Hugo, "die verstandige, kalme figuur aan die Bergrivier" (p. 125) bly

ook meestal doodbedaard. Hy vind dit heeltemal billik, dat Anna "die man

se innerlike (moet) leer ken, wat verlang dat hy haar lewensgesel sal

wees" (p. 84). En as dit blyk dat sy verwagtings op 'n sandbank gebou

is, bring Pascal hom tot die heldhaftige besluit: "Hy sal losbly van

homself(?), om nie te verlang nie, dat sy vir hom liewer as vir 'n ander

sal hê en dit net omdat hy vir haar lief het" (p. 116). Van lange duur

is die filosofiese wysheid egter nie, want hy gaan slaap "met die

gedagte wat streef om die holligheid in die huis en haard tog eenmaal op

te vul met die geluk waarna hy in sy troostelose allenigheid smag" (p.

117). Dit kom my voor dat die neiging van die outeur om in die persoon

van Hugo die Hugenote te idealiseer hom hier parte speel. "Hy (behoor)

ook groot genoeg te wees om vir hom (aan 'n teleurstelling) te

onderwerp, soos hy met sy geloofsgenote gewoon was om te doen" (p. 116).

Maar van die grootheid merk ons nie veel nie, want as hy gaan slaap,

verlang hy al weer na Anna, doen hy dus presies, wat hy hom voorgeneem

't om nie te doen nie!

Die slemppartye van Lourier en De Meurs is miskien die besgeslaagde

toneeltjies in die boek. De Meurs met sy toegeknipte oog en knorrende

brak. Lambert in sy astrante vrindskaplikheid is goed geteken, terwyl

die dialoog meestal fris en lewendig is. Hoe styf en onnatuurlik word

dit egter op ander plekke! "Ja, as dit (die liefde) die diepte van die

ware moederliefde het en 'n vermeende liefde nie 'n bandelose drif is

nie wat te dikwels en helaas, al te gou tot 'n ontnugtering van die

werklikheid (?) kom." Sulke en nog swaarwigtiger betoë lewer Jacob de

Smit op p. 137. Hy praat van "'n nimmereindigende lewenswroeging",

terwyl ook Isabella so deftig soos 'n dominee redeneer: "Jy sien daar so

beteuterd en ontredderd na liggaam en siel uit, asof jou sterwensuur

naby is." De Smit vertel Lourier dat sy ouershuis "nou 'n droom, 'n

ysingwekkende, nimmereindigende herinnering (is). Terwille van (sy

moeder) het (hy) nog teen die verdrietelikhede van die lewe manhaftig en

hygend geworstel...." (p. 46). De Smit met sy triestige beskouings moet

dien as teëhanger van Lambert Lourier met sy lugtige swerwersnatuur.

Maar die hele selfmoordepisode behoort tot die swakste gedeeltes van die

boek. Malan verstaan nie die kuns om deur intuïtiewe deurdringende

details sy persone te laat leef nie en De Smit bly vir ons 'n skim. Sy

teatrale lamentasies mis alle egtheid en die tekening van sy geval is so

alledaags, dat dit by ons geen dieper gevoel opwek nie dan soortgelyke

berigte, wat ons af en toe terloops in 'n krant raaksien.

Die onverstaanbare praatjies van Aploon oor Boeddhisme lyk baie na

onhandige vertalings uit 'n handboek oor Oosterse wysbegeerte. Onder

ander sê hy: "Die mens het geen eie ek nie. Hy bestaan uit 'n

liggaamlike uiterlike gevoel, waarneming, begeerte en bewussyn wat hy

hom kan verbeel en as hy sterf, plof dit almal uiteen" (p. 59). Die

vertalings uit Pascal is ook nie almal gelukkig nie "Die teenwoordige

is nooit ons _end_ nie...." (p. 115). Die Franse teks lui: "Le présent

n'est jamais notre fin: le passé et le présent sont nos moyens; le

seul avenir est notre fin".[336] Dit lyk baie of 'n Engelse vertaling

Malan hier op 'n verkeerde spoor gebring 't, want uit die verband blyk

dit dat Pascal wou sê: Die teenwoordige is nooit ons _doel_ nie.

