awontuur bysaak en die mens hoofsaak is. 'n Armsalige putgrawertjie, wat
deur 'n harde rotsrif skade ly, 'n houtryer op weg na die mark met 'n
vrag--sulke eenvoudige motiewe gebruik hy vir verhale. Tog leer ons Toot
veel beter ken in die omvang van 'n kort verhaal, dan al die
brawe-Hendrik helde van die awontuur-romans, wat hemel en aarde beweeg
deur hul buitengewone dade. Léon Maré besit die gawe om sy karakters te
laat lewe, só te laat lewe, dat mens hul asem op jou aangesig voel. Deur
die tekening van allerlei uiterlike eienaardigheidjies,
gelaatsuitdrukking, gebare, ens. sien ons hul vlak voor ons staan.
Terselfdertyd openbaar hy in sy beste stukke 'n indenkingvermoë, wat hom
in staat stel om selfs die fluistergeheimpies van 'n mensehart te
verstaan, deur te dring tot die diepste kern daarvan en al die
begeertes, stemminge en lewensaanvoelinge uit te beeld. Deur ligte
aanwaaisels van allerlei herinneringe laat hy ons heel die verlede van
sy figure begryp, terwyl ook die inwerking van hul omgewing plasties
voorgestel word. Selfs waar hy romantiese gegewens kies, soos in die
oorlogsverhale is dit tog altyd meer die mense, as hul awontuurlike
ondervindinge, wat Maré interesseer. Met hoeveel liefde verwyl hy nie in
_Die Kommandeer van Japie Moolman_ by allerlei besonderheidjies, die
aanval van die waghond, die trappery op die kat, ens. Soms is sy
tafreeltjies 'n byna dood-nugter kopie van die gewone lewe en tog
ontroer dit omdat deur die beskrywing so iets warm-mensliks huiwer. Daar
is b.v. die inmekaar gekrimpte Toot op die putwal (p. 152)[306] met sy
brood en koffie; langs hom sy verkluimde seuntjie. Hoe suiwer en eg word
die outjie se kindergedagtes weergegee! Dan weer Toot in sy huur-kamers,
met 'n konsertiena op die knie, of besig om 'n kinderskoentjie heel te
maak. Goed gesien is dit ook om Outa Booi na die oorlog op Japie Moolman
se geroeste ploeg te laat afkom (p. 85). Deur sulke eenvoudige middels
bereik die skrywer sy doel. Met tallose klein handelinge bou hy vir ons
'n lewende mosaïek.
Op iedere pagina gee hy blyke van fyn waarneming. Hy het gesien hoe
die wind met die ou ooms se baard speel, hoe die stoffies agter 'n
galopperende ruiter uitslaan en wegkwyn, hoe die wagvure opflikker en
fantastiese skaduwees ronddans. Vir al die wisselinge in die natuur
het hy 'n ope oog--vir die songetinte wolke, die wasige mis op die
bergrande, die wondere van die sterrehemel. Ook weet hy hoe die
steenbokkie "sy eerste bekkie vol soet gras onderuit 'n graspol"
afknyp (p. 195), hoe die rysmiere uit hul gaatjies glip, hoe die
muggies "in sirkels van tallose spikkeltjies wals en sigsag ... oor
waterpoele" (p. 102). Telkens weef hy mooi stemmingsstukkies inmekaar,
gee hy met 'n paar trekke die atmosfeer so duidelik aan, dat dit die
werklikheidsillusie versterk.
Altyd geluk dit hom natuurlik nie. Hy is te veel geneig om iedere keer
weer te praat van _gordyn, disk, karmosyn, silhoeëtteer_, ens. Op p. 42
las hy op storende wyse 'n kwasi-astronomiese opmerking in: "Die klein
fonkelende sterretjies is ligte van die eindelose Planete-wêreld ..."
ens. Grotendeels misluk is ook die tekening van Annie Bester voor die ou
harmonium: "In die voorhuiskamer, voor 'n oopgetrekte vensterraam ..."
