uiteenrafeling, maar sy afkeer van die skepsel van sy eie verbeelding is
só groot, dat dit hom nie geluk om onpartydig teenoor die figuur te
staan nie. Sy haat vir die walglike kreatuur het hom verhinder om
heeltemal op te gaan in Dirk se psiege. Reeds in die eerste hoofstuk
verraai hy deur 'n kwasi-twyfel sy vooroordeel. "Ons huiwer om hom so
wreed te beskuldig, _want ons ken sy verlede nie in besonderhede nie_.
Miskien sal die toekoms 'n gedagte aan die moontlikheid daarvan
regvaardig."[287] Nou weet ons al: Dirk gaan die sondebok word, en die
ongeregtigheid word dan ook by wavragte op hom gelaai! Maar let wel, Van
Bruggen sèlf _ken sy verlede nie in besonderhede nie_. Hoe kan so 'n
persoon nou ooit fel-lewend vir ons word? Met 'n sug van verligting neem
die outeur afskeid van hom: "En so het ons klaar met Dirk" (p. 219). Hy
het só boos geword, dat hy hom, na 'n paar kwaai trappe vir ou-laas, uit
sy verhaal bons! Dit word mos bruilofstyd en daarby pas Dirk, die
suiplap met sy "valse gryns" nie. Maar dis 'n oplossing, wat ons nie
bevredig nie. Geslaag is die figuur nie, ofskoon daar telkens brokke
treffende analiese is. Maar meestal neem Van Bruggen teenoor Dirk die
houding van 'n bestraffende regter aan. "Kan 'n wolwe-aard so gou
verander in skape-gedweeheid; 'n dwingeland in 'n oë-dienaar ...?" (p.
12). 'n Oomblikkie tevore het hy nog gehuiwer "om hom so wreed te
beskuldig", maar nou is sy vonnis al gevel. Juis die bo sy onderwerp
staande gevoelloosheid verhinder hom om 'n warm-menslike omtrek aan die
verraaiersfiguur te gee. Later word Dirk dan ook eenvoudig as 'n
_besetene_ uitgebeeld. "Die fluisterstem van sy gewete sterf in die
diepte weg, wat Satan bliksemsnel met misdaadplanne vul" (p. 145). By
die dood van sy moeder kry hy 'n "laaste kans" (p. 191). "Dis een van
die momente, waarin 'n goeie gees, so hom die tyd gegun werd om tot die
harde hart van Dirk deur te dring, 'n ander mens (van hom) sou kon
maak". Gelukkig bly ons die koddige psigologiese gedaanteverwisseling
bespaar!
Soms gaat Van Bruggen so op 'n paar tree van sy persone af staan en
bepeins dan hulle toestand. Gys is "in strak starend gepeins" (p. 216).
En dan roep die outeur uit: "O watter gedagtes! So sterk nog as in sy
volle kragtyd ...." ens. Daar is nog meer sulke hinderlike ingrypsels
van die outeur. "Die leser wat onsigbaar agter Dirk aangestap en oor sy
skouer geloer het ... Dirk is te ongeduldig om die kamer rond te kyk,
maar ons kan dit nog net doen, vóór die aandskemering ons dit belet" (p.
23).[288] Dit is verroeste romantegniek van die jaar nul! Dat Van
Bruggen egter 'n plastiese gawe van geen geringe betekenis het nie,
bewys die welgeslaagde toneel, waar Liebenberg vir Greef en Stols wil
oorhaal om die wapens neer te lê.
'n Weemoedige klaagtoon van verdrietige berusting deurhuiwer die ritme
van Van Bruggen se styl in _Teleurgestel_. Die smart oor verlore
onafhanklikheid en die droewige herinnering aan oorlogsleed tril na in
somber klanke. En teen die end word Van Bruggen moeg vir die trommelslae
wat "die doodmars deurdof". "'n Lange sombere storie ... ons wil hom
deurhardloop" (p. 222). Tog klink daar soms 'n skaterlag; as die kakies
retireer vir 'n rollende pampoen (p. 173) en Greef vir Stols laat
"handsop" (p. 156). 'n Paar mooi kindertoneeltjies beloof iets vir die
toekoms.