Onduidelik is ook Malan se vertaling van: "Si nous naissions

raissonnables et indifférents, et connaissant nous et les autres, nous

ne donnerions point cette inclination à notre volonté.[337] "As ons

onverskillig--oplettend...." ens. (p. 115).

Onverstaanbaarheid is 'n vaste kenmerk van Malan se styl. Telkens stuit

mens op sinne, wat jy drie of vier keer moet lees, voordat dit op 'n

manier duidelik word. Sy verwronge uitdrukkingswyse laat mens dink aan

'n swaargelaaide wa, wat kreun-kreun teen 'n knaende opdraand uitgesleep

word.

Die duisterheid word meestal veroorsaak deur 'n onbeholpe sinsbou en

woordskikking, of 'n verwarde gedagtegang. "'n Halwe of hele bottel wyn

by glasieswyse genuttig in 'n aand deur een persoon, is nie juis beskou

deur die fatsoenlikste in die land nie, dat 'n mens op 'n ongeoorloofde

wyse oor jou maat gaan." (p. 92); "Ek snap dit nie, maar ek glo dat 'n

Indiese bende ook in die rigting van die onsienlike en harmonie vir

hulle beweeg" (p. 122); "Daarmee is hulle die aand, byna histories vir

die famielie se geskiedenis uitmekaar" (p. 126); "Hugo redeneer, dat

hier daar nou 'n mooi geleentheid moontlik sal kom ..." (p. 101); "Die

okkultistiese wysbegeerte ... had 'n vèrreikende invloed op die

ongelukkige man, waaroor hy dae lang steeds gedroom en met sy eie

toestand vergelyk het." (p. 61); "In geen land is 'n somersnag

bekoorliker nie as in Suid-Afrika.[338] Die suidooste wind het af en toe

die dag gewaai en alhoewel dit in Olifantshoek byna pynlik was, die

alom-besielende stilheid in die natuur, kon die aanhoudende dreuning van

die "Sedoos" se geblaas ... nog duidelik gehoor word ..." (p. 132); "Vir

sy onderwyserskap wil hy verhoging van traktement hê, wat maar twee dae

in 'n week ... duur" (p. 12); "Dit was ons leiers se grootste fout

gemaak, dat hulle ..." (p. 19); "Vir haar skyn daar met 'n oormate van

poeier aan die gesig, voorligting oor betaamlikheid en stemmigheid

sonder suur en spraakloos te wees, ten minste ontbreek te hê" (p.

144-5).[339]

Naas meer sulke voorbeelde kom daar nog baie staaltjies van onbeholpe

styl en verkeerde woordgebruik voor, waarvan enkele voorbeelde ter

tiepering gegee word: "Die geplas van die strooidak neerstromende water"

(p. 15); "oorstelp" (p. 64); "En as hy met ander honde op straat brutaal

is, dan as hy aan die kortend kom, vlug hy tussen sy baas se bene, wat

sy Nimf ... dan met sy stok verdedig" (p. 69); "ontbreek" (p. 72); "Toe

hy sy hand bo sy oë hou, om die gedaante ... te ontsyfer" (p. 74);

"herinner" (p. 124); "onderhoud" (p. 135); "Hy het ... so skokkend

geskrik" (p. 149); "bevel" (p. 178).

Storende herhaling van dieselfde woord kom maar al te dikwels voor:

"Hy kan moontlik Hugo se sukses al onmoontlik gemaak het;

ongetwyfeld--sonder twyfel; belangstelling ... gestel het of stel" (p.

82-3); "weer ... weer ... weer" (p. 86, in een sin); so ook "buurman"

(p. 102); "Toe was sy ook etlike male voor die spieël en vol van mooie

bespiegelings oor haar indrukwekkende postuur ..." (p. 146); "almal

... almal; wispelturige; Daar was ten minste 'n kenlike gemoedsvrede

... in die kombuis van Pierre Rousseau kenbaar" (p. 9); ens.

Die beskrywing van die verjaardagfees op die kasteel in Hoofstuk XVII

mag in alle opsigte histories juis wees, maar met kuns het dit seker

niks te maak nie. "Eindelik tree die goewerneur, onder menigvuldige

buigings van die gaste ... binne. Daaronder word opgemerk, onder meer,

landdros de Meurs, lede van die Politieke Raad, ander vernaamste

ingesetene van die stad.... Isabella was in 'n platgeplooide swart

syrok, mevr. luitenant Rheede in 'n polonnaise-plooirok...." (p. 153-4).

