Op die dorp Vergenoeg woon Oom Gert de Bruyn, "'n egte tiepe van die

opregte Afrikaner" (p. 4) en Van der Bijl, 'n jingo, wat "rooier dan

rooi" is. As die Anglo-Boere-oorlog uitbreek kom daar 'n end aan die

vrindskaplike verhouding tussen die bure, tot verdriet van die kinders,

wat oor en weer verlief geraak 't--Piet de Bruyn op Susan van der Bijl,

en haar broer John op Lenie, Piet se suster. Susan het egter 'n "Engelse

modepoppie" geword en deur toedoen van Carel Nel, wat by die Van der

Bijls inwoon raak Piet in die moeilikheid en val in ongenade by Susan.

Verskeie awonture van Piet en John se skooldae word vertel, asook hul

ondervindings aan die Victoria Kollege. Hulle sluit by die kommando van

Scheepers aan en as John gevang word, slaag Piet daarin om die verraaier

Nel te ontmasker. Van der Bijl word 'n goeie Afrikaner en tussen die

jongspan kom alles reg, terwyl Nel so vrindlik is om in Australië

spoorloos te verdwyn.

_Deur die Smeltkroes_ het 'n sterk-propagandistiese strekking. Tomlinson

verdedig die Afrikaanse beginsels teenoor die imperialistiese idee van

Engelse en verengelste Afrikaners. Hy gaat te keer teen die

verwaarlosing van Hollands op die skole, die onnasionale

geskiedenisonderwys, die eksamenstelsel, "die oudwyfse Skotse sisteem

alhier deur 'n Dr. Muir ingevoer" (p. 59), en "die nuwe

kindergarten-metode" (p. 9). Hy laat "Jong Suid-Afrika sug om die

vryheidsin, wat leef en sal leef, solank daar Afrikaners op Afrikaanse

bodem wandel" (p. 53) en gebruik elke geleentheid om sy patriotiese

gevoelens te lug. As pleidooi vir 'n suiwer-Afrikaanse kultuur het die

boek ongetwyfeld waarde. Maar as roman beskoud is dit 'n mislukking.

Behalwe die regstreekse propaganda, tree die outeur van die staanspoor

af gedurig op die voorgrond. Hy spreek sy lesers toe,[294] vertel hulle

wat hy met "die spelers in hierdie drama" (p. 6) gaan doen, en omdat hy

hoofsaaklik 'n outobiografie skryf, verval hy telkens in persoonlike

mymeringe.[295] Telkens moraliseer hy oor die dade van sy persone, b.v.

"Arme Piet! Had hy maar geweet, wat voorlê. Gelukkig, egter, het die

Voorsienigheid ons so gevorm, dat ons slegs vandag kan sien--en skaars

dit" (p. 62)

Ofskoon hy blykbaar sielkunde by "Pappie (saliger gedagtenis)" (p. 69)

geleer het, blyk daar weinig van in die roman. Van kalwerliefde kry ons

die volgende vermaaklike verklaring: "Nie 'n nooi, leser, soos u en ek

seker al gehad het, maar een, wat jy in 'n meer idealistiese sin

liefhet. Jy het haar lief, maar hoe, weet jy nie. Jy het haar, hulle

ook, lief, as jy nog so jonk is, sonder dat die liefde miskien ooit

bekend word. Dis somar liefhê." (p. 17-18).

Hoe weinig begrip Tomlinson het van die ingewikkelde prosesse van die

puberteitsjare blyk uit die beskrywing van Piet se aankoms op

Stellenbosch. "Piet stuur 'n stille gebed van dankbaarheid op, dat hy in

so 'n omgewing kan studeer en besluit om van die studentelewe in sy

geheel gebruik te maak, sodat hy 'n veelsydige ontwikkeling kan geniet

om also bes sy land te kan dien" (p. 66). Dis kastig dieselfde Piet wat

sulke uithaler kaskenades op die dorp aangevang het! Nou is hy meteens

'n suikersoet oompie, op wie Van Alphen 'n mooi gedig sou gemaak 't!

As Piet die eerste maal in 'n geveg is, word sy gewaarwordings as volg

beskryf: "Die eerste paar oomblikke wis Piet nie eintlik, wat om te maak

nie. Sy hart klop vinniger, en as 'n koeël oor sy hoof fluit, koes hy

een kant toe. Maar gou-gou het die oorlogsgees hom oormeester...." ens.