Opvallend is die gebruik van koppelwoorde soos:
knutselwerk-uitdenk-vermoë (p. 230), swaai-arm-beduie (p. 9),
goudblom-oorlaai (p. 20), droomglans-dowwe oë (p. 195). 'n Enkele maal
word daarmee 'n mooi effek bereik, maar meestal gee die oorvloedige
aanwending 'n indruk van gesogtheid, terwyl baie saamkoppelings in stryd
met die taaleie is. Die voorliefde vir lang-asem sinswendings versterk
die sware klank van sy prosa, wat met afgemete pas moeisaam voortbeweeg.
En daardeur ook hoor ons telkens dissonante b.v.: "Van onder oop, het
hoëveld se voor- en najaarsstorme daardeur gestroom en binne die lang
huise opgestuiwe in die smal-langwerpig drukke reghoek-ruimte, waar die
lewe in en uit rumoer na sy hokkies, en kinders spelend raas,
natbesweet" (p. 221). Tog het Van Bruggen deurgaans 'n fyn gevoel vir
woordklank. Telkens kry ons brokkies van sinne, wat in gereëlde
versritme vorentoe gly; "en vínnig word haar stáp, ofskóon sy dralend
peíns oor wóndervraág...." (p. 77). Maar ons stuit ook op klinkklank:
"terwyl sy _rol_-oë die kamer vergenoeg deur_rol_" (p. 114); _Al kante
uit_ wil hy koers vat, so rol sy uitpuil oë _al kante uit_ (p. 149); dat
drie ... by die _val_ hulle eie _val_ sal vind (p. 194); dit _beslis_
die twyfel van die _onbesliste_ goeie man (p, 150).
Koppelwoorde en sinsbou gee aan Van Bruggen se styl 'n moderne cachet.
'n Allersnaakste indruk maak daarnaas, die ouderwets-retoriese taal,
soos ons die ken uit die Hollandse predikante-literatuur van vóór 1880,
wat ook nog dikwels van Suid-Afrikaanse kansels gehoor word. 'n Knagende
wee, wat die hart verteer (p. 86); Daar drup dit in sy hongerige siel
heilsame lafenisdruppe en sy gedagte sien, as deur hemelse ingewing ...
(p. 83); wat alles die plegtige oomblik verhewe maak (p. 67); 'n Sug ...
tower 'n nuwe gevoel in sy boesem (p. 51); 'n swarte afgrond ... gaap
(p. 76), ens. Dit krioel ook van sulke domineesterme soos: hartsvriend
(p. 202), hartebodem (p 76), brandende gemoed (p. 50), tomelose hartstog
(p. 126), geestesoog (p. 57), skoonste hemeldeug (p. 80), ens.
En hoe deftig paradeer Van Bruggen met 'n hele kommando holrug perde!
Dit is perde wat al meer as 'n halwe eeu nie meer "pylsnel oor die pad
sweef" nie (p. 70), dis ou doodgemoorde knolle, wat skaars nog 'n
vuiliskar kan trek. Gys is die "eweknie van Dawid in geesdriftige
opwerping van oorloglugkastele"; daar is in die kloof "'n reusemagneet"
wat hom trek (p. 56); "Die ontboeseming was as 'n warme son, wat die
yskors ontdooi" (p. 82); "toegedekte liefde (het) haar windsels
afgegooi" (p. 99); Die liggie lei hom soos 'n vuurtoring die ... skip
(p. 167); aan bande gelê (p. 169); ens. Gelukkig kry ons tussen die
muwwe, onpersoonlike beeldspraak so 'n enkele keer 'n fris veldwindjie:
As Swartbooi die plaasmense sien wegvoer deur die kakies dan is "die
lewe wat in sy oë kom blink, ... soos die ... in 'n koei se oë, wat wild
oor die kraalmuur kyk, wanneer haar pasgebore kalfie hok-toe weggedra
word", (p. 196); "die stryd teen onsigbare wapens ... soos mambas in die
ruigte" (p. 192); "Af drif toe ... kom 'n groot tentwa aangeklop" (p.