ens (p. 37-38). Uit allerlei klein besonderhede blyk dat Maré die
toneeltjie alleen as toeskouer beskryf.[307]
In _Die Nuwejaarsfees_ word die vrolikheid van 'n klomp olifantjagters,
met forse trekke geteken. Die kaskenades van Oom Klaas, wat 'n ankertjie
egte brandewyn op slinkse wyse bespring, is goed beskryf. _Annie Bester,
Japie Moolman, Freek en sy perd Bles_ behandel episodes uit die
vryheidsoorlog. In _Wrange Vrugte_ word 'n geeerde volksraadslid deur
kindergebabbel en die afskietery van klappers op Krismisaand aan sy
verraad in dieselfde oorlog herinner. Die skets gee blyk van 'n goeie
psigologiese insig. Die afskeid van voortrekkers aan Dassieshoek in die
ou Kolonie en die rit van Frans Malan om die laers vir Dingaan te
waarsku, word in twee sketse beskryf. _Die Stem van die ou
Kafferkraal-Murasies_ is 'n poging om die mentaliteit van 'n
Soeloesoldaat te teken, 'n poging, wat herhaal word in _Soeloe-Eer_ uit
die bundel _Ou Malkop_. _Moebie_ vertel van die tobbery van 'n
kaffermoeder oor haar seun, wat toevalle kry en _Joggem Helberg_ is 'n
jongkêrel, wat in 1863 deur leeus verskeur word. Die eerste druk van
_Die Nuwejaarsfees_ het ook nog bevat 'n retoriese beskrywing van 'n
storm, wat met reg by die twede druk weggelaat is. Drie nuwe verhale,
_Wrange Vrugte, Moebie_ en _Joggem Helberg_ het daarvoor in die plaas
gekom, terwyl tallose taal- en stylverbeteringe gemaak is.
Onvoldoende taalkennis gee Maré se werk 'n lelike knou. Hy maak foute,
wat skooljongens kan verbeter. Sy interpunksie is swak, sy spelling
treurig. Hy skryf b.v. _lysels, geoeffende, vors_ (fors), _vergaarderde,
gesannikie_, ens. Die dubbele negatief ontbreek dikwels en anglisismes
is volop o.a. "die hele van die ander dag (p. 42); een onheil, wat moet
plaas neem (p. 56); 'n menende knik (p. 60); afwerk (p. 92); twee meer
veldstoele (p. 105); (ek) lei die weg soheentoe (p. 138); opgelig (p.
141); hy gee 'n ander gapie (p. 148); gesette kake (p. 193); as die
vlamme ... opflaar (p. 201); haar bors ... hewe op en af (p. 225); (hy)
rys hom uit sy sitplek (p. 61); toe het bloedvergiftiging in die been
gesit" (p. 217) ens. ens. Woordskikking en verbuiging van byvoeglike
naamwoorde is dikwels gebrekkig, b.v. "En hy word gou agterna gevolg, na
die plek van bestemming, _goed of sleg_, deur sy troue manskappe (p.
78); deftig_e_ geklede dames (p. 157); 'n spoelende en bruisend, kristal
stroom water (p. 102).
Die opdrag om 'n kort skets te skryf, waarin die woorde _alleenliks_ en
_nouliks nog_ nie mag voorkom nie sou seker vir Maré die swaarste straf
wees. Tot vervelens toe prop hy dié woorde in alle hoekies en gaatjies,
en naderhand weet hy absoluut nie meer, wat hul eintlik beteken nie! In
_Ou Malkop_ kom selfs voor _uiteindeliks_ (p. 145), _oogverblindeliks_!
(p. 148), _natuurliks_ (p. 195), en die volgende: "Guillaumet kan geen
woord uitkry van verbasenheid (!) nie en blik die gouverneur _alleenliks
net_ meer in verwondering aan" (p. 198).
Foutiewe meervoudige vorms soos die volgende kom voor: lofliede (p.
178), sugge (p. 95), streeltjies (p. 94), wandels (p. 131), getjilpe,
gefluite, gebruise (p. 43, 45, 52) ens. Die werkwoord word verkeerd
gebruik in: "Die son kom agter die koppie uit en _skitter_ strale van
goud oor ... (p. 101); 'n vensterraam, waardeur 'n groot hanglamp sy
breë wit lig ... na buite ... _stroom_ (p. 37); tante _sweef_ haar arms
so voor haar uit ... (p. 35). Maar hy _gewaarword_ nie 'n meisie nie (p.