(p. 125).

Hoe oppervlakkig die psigologie is blyk uit die pogings om felle emosies

te beskryf. As Piet onverwags op sy maat by die kommando afkom, word ons

vertel: "Soos 'n mens maklik kan verstaan, was die wedersydse vreugde by

die ontmoeting groot." (p. 122.) "Ons sal liewer 'n sluier trek oor die

afskeid tussen die jong verloofde; waar die liefdegodin alheersend vir

'n oomblik is, moet die gewone mens soetjies trap." (p. 96.) Met sulke

praatjies maak hy hom van die saak af!

Piet het die slapende Susan wakker gemaak met die vraag: "Het jy my

lief?... Vir Piet was daardie oomblik een van die vreeslikste, wat hy

ooit deurleef het. Dit was, asof die lot van die hele wêreld, van die

heelal selfs van haar hart afhang. Hy hoor duidelik die klop van sy

hart. "Is jy kwaad vir my?" fluister hy. Stadig draai sy haar hoof weer

om, en met 'n gloed van vreugde deur sy are, sien hy 'n vrindelike

glimlag op haar gesig. Hy buig neer, en die hele wereld verheug hom met

Piet, as hy die eerste reine soen van die onbevlekte lippies

ontvang...." (p. 37).

Van der Bijl se bekering tot opregte Afrikaner is seker goed gemotiveer,

maar dit is geen proses, wat as 'n _coup de foudre_ in een sinnetjie kan

beskryf word nie. (p. 110). Presies so gaan dit met Susan (p. 112) en

haar moeder (p. 111).

In die karakteruitbeelding is daar die bekende skerp teëstelling tussen

goed en sleg. Oom Gert is die ideale patriot, Piet en John die dapper

helde, Van der Bijl die vurige jingo, Nel die lae verraaier. Die meisies

is "twee beelde van deug en skoonheid" (p. 146). As Nel genoeg moeite

veroorsaak 't om die "dapper helde" se "verhewe" karakter aan die lig te

bring, word hy nog vir ou-laas ekstra swart gesmeer en dan eenvoudig

uitgewip (p. 141). Dit is "merely a mechanical device for stopping

somewhere", soos Cross tereg opmerk. "A literary form cannot exist

without its art. If a fable may drift along at the pleasure of an

author, with the episode thrust in at will, then anybody can write a

novel."[296]

Die swaarmoedige Piet werp hom "in wanhoop ... neer op sy bed, _wat

skud van die storm_, wat in die siel van die onstuimige jongeling woed"!

(p. 22). Die "edele siele" van die arm meisies word ook "deur storme

geteisterd" (p. 134, 92), hulle droom "van rose en melk, van ongekende

en verrukkende klanke, van ruisende strome en bedwelmende blommegeure"

(p. 72). Die toneel op die strand tussen Susan en Piet (p. 41) is

taamlik sentimenteel.--"Die misterie van die nag pak hul beet; en met 'n

kleine skudding,(?) skuiwe Susan nader aan Piet.... "Piet, wat makeer?

Waarom is jy so stil?"--"Dit weet ek nie, maar ek word so swaarmoedig.

_Ek dink, dit is die verhewenheid van die heelal, wat my aangryp_." ...

"Dit was asof hy met die onbekende worstel, asof daar 'n wêreld van

gedagte hom oormeester. Naderhand, asof tot homself sprekende, fluister

hy 'n Lied van Smart...." Die gevolg is "dat Susan bitterlik ween" en

"met geboë hoofde keer hulle huiswaarts."

Die talryke sugte in ons Afrikaanse romans vul Tomlinson onder ander met

die volgende variëteite aan: "geskok tot in die diepste wese styg daar

'n sug van die bodem van sy _beroerde_(?) hart--'n sug, wat 'n

wêreldspraak was. (p. 29); Susan sug alleen die sug van die tevredene en

die regvaardige"! (p. 116), ens.