So 'n verslag kan die jongste rapporteur van _Die Volksblad_ ook skrywe!

In wat blykbaar as 'n kunswerk bedoel is, behoort so iets, om die minste

te sê seker nie voor te kom nie.

Malan het 'n manier om met die grootste erns uit te wei oor alledaagse

onbelangrikheidjies. "Anne wat in die kombuis besig was om te stryk, het

binnegekom nadat Anna, haar dogter, vir haar van die gaste vertel het en

sy het hulle almal hartlik welkom geheet, nadat sy vir hulle gegroet

het" (p. 8). Nou weet ons dit tog sekuur: eers groet, dan welkom heet!

Maar, "intussen sal Anna voorbereidsels vir die ete maak" en "solang die

gaste en Pierre oor die rit, die weer en die boerdery praat is die tafel

gedek en verder alles in verband met die aandete in orde gebring. Toe

hulle almal aansit, was daar genoeg vir almal." Gelukkig vir die

huisvrou, maar hoe sy dit so sekuur kan weet by die begin van die

maaltyd al, is nie erg duidelik nie! Dan volg 'n uitweiding oor die

"Fransche brood". "Na die ete is die huisgodsdiens, wat deur Pierre

_gelei is, waargeneem_. Eers is 'n hoofstuk uit die Bybel uit

voorgelees, toe 'n psalmvers gesing, ens ..." Waarom moet sulke

welbekende sake so plegtig meegedeel word? Hier het Malan nou 'n mooi

geleentheid gehad, om deur enkele plastiese trekkies, deur die tekening

van 'n paar gebare of die aanduiding van 'n reeks klein handelinge sy

persone uit te beeld. Maar vir hom is dit, as historikus hoofsaak, dat

die leser moet weet van "die worsteling van die Camisarde, (wat) op die

punt is om onderdruk te word".

Na die huisgodsdiens gaan die gaste in die kombuis om die vuurherd sit.

Die poging om die nuwe atmosfeer aan te dui is nie erg gelukkig

nie--daar is storende herhalings en verwronge sinsbou--terwyl die

volgende sin seker uit 'n kinderboekie verdwaal het: "Anne vra vir Anna

om die tessie met die stoof asseblief te gaan haal; en nadat sy dit

gebring het, (gewigtige meedeling! P.C.S.) het sy vir haar moeder daar

kole met die tang ingedoen en dit het onder Anna se voete in die stoof

gekom"! (p. 9-10).

Gevoel vir die natuur het Malan wel, maar hy vergenoeg hom meestal met

konwensionele beeldspraak. Die bergpunte gooi hul "wit musse" ongeduldig

af (p. 5); "van die sonneskyf (spat) 'n see van gloeiende vonke (af)"

(p. 6); "Statig en deftig is die son reeds agter die westerkimme

weggestap in sy fonkelende mantel van goud en oranje en violet" (p.

199). Waag hy hom aan 'n nuwe beeld dan kry ons rariteite soos die

volgende. 'n Wyfie-kokkewiek antwoord haar maat "in 'n perfekte maat

..., met _halleluja's_" (p. 63), terwyl die lenteson elke jaar

"nimmerfeilend oor elke boom en blad na 'n gure winternood _halleluja's_

neergiet--helaas, helaas, ook as requiem vir die voorgeslag wat verby

is, wat leef, wat kom." (p. 80-1). Halleluja's as requiem! 'n

_Voor_geslag wat leef, wat kom! Dit staan daar!