75); Towenaars alleen _woon_ so 'n kluisenaarslewe (p. 131); deur sy
fluksheid het hy gou _bevorder_ tot kommandant ... (p. 209); Uit die
gewoel ... _hef_ 'n nat voorhoof omhoog (p. 211); agtervolg (p. 60); die
doudruppels ... blink en skitter en _rol_ boomstamme orals _af_" (p.
54).
Lomp, of heeltemal onverstaanbaar is o.a. die volgende: "Haar gemoed
skiet haar diep (p. 60); Die grasdak ... skep nuwe herinneringe ... te
voorskyn (p. 98); met 'n gefynde oor (p. 79); Ek worstel om van 'n
betowerende wilskrag los te kom (p. 123); 'n stulpende onderaardse skok
(p. 141); 'n Vaal hond ... vlieg ... uit sy skuilplek, haal-haal oor die
gedraai of die ruiter hou-hou met sy karwats agtertoe ... (p. 61); die
vroutjie ... word veronderstel deur haar rokende man langs aan (p. 152);
die agent is toegehul in die geheime; deur al sy omgewings van grootheid
en deftigheid, word geen ondersoek ingestel nie ... (p. 155); nog 'n
terugdeinsende tree vorentoe" (p. 228).
Die volgende rariteite gebruik Maré ook: geheelal (p. 42); die
_toeskou_ van so 'n klomp waens ... het 'n dagbreek-oujaarsmore net
toepaslik gekleur (p. 14); gewigte rapport (p. 40); 'n staanbeeld
uitgehou in graniet (p. 43); met opgestrekte lippe (p. 56); wyshooftig
(p. 70); diep bewoog (p. 72); Die jonge rapportganger ... arriveer terug
(p. 114); opgedoste krygsmanne (p. 125); sissende-vurige dinamiet
lonte[308] (p. 141).
Hoe die skrywer soms sukkel, blyk uit die volgende. In die eerste druk
kom voor: "'n toegerankte grennadella stoepie" (p. 43). Dit word in die
twede druk: "'n grenadella gerankte stoep"! (p. 44). Op p. 122 kry ons
weer "'n toegerankte grenadella-veranda".[309]
Soms is daar iets telegramagtigs in die styl, meestal veroorsaak deur
die veelvuldige gebruik van verlede deelwoorde. Wanneer Ter Blanche die
voorhuiskamer beskou, lees ons: "'n Mooi aardige skulpaddoppie kom
eindelik onder oog, _opgestaan en oorgetree, en_ dit word gou opgetel
van die tafeltjie, waar 'n groen kleedjie netjies oorgetrek is, _en_
waarop 'n groot lamp met 'n kleurige oorglas staan, _en_ dit word
noukeurig beskou _en_ bewonder." (p. 56.) Dit is 'n tiepiese voorbeeld
van Maré se verwarde, inmekaargedrukte sinne, slordig aanmekaar
gekoppel. Sulke _en-en_-reekse is daar soos bossies. "_En_ eindelik
sissend _en_ stomend verlaat die lokomotief die treinstasie stadig, _en_
onder 'n geween _en_ geskreeu van "hoeré!" _en_ hoede in die lug
opgegooi. _En sy_(!) trek voort, _en_ nouliks ... ens." (p. 68). Dat die
koppelwoord naderhand glad geen betekenis meer het nie, of heeltemal
verkeerd gebruik word, blyk uit sinne soos die volgende: "Onderwyl hy
besig is, kom die diensmeisie binne, _en_ met 'n silwer teepot, en
sinese koppies en pierings ... (p. 151); Behalwe vir 'n paar opmerkinge
nog oor die mooi onweer, wat diekant in die lug lê, _en_ die seun gaan
haastig vooruit ..." (p. 65). Ook _hul-hul_-sinne kom voor. "Menige van
die burgers ... is ... in _hul_ distrik teruggekeer as versterking, maar
hoewel in _hul_ eie deel van _hul_ land, was _hulle_ geskei van _hul_
famielie-betrekkinge, want _hul_ plase was so kaal ... en _hul_
famielies was almal _in_gevoer deur die vyand na die kampe ..." (p. 69).
