Van 'n realistiese uitbeelding is daar dan ook geen sprake nie. "So 'n

man was ds. Pierre Simond, en ons kan aanneem dat voorgaande in hoofsaak

sy lewensgeskiedenis was" (p. 146). Moet hy felle emosie beskryf, dan

pas hy die welbekende _sluier-taktiek_ toe! "Wel, leser, ons sal die

twee vanaand nie verder volg nie. Daar is tye in die lewe van 'n mens

wat te heilig is om aan vreemde oë te ontbloot" (p. 30).[318] Gedurig

dring die skrywer homself op die voorgrond. Hy lewer prekies soos 'n

teologiese student en gebruik selfs die dialoog vir sedekundige

verhandelinge.[319] Die twee "ou seerobbe", wat op p. 160 begin te

praat, het nog nooit soutwater geruik nie! Hoeveel sou die sewejarige

Marie van Henri se storie (p. 15-20) verstaan het?

Die verhaal is van die _Johannes van Wyk_-soort--'n aaneenstrengeling

van awonture--soms erg onwaarskynlike. Daar is 'n toneelheld, wat

wondere verrig, 'n skurk doodsteek en selfs Adriaan van der Stel laat

sidder. Die skurk is "nie geheel sleg nie--geen mens is" (p. 99).[320]

Tog kom daar van die psigologie nie veel tereg nie. Die ontstaan van

liefde is vir Du Biel eenvoudig. "Daar is diepe agting in haar hart vir

haar vriend--'n agting wat besig is om in liefde te verander: _die

enigste weg_ waarlangs 'n edele liefde kan ontstaan"! (p. 53)[321] Die

ingewikkeldste psigologiese prosesse word ons in een sinnetjie

meegedeel. "In een uur het hy van 'n jongeling tot 'n man geword" (p.

38). Ofskoon heeltemal slegte mense volgens Du Biel dus nie bestaan nie,

skyn hy aan heeltemal goeies tog te geloof, want Van Bergen is stroperig

braaf en daar is nog ander ook wat niks op hul kerfstok het nie.

Potsierlik is veral die toneel met Juffr. Le Notre. (p. 54 vlg.)

Die Misdade van die Vaders.

Veel beter geslaag is _Die Misdade van die Vaders_. Hier is die skrywer

op meer bekende terrein, want dit is 'n verhaal uit die

Voortrekker-periode. Jan Alpenveld, 'n misdadiger besluit om aan die

Kaap 'n fatsoenlike lewe te begin. Met sy hoflike maniere verower hy die

hart van Annie Bester, 'n eenvoudige plaasmeisie, die aangenome kind van

Petrus Liebenberg, wat verloof was aan sy seun Tjaart. As Oom Petrus

beswaar maak teen die huwelik, vlug Annie met Jan Kaap toe. Annie is die

dogter van "'n roekelose kêrel en 'n hopelose dronkaard" (p. 11 2^de

druk). "Die Heilige Skrif is vir (Liebenberg) 'n lewendige wet en hy

trag om dit letterlik te volg". Na Annie se vlug sny hy haar naam uit

die famielie-register voor in die Bybel en lees daaruit die vervloeking

plegtig voor: "Die de misdaad der vaderen bezoek aan de kinderen, aan

het derde, en aan het vierde lid dergenen, die Mij haten." Jan Alpenveld

raak na enige tyd in die hande van die gereg maar tussen sy seun,

Nikolaas en Tjaart se dogter, Lenie ontstaan weer 'n liefdesbetrekking,

wat deur dieselfde Bybelteks verydel word. Nikolaas trek alleen na die

woeste Noorde, waar hy later op geheimsinnige wyse groot dienste aan die

Trekkers bewys. Hy ontmoet Lenie weer en val in 'n geveg met die

Kaffers. Tjaart word deur sy vrou geleer, dat die grootste gebod die van

die liefde is.