In hoofstuk III moet 'n vergelyking van die voortreflikhede van

"eiland- en waterleipatats" ons in die stemming bring vir 'n lofrede op

die Bergrivier "die lewensaar en voeder van die allereerste wegbaners in

die nuwe vaderland" (p. 38). "Aan sy oewers is hy die een na die ander

geslag as 'n neulende _kindjie_ in die skommelende wieg, 'n

nooit-vergete troos." Maar in die volgende sin hoor ons: "By hulle moes

die Bergrivier se aansyn en waterrippeling die afspieëling van 'n

_moederportret_ gewees het ..." Dat "die puriteinse gedeelte van die

volk ... die rooivlag ... uitgehang het" teen die ou bruilofsliedjies is

'n anakronistiese beeld, wat 'n snaakse indruk maak in die

agtiende-eeuse sfeer. (p. 183.) In die "aambeeldklanke aan die oewers

van die Eersterivier" klink 'n harmoniese toon, maar waarom moet ons

driemaal hoor dat die water "haastig" is? (p. 81).

Stereotiepe uitdrukkings soos die volgende kom dikwels voor: "'n

Skynende lig in die ... dikste duisternis" (p. 108); Lourier bly "as 'n

soutpilaar staan" (p. 86), en voel "asof hy langsamerhand in 'n see van

wanhoop wegsink" (p. 162); ens. Naas retoriese uitdrukkings soos: "Sy

kreun van sielswroegende spyt" (p. 173) ook die mees alledaagse

beleefdheidsfrases: "By die geleentheid het hulle vir hom met die

innigste hartlikheid vir sy heldhaftige daad bedank en Hugo het dit met

die minlikste bereidwilligheid aanvaar" (p. 176). En hoeveel "sugte"

word daar nie "geslaak" nie! De Meurs "slaak die een na die ander

sielsverstorende sug" (p. 72); Anna "slaak ... 'n diep sug van troos en

verligting" (p. 174); ens.[340]

Onder die anglisismes kom voor: kyk (blik, en iemand besoek, p. 6, 13,

186, 62, 76); sieniek (sienikus, p. 84); "om daar ... so 'n ekshibiesie

van hom te maak" (p. 162); afgetrek (p. 183). Malan gebruik dikwels

Hollandse woorde en wendings: tors (p. 27); desulke (p. 32); verhole (p.

44); ens. Die volgende voorsetsels is foutief: "Uit die gang uit gaan 'n

mens _by_ 'n rei[341] trappe op na bo" (p. 24); "student _in_ 'n

Neerlandse Uni(w)ersiteit" (p. 48); "die kroon was ... _deur_

mak-roosmaryn ... versier" (p. 183); "sakdoeke _aan_ die vertrekkende

gewaai" (p. 189); "As amptenaar van die O.I.K. het hy ... _by_ hom die

stempel van Batavia gedra" (p. 66). Uit 'n taalkundige oogpunt sou daar

nog heelwat op Malan se sinsbou aan te merk wees. Onder ander is sy

gebruik van die dubbele ontkenning, van _het_ en _hê_ dikwels foutief.

§ 18. Ds. J.H. Kruger.

Ds. J.H. Kruger is in 1878 gebore op Venterstad, K.P. Aan die

Teologiese Skool, Burgersdorp het hy gestudeer en daarna enige tyd

onderwys gegee. Sy teologiese studie is in 1899 deur die oorlog

onderbreek. Met die hulp van vriende het hy deur Grootrivier gevlug en

as rebel by die kommando's aangesluit. Na herstelling van 'n wond by

Spioenkop, Natal opgedoen, het hy by Generaal De Wet aangesluit, maar in

die verwarring by die slag van Sandrivier is hy gevang en moes twee jaar

as balling in Ceylon deurbring. In 1906 het hy in Potchefstroom

proponentseksamen gedoen. Sy eerste standplaas was Elliot en van 1911 af

Postmasburg. In 1921 het van hom verskyn 'n roman, _Twee Rampe en Twee

Gelukke_, waaraan in die prysvraag van die firma J.H. de Bussy die

twede, prys toegeken is.

Twee Rampe en Twee Gelukke.

Bram, die eienaar van die plaas Leeukop het agteruit geboer en was

verplig om geld op te neem by sy buurvrou, ou tant Anna Smal, wat van sy

verleentheid wil gebruik maak om haar buffelagtige seun Hans met sy

fynopgevoede dogter Isabella te laat trou. Met skinderpraatjies steek

tant Anna vir Bram op teen die Breed-famielie, sy beste vrinde, wat op

die aangrensende plaas Oupos woon. Isabella het vir Piet Breed lief,

maar haar vader se afhanklike posiesie verplig haar om met Hans uit te

gaan, wat haar na 'n dansparty sleep. Tant Anna en Bram jaag die Breeds

van hulle huurplaas weg, maar Bram se gewete plaag hom so, dat hy sy

dogter en die Breeds kort voor sy dood om vergewing vra. Hans word in

die pad gesteek deur Bram se weduwee en as tant Anna die geld opsê, word

Piet Breed deur die vrygewigheid van Oom Segrys Boshof in staat gestel

om Leeukop te koop.