Daar is nog meer sulke herhalings, wat aantoon, dat Maré se klankgevoel
soms erg gebrekkig is. "Bo op die kruin ... bars die son deur ... _en
verlig_ met uitgespreide trillende strale die gras_toppe_ van die
berg_toppe_, _en verlig_ donkere spelonke _op_(!) (p. 195). Maar hy
gewaarword (!) nie 'n meisie nie wat buite_kant_ _kamp_ drade die_kant_,
op haar knieë neersak, haar hande tesame omhoog _vou_, ver_trou_end op
na die _troue_ heldere wagtertjies bo haar kyk (p. 75); Skerp flikker
die staal mes voor aan die punt van sy ge_weer weer_ ... (p. 76); 'n
gekletter van _perde_pote van verwilderde _perde_" (p. 49). Maré is ook
te lief vir langdradige omskrywings, wat soos 'n remskoen op sy
verhaalgang werk. As ons lank al weet wie Annie is, dan hoor ons nog
altyd van "Oom Andries Bester se dogter Annie" of "oom se dogter", (o.a.
p 37, 38).
Nog 'n paar staaltjies van die skrywer se gebrekkige uitdrukkingsvermoë:
"Die tyd tree weer met haar sikkel soos gewoonlik in, en die uur of so
se vereniging hier word ook eindelik weer die verwyderde sny gegee[310]
(p. 73); Daar verlos hy hom gou van sy swaar dik winter jas (p. 147);
baie hartseer luister die oubaas na die laaste koei vanaand op die plaas
se melk ... (p. 93); die generaal halt voor en klim uit sy saal, die
manskappe uit hul saals, en nouliks is al die tooms versamel of 'n paar
burgers kyk voor vasgehoude perde hul maats agter, wat so agter die
leiers aan wegtree, met hul mousers (p. 72); Dan maak ou oom en sy troue
oujong Jonathan stoele en rusbanke uit aardige houtsny uit stinkhout ...
(p. 203); Die hele dorp spring in wakkerte" (p. 80).
Daar is ook voorbeelde van afgeslyte beeldspraak soos: "deurboorde harte
(p. 74 en 100); eindelik sprei die duisternis ... soos 'n swart kleed
wat neerval (p. 72); die bytende tand (p. 78); die hamer van Tyd" (p.
95). Komiek word dit wanneer ons hoor: "haar bors bewe meteens op en
neer soos die rustelose golwe van die see"!! (p. 60).
Maar ten spyte van sulke opvallende stylgebreke ontroer Maré se prosa
ons tog, omdat, soos Jan Celliers tereg opmerk in sy voorwoord, hy
"dinge so gesien en gesê het as nog geen ander skrywer in ons land nie".
Sy krag lê nie in die tekening van groot-opgesette tonele nie; dit is
die vlugge vegies, waarmee hy op verrassende wyse 'n realiteits-illusie
kan skep. In sy beste werk is daar 'n innigheid, wat die kleinste
voorval beglans met 'n sagte en suiwer lig. Dan klink daar ook op in sy
sinne 'n sterk persoonlike aksent, dan vind hy die juiste woorde om sy
emosie te vertolk. Dit is 'n gebrek aan tegniese vaardigheid, wat sy
werk hier en daar soos skooljongens-geskryf laat lyk.
Dié gebrek is in sy twede bundel
Ou Malkop
só markant, dat mens nie anders dan van _taalgemors_ kan praat nie.
Voorbeelde daarvan staan op byna iedere pagina, en sitate word feitlik
oorbodig. Heeltemal misluk is die beskrywing van die ontsporing van die
Engelse trein (p. 41-42). "Hy kom aangestoom en aangedroom op sy
masjienery en hardloop los vooruit met alle krag en verdelgende mag....
Die bodem van die aarde tril! Dis of die sterre in hul blou firmament
gril met iedere naderende stamp en uit hul gewelf wil losbeef!... 'n
Gehom-mmm! van raddewerk van masjienery!--en meteens! 'n lang ry
swart-kamers hol dol en ril duiselig oë verby!--'n groot windvlaag skep
alles op onder die kranksinnige gedruis! 'n Stulpende onderaardse skok!!
'n donderende donderslag!! en daar omrol 'n stuk swaar ysterwerk soos 'n
kanon in die lug" (p. 42). Dit is magtelose gestamel met viesie- en
taalverknoeiing, wat in die historiese skets _Etienne Barbier_ 'n
toppunt bereik en soms geheel onverstaanbaar word. "Mnr. Guillaumet gryp
_sy_ musiek in die een hand fermer, laat _sy_ krullende kop effens op
_sy_ skouer val en _sy_ basstem rol uit _sy_ breë bors:
Ons blink gespande snare!
