Haagse here en dames 'n plesiertoggie laat doen met die doel om "onder
't soet van minnepraetjes al spelende (te) komen tot kennisse van de
vaderlandtsche gelegentheden, daer niemandt een vreemdelingh in behoort
te zijn." Van Reenen stuur 'n aantal Bloemfonteinse geleerdes en
kunstenaars met hul famielies op die ou voortrekkerpad "om te probeer of
daar nie, daar in die bosse en klowe, in die kranse of op die bulte nog
van die heldemoed van die ou voortrekkers te bespeur is nie, en of daar
op die wye ope veld nie 'n kans is om weer die helder eenvoudige
duidelike uitsig op die lewensprobleme op te vang en in (hul) daaglikse
omgang te gebruik nie" (p. 32). Die ooreenkoms is duidelik, ofskoon daar
seker van bewuste navolging geen sprake kan wees nie. By Van Reenen is
daar nie soveel "loofwerck van liefkooserijtjes", maar die minnende
paartjie ontbreek tog ook nie. Die poging om pastorale en didaktiese
motiewe te verenig is al merkbaar in die aangehaalde sin. Oom Jakob sê
ook nog: "Dis die doel van die uittog ... om 'n veldwasempie op te vang
uit die _Afrikaanse Son en Veld_" (p. 31). Nog duideliker straal die
pastorale motief uit die volgende deur: "Daar in Bloemfontein in 'n
atmosfeer van kunsmatigheid, val die klank (van die ossewa) weg, hier op
die veld, ver van die besmetlike invloed van groot stede, mag die plof
plof van die ossevoete nou en dan in die sand wegval, maar die skok van
die wiele bly." (p. 110). Die didaktiese motief blyk ook nog hieruit:
"Opgewonde gee ek antwoord dat dit 'n eerste klas plan was om die
sienswyse van die voortrekkers te verstaan, en hulle geskiedenis met
smaak te leer lees...." (p. 20). En die sewende trekreël lui: "Elke aand
sal een van die trekkers ... 'n lesing gee oor die een of ander in die
geskiedenis van die Voortrekkers" (p. 37).
Maar sterker nog dan die pastoraal-didaktiese motiewe van die verhaal
is die satieries-humoristiese element. Die meeste van die Bloemfonteinse
deskundiges verbeel hulle wat wonders. In die "afskeidsbrief" heet dit:
"Ons is beslote om ... ons diep kennis vir almal wyd en syd bekend te
maak" (p. 40). Die Professor wil drie waens vol boeke laai "om aan die
boere te verkoop"; Jan, die "goggadeskundige" wil die boere waarsku teen
skadelike insekte, en Antoon, die musikus hoop dat deur sy musiek "nuwe
ideale mag ingeboesem word in diegene wat binne die betowerde sirkel van
ons skitterende strale inkom." (p. 31.) Oom Jakob egter voel dat die
groot geleerdheid van sy maats eensydig is. "Op seker gebiede het ons
... vooruitgegaan, maar op ander ... is ons baie versleg" (p. 32). Hy is
dan ook gewillig om aan die voete van die plattelander te sit en lesse
van hom te leer. Ook Oom Kaas, die "diepgeleerde professor in
geskiedenis" voel, dat die hele spul dalk sal verkeerd loop, dat die
_Agterna_-trekkers bes moontlik _Agterstevoor_-trekkers sal word, en sy
voorspelling kom uit.
Die vernaamste, doel van die skrywer is om die verwaandheid van die
hooggeleerde akademiese here bespotlik voor te stel. Die heel eerste
voorval gee al dadelik die toon aan. Die osse trek afdraand net so swaar
as opdraand en terwyl hulle 'n geleerde dispuut hou oor dié
raaiselagtige omstandigheid, kom 'n onnosele konstabel die moeilikheid
oplos deur die styfaangedraaide briek los te draai! Dat klein Leon aan
die ossewabriek dieselfde funksie as aan die van 'n outo se slinger
toeskryf, is meer dan 'n gelukkige grappie; dit is meteens al 'n
simboliese voorstelling van die groot afstand tussen die voortrekker- en
die moderne beskawing.