* * * * *

Die roman is hoofsaaklik in dialoogvorm geskryf. Die gesprekke word baie

breedvoerig weergegee, en as gevolg kry die verhaal hier en daar 'n

slepende gang. Heel weinig word aan die fantasie van die leser

oorgelaat. Daar is soms 'n neiging om alles tot op die been af te kluif.

Groetery, koffiedrinkery en soortgelyke dinge word oor en oor vertel.

Die skikkinge vir die begrafnis word baie omstandig meegedeel en ou

Jefta se relaas (p. 37-40) kon heelwat korter gewees 't.

Die dialoog tref deur 'n besonder losse natuurlikheid. Die mense praat

geen kunstig inmekaar gesette vernufstaaltjie nie, maar hul gesprekke

word gekenmerk deur die sig-sag gang, die toevallig gebrokene van die

geselstaal.[342]

Maar, "gesprekjes weergeven is geen dialoog, hoe letterlijk de

weergegeven woordjes en zinnetjes ook zijn.... De hooge en werkelijk

groote dialoog ontstaat pas in de door de ziel van den kunstenaar

herschapen taal-levingen. Dialoog krijgt alleen dan diepte, als hy

geheel op hetzelfde geïndividualiseerde plan staat van de waarde der

menschen en omgeving. Dialoog scheppen is even moeilijk als tragiek

scheppen, of liever moet zich geheel scheppend oplossen in de gansche

uiting. Evenmin als 'n _fotografische_ opname eener omgeving, die alleen

door de ziel van een kunstenaar er in te brengen stemming kan weergeven

_van_ die omgeving, evenmin kan een _fonografische_ op- en overname van

een gesprek de stemming weergeven van de ziel der wezens die spreken.

Dialoog is stemmingskunst in de hoogste volmaking en 'n innig-levende

dialoog kan nooit 'n klankweergeving zijn van _afgeluisterde_

zinnetjes."[343] Fonografies korrekte sinnetjies is seker volop in die

roman, maar in die pratery van ou tant Anna bereik Kruger ongetwyfeld

iets van die hoë dialoog. En dat sy mense op natuurlike wyse gesels is

ook al iets om dankbaar voor te wees, aangesien so baie van ons skrywers

nog soos Bredero van Rodenburg sê "de Vrouwen, Dienst-meysjens, ja

Stalknechts doe(n) Philosopheren ... dat ick doch meer voor een bewijs

van uwe wetenschap acht, als voor een eygenschap in die slach van

Menschen."[344]

Kruger verstaan die kuns om uit die dialoog die innerlike wese van sy

mense te laat opduik en daardeur bereik hy meer dan baie ander skrywers

met analiese of beskrywing. Tant Anna het skaars haar mond oopgemaak of

ons ken haar al deur-en-deur in al haar skynheilige vroomheid. As

skinderbek veral is sy goed geteken. Op listig-diplomatieke wyse word

die driftige Bram eers opgestook, maar as hy te ver wil gaan in sy woede

laat sy hom bedaar met 'n bybelteks! (p. 66). Deur allerlei gelukkige

trekkies en haaltjies word sy so goed uitgebeeld, dat sy naderhand

lewendig voor ons staan met die vetswam onder haar kin, die vuil-gelige

tande, bleekrooi sakdoek en snuifdosie. Ook van Hans en Jan Booise kry

ons 'n realistiese portrettekening. Ou tant Anna se vroom uitvalle, haar

met bybeltekste deurspekte taal en haar manie om almal te dokter is goed

weergegee. So ook die buffelagtige lompheid van Hans. Maar die

kenmerkende eienskappe van moeder en seun word teen die end van die

verhaal só aangedik, dat die tekening karikatuuragtig word. Kruger moet

dit nie vergeet nie: "il n'y a point d'unité complète dans l'homme, et

presque jamais personne n'est tout à fait sincère ni tout à fait de

mauvaise foi."[345]