Saam 't stem van sangster's hare;
Roep my hart van Cabo's kuste walm
Terug na Nederlandse strande kalm!
_En_ daar volg handeklappies onder 'n toejuiging, _en_ deur twenk!
twenk! snare alweer _en_ 'n basstem klink ernstig deur...." (p. 168).
Enkele staaltjies moet nog gegee word om aan te toon hoe Maré se taal
en styl verwilder het: "Die skaduwees dans en flonker hier en daar (p.
11); hy roep protestend deur 'n bol rook (p. 21); Uitgestrekte liggame
van slapende burgers is gedompel en verswak in die diepte van die nag se
boesem (p. 33); 'n opgeheefde sabel (p. 43); en nouliks of hy 's te
voorskyn gekom om te ontwapend (p. 44); met verslaagde oë (p. 53); ek
(het) my die vraag al gesit (p. 72); waar ... hiënas eentonig in
monotoon af en toe tjank (p. 81); ou Loftus ... wat 'n groot moege
glimlag vir hulle dra (p. 128); in 'n verre afwykte land (p. 133);
Borste hewe op en af ... (p. 142); die jagveld (is) nog in die luim van
die vroeë stilte gedompel (p. 154); Die meisie aan die sy van G. tree
die ontvlugte man uit die kasteel te voorskyn (p. 181); Vir 'n oomblik
is die voorgeneemde moordenaar ... in al sy ruheid gestem (p. 190); En
die aand laat, toe daar nog 'n tippie roesrooi in die verre geskiet
langs die verhewende bergkruine opskemer ..." (p. 200).
Dit alles en veel wat nog erger is staan in die boek wat _mirabile
dictu_ in die jaar onses Heren 1919 deur die Suid-Afrikaanse Akademie
vir =Taal=, =Lettere= en =Kuns= bekroon is met die Hertzogprys!
Hier en daar is natuurlik nog enkele gelukkige trekke, wat ons aan die
skrywer van _Die Putgrawer_ herinner. Veral in _Fekkie_, die verhaal van
'n blomverkoopstertjie en _O so 'n harde Hart_, waarin die besoekers van
'n kantien geteken word, is daar goeie gedeeltes. _Die Liefling van die
Korps_ gee 'n skildering van die kommando-lewe; _'n Wonderlike Ongeluk_
en _Die ou Poskoets_ voer ons terug na die ou dae. In 'n brief aan _Die
Burger_ praat Maré van "die onuitputlike bron van die lewes van ons
gewesene Afrikaners" en dit blyk dat veral "die stoere ou
olifants-jagters van 1861 se dae" hom aantrek. "In die algemeen is die
rigting van my strewe om al die goudgeel sonstraaltjies van die verlede
van ons voorgeslagte te herroep en te trag om dit vars te laat bly in
die geheues van ons jong geslag."[311]
In die skets _Ou Malkop_ word moralisasies van die skrywer tussen die
gepeins van die kaffer ingevleg en op p. 150 is daar 'n uitweiding oor
"die ou dae". In _Eensame Prospektors_ is die dialoog onnatuurlik.[312]
Ook in sy portret-tipiek is Maré nie gelukkig nie. As ons lees op p. 82,
dat Van der Walt 'n "dik gedraaide swart buffel-horing snor" het, en as
hy lag "geluide maak soos wat kom van wegdrentelende makoue" (p. 92),
dan ontstaan daar al twyfel; wanneer ons enige pagina's verder hoor, dat
Hoard "'n stywe snor oor die bo-lip soos gevoude swawelvlerkies" het (p.
100), dan versterk dit die suspiesie, dat die opsetlik bedagte kenmerke
meer van 'n lomp toneelspeler afgekyk is, dan na die lewe geteken.
Sal Maré na 'n paar jaar ernstige studie alle tegniese moeilikhede
oorwin, en ons 'n kunswerk van rype voldragenheid aanbied? Dan vergeet
ons sy jeugdige _malkop_-onderneming, ten spyte van die
onsterflikheidsstempel van die Akademie.
§ 14. D.P. du Toit.