Twee motiewe uit _Getrou_ word nog 'n keer gebruik. Soos Annette in

haar eenvoud verlei word deur die genoegens van Parys en die mooi

praatjies van La Fontaine, word ook Annie Bester bekoor deur die fyner

lewe in Kaapstad en die vername houding van "Graaf Alpenveld". Van

Bergen bewys sy ou vrinde groot dienste sonder dat sy ware naam bekend

word, Alpenveld net so. Die geheimsinnige "Verdwynende Boerewag" is 'n

knap verafrikaansing van die dolende middeleeuse ridder. In plaas van

gifbrakende monsters veg hy teen leeus; die skone dame word nie uit 'n

onderaardse kerker van 'n betowerde kasteel gered nie, maar uit die hut

van 'n Kafferkaptein.

Die Voortrekkers word verdedig teen lasterpraatjies; die vrymaking van

die slawe, die kafferpolitiek van die Britse regering en die handelwyse

van die Engelse sendelinge word bespreek, 'n Poging word gedoen om dit

alles binne die kader van die verhaal te hou; die historiese uitweidings

is kort. "Dit sou te lank duur om alles hier mee te deel ... en dit is

ook geskiedenis." (p. 124). Dat Du Biel ten spyte van sy goeie verhaal

tog nie daarin slaag om ons in die volle werklikheid van die

Voortrekkertydperk te plaas nie, is hoofsaaklik 'n gevolg van sy

gebrekkige en verouderde tegniek. Hy hou gedurig 'n praatjie met die

leser, gee beskouings oor die gedrag van die karakters, las sedekundige

prekies in net waar hy kan. Die hoofverhaal loop oor drie geslagte, maar

daarby moet ons o.a. ook nog kennis maak met al die bewoners van Uitkyk.

Die gevolg is dat die meeste persone baie vaag geteken word. Selfs waar

dit enigsins uitvoeriger gebeur, soos o.a. met Lenie, kry ons selde die

indruk, dat ons met werklik lewende mense te doen het. Lenie word ons op

p. 59 voorgestel as 'n digteres. Dit word verseker, dat haar vader die

"kundigheid"(!) waardeer, ofskoon ons van die waardering nooit iets merk

nie. Die geduldige leser word op p. 135 weer aan Lenie se digterskap

herinner en 'n gediggie "wat sy in dié dae gemaak het" word meegedeel.

"In die dae" is net voor die Groot Trek, maar op p. 141 word ons

vertel--dis nou 'n goeie paar maande later--dat van dieselfde gedig, wat

ons al klaar gelees het nog net "enkele reëls" geskryf is! Deur sulke

onhandige sette[322] is dit, dat ons in plaas van die uitgebeelde

persone altyd sien Meneer Du Biel aan sy skryftafel, verskans agter

Theal, Cory en ander historisie!

"In 'n oomblik sien hy alles in sy ware kleure. Hy aanskou sy eie siel

in al sy naaktheid...." (p. 144). Dit is van die soort blits-psigologie,

wat so dikwels in _Getrou_ voorkom.[323] Van wat in die siel van

Nikolaas en Lenie omgaan na die indrukwekkende vervloeking deur Oom

Tjaart hoor ons weinig. Du Biel bly te veel aan die buitekant. Nikolaas

"lyk jare ouer: die gewone hoopvolle glimlag is van sy gelaat weg, en in

plaas daarvan staat erns geskrywe" (p. 98).--"Arme Lenie! Sy is nou maar

slegs die gees van wat sy vroeër was; en die treurige en hopelose blik

op haar gesig is onvergeetlik" (p. 99). Later slaag Du Biel daar veel

beter in om ons te laat voel die tragiese noodlot, waarteen Nikolaas

tevergeefs stry. Die vloek wat op hom rus deur sy geboorte kan selfs

deur sy dapperste dade nie weggeneem word nie. "Die misdade van sy

vaders" maak 'n volkome rehabilitasie in die trekkerslaer onmoontlik, en

dat hy sy lewe opoffer vir dieselfde mense, wat hom as 'n onwaardige uit

hul gemeenskap stoot is 'n treffende kliemaks van 'n eg-menslike drama.

Met sy dood is die drama uit, en die slothoofstuk verswak alleen die

indruk.[324] Lenie behoort aan niemand anders as aan die gevalle held

nie.