Tog is daar 'n paar mooi realistiese toneeltjies uit die lewe op

Tweefontein[346] en die manier waarop Hans van Leeukop verwilder word

(p. 202, vlg.) is 'n gelukkige vinding, wat van diep-psigologiese insig

getuig. Dit is ook waar van die uitbeelding van die oplopende Bram, wat

na die dansparty tot inkeer kom; die kwaai-koppige Oom Segrys, wat dit

nie kan kleinkry nie, dat dit na 'n dansparty altyd so mooi reent (p.

182); tant Martina, wat so trots is op haar "skoon geslagte" en die so

fyn kan uitrafel. Maar Piet bly 'n skim en die maklike manier, waarop hy

eienaar word van Leeukop gee hom die allures van 'n "romanheld". Dit is

die swak punt in die komposiesie van die boek. Oom Segrys se

buitengewone vrygewigheid word wel enigsins gemotiveer deur die feit,

dat die Breeds hom in die stormagtige nag gered 't, maar die oubaas, wat

so 'n swak het vir famielie-betrekkings het tog seker nog nader verwante

gehad, wat meer reg op sy geld het as Piet. Oom Segrys is eenvoudig die

_deus ex machina_, wat die ontknoping van die verhaal moet bewerk. Sulke

goedhartige ooms is maar bra skaars in die werklike lewe.

Die tekening van Isabella is ook net gedeeltelik geslaag. Haar

ervarings op die dansparty is meer die indrukte van 'n dood-onskuldige

teologiese student, wat vir die eerste maal iets van die sondige wêreld

sien en notiesies maak vir 'n retoriese preek teen wêreldsgesindheid.

"Will Bottel het op haar 'n treurige, sonde-vieslike[347] indruk gemaak"

(p. 151). Sy sien hom lê op die vloer "soos iemand in die poel van

rampsaligheid moet lê" (p. 172). "Dit was vir haar of sy in 'n onheilige

omgewing staan en 'n besoedelde atmosfeer inasem, 'n atmosfeer, waarin

verpestende sondekieme ronddrywe" (p. 152). "Die onreinheid en

onheiligheid het haar angstig gemaak, ontevrede, ongemaklik en

verwaarloos laat voel, net soos iemand, wat vuil was en lanklaas gewas

het"!! (p. 177). Sulke opmerkings bewys, dat hier die predikant baas

speel oor die outeur. Hy kon hom nie vereenselwig met die malkop-dansers

in hul "dolle gloria" nie, maar bly 'n onwillige _toeskouer_ van al die

sondige pret. Sy aanvoeling van Isabella se gewaarwordings is

grof-manlik en nie vroulik-subtiel nie. Maar as Isabella met Koos dans,

dan maak hy 'n raak opmerking: "Sy dans en voel, dat dit 'n genot moet

wees om te dans met 'n jonkman, wat sy sou bemin" (p. 163).

Oom Freek is geen figuur wat ons tref deur indiwiduële tekening nie. Sy

mymering op p. 10-11 sit te netjies inmekaar om eg te wees. Dieselfde

indruk maak ook p. 74, terwyl Hans onmoontlik ou Jefta se woorde so

presies in sy gedagte kan nasê (p. 78). Dat al drie reisigers dieselfde

indruk van die verlate Oupos kry (p. 138) is ook onmoontlik. Mooi word

egter die atmosfeer aangedui as Piet in die waanhuis die doodkis

toeskroef (p. 20) en treffend-eg is die uitbeelding van sy

grillerig-bange gevoelens. "Piet verbeel hom meteens, daar uit die

groot, wye spinnekop-nes kom 'n grillerige langbeen....; die verewa

agter in die waanhuis kyk hom aan met groot starende oë".[348] In die

damtoneeltjies is daar stukkies beskrywing van 'n suggestiewe

fynheid.[349]