D.P. du Toit is 'n afstammeling van die Du Toits Van Daljosafat, waar hy
groot geword 't. Sy moeder was 'n suster van Ds. S.J. du Toit. Omdat sy
gesondheid toe nie teen plaaswerk bestand was nie, het hy van 1891 af
onder Ds. S.J. du Toit gewerk op die redaksie van _Di Patriot_ en ander
blaaie. In 1896 was hy sekretaris van die eerste Afrikaanse Taalkongres
in die Pêrel en _Ons Kleintji_ het hy feitlik geredigeer onder toesig
van Ds. S.J. du Toit. Later was hy aan verskillende krante verbind, by
_Het Westen_ o.a. as redakteur. Sedert die oprigting van _Die Burger_ is
hy een van die subredakteure van die blad.
Een van sy toneelstukke, _Die Bedriegers_ is in 1893 geskryf. Wanneer
Melt Brink se toneelwerk buiten beskouing bly, dan is dit die eerste
Afrikaanse stuk wat gedruk en opgevoer is.[313] Op Somerset-Oos is dit
vir die eerste maal gespeel. Van Du Toit het verder verskyn die
toneelstukke _Geldsug of Jaloesie_ en _Die Herwonne Koninkryk_; 'n
roman, _Sy Pa se Skuld_ (1918) en 'n bundel grappige versies
_Treinnonsens_ (1922).
Sy Pa se Skuld.
Lina trou teen haar vader se sin met Fred, 'n volbloed skurk, wat met
die huwelik sy finansiële ondergang wil voorkom. Sy word onterf en Fred
moet vlug na 'n hele reeks misdade. Sy seun, Gert boet vir die misdade
van sy vader en word in sy liefde gedwarsboom. Op die ou end kom alles
tog reg en selfs die berouvolle Fred word in sy eer herstel.
Du Toit doen wel 'n poging om deur te dring tot die innerlike lewe van
sy karakters, maar vir die uitbeelding van 'n geweldige psigologiese
kriesis is hy te huiwerig. "Dis te heilig, ons mag nie probeer om dit na
te speur nie" (p. 99); "Die afskeid sal ons egter nie trag te beskrywe
nie, eenvoudig omdat dit nie kan beskrywe word nie"[314] (p. 113). Op
dieselfde manier glip hy oor die smart wat Gert en Lorrie uitstaan as
gevolg van die vervalste briewe. Dit is nie 'n deurleefde verhaal nie,
waarin die roersele van 'n mensehart blootgelê word. Du Toit beskou sy
persone meestal op 'n afstand as belangstellende toeskouer. "Terwyl hy
daar agter die randjie ry, raak hy ons ook uit die gesig" (p. 106). Die
handeling word nie direk in plastiese vorm gegiet nie, sodat iedere
leser onmiddellik sien en hoor wat daar gebeur. Die skrywer self is
telkens aan die woord en deur sy nugter opmerkings en prekerige
uitweidings kom die gebeurde tot ons langs 'n groot ompad, sodat dit nie
tot werklikheid kan vergroei nie. "Nou dis nie nodig om die twee nes hul
skaduwee te agtervolg nie...." (p. 48). "Die betrokke persone het ons
heeltemal uit die oog geraak" (p. 144). Daar is meer sulke aanduidings
van gebrekkige tegniek.[315] Die preek oor die teks "Ik stond op het
zand der zee" is 'n nuttelose uitweiding en die lang beskrywing van die
viskopery net so. Die skrywer vertel ons self ewe naïef, dat Gert en
Lorrie "ook maar bloed weinig van die hele toneel gesien het"! (p. 151).
Besonder omslagtig is Du Toit se verhaaltrant dikwels. 'n Enkele keer
besef hy dit self: "Dog ons sal nie op haar hande staan en kyk om te
sien hoe sy werk nie." ens. (p. 51.) Hy vermoei deur 'n langdradige
opsomming van allerlei onbelangrike besonderheidjies (vgl. b.v. p. 212),
terwyl ook die gesprekke met reportage-noukeurigheid weergegee word.