7). Daarnaas kry ons egter weer sulke badkamer-beeldspraak soos: Maria
"aarsel niks om 'n doeltreffende bekoeling uit te giet nie oor sy
brandende gemoed"! (p. 50); "Of 'n vloed yskoue water oor hulle rugge
uitgegiet word, so laat, wat agter is hulle ril" (p. 65). Ook
onsmaaklike triwialiteite soos: "Daar is geen druppel bloed meer in
Stols se neuspunt nie; dis alles weggestroom na die midde van sy romp
..." (p. 157).
In sy natuurbeskrywing is Van Bruggen onbeholpe en soms banaal. Hy
skerm met groot woorde wat volkome retories en aandoeningloos van
algemeenheid is. "Die _skone dal_ lê voor die perdelose ruiters in
_volle somerweelde_. Die ou opstal lyk so _skilderagtig_.... Ook is dit
of die _skouspel_ hom _hipnotiseer_.... Die ganse moot brei uit _in
sombere somerweelde_" (p. 126-7). Sulke niksseggende frases laat ons
heeltemal koud. Nie deur die woord _somber_ ontstaan die indruk van
somberte nie. Die somberte-emosie moet hy in beeld bring, moet hy ons
laat aanvoel deur plastiese trekke. Maar hy verswak nog meer die indruk
van sy frases deur te praat van "die lentegroen, (wat) in jeugdige
ydelheid wou spog ..." En dan vervolg hy met valse, ondeurvoelde
beeldspraak: "Uit egaal donkergroen _spreek_ nou éénselfde stemmige
gedagte, waar uitgeswelde rypheid elke deeltjie van die _ernstige_
boskasie herinner aan verwelking." Dit is viesie-verknoeiing. "Die
stemming deel sig onbewus mee aan die twee ..." Juis, _onbewus_, want
hoe dit gebeur bly vir ons 'n raaisel. En dat Stols en Dirk albei in
presies dieselfde stemming geraak, is papier-psigologie! Daar is nog
meer holle frases: "Dieselfde voorjaarsagtermiddag het ook sy
toweraandeel volbreng in die natuurherlewing" (p. 20). Dirk kry
"lewens-lente-visioene"! Die voëltjies sing mooi "en dis of die ganse
omgewing wil meedoen aan 'n _gemoedsontboeseming_"! (p. 31) "Grootse
natuurskoon" (p. 47), "roerlose aandskoonheid" (p. 90); "dis van die
aande, waarin natuur sy _wonderskoonheid_ wys met _stille majesteit_"
(p. 166), "ruwe natuurprag" (p. 52); "Die lente het weer 'n jong gewaad
oor die velde gesprei" (p. 202). En op p. 52 is daar weer "'n grootse
gedagte, wat _setel_ in die lower-woestheid". Die gedagte spring van sy
"setel" af en hou 'n netjiese prekie in die tale Kanaäns. "Dis 'n
plekkie, wat mensekindere wil goedmaak en verhef bo wêreldse
nietighede," ens.
Duisterheid is dikwels die gevolg van die retoriese opblasery. "Die
kranse voor en weerskante is hoog en amper loodreg, bedek met ruwe
natuurprag, wat gestapel op kwynend-skemerlig en duister ... (p. 52).