Tomlinson skryf 'n gemaklike styl, sy taal is suiwer en die dialoog

meestal los en natuurlik. Daar is lewendige toneeltjies met rake praat

en weerpraat o.a. p. 44-45, waar Oom Gert en sy buurman aanmekaar

spring. Onwaar word die dialoog wanneer hy Piet, wat toe nog nie deur sy

matriek was nie, laat sê: "Kerel, wie sal hom daar onder daardie

mengelmoes begeef behalwe alleen die met Imperialisme besetene?" (p.

54.) Bybelse wendings word met voorliefde gebruik, en dikwels is daar

ook 'n predikanterige kleur, b.v. "om sy sondedaad uit te wis" (p. 30).

Die veelvuldige gebruik van stereotiepe beelde is opvallend. "Maar al

was hul harte bloedende, het niemand dit getoon nie. Hulle harte was

aanmekaar gesnoer deur nuwe bande en deur 'n gemeenskaplike liefde

teenoor hul geliefde Suid-Afrika" (p. 142). Sulke gemeenplaatse ontneem

aan die styl alle persoonlike aksent.

Onvervals retories word Tomlinson veral in sy natuurbeskrywings. "Die

son, bloedrooi, begin hom stadig in die arme van 'n veelkleurige see te

werp. Dit was, asof bruid en bruidegom ontmoet, albei in die fynste en

pragtigste kledy uitgedos.... Fyn goud val oor die hele aarde en

verfraai die skoonste _paleise_ en die armoedigste strooihuise--ens."

(p. 40).[297] Die _paleise_ sou 'n mens aan Potsdam kan laat dink! Maar,

die "ouderwetse woning" van Van der Bijl had ook "_honderde_ klein

venstertjies" (p. 4). Mooi is die stemmingsvolle gedig op p. 72, met

uitsondering van 'n enkele stoplap.

§ 11. Adv. H.A. Fagan.[298]

H.A. Fagan is gebore op Tulbagh in 1889. Van 1905 tot 1910 het hy op

Stellenbosch gestudeer en behalwe B.A. honneurs ook die Prel. L.L.B. en

Kerkadmissie-eksamens afgelê. Nadat hy ses maande op die Teologiese

kweekskool was, het hy vir enige tyd opgetree as waarnemende professor

aan die Victoria Kollege en vervolgens sy juridiese studie voortgeset in

Londen, waar hy advokaat geword 't aan die Middle Temple en ook die

L.L.B. graad behaal 't. In die begin van 1914 het hy hom gevestig as

advokaat in Kaapstad. Hy was een van die eerste direkteure van die

Nasionale Pers, 'n tydlank assistent-hoofredakteur van _Die Burger_ en

daarna vir enige tyd professor in Hollands-Romeins reg aan die

Stellenbosse Uniwersiteit. Tans het hy weer sy praktyk as advokaat in

Kaapstad hervat.

Van hom het verskyn _'n Eerste Digbundel, Uit 'n Studente-Album_[299] en

'n bloemlesing _Uitgesogte Afrikaanse Verhale_ (Burger-Leeskring, 2^de

jg.).

Uit 'n Studente-Album.

_Uit 'n Studente-Album_ bevat ses kort verhale, twee waarvan tot die

komiese genre behoort, _'n Vondeling_ lyk die meeste op jeugwerk. Die

beskrywing van Japie se ontnugtering bly aan die buitekant, en die

melodramatiese ontknoping word deur niks voorberei nie. _Op 'n

Vakansiereis_ en _Tableaux Vivants_ gaan baie dieper en bevat 'n

belofte. Dit geld ook van _'n Gewone Rosie_, waarin daar iets teers

sprokiesagtig is. Twyfel ontstaat egter aan die psigologiese

uitbeelding, wanneer ons hoor, dat die seuntjie hom die nag voorgestel

het "as 'n meetlose swarte ruimte, waarin jy sou dool en swerf as 'n

verlore siel" (p. 168). Ook die volgende sin mis die kinderlik-naïewe

toon, wat anders goed bewaar word: "Tog is daar 'n waas van

geheimsinnige betowering oor die hele natuur gesprei" (p. 169).

Fagan het 'n aangename verteltoon, 'n goedversorgde styl, wat net hier

en daar bietjie konwensioneel word. "Die dood van sy vrou het 'n

ledigheid in sy hart gelaat ... (p. 116); Sy was 'n sonnestraal in sy

koue, sombere woning (p. 117); die spore van wrange sielsverdriet" (p.