Die trek is skaars aan die gang of die entomoloog vind uit, dat Oom
Gert iets oor goggas weet, wat hy nog nooit in sy diepsinnige handboeke
van gelees het nie, en met 'n ironiese laggie voeg die skrywer hom toe:
"Neef Jan, ek het gemeen jy gaan vir die boere leer, nie hulle vir jou
nie." (p. 54.) S.K., die professor in fiesika vind uit, dat al sy
gekompliseerde instrumente en spitsvondige berekeninge minder
vertroubaar is dan die kennis van die eerste die beste ou boertjie. En
dan is dit nog boonop klein Botterkoppie wat hom tot die erkentenis
bring! Op die tuinfees slaan almal behalwe Oom Jakob 'n gek figuur. Die
dorpelinge verskyn in trekkersdrag, maar die kastige trekkers in haastig
bymekaar geskraapte Europese spektakels! Alles doen hulle agterstevoor!
Die steekse motor van die dokter, wat deur die osse dorp toe moet
gesleep word is weer 'n ironiese beeld--die moderne vernuf afhanklik van
die ouderwetse trekkersmetode. Die professor kry in "'n hoekie van die
Vrystaat" 'n resep vir heuning-bier, wat hy tevergeefs in sy geleerde
foliante gesoek het, maar sy onbekendheid met die praktiese uitwerking
daarvan besorg hom 'n wetenskaplike hallusinasie, wat tot 'n algemene
bespotting aanleiding gee.
By die afgebrande huis loop die trekkers 'n gewone boer raak, met 'n
ontwikkelde kunsgevoel en so 'n fyn beskawing dat dit hulle bewondering
afdwing. Wanneer die trekkers by Kerkenberg kom, waar Piet Retief se
naam op die rots staan, word die toon van die verhaal ernstiger. Die
historiese gevoel ontwaak en Oom Kaas bevredig Emmie se weetgierigheid
deur allerlei besonderhede oor die Voortrekkers se ossewaens mee te
deel. Op die Natalse pad kom die piëteitsgevoel tot uiting in 'n
humoristiese regsaak tussen ossewa en outo. "Ek het die Afrikaner Nasie
gedra toe dit nog 'n suigeling was; en nou, op my ou dag, wil julle hê
dat ek moet pad gee vir 'n bog kind, so jong dat hy self erken dat hy
nog nie eers gebore is nie." "Grootgeraas" is 'n outo van "aanstaande
jaar se model" en "Die Dromedaris" weier om pad te gee vir so 'n
"aangewaaide, buitelandse ding--niemand weet eers wie sy ouers is nie!"
(p. 210.) Hier is die soort humor aanwesig, wat volgens Schopenhauer is
"der hinter den Scherz versteckter Ernst",[364] want uit so 'n toneel
spreek die wil van 'n volk om die erfenis van sy voorvaders te bewaar
"van vreemde smetten vrij".
Dirk vind nog 'n geleentheid om die "geleerde ape", S.K. en die
Goggadoktor droog te sit. Hy verydel die grootskeepse opgrawingsoperasies
van die twee deur die egte voortrekkervurk met sy pennemes uit te grawe,
terwyl 'n verroeste valse "versigtig in watte opgewoel" tereg kom in Jan
se trommel. Dis 'n laaste verbluffende kopskoot op die dorre
kamergeleerdes!
Die manier waarop die dansparty eindig is 'n bewys, dat die
agternatrekkers tog onder die besielende invloed van hul voorvaders
geraak het en hul onder al die malligheid goed ingeleef het in die gees
van dié grootse tydperk met sy skrynende wee. As die maan wegraak, en
die uile droewig skree, begint Antoon se viool "te huil soos 'n moeder
oor haar kind se lykie.... Soos diegene wat pas 'n dierbare vriend in sy
graf gelê het, uitmekaar gaan, so verdwyn nou stilletjies die gaste een
vir een" (p. 235). Om 'n toneel van sulke roerende stemming in al sy
innigheid uit te beeld--daarvoor was Van Reenen nie woordkunstenaar
genoeg nie. Die oorgang van uitgelate malligheid kom te plotseling. Dirk
se gulle lag oor sy welgeslaagde grap, sy "dis nou regtig 'n lekker bal"
klink nog in ons ore as ons by die "stille snikke van sterk mans" kom.
Maar ons voel tog iets van die stille plegtigheid van die oomblik en
enkele dowwe dreunings van 'n verre dodemars kom uit die verte
aansuis.... Verswak die skrywer nie die ernstige ondertoon van sy werk
deur na so 'n toneel weer met minnepraatjies aan te kom nie? En smoor hy
dit nie heeltemal deur die _ragtime_-klanke van die agterrede nie? Ek
meen van wel.