Deur die kreasie van Nikolaas Alpenveld word _Die Misdade van die

Vaders_ iets meer dan 'n gewone awonture-verhaaltjie. Die moralisasies,

wat 'n groot gedeelte van die roman inneem is van dieselfde gehalte as

in _Getrou_. Daar is geen sprake van mooiheid van segging of

oorspronklikheid nie. "Hoe wonderbaar is ons lewe! Alles is veranderlik;

niks bly vir een enkele uur geheel dieselfde nie." (p. 124.) Van sulke

afgesaagde bewerings krioel die boek. Of anders kry ons twyfelagtige

stellings soos die volgende: "Dit is een van die wonders van die

skepping dat dit in die mag van die mens is om te word wat hy verkies"

(p. 50).

"Die taal en styl openbaar 'n bekoorlike helderheid en eenvoud",

verklaar Prof. J.J. Smith in sy voorwoord. Helder en eenvoudig is dit

seker, maar dit mis alle bekoorlikheid, omdat Du Biel geen eie stem het

nie. Daar is niks persoonliks in sy styl, nêrens iets wat ons ontroer

deur fynheid van segging of klank, nie. Dikwels stuit ons op 'n

eentonige "hul-lerigheid" "_Hul_ wou blomme pluk. Plotseling het _hul_

'n aantal Kaffers na _hul_ sien aankom, en _hul_ het begin hardloop.

_Hul_ het gou gesien dat _hul_ nie sou voorbly nie, en het na 'n dik

plek bosse weggedraai, waar _hul_ gedink het dat _hul_ miskien kon

wegkruip. _Hul_ het die bosse gehaal; maar _hul_ was doodmoeg, en die

Kaffers was kort agter _hul_. _Hul_ moed was al byna op, toe _hul_ by 'n

erdvarkgat kom." (p. 187.)

In die taal is daar 'n paar anglisismes, onder meer die volgende:

"watter goeie doeleinde kan dit dien (p. 98); ontdoen" (p. 132, 228). In

_Getrou_: "En die dogter, is sy _skoon?_ (Hollandisme).--O ja, sy is

gangbaar (p. 39); sy is in geen haas om terug te gaan nie (p. 92);

vroulike vorms" (p. 48). Die gebruik van _beken_ en _erken_ (p. 65, 71),

gelaster (p. 86)[325] is verkeerd.

§ 16. Mevrou M. Jansen-Pellissier.

Martha M. Pellissier is gebore op Bethulie. Haar grootvader was 'n

Franse sendeling. Aan die Hugenote-Kollege het sy in 1909 die B.A. graad

behaal, daarna onderwys gegee in Pieter-Maritzburg en in 1912 in die

huwelik getree met Advokaat E.G. Jansen L.V. Vir jare al is sy een van

die stuwende kragte van die Afrikaanse saak in Natal. Vir verskillende

vereniginge het sy ge-ywer en onder haar leiding het die Saamwerk-Unie

die eerste openbare eksamens in Afrikaans gehou. In verband met die

eksamens het sy haar ook toegelê op taalstudie en met medewerking van

C.M. Booysen 'n Afrikaanse grammatika geskryf. Haar _Brandwag_-verhale

is in 1919 gebundel onder die tietel _Die Veldblommetjie en andere

Verhale_. Verder het sy nog geskryf _Afrikaner Harte_, 'n toneelstuk.

* * * * *

Die meeste verhale in _Die Veldblommetjie_ het 'n duidelike strekking.

Dit is veral pedagogiese en seksuele vraagstukke, wat behandel word.

"Die skryfster toon ons die sedebederf aan wat saam met 'n

bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het" sê Dr. W.M.R. Malherbe in sy

voorwoord. Daar is eintlik drie "veldblommetjies". Een volbring haar

kinderplig ten spyte van die ontevredenheid van haar verloofde, die

ander twee word verlei deur die skynskoon van die wêreld. _Waarom die

Agteruitgang?_ is geskryf "uit oortuiging dat die agteruitgang van ons

mense op godsdienstig gebied grotendeels toe te skrywe is aan die feit

dat Afrikaans nie van die kansel gebruik word nie ..." (p. 47).