Hoe moet mens jou nou 'n voorstelling vorm van wilde plante _gestapel_
op _skemerlig en duister?_ Op p. 32 is daar "_klanke_, wat hemelwaart
_denk_ en dankbaar swewe, vir sparende liefde ..." Al slaan _denk_ ook
op _gevoel_ dan is dit nog 'n onbeholpe parallelisme. Onverstaanbaar is:
"Ligvlekke, wat die boomskaduwees werk, hou vaste lyne" ens. (p. 87). En
wie hoor nie die gekreun van die bombastiese blaasbalk agter sinne soos
die volgende: "Dis pynlik om die _afbreuk van geesverbystering_ (?) te
sien, wat flou, al flouer 'n kwynend verset teen eie onmag vertoon en in
sielsmart oorgaan ..." ens. (p. 9). Maria se "sterk gestel (het) begin
te luister na die stem van siekte. Tallose skrikgedagtes het
senewee-skokkend met haar liefde gespeel en bondgenoot geword van 'n
ongesteldheid wat haar sou neerdruk ens. (p. 234-5) En daarom het die
siekte so gesloer om uit te breek, uit eerbied vir die grondigheid van
haar verset en heldepoge." Sy kom uit die hospitaal "met twee (!) grote,
siel-vertolkende oë, verhewe-boeiend"! En daar is nog meer voorbeelde
van sulke opgeskroefde woordkramery. Wat moet mens aanvang met
taalgeknoei soos die volgende: "Humeur lê diep bedolwe onder tallose
swaardrukkende gedagtes" ens. "'n Onmag van sy logies verstand, laat
pessimisme die vrye teuel" (p. 82); Luikes is "oortrek deur die waas van
sy karakter ..." (p. 35); "die inwendige Greef" (p. 36);[289] ens. ens.
Die verpersoonliking van abstrakte begrippe gee aanleiding tot
raaiseltaal en gesogte wendings. "As die _sluipgang_ van hulle
genegenheid tuis gekom het is dit getrouheid tot die dood ..." (p. 35);
"die koers ... waar vinnig verlange die bome deursoek" (p. 76);
"_Hartverheffende_ momente wat _grondslag_ vir 'n toekoms lê en lewens
bou of brokkel--kort as 'n sug, 'n fluisterwoord, 'n oogstraal as
diamante bly skitter aan die langste lewensdraad en nog glansies op sy
rafelpunt werp; gebonde aan seisoen nog tyd" (hoe rym dit met "kort as
'n sug"? P.C.S.) ens. (p. 106.) Met nog een voorbeeld van Van Bruggen se
onbeholpenheid kan ek volstaan: "Maar lewe het vasgeklem aan sy omhulsel
met ongekende adhesie, waardeur die wetenskap verbaas, wat eers
verwaarloos werd, omdat geen hoop bestaan het nie, met ywer die omhulsel
onder sy behandeling geneem het." (p. 214).
Die dialoog is meestal onnatuurlik-styf en soms so deftig as 'n
redevoering. Gys sê: "Dis of natuur 'n moedwil toon om haar wonderwerke
treffender te maak. (p. 53); Ons volksaard is opgeruimd en vol korswil,
wat wys veral op sulke dae, waar hoop, by nuwe begin, ook nuwe ambiesie
gee" ens. (p. 89). En hoe netjies ryg Dirk sy sinne aan mekaar as hy
pleit vir Maria! Hy eindig so: "Die hoop sal my in doodsgevaar
dapper-versigtig, in moedeloosheid vasberade maak en my nasie laat
liefhê, omdat jou ideale myne sal word!" Met dié woorde vat hy haar hand
"wat sy nie kon terug trek nie, omdat haar sielestryd _onbeskryflik_
geword het." Dieselfde onmag om heftige emosie plasties uit te beeld
vertoon Van Bruggen ook waar hy Dirk se houding moet beskryf: "As hy
verneem dat sy moeder gestorwe is, _voel hy getref en kyk somber na die
aarde voor sy voete_." (p. 191.)
Die taal van _Teleurgestel_ is sterk Hollands gekleur. Woorde soos _bot,
mat, meewarig, halfliggend, gebly_ (gesneuwel) (p. 111), _hawe, struik,
dryn_ word dikwels aangetref. Maar ook die sinsbou is onafrikaans en
veral die gebruik van infinitiewe vorme is storend. "Maria hunker na
meer _wete_, nou die _skiete_ opgehou het" (p. 171). Van sulke vorme
krioel die boek en dit gee soms aanleiding tot duisterheid soos op p.