Magteloos, totaal magteloos staan Van Reenen as woordkunstenaar teenoor
die natuur. Die trekkers mag 'n "veldwasempie" opgevang 't--ons kry nie
eers die ruik daarvan nie! "My hand het net gejeuk vir 'n kwas en verf
om die pragtige kleure op doek of kaart te skilder, maar al had ek die
gehad sou dit my darem onmolik gewees het om uit te druk wat ek gevoel
het...." (p. 84). En met die pen kom hy ook nie verder as 'n gestamel
oor die _onbeskryflike kleure_ nie (p. 138). Dit is vir hom "'n soort
heligskennis om die wonderwerke van die Natuur te veel in hulle
teenwoordigheid te analiseer" (p. 152). Daarom moet ons tevrede wees met
die kennis, dat hy 'n lekker pypie daar op die Nek gerook 't, en dat hy
nooit moeg word van die Treurwilgers rondom die damme nie! (p. 85.)
Beskouings oor bou- en skilderkuns, meubilering en musiek word in die
verhaal ingevleg. "'n Mooi sandsteengebou gepleister met sement, soos
klipwerk nagemaak" word die aanleiding om teen na-apery van vreemde
kultuurvorme te waarsku (p. 86). Tussen die sekretaris en Antoon vind 'n
kunsdebat plaas (p. 138 vlg.). As Van Reenen egter meen dat die doel van
die kuns is om "die Natuur akkuraat ... weer (te) gee" (p. 141), dan is
hy nog op 'n dwaalpad.
Met die taal sukkel hy ook nog baie. Sy woordskikking en voorsetsels is
telkens verkeerd. "In Switserland[365], elke tien jaar voer hulle 'n
toneel op wat gebeurtenisse in die lewe van die Here Jesus voorstel....
(p. 121); om aan die datum van die almanak te kyk (p. 102); wat ek voor
strewe" (p. 141). Ook 'n hele paar anglisismes kom nog voor: "in herfs
(p. 19); Harrismith Distrik" (p. 154) ens. Gebrekkige taalgevoel blyk
o.a. uit die volgende: "Afrikaans het _haar_ swak punte (p. 119);
Basoetoeland wat _haar_ berge vir ons wys (p. 138); die woede eienaar"
(p. 42). Die juffrou M., op p. 153 moet blykbaar deurgaan vir 'n
Hollandse, maar "dat berg" het sy tog seker nooit gesê nie! Hoe weinig
"felicity in the flow of words" daar by Van Reenen is blyk uit
kreupelsinne soos die volgende: "Dan kom die sonsondergang en asof 'n
reuse skilder met 'n reuse rooi of rooskleur kwas die landskap skilder,
neem die blou berge 'n rooskleur skynsel aan. Dan word die kleur meer en
meer pers." (p. 138.) Ook die beeldspraak is weinig oorspronklik: "die
deken van die grappe (p. 137); 'n lugkombers" (p. 237). Beets is ook
versot op die banale deken- en mantelbeelde (vgl. XXI). Sou hy nou
werklik gemeen het, dat sy erbarmlike gerymel in dieselfde hoofstuk vir
poësie moet deurgaan?
Die dialoog word meestal gekenmerk deur 'n besonder losse natuurlikheid
en tallose lewendige toneeltjies getuig van groot plastiese talent.
Sommige daarvan is egter skadelik vir die eenheid van die werk en dit
geld ook van enkele langer vertellings, wat die aandag op storende wyse
van die hooftema aflei. Dit is o.a. die geval met hoofstuk XXIV, wat
"Herinneringe uit die Engelse oorlog" bevat. Daar is nog meer sulke
uitweidings, wat die verhaal soms na 'n versameling van los anekdotes
laat lyk.
§ 3. Adv. C.J. Langenhoven.
(Sagmoedige Neelsie).
Sonde met die Bure, (1921).