Die skryfster gaan só te werk: verskillende episodes uit die lewe word

op so 'n manier samegevoeg, dat dit as afskrikwekkende voorbeeld of

direkte les kan geld. Om haar moraal beter te laat inslaan, verskerp sy

die situasie gewoonlik en eindig met 'n melodramatiese slot, wat soms

nogal onwaarskynlik is, soos b.v. die moord op p. 169. Om meer nadruk te

lê op die didaktiese doel word die lesers direk toegespreek[326] en

beskouings oor die gedrag van die karakters ingevleg.[327]

As gevolg van dié werkwyse het _Die Veldblommetjie_ 'n bydrae op

nasionaal-sedekundige gebied geword, wat 'n ernstige waarskuwing bevat,

en sal meewerk tot opbouing van 'n gesonde Afrikaanse kultuur. Uit 'n

letterkundige oogpunt moet egter die bewuste vooropstelling van 'n

tendens afgekeur word. Die vernaamste fout is "that the moral suggests

the tale far more frequently than the tale suggests the moral"[328].

"Zoodra je de bijgedachte hebt: ik wil 't leven zóó laten zien, dat de

menschen onder den invloed van mijn werk op ideeën komen, die ze anders

niet zouden hebben, moet je het leven een beetje verwringen, datgene er

uitkiezen, waardoor die ideeën worden opgewekt, en zoodoende een

eenigszins valsch beeld geven van het leven."[329] Dit is 'n gevaar

waaraan die skryfster in haar ywer om ons oor te haal tot haar

opvattings nie ontsnap nie, maar dit geld meer die bou en opset van die

verhale, want in die uitwerking van details word ons dikwels getref deur

raak tekening van die lewe op plaas en dorp. Natuurlik kan tendensieuse

werk ook goeie kuns wees. Volgens Frederik van Eeden is die verskil

tussen goeie en verkeerde tendens-literatuur dit: "dat de kunstenaar,

die een zuiver kunstwerk maakt, daarbij wordt bewogen door de schoonheid

van zijn idealen, ook al zijn dit ethische idealen. De mensch, die

onzuiver werk maakt, denkt om den invloed, dien hij op anderen zal

hebben, tracht zijn lezers over te halen tot zijn overtuiging. Dit nu

kan een echt kunstenaar als zoodanig niets schelen. Die let alleen op de

schoonheid van hetgeen hij voor zich ziet. Let u op een van de

hoofdwerken van Shelley, dan voelt u, dat hij in grenzelooze bewondering

is voor hoog-menschelijke eigenschappen. Maar u merkt niet in hem de

kleinste poging om iemand te bekeeren tot zijn opvattingen. Als die

bekeering komt, dan moet ze komen door de schoonheid van wat hij te

aanschouwen geeft."[330]

Bedenklik lyk my die houding, wat Professor Jan F.E. Celliers in sy

voorwoord by die sketse _Uit die Lewe_ van Gawie J. Otto aanneem teenoor

strekkings-literatuur. "Die meeste sketse laat hy heeltemal vir hulselwe

spreek. Dog as egte Afrikaner, wat voel vir sy volk, sien hy met

besorgdheid hoe gebruike en sede onder ons verander, en nie altyd in

voordelige sin nie. Daarom verwyl hy graag met liefde by herinneringe

uit die verlede ... en kan hy nie nalaat nie om nou en dan voor die

ligbeeld te tree wat hy op die doek gooi en 'n paar ernstige woordjies

met ons te praat.... So 'n opbouende strekking vra nie in die eerste

plaas of hierdie of daardie opvatting van kuns daarmee tevrede is nie;

en dit was maar altyd en oral die kenmerk van die letterkunde van 'n

jong volk, wat vir sy opbou waarskuwing en lering nodig het. Van die

ouere skrywers is daar menigeen wat ook, so tussenin, gemoedelik met ons

kan gesels." Die sedeprekery in ons letterkunde kan op dié wyse nie

geregverdig word nie. Aan 'n letterkunde wat in die begin van die

twintigste eeu pas ontluik, moet tog ander eise gestel word, dan aan die

van volke wat al vyf of ses eeue bestaan. Is daar dan miskien sedert die

tyd van Maerlant b.v. geen vooruitgang in kunsbegrip gewees nie? Moet

ons literatuur dan opgebou word op hopeloos verouderde beginsels? Die

Europese volke van vandag het seker nog net soveel "waarskuwing en

lering" nodig as in die tyd van Maerlant, en tog is daar geen enkele

kunstenaar, wat nou nog b.v. natuurlike historie op rym gee nie. As ons

skrywers voortgaan met die "gemoedelike geselsery" en sedeprekery, dan

kry ons 'n versameling van traktaatjies en geen letterkunde nie. Wanneer

iemand sketse _uit die lewe_ skryf, dan moet dit só lewend wees, dat die

skrywer nie nog met 'n stokkie by sy beeld hoef te staan en preek nie.