126). Erg ongemaklik moet Japie gevoel het "met 'n gloeiende vuur in sy

brein"! (p. 28).

_'n Eerste Digbundel_ bevat ook enkele prosastukke.

Uitgesogte Afrikaanse Verhale.

Hierdie bundel bevat negentien kort verhale van die volgende outeurs:

Helene Oldendorf, T. Schumann, G.R. von Wielligh, Rikie Postma, F.E. de

Villiers, C.R. Swart, Eugène C. van Wijk, Sarah Goldblatt, Essie Malan,

Frina Roux, Marjorie Hofmeyr, Chris. Fourie, N.H. Theunissen, D.W.

Wessels en "Veritas". Afgaande op die tietel sou mens verwag, dat dit 'n

bloemlesing is, maar die meeste verhale verraai 'n ongeoefende hand.

Daar is spore van diep gevoel, hier en daar 'n geslaagde toneeltjie,

maar weinig wat ontroer deur skoonheid van segging, klank of

uitbeelding. Die taal is deurgaans suiwer,--die skaaf van die

versamelaar het seker daaroor gegaan--en tog is daar kreupel

uitdrukkings soos die volgende: "Hy ken die druk van sy moeder toe hy

(aan) haar bors _gekweel_ het (p. 22); Sy vraag ... bring haar terug (p.

51); die vryerpaar wat hier ... staan te sug, te verwyt ... (p. 73); die

onmeetbare landstonele van die gedagtes (p. 145); in vyftig jaar het die

land die mantel van beskawing aangegooi (p. 147); Watter rede het u om

nooit ag te gee aan ons uitnodiginge nie? (p. 175); Is u boodskap in

militêre belange? (p. 198); Sy geheue hou nog 'n allerskoonste gesig en

onwillekeurig bring hy sy hand aan die saluut" (p. 202).

Die taal kon beskaaf word, maar die ouderwets-retoriese beeldspraak het

te diep gesit. Daar is b.v. 'n verhaal van "onbreekbare skakels in 'n

ketting deur smart gesmeed" (p. 42), waarin reeds op die eerste pagina

onder meer die volgende staaltjies voorkom: "Oorlog is in die lug. Selfs

die lieflike geur van die nuut-ontwaakte lenteblomme word verdring deur

'n verstikkende reuk van kruit en rookdamp; Offers ... op die altaar van

die nimmerversadigde oorlogsgod; die awendstond van sy veelberoerde

lewe", ens. (p. 36). So gaan dit die hele boek deur, alles mooi

grammatikaal korrek, maar sonder die fris geur van oorspronklikheid. Die

dames met hul "sielvolle blou oë" sug danig baie en die wind maak nogal

koddige maneuwers met die "geslaakte" dingetjies. "Dadelik skraap die

nagwind die suggie op, neem dit op sy vlerke en ry daarmee weg: oor die

velde en vlaktes, oor berge en dorpe, tot hy eindelik by 'n groot stad

kom. Tussen die hoë geboue deur vind hy sy pad tot by 'n oop venster.

Hier vertoef hy net 'n halwe sekonde, om die suggie van sy vlerke af te

skud, sodat dit binne in die kamer val"! (p. 128).

Van Von Wielligh is daar 'n soort politieke allegorie, waarin hy dit

regkry om Dr. Jameson vóór die Groot Trek te laat optree. Ook nog 'n

vaderlike predikasie oor blomme: "Eiliewe nee, laat ons hartsnare dan

liewer weerklank vind" ens. (p. 29). Sy gehoor het so fyn geword, dat hy

"_klap_wiekende skoenlappers" (p. 32) ontdek het!

Drie verhale gebruik die Duits-Suid-Wes-veldtog en verandering van

politieke oortuiging as motief en die meeste is dan ook geskryf tussen

1915 en 1918.

_Droogte_ van Helene Oldendorf bevat 'n belofte, _Oog om oog_ is in sy

soort goed. Die gelukkige en treurende paartjies van die meeste verhale

maak geen blywende indruk op ons nie, wat behalwe aan reeds genoemde

oorsake ook gewyt moet word aan onbekendheid met die tegniek van die

kort verhaal. "More real brains are required for the construction of an

excellent short story than for a hundred pages of many a novel", sê

Harry T. Baker,[300] en die uitspraak bevat seker waarheid.