"Die ou wêreld is nou so treurig donker.... Om my dan self 'n bietjie op
te beur--en as ek dit kan regkry, menige ander arme drommel ook wat
altemit teen dieselfde versoeking moet stry om nie maar gedurig
miesrabel te voel nie ... (het) ek hierdie noukeurige en onverbloemde
verslaggie geskryf van 'n baie gelukkige vakansieplan...." (p. 1-2). Die
ou wêreld het té treurig geword, en daarom sit Langenhoven die hele
werskaf onderstebo neer. Sy bure het hom versondig en nou sê hy: Ek maak
soos =ek= lekker kry en kom julle nog verder met my lol, dan koggel ek
julle almal uit! Dit is so ongeveer die stemming waarin Neelsie geskryf
het.
Sy vrou wou haar nie laat vermaak deur die weelderige leefwyse van haar
bure nie--dit was in die dae van Oudtshoorn se volstruisgloria. Sy het
aan hom gekarring en al sy besware "doodgealmiskie". Hy koop "'n
afgeleefde tremwa" in die Kaap, en toe agtien osse die soort strandhuis
nie kon trek nie, verower hy op 'n sirkusvendusie die olifant, Herrie.
Dwars deur die dorp gaan die tog, Olifantsrivier op. Almal wat hom
lastig val raak lelik gepier. Die burgemeester is eerste aan die pen en
sy bemoeisug gee Neelsie 'n kans om sy ergernis oor belastingkwellings
te lug. Op Stolsvlakte raak die pad versper deur die slingerende
gevaarte en van weerskante word die verkeer opgedam. Maar Herrie
verwilder die spul met sy gesnork deur 'n motorbeuel. So ver as Neelsie
gaan versondig hy sy bure--maar hulle het mos eerste begin te lol! En hy
slaan nog geld uit hulle ergernis ook om vir Engela, sy dogter se
numodiese klere te betaal! Dit word 'n wraakneming van 'n getergde man.
Die magistraat, Afdelingsraad en geregtelike mag agtervolg hom, maar
moet met hangende pootjies en skoongewaste koppe stamp-stamp huistoe ry
oor 'n omgeploegde pad. In Meiringspoort vind hy eindelik rus--vir 'n
tydlank ten minste. Daar raak hy aan filosofeer oor "al die nietige ou
mensies op aarde" (p. 61) en die wondere van die skepping. Maar die
lekker rooipit perskes, wat gedienstige jongkêrels vir Engela aandra,
laat hom uitvaar teen die nuwe soorte, wat allerhande plae in die land
gebring 't. En 'n stapel koerante maak hom briesend! Vroutjie peuter aan
hom oor sy ongeselligheid en as gevolg praat hy die arme dominee skoon
dronk van pure gasvryheid. Met 'n groot reent raak die kos skaars, maar
die jongkêrels knoop al De Rust se kabeltoue aan mekaar om oor die
kranse van dertienhonderd voet nuwe voorraad en ... Engela se beste
vryer af te hys!
Een van die afdrifsels op die rivier is 'n dronk Hotnot, wat onder die
sing van "God save the King" op 'n stomp afdryf! "Ons het later gehoor
dat hy deur Oudtshoorn se distrik met Olifantsrivier af is, al singende
"Rule Britannia". En die laaste berigte wat van hom bekend is, is dat hy
onder Gouritzrivier se brug deur is see-toe met die laaste van sy drie
liedere. Dit was "Home Fires" (p. 93). Kostelike ironie!
Oom Hendrik kom ook aangespoel om 'n goeie spook-storie te vertel. En
met sy vasgereende bure kom Neelsie gelukkig so goed klaar, dat selfs
die arm-blanke-vraagstuk aan sy geselligheid geen afbreuk doen nie.
Engela is ook in die skik met haar uit die lug gevalle vryer en die hele
wêreld kom so stadig aan weer reg.
Skaars is die pad egter rybaar of die "sondesoekery" begint weer. Twee
deputasies kom Neelsie vra om hom verkiesbaar te stel, Prins Albert vir
die volksraad en Oudtshoorn vir die stadsraad. Prins Albert hoop om op
die manier sy paaie ongeploeg te hou en Oudtshoorn sê: "Ons wil hê jy
moet so vas wees in die dorp dat jy nooit weer daar uitkom nie" (p.