Teken hy die egte Boereseuns, dan sal ons vanself weet, dat hy nie die

"bioskoopaanbidders, sigaretteverslinders, ens." bedoel nie. (p. 16.)

"Al wat werkelijk schoon is geeft een zekere veredeling en heeft

daardoor ook overeenkomst met godsdienstige dingen. Als iemand die goed

begrijpt en als iemand een stuk kunst goed begrijpt, dan wordt hij

daardoor tot nadenken gebracht en dan wordt hij er ook beter door. Het

zal ethisch werken, zooals ook de muziek ethisch werkt ..."[331] Op dié

wyse werk die kuns mee tot die opheffing van 'n nasie. Die dae van Vader

Cats is verby. Ons het tot die oortuiging gekom, dat "juist het

aller-subliemste in den mensch, het edelste, door iemand die er

didaktisch naar zou streven niet kan worden bereikt ... Zoodra je

didaktisch te werk gaat, moet je de menschen al redeneerend er toe

brengen goed te zijn. Maar wanneer je de menschen kunt ontroeren door

schoonheid, dan worden zij vanzelf goed."[332]

Enkele verhale in _Die Veldblommetjie_ is sonder strekking. _Ons

Heldinne_ beskryf die tyding van vlugtende vroue gedurende die

Anglo-Boere-oorlog; _Andries_ is 'n grapperige vertelling van die

makmaak van 'n kwaai vrou en _Die Storie van 'n Lam_ 'n goeie

kinderverhaal.

Die skryfster het 'n aangename verteltoon, wat alleen in _Liefdeswee_

spore van retoriek vertoon. Hier hoor ons o.a. van _hartsnare_ (p. 177)

en dat "die tand van twee lange jare byt" (p. 183). Ook die beeldspraak

word troebel: "In sy donkere kykers, skuil daar nou weemoedige skaduwees

wat die weerkaatsing is van die soet-suur liefdesbrand in die hart" (p.

174). Die styl is egter deurgaans helder en natuurlik. In _Liefdeswee_

is daar 'n paar mooi brokkies natuurbeskrywing. Enkele anglisismes kom

voor, o.a.: "Perderuiters ... dring hul 'n weg deur die skaar (p. 24);

ek gaan vir 'n wandeling (p. 42); Tante ... haas na die kombuis (p. 88);

klok-gesig (p. 111); die kinders neem daar 'n pret in" (p. 142).

Foutief is: "eikeboom, _wie se_ spreiende takke (p. 154, 171) en

_gesuiwer_ (p. 115). Die dubbele negatief ontbreek ook soms.

§ 17. J.H. Malan.

J.H. Malan is in 1874 op Groenberg, Wellington gebore. Sy eerste

onderwys het hy van C.P. Hoogenhout ontvang. Van 1894-1897 was hy

onderwyser in die Vrystaat. Daarna het hy verder gestudeer en tydens die

Anglo-Boere-oorlog Hollands gedoseer aan die Hoëre Skool op Seepunt. In

1904 begin hy sy joernalistieke loopbaan by die _Re-Echo_. Vervolgens

het hy gewerk by _Het Zuid-Westen_ en _Het Westen_. In Potchefstroom was

hy ook redakteur van die tydskrif _Werda_, wat vir ongeveer 'n jaar

bestaan het. Op die oomblik is hy op die redaksie van _Die Volksblad_ in

Bloemfontein.

Na die drie-jarige oorlog het Malan sy historiese ondersoekings in die

argiewe begin en 'n versameling van Africana aangeleg. _Boer en Barbaar_

het in 1913 verskyn,[333] 'n toneelstuk _Na Olikheid kom Vrolikheid_ in

1917, en _Die Swerweling_ in 1921.