§ 12. Reenen J. van Reenen.

Reenen J. van Reenen is in 1884 op Calvinia gebore. In 1902 het hy met

sy B.A.-eksamen die eerste Koningin Victoria-beurs aan die S.A. Kollege

behaal. Vier jaar later het hy in Amerika sy studie vir siviele

ingenieur voltooi en na 'n jaar praktiese ondervinding op groot

besproeiingswerke in Nebraska na Suid-Afrika terug gekeer. Gedurende sy

studiejare het hy hom ook op taal en lettere toegelê en reeds van 1898

af op die tekenkuns. Aan die _Brandwag_-interviewer vertel hy: "Dit was

met die herlewing van die Afrikaanse Taalbeweging, wat in 1915/16 so

sterk gegaan het, dat die skryflus by my opgekom 't. Ek het 'n paar

hoofstukke prosa en verse geskrywe, wat my vrinde hier op Bloemfontein

beval 't. Hulle aanmoediging het my beweeg om _Die Agterstevoortrekkers_

(1917) uit te gee. Maar gedurende die voorbereiding van dié werk moes ek

toe my ou teorie toepas: n.l. dat die poging om leeslus onder ons volk

op te wek, sal misluk, of in alle geval baie langer sal neem eer dit met

sukses bekroon word, as die leesstof nie geïllustreer is nie."[301]

Van Reenen is ook 'n kampvegter vir die bestryding van grondverspoeling

en het hom spesiaal gewy aan die studie van die Boesmankuns, nadat hy in

1917 'n voordrag van die skilder Pierneef oor die inboorlingekuns gehoor

het. Ook op die gebied van folklore het hy al interessante ontdekkinge

gedoen. Behalwe die genoemde werk het van hom verskyn _Celestine_

(1919), en _Verborge Skatte_ (1920), twee bundels sketse; 'n roman: _Die

Lokaas_ (1921) en twee kinderboekies. Hy het ook baie ander werke

geïllustreer. _Die Agterstevoortrekkers_ word in hoofstuk VI bespreek.

Celestine en Verborge Skatte.

Dit is twee bundels verhale, hoofsaaklik navolging van Edgar Allan Poe

aan wie _Verborge Skatte_ dan ook opgedra is. _Celestine_ bevat

spookstories, met een waarvan die skrywer in 1903 'n prys behaal 't in

_The South African News_. Dié verhaal, _'n Hopie Bene_, is 'n droom,

maar in die orige word die geheimsinnige element nie verklaar nie,

behalwe in _Tant Annie_. James Russel Lowell het aan Poe toegeken "a

power of influencing the mind of the reader by the impalpable shadows of

mystery".[302] Verder sê hy: "In raising images of horror, also, he has

a strange success; conveying to us sometimes by a dusky hint some

terrible _doubt_ which is the secret of all horror."[303] Dit is wat ons

grotendeels by Van Reenen mis. Sy voorstellinge is te nugter, sy

geheimsinnigheid te deursigtig. Die subtiele realistiese illusie, wat

Poe b.v. in een van sy beste verhale _Ligeia_ skep, lê buite Van Reenen

se bereik. Wie b.v. Poe se nagwake by die lyk van die Lady Rowena

vergelyk met die enigsins analoge situasie in die verhaal _Celestine_

(p. 30) voel direk, dat dit veral realistiese uitbeelding is, wat by Van

Reenen ontbreek. Poe verstaan die kuns om deur allerlei suggestiewe

besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep--Van Reenen noteer

alleen die geheimsinnige feit. Die vergelyking wat Dr. Dorothy

Scarborough tussen Poe en Hoffmann maak, pas ook op Van Reenen "His

(Poe's) horrors have a more awful effect because he is an incomparably

greater artist. He knows the economy of thrills as few have done. His is

the genius of compression, of suggestion."[304]

Die _Verborge Skatte_ word deur Professor Erts se buitengewone vernuf

ontdek. Die raaiselskrif in _Die Voortrekker se Skat_ is gebaseer op die

van Poe se verhaal, _The Gold-bug_. In _Die Kinderdief_ word gebruik

gemaak van 'n motief, waarop Poe o.a. _The Purloined Letter_ gebou het:

"the intellect suffers to pass unnoticed those considerations which are

too obtrusively and too palpably self-evident. The Minister had

deposited the letter immediately beneath the nose of the whole world, by

way of best preventing any portion of that world from perceiving it."