In die verhalende gedeeltes is Kruger se styl soms so kort afgebyt, nes

een wat ver gehardloop het en nog uitasem sy storie vertel.[350] Eweas

in die dialoog kom hier ook 'n breedvoerigheid voor, wat af en toe

hinderlik word. "Die predikant staan op, maak keel skoon, haal sy bril

uit die skyf, vee dit af, hak hom met albei hande agter die ore vas, gee

'n versie op, lees 'n kapittel en begin toe, so effens oor die

brille[351] loerend." (p. 30.) So 'n eentonige reeks moment-opnames

steek lelik af by realistiese skilderytjies soos die volgende: "Ou tant

Anna lag met wyd oopgerekte mond, die vetswam onder haar ken uitdyend en

die gehemelterooi agter haar vuil-gelige tande wysend." (p. 65.) En wat

maak vlak-vaal sinne, waarvan die volgende maar een voorbeeld is in 'n

letterkundige werk? "Die meeste meisies was in die groot langwerpige

eetkamer, waarin, behalwe 'n eettafel en 'n paar ouderwetse swart

stinkhout stoele, niksnie besonders was nie." (p. 152.) Onbeholpe van

segging is o.a. die volgende: "'n groot mis_stof stof_wolk (p. 70); die

om sy lyf met 'n riem vasgegorde te wye ferweelsbroek (p. 86), Oom Freek

(vra) met bewende ken, waaraan die lang yl baard skud en vlammende oë"

(p. 87); die herhaling van _slaap_ op p. 181.

'n Voorbeeld van smaaklose klink-klank is die beskrywing van die wind op

p. 146. "Draaiende, swaaiende kom met die paaie aangewaai stowwe suile

(stofsuile?), wat soos geel krullende kuiwe opstuiwe. Die hollende,

jollende wind skop die stowwe bolle (stofbolle?) soos dwalende, malende

vuilkolle hoog in die lug in...." So rym en allitereer hy dapper voort

nes 'n poëtaster, wat sy eerste versfabriekie aanmekaar klink!

Ondertussen word die _stofsuile_ van _krullende kuiwe_ tot _stofbolle_

en die weer tot _vuilkolle!_ Komies is die klankeffek in die volgende:

"Die slappe wilkertakke ... skoppermaaie rusteloos, moedeloos, lindelam

heen en weer oor die dam"![352]

In sy beeldspraak is Kruger 'n enkele maal fris en oorspronklik. Ou

Jefta se hemp word deur die wind _bulsak_ geblaas tussen sy skouers (p.

147); Isabella sidder "soos 'n voëltjie vir 'n mamba-slang" (p. 153);

Jana lyk "soos 'n Bloemfonteinse straat, wat ... opgemaak (is) vir die

hertog van Connaught" (p. 149). Die gewone cliché-praatjies is egter ook

volop: Die lykpreek het "byna 'n eeu geduur" (p. 30); "Koud soos 'n stuk

ys, waaraan sy gloeiende hart raak ..." (p. 84); "Haar hart het ...

gebrand van verlange, maar sy moes daardie liefdekole in haar boesem

dra"! (p. 223). Arme meisie!

Storend is die gebruik van 'n driedubbele negatief en weglating van die

dubbele negatief. "Vir haar was daar _niksnie_ aangenamer _nie_ (p. 24)

nooitnie ... nie; ens. "G'n blaartjie het geroer" (p. 7); ens.

Ofskoon die gebruik van dialektiese vorme in die dialoog toelaatbaar is,

moet dit afgekeur word in die verhalende teks. Kruger gebruik o.a.

suffel, groos, espres, bebliek, ens. Wat hy o.a. met _preer_ (p. 204),

_effetroon_ (p. 62), _eenspaier_ (p. 141) bedoel is my onbekend.[353]

Verkeerd is: ongehawende stemme (p. 8), kostelike gordyne (p. 214),

terwyl _moedvallig_ 'n Krugerisme is.

Afsonderlik moet nog vermeld word, dat Kruger sy eie persoon nooit op

die voorgrond dring nie. Hy hou geen toesprake tot sy "geagte lesers" en

moraliseer nie oor sy karakters nie. Van 'n skrywer, wat in sy eerste

werk so 'n psigologiese indringingsvermoë openbaar en so realisties

teken, kan nog veel verwag word.

§ 19. Mej. Sadie Bosman.

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 18 / 27 段