Die styl verraai die hand van die geoefende joernalis, wat met gemak sy
sinne aanmekaar ryg, sonder juis te streef na skoonheid van klank. Maar
selfs die haastige joernalis mag nie sulke sinne soos die volgende
neerskryf nie: "Hy herinner hom nou goed, so duidelik as kan wees, dat,
toe hy gistraand sy tabaksak uit die sak wou haal sy sakdoek bo-op die
tabaksak in sy sak was, dat hy toe die sakdoek eers uitgehaal het en toe
die tabaksak en toe weer die sakdoek in sy sak gesteek het, en na hy sy
pyp gestop het, het hy die tabaksak somar so onverskillig bo-op die
sakdoek in sy sak gesteek." (p. 104)[316] Maar sulke sinne is gelukkig
uitsondering en die styl is deurgaans helder en goed versorg. Om dié
rede veral moet die roman, ofskoon dit geen aanspraak kan maak op hoë
letterkundige verdienste nie een van die leesbaarste Afrikaanse romans
genoem word. "'n Rousteen vir die binnemure" noem die skrywer sy werk
met goeie selfkennis in die voorrede. Voorlopig kan ons sulke roustene
nog goed gebruik, al bestaan daar gegronde rede om te vrees, dat dit
mettertyd sal verbrokkel.
As 'n voorbeeld van Du Toit se beeldspraak kan die volgende dien: "'n
Vat kan maar 'n sekere hoeveelheid hou. Pomp jy daar meer in, dan loop
dit oor. So is ook die menslike gemoed." (p. 87.)
Engelse invloed blyk uit die volgende: "'n Man van professie (p. 178);
dit help nie vir ons om oor gestorte melk te huil nie (p. 190); tot my
dooddag toe (p. 207); 'n buig" (p. 160).
§ 15. A. du Biel.
A. du Biel is die 27ste Oktober 1884 gebore op Geelhoutboom, distrik
Mosselbaai. Gereelde onderwys het hy nooit gehad nie en in "die bittere
publieke skool van die lewe" het hy al sy kennis opgedoen. Van sy
twaalfde jaar af het hy baie gelees en van kleins af met sy vader lang
reise gedoen. Maar reeds op vyftienjarige leeftyd moes hy sukkel om vir
homself 'n bestaan te vind en 'n weinig later het die sorg vir sy ouers
ook op hom geval.
_Getrou_ het hy in 1914 onder baie moeilike omstandighede geskryf.[317]
_Die Misdade van die Vaders_ het in 1919 verskyn. 'n Nuwe roman, _Kain_,
wat oor die periode 1870-80 handel is nou in die pers. Op die oomblik
verskyn in afleweringe _Oor Berg en Vlakte of Onder die Vierkleur_, 'n
verhaal vir die jeug, in die eerste nommer waarvan "pakkende awonture"
in vooruitsig gestel word.
Die letterkunde beskou Du Biel as "die kragtigste wapen om ons volkie te
ontwikkel". Hy streef veral daarna om die leeslus van jong Suid-Afrika
op te wek.
Getrou.
Dit is 'n Hugenote-roman, die gebeurtenisse waarvan in Frankryk,
Holland en Suid-Afrika plaasvind. Die Europese atmosfeer is egter so
swak aangedui, dat dit net so goed Pole of Tibet kon gewees 't. Moet die
praatjies oor Lodewyk XIV, die "prag en praal van Versailles" en 'n paar
armsalige _ma chère's_ ons nou onder die indruk bring, dat ons in
Frankryk verkeer? Met die innerlike kern van die tydperk kom ons nooit
in aanraking nie, en die historiese vliesie is baie dun. Met 'n
komieklike naïwiteit vertel Du Biel ons in beeldspraak, wat baie op die
van Von Wielligh gelyk, hoe hy gesukkel het om "Vader Tyd se rytuig" te
laat stil hou! (p. 142). "Dit neem dan ook heelwat inspanning van die
verbeeldingskrag om die plek voor te stel soos dit twee eeue gelede was,
want die meedoënlose hand van vooruitgang spaar nie die oudhede nie" (p.
141). Dat die koms van die Hugenote was "die stigting van die Afrikaanse
volk" (p. 127), is 'n onjuiste bewering. Verrassend is die meedeling,
dat die sewentiende eeu veral die eeu was "waarin die hele wêreld sy eie
sienswyse wou handhaaf ten spyte van Kristelike liefde, van reg--ja, ten
spyte van die Almagtige" (p. 147). Ook die volgende slaan ons heeltemal
dronk: "As ons die Amerikaanse volk beskou ... dan vind ons oral 'n diep
bewussyn van die majesteit van die Allerhoogste" (p. 127). Sulke
bewerings toon duidelik dat die skrywer 'n primitiewe historiese insig
het.