Ook in die uitwerking van die besonderhede is daar ooreenstemming.

Van Reenen het 'n aangename verteltoon en sy verhale is verdienstelike

ontspanningslektuur.

Die Lokaas.

Gert Vermaak, 'n begaafde weeskind word deur oom Willem en tant Miem

aangeneem. Toe hy ses jaar oud was, kom 'n ontwikkelde Hollandse

skeepskaptein om gesondheidsredene op die Karoplaas woon. Onder sy

leiding word Gert so buitengewoon skerpsinnig, dat dit die

opmerksaamheid van 'n kapitalis trek, wat hom na Europa stuur om vir

advokaat te leer.

Na sy terugkoms vestig hy hom in Kaapstad en word gou een van die leiers

van die Boereparty. Maar die kapitalis gebruik 'n mooi vrou as lokaas,

en by die stemming oor 'n gewigtige wetsontwerp word Gert ontrou aan sy

party.

* * * * *

Voorop moet gestel word, dat die skrywer geen poging doen om die

geleidelik voortskrydende geestelike ontwikkeling van 'n geniale kind te

skets nie. Hy gee alleen "'n loshangende versameling van staaltjies wat

Gert (hom), af en toe in die laaste dertig jaar ... vertel het." Die

skrywer is nie die objektiewe uitbeelder van 'n deurleefde werklikheid

nie, hy is net die verteller van Gert se geskiedenis. Hy self tree

telkens op die voorgrond, spreek "die welwillende leser" toe (p. 29), en

voel hom kort-kort gedronge om brokkies van sy eie wysheid by die

verhaal in te las. Daarom mis dit die warme tinteling van intimiteit,

daarom bly die skrywer maar al te dikwels aan die buitekant van sy

persone. "Dit lyk asof (Gert) teenoor die kaptein voel soos 'n minnaar

teenoor sy nooientjie ... hulle gesprekke was hom heilig en dit sou

heiligskennis wees om dit te publiseer" (p. 29). Alweer die treurige

sluiertaktiek, 'n vyeblaartjie om eie magteloosheid as kunstenaar te

bedek! Is dit dan nie juis die kunstenaar nie, wat met sy wondere

intuïesie moet deurdring tot die heilige der heilige? Die uiterlike

lewensfeite sien ons almal, lees ons daagliks in die krant, maar dit is

die kunstenaar, wat die verborge roersele van die hart moet openbaar. Hy

moet so opgaan in die persoonlikheid van sy figure, dat hy alles _seker

weet_, dat hy die kleinste nuansering van gevoelens en gewaarwordinge

kan ontleed. As hy alleen kan sê: _"Dit lyk asof ..."_ (p. 29), dan

twyfel ons aan die egtheid van sy voorstelling. Hoe moet ons nou met

Gert meelewe, as van die drie belangrikste jare uit sy ontwikkeling

selfs geen "loshangende versameling van staaltjies" meegedeel word nie?

Maar wat wèl verhaal word is, dat die _R.M.S. Tartar_ presies om vieruur

uit Tafelbaai gestoom 't met Gert aan boord en dat hy met die _R.M.S.

Scot_ uit Europa teruggekeer 't! Van die jong advokaat weet ons nie veel

meer dan die plaat by p. 132 ons te sien gee nie--'n jongkêrel soos

duisend ander--geknip uit die eerste die beste kleermakerskatalogus!

Gelukkig is daar enkele gedeeltes waar Van Reenen nie alleen die

verteller nie, maar Gert self is. Die uitmekaarhalery van Oom Willem se

oorlosie (p. 19-20), die waterlei in die nag (p. 40) en nog ander

toneeltjies uit Gert se kinderjare toon, dat die skrywer 'n fyn

psigologiese insig het. Dit geld ook van die manier, waarop Gert sy

besluit neem om Stella nie op te gee nie. Hoe treffend-juis is dit

gesien om die nesmakende duiwe die deurslag aan sy redenasies te laat

gee! Maar die mooi gestileerde sinne, wat Gert se dink-taal moet

voorstel is weer van Van Reenen. Ook enkele gelukkige trekke in Tant

Miem en Oom Willem toon, dat die skrywer 'n taamlike uitbeeldingsvermoë

het. Maar dit is alles so fragmentaries, dat die persone tog vaag bly.