Tydens die veldtog van Dr. W.J. Viljoen ten gunste van die

Vereenvoudigde Spelling het Malan in _Ons Land_ vir Afrikaans gepleit

onder verskeie pseudonieme, soos _Cabo, Bonhomie_, ens. Op

joernalistieke gebied is hy as _Oom Fanie_ bekend. Hy het o.a. deur die

halfkroon-fonds £4000 vir Generaal De Wet se boete ingesamel. Vir sy

aandeel in _Die Dolosgooier_ van Joubert Reitz word na die bespreking

van dié boek verwys.

Die Swerweling.

_Die Swerweling_ is "'n verhaal uit die tyd van die Franse Hugenote in

Drakenstein". Lambert Lourier, wat in Frankryk baie Hugenote oor die

grense gebring het, word in Suid-Afrika "'n onverbeterlike makdroster,

swerweling en niksdoener" (p. 165). Hy is 'n sieltjie sonder sorg, wat

"geen staanplek in hierdie wêreld (wou) hê nie." (p. 40.) "Ek is wat ek

nog mag word. Ek glo aan geen instelling van die mens nie" (p. 47). Sy

vernaamste besigheid is dan ook rondkuier, jag en ipocras drink by die

landdros, Samuel de Meurs, wat ook vroeër Hugenote gehelp 't om te

ontvlug. Van dié vlugtelinge woon daar ook in Drakenstein, en in die

smidswinkel ontdek Danie Hugo, dat Lambert die melkjong van die Orleanse

klooster, en De Meurs die brandwag was, wat hom so fluks gehelp 't om

met die meisies Anne en Jeannette te ontsnap. Anne het die vrou geword

van Pierre Rousseau, maar Jeannette, Hugo se verloofde het aan die

ontberings op die vlug beswyk. Lambert toon 'n neiging om sy

swerwersbestaan op te gee as hy verliefd raak op Anna, die dogter van

Rousseau. Maar hy verspeel sy kanse, omdat sy Kaapstadse "pepermintjie"

Isabella so vrypostig met hom omgaan. Nadat Danie vir Anna uit die see

gered 't, kry sy die ou-jonkman lief, terwyl Lourier troos soek by

Isabella. Op voorspraak van sy vrinde, benoem die Goewerneur, Louis van

Assenburgh, Lourier tot onder-stuurman op die retoervloot en op die

Amsterdamse skeepstimmerwerf vergeet hy al sy swerwersideale en word 'n

rustige werksman.

_Die Swerweling_ is 'n historiese roman, die hoofdoel waarvan die

aanbrenging van geskiedkundige kennis is. Daar is tallose historiese

uitweidings o.a. oor die vervolging van die Hugenote in Frankryk, die

politiek van die Oos-Indiese Kompanjie, ens. Uit allerlei besonderhede

blyk ten duidelikste dat hier 'n historikus, wat jare lank met groot

toewyding in argiewe sy gegewens bymekaar gesnuffel het aan die woord

is. "Dit is 'n jammerte dat geen enkele brief uit die tyd bewaard gebly

is nie in sover dit die Kaapse Hugenote aangaan" (p. 17). Soms deel hy

sy kennis op betogende wyse mee, soos in hoofstuk V, of anders laat hy

iemand 'n opsetlike vraag stel. Anne wil weet, wat vir mense die

Dragonders is (p. 20); Anna vra: "Maar wat is nou eindelik (eintlik?)

die galeie? (p. 22); De Smit: "Maar Aploon, wat is nou eintlik die

Buddhisme? (p. 59); en op p. 105 vra Anna weer: "Maar wat doen die

Hugenote en die misdadigers dan nou eintlik op die galei?" En so is daar

meer voorbeelde, wat ons telkens laat voel, dat ons hier met geen

_mense_ te doen het nie, maar alleen met 'n skrywer, wat onder allerlei

vermomming sy byeengegaarde kennis aan die man wil bring.