118). Dit is die laaste, maar glad nie die enigste klap wat Sagmoedige
Neelsie aan sy eieliefde gee nie. Die "sagmoedigheid" van hom is sommer
bossies. Juis die manier waarop hy daarmee omspring, sy koddige pogings
om kastig eie vernaamheid te handhaaf en homself te rehabiliteer is een
van die besgeslaagde humoristiese trekke. "Neelsie, ons bring jou De
Rust se groete. Jy weet hoe lief ons jou het. Moenie laat daar iets
tussen ons kom nie.... Bly op Oudtshoorn.... En die beswaar het ek
gewaardeer.... En tot vandag toe het daardie mense my nog lief. Ek moet
darem maar 'n goeie man wees" (p. 46).
Komieklike verdraaiings, woordspelings en paradokse, die eienaardige
nuanse wat hy in geestige maar ook in die eenvoudigste opmerkings
lê--dit is 'n paar middels wat gebruik word. "Soos die ou spreekwoord
tog sê, as 'n mens dom is moet jy slim wees." (p. 6); tafelpote "moet
glo op een of ander manier ongelyk wees om gelyk te wees." (p. 10); "Ek
wil nie altyd wil nie, maar as ek darem nou wil, dan wil ek, of as ek
nie wil nie, dan wil ek nie." (p. 23.) Met 'n paar woorde bereik hy soms
'n mooi effek. Nadat hy 'n opsomming gegee het van al die swaar goed wat
op die tremwa is, voeg hy so ewe droog by: "En Engela se klere." (p.
48.) Anders kom hy weer met groot vertoon van erns die mees
vanselfsprekende feit vertel: "Engela en Willem het hulle, met
prysenswaardige bedagsaamheid jegens ons ouere smaak, onderwerp om maar
besonders van ons geselskap te bly en met hulle eie tevrede te wees, by
gebreke aan beter." (p. 110.)
"The sense of the Comic is much blunted by habits of punning and of
using humouristic phrase: the trick of employing Johnsonian
polysyllables to treat of the infinitely little. And it really may be
humorous, of a kind, yet it will miss the point by going too much round
about it."[366] Gelukkig kan dit nie van Langenhoven gesê word nie. Hy
maak 'n spaarsame gebruik van al die foefies en om die bos loop hy ook
nie. Mens kry by hom, wat Meredith noem "stout animal laughter", maar
ook "spiritual laughter".
"Die geagte leser kan glo wat hy wil en as hy nie wil nie kan hy laat
staan," sê die skrywer in sy voorwoord. Maar die onwaarskynlikheid is in
so 'n verhaal 'n deug. "There is nothing more powerfully humorous than
what is called _keeping_ in comic character ... (i.e.) consistency in
absurdity; a determined and laudable attachment to the incongruous and
singular. The regularity completes the contradiction; for the number of
instances of deviation from the right line, branching out in all
directions, shows the inveteracy of the original bias to any
extravagance or folly, the natural improbability, as it were, increasing
every time with the multiplication of chances for a return to common
sense, and in the end mounting up to an incredible and unaccountably
ridiculous height, when we find our expectations as invariably baffled.
The most curious problem of all, is this truth of absurdity to itself.
That reason and good sense should be consistent, is not wonderful: but
that caprice, and whim, and fantastical prejudice, should be uniform and
infallible in their results, is the surprising thing."[367]
Nou is daar nog 'n paar "muggies"[368], wat moet katswink geslaan word,
vóórdat hulle ons slaapsiekte kan gee! In _Die Brandwag_ (15 Mei 1912)
het Langenhoven gepleit vir "sulke handige woorde as: mistyk,
baaisikkel, drein, spiets, toast". In dieselfde artiekel kom voor:
_papier_ (krant), _gedrop, hendikep, remnant, op te dres_. As 'n
takhaar, soos Oom Stoffel in _Doppers en Filistyne_ praat van "die haai
sosaaietie van die dorp", dan het ons daar vrede mee. Ons sien hom sy
neus optrek vir die hele gedoente en hoor in die klank al sy veragting.