So word die planne van die intrigerende kapitalis met dieselfde

behendigheid as in _Verborge Skatte_ uitgewerk, maar daar is weinig

aanduiding, dat hy behalwe draadtrekker ook _mens_ is.

Gert is blykbaar 'n uitsonderingsfiguur, maar selfs so beskou, is daar

enkele trekke in sy karakter, wat wys op 'n verdraaide psigologie. Op p.

24 word ons verseker: "Soos 'n openbaring ... word sy volksbewussyn

skielik gebore". Hy is nog maar ses jaar oud, maar omdat hy so 'n

talentvolle knapie is, wil ons dit aanneem. Ongeveer ses of sewe jaar

later hoor ons egter: "Volksbewussyn sal hy maar ontwikkel in die

vreemde lande wat hy later sal deurreis" (p. 68). Afgesien van die

teëspraak is die voorstelling hier absoluut vals, want daar is geen

enkele jongeman van twaalf of dertien jaar nie wat, selfs al begryp hy

die abstrakte idee ook, so 'n wonderlike besluit kan neem. En die

wysgerige bespieëlinge op p. 52-53 is geen "raaisel" nie, maar eenvoudig

gedagtes van die skrywer self, wat hy aan die twaalfjarige knapie

opdring.

As voorbeeld van die swak tegniek kan aangehaal word, dat deur die lang

uitweiding op p. 11-12 die spelende Gertjie skoon vergeet raak. Net so

gaan dit met die kaptein. "Ons durf darem nie langer by hierdie

interessante woordkuns vertoef nie, want ons vriend die seevaarder wag

nog al die tyd vir ons op die drumpel van die voordeur ..." (p. 16). Op

p. 22 heet dit: "Maar ek loop my verhaal verby, en ons moet eers weer 'n

bietjie terugkeer."

Van Reenen het 'n los, gemaklik-vloeiende styl, wat egter weinig

persoonliks het. Beeldspraak gebruik hy maar selde; die "verdraaide

beeld" op p. 139 is nie gelukkig nie, en die "spatsels van die smeer van

die misvloer" wat mens aan golwe laat dink nog minder (p. 66). Die

"liefdesbeker" (p. 52) ken ons al van toeka se dae af! "In hierdie dae

begin Gertjie al in brein en liggaam tamelik uitrek" (p. 39)--'n pynlike

proses, wat mens aan die inkwisiesie laat dink! Verkeerd is: "Maar die

werk wat hy gedoen het, gee 'n _weerkaatsing_ in sy professionele werk"

(p. 92). Veral in _Verborge Skatte_ is die anglisismes volop. "Toe ek my

op my ou dag geskilder het as omring deur 'n kring talryke kinders (p.

112); om hande op die skobbejakke te lê (p. 151); Alles wys daarheen

...; Kan ek vanaand ... met my kollega opkom?" (p. 154) ens. In

_Celestine_ kom o.a. voor: "Gelukkig had ek nie lank te wag ... (p. 93);

van êrens ... val daar 'n geweldige hou (p. 33); haar brood en botter

verdien" (p. 20).

§ 13. Léon Maré.

H.L.F. Maré is in 1889 op Pietersburg gebore. Na 1902 het hy o.a. op

Wellington en Pretoria sy opvoeding voortgeset. Maar hy moes al gou sy

eie potjie skraap en toe het hy, terwyl hy in die posdiens was, privaat

gewerk vir Skool-Hoër. Hy is nou amptenaar in die Uniegebou, Pretoria.

Party van sy eerste stukke het in Nederlands verskyn. Van 1911 af is hy

'n troue medewerker van _Die Brandwag_ gewees. Van hom het verskyn: _Die

Nuwejaarsfees op Palmietfontein_ (1918) en _Ou Malkop_. Laasgenoemde is

bekroon met die Hertzog-prys van die Akademie (1919)[305].

Die Nuwejaarsfees, (1918).

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 15 / 27 段