"Koopmans heeft voor eenige jaren in _De Beweging_ (III jg.) den

historischen roman vergeleken bij die eigenaardige soort van publieke

vermakelijkheden, die zich toen nog wel als aanhangsel van

tentoonstellingen, onder den naam van Oud-Antwerpen, Oud-Dordt,

Oud-Holland en wat niet al voordeden. Een oudheidkundige en een

architect zetten zich aan het werk; oude prenten worden geraadpleegd, en

oude kaartboeken en werken over meubel- en kostuumkunde opgeslagen en

daar verrijst na wat passen en meten, wat "woekeren met de ruimte" een

marktpleintje met een straatje en een grachtje, overschaduwd door

vierjarige iepen, alles opgebouwd uit pleister, paklinnen, riet en

bordpapier. Een vroegere keukenmeid komt er u misschien als

oud-Hollandsche kellnerin een potje peuzelaar uit Heineken's brouwerij

brengen. Ge krijgt een oogenblik een gezellige illusie, maar dat is het

frissche, rijke leven niet. Gij houdt ten slotte het besef, dat alles

maar komedie en aanstellerij is, midden in de moderne maatschappij.

Achter gindsche schutting, die het raadhuis voorstelt, snort de

electrische tram voorbij."[334]

Die vergelyking pas op _Die Swerweling_, want ten spyte van die

argaïstiese tintjie in die styl, ten spyte van al die moeite wat die

skrywer gedoen het om histories juis te wees in die skildering van die

omstandighede, gewoontes, huisraad en klere van die Kaapse Hugenote voel

ons direk, dat dit 'n bordpapiere wêreldjie is, wat ons die moderne

werklikheid nie laat vergeet nie. Die indruk word nog versterk deur die

gebruik van sulke outydse foefies soos die volgende: "Ons mag 'n

gedeelte van die gesprek by die voordeur afluister, solang die slaaf in

die kombuis aan slaap is ..." (p. 92); As 'n mens 'n dag na die gebeurde

in die vorige hoofstuk vermeld, en dit kort na sonsondergang, saggies by

die opestaande gang binnestap en by die deur links in die kamer kyk, sou

'n mens 'n meisie van omtrent 19 jaar oud voor 'n groot spieël het sien

staan." (p. 144.) So teken die moderne kunstenaar nie. Die laat ons geen

gesprekke by die voordeur afluister nie, maar plaas ons in die volle

realiteit, omdat hy met sy eie persoonlikheid die lewe van sy

uitgebeelde persone deurleef het. "Il faut que la réalité extérieure

entre en vous; =á nous en faire crier=, pour la bien reproduire", sê

Flaubert.

Mens is halfpad deur die boek voor jy weet wie Anna en Anne is en die

ongelukkige gelykluidendheid van die name gee aanleiding tot

kindergestamel. "Anna mag wel verliefd op Lourier wees of word, maar dit

sal ten minste nie met die toestemming van Anne wees nie, as Anne weet

dat hy van Anna meer as van 'n vriendin hou." (p. 83.) Anna openbaar in

haar liefde so 'n netjies-redenerende nugterheid, dat ons twyfel aan die

egtheid van haar gevoel. Dit geluk haar uitstekend om haar vader se raad

op te volg. Sy moet "met Lourier se innerlike karaktertrekke soveel

moontlik in aanraking ... kom ... met intoming van gevoelens, sodat daar

'n terugtrekking kan wees" (p. 127). As Lambert by haar aandring op 'n

beslissing, dan antwoord sy ewe verstandig: "Dit is ingewikkeld vir 'n

meisie van my jare en onbedrewenheid om alles so haarfyn oor my verlange

en my wense uit te pluis en te beslis." (p. 133.) Tog het sy hom werklik

lief, maar na die onthullings in die bootjie volg daar so 'n plotselinge

ommekeer in haar gevoelens, dat dit baie op geestelike akrobatiek gelyk.

Vóór die bootongeluk het sy vir Hugo "nie die minste ontferming of

vriendelike nagedagte nie" (p. 168), maar kort daarna "huil (sy) bitter

en lang in haar pynlike verlange na hom" (p. 175). Sy is ongetwyfeld 'n

"fatsoenlike dame", wat heel verstandig handel en weinig las het van 'n

impulsiewe Franse temperament, maar in so 'n koel-berekende "liefde",

waarby finansiële oorwegings 'n groot rol speel[335] is niks wat ons

deur skoonheid ontroer nie.

Dat Lourier "die onverbeterlike swerweling en niksdoener" so 'n rustige

ambagsman in Amsterdam word, waar hy "'n verantwoordelike en winsgewende

pos" beklee (p. 198) is ook in stryd met die gewone menslike geaardheid.

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 17 / 27 段