Dit is dieselfde beginsel wat hom laat sê _Broes Dekstrooi_ en
_Makpaatrie_ en dit tiepeer die man meteens. Maar die _gereelde_ gebruik
van die sogenaamde "handige woordjies" moet stellig afgekeur word en dit
kan ons met Langenhoven se eie woorde doen: "Sal 'n groot Afrikaanse
letterkunde ooit ontstaan, dan sal hy groot wees omdat hy Afrikaans is:
Afrikaans in sinsbou, idioom, taalgenie, taalopvatting, taalgevoel,
taalstandpunt." (t.a.p.). In _Sonde met die Bure_ stuit ons taalgevoel
op: "bargain (p. 16), trieks (p. 18), sake in order bring (p. 22),
kerrietse (p. 36), wybel (p. 98); ons dogter Engela had ook intussen
teruggekom (p. 20); nie alleen dat Vroutjie haar daaraan sou moes
versoen.... (p. 15); Vroutjie gee my weer 'n kyk" (p. 88). En is die
vorm _aan die gesels_ (p. 41) nie veel meer Afrikaans nie as _aan 't
afkom, aan 't uitspan_, ens.?
Doppers en Filistyne, (1922).
"Nou ja, net soos Delila met Simson gemaak het--gekerm en gekarring tot
sy haar sin gekry het--net so het Soetlief met my gewerk tot sy my
oorgelewer het aan die dorpse Filistyne" (p. 7). Soetlief volg dieselfde
taktiek as Vroutjie. Sy is moeg vir die rustige plaaslewe en dwing dorp
toe om ook in die "adelkringe" te kom. Oom Stoffel, 'n opregte ou
takhaar moet toegee en dan begint die sonde met die dorpse bure, en die
dorpse gewoontes. Alles is "blink bedrog". In plaas van sy koele
rietdakhuis trek hy in "'n moderne ongerieflike verspotterigheid ... wat
jy kon omstoot buiten dat die uitgeknipte blikversierseltjies jou hande
sou stukkend sny." (p. 18.) Van "sonde en ergernis en dorpse modes en
dorpse vleis en brood" word hy dodelik siek. Neelsie jaag hom die stuipe
op die lyf en as die dokter hom wil opereer, slaan hy die kêrel "dwars
oor die wastafel" en vlug na die plaas.
By sy terugkoms begint die spokery met sy buurman Makpaatrie oor die
waterlei-beurt. Steekbaard, die ou plaashond bevlieg die Skotsman, want
hy reken: "'n Vroumens met 'n lang rooi snorbaard en rokkies bokant die
kaal knieë--nee, soiets moenie wees nie" (p. 63), En hy veroorsaak nog
meer moeilikheid deur 'n slagting onder die Skot se "uitheemse soorte
bog-ongedierte".
Die anderkantse buurman was "Ja-mes Wénderbaail". Miesies Ja-mes gee
Soetlief 'n kursus in dorpse beskaafdheid, maar Oom Stoffel hou sy lyf
nog altyd takhaar. Die onderhoud tussen hom en Miesies Ja-mes is 'n
meesterstuk van vlymende satiere. (p. 73-75.) Soos Langenhoven die
verengelste Van der Byl-famielie geteken 't sal hulle bly lewe in ons
letterkunde. Hier is hy werklik 'n "virtuoos van het sarcasme".
Neelsie se joernalistieke ervaring kom Oom Stoffel te pas as hy die
Taaims-vaatdoekie aan flenters skeur en die hele redaksie met sy
karreekierie deurloop. Die Progressiewe Hollandse predikant word ook
ongenadig geroskam. As Neelsie met 'n vernuftige varkeberekening bewys,
dat Oom Stoffel koninklike bloed in sy are het skaam die ou hom
bitterlik. "Ek het gedog my peddekrie was skoon"! (p. 113.) Dit is die
ou Boeretrots wat met al sy veragting van uitheemse tietels hier
opflikker.
Engela se klererekening bring vir Neelsie "in die verknorsing" en dit
gee aanleiding tot 'n humoristiese hofsaak. Die gedig wat hy in die
tronk maak, het egter onder sy verdrietige stemming gely.
"Die dorpse duiwels se naam is legio" en in die loop van die verhaal kry
meer as een 'n goeie raps onder Oom Stoffel se kierie. Dit word 'n
deurlopende veroordeling van alle nuwe boggedoentes, van die "met blink
klatergoud-beslane doodkis", die "Mayoral Sunday", die ingevoerde
Engelse honde tot die vrot perskes, pere en appels met _fensie_-name en
_fensie_-wurms om maar 'n paar te noem. Oor alles moet hy sy
takhaar-wysheid lug, en as hy nie te kwaad word nie, laat hy ons glimlag
oorslaan in 'n onbedaarlike skaterlag. Al die nuwerwetse
verspotterigheid word met die ou plaaskierie goed deurgeloop.