184: "'n wese, wat versuim tot _sy kom_". Onafrikaans is ook: "Maria en
Elsie doen saam in die spel" (p. 91); "waarvoor diensies" (p. 6). Die
gebruik van die vorme _hê_ en _het_ is soms verkeerd.
Op Veld en Rande.
In _Op Veld en Rande_ (1920) is dit moeilik om die skrywer van
_Teleurgestel_ te herken, as die laaste verhaal, _Die Beeswagtertjie_
buiten beskouing bly. Alleen enkele stylwendings soos "wit orkaan
gedrewe wolke" (p. 122), en 'n paar geykte frases soos "toe twee harte,
wat lief en leed van die wêreld verstaan, opreg ineensmelt!",
"sielsgenot" (p. 109), "hartsgevoel" (p. 28), "hartetaal, vol gloed" (p.
59), herinner aan die manier van _Teleurgestel_. Hier ook geen
romantiekerige opsiering, maar onvervalste werklikheid. Hoe raak en
eenvoudig-waar word Sitman, die "meeldiaken" met sy "ongebleekte
kussingsloop" nie geteken nie! Hy is die man, "wat sit waar hy sit",
"die elfde plaag" (p. 27). Soos Van Bruggen hom geteken het met sy
astrante indringerigheid, altyd kunsies bedenkend om tog maar nooit aan
die werk te kom nie, sy windmaker-praatjies wat eie nietigheid moet
bedek, sal die bywonersfiguur lewe in ons letterkunde. Hy staan vlak
voor ons met al die flenters van sy verslegting. Hoe goed is nie geteken
sy poging om tog nog 'n skyn van vernaamheid te ontleen aan die
reputasie van sy onbekende "ouboet Karel van Staanderton se distrik". En
die dialoog is so spontaan--dis die lewende terugbeelding van egte
gesprekke sonder retoriese byspinsels van die outeur. Hoor maar ou
Sitman se gesanik: "Nou ja! ek hoor toe gister ... of was dit eergister
... nee dit was gister, dit wil my nou goed byval--Willemse het gister
hawer gelaai--ja dis reg, dit was gister.... Nou ja, ek hoor toe gister
by Oom Andries dat meneer de Klerk altemit iemand sal nodig kry om hand
by te sit" (p. 23). Hoe raak is ook die bywoner se hele persoonlikheid
geteken in die kwasi-gewigtige wyse waarop hy meedeel, dat hy "tot 'n
besluit gekom 't" (p. 256), of as hy klaag oor die baie werk (p. 43).
Uit so 'n paar plasties uitgebeelde toneeltjies word Sitman vir ons
meteens fel-lewend, terwyl Dirk Liebenberg, trots al die swaarwigtige
analiese alleen 'n toneelskurk bly.
Ook "kromrug Bettie" met haar huilende kleinspan in die rokerige lug van
die hartbeeshuis is goed getiepeer. Hoe mooi leef die moeder-instink op
in die verdwaasde skepsel, as daar planne gemaak word om haar kinders na
die weeshuis te stuur. Sy glo tog so vas, dat niemand anders so goed vir
hulle sal kan sorg nie, al sit sy in die grootste ellende. "Daar is
Driesie!... Uit die staanspoor is sy maag onderste bo!... Sal hulle
tussen die kliprandjies rondloop om aambeibossie te soek? En dit laat
trek? En dit vir hom ingee?--Nog nooit nie!..." (p. 54). Hoe diep het
Van Bruggen ingedring in die kommergedagtetjies van die arme sieltjie!
Die ander bywoners se mentaliteit word ook met 'n paar fors trekke
aangedui: Willemse, die staatmaker voorman, Neef Niklaas met sy
naïef-wysgerige praatjies oor "bestiering" en "bestuur", Gouws, die
dwarskop. Stols, uit _Teleurgestel_ kon deur die oorlog nie in sy gewone
lewe geteken word nie. Maar nou sien ons die bywoners in hulle daelikse
besigheid, hulle getob oor allerlei kwellings en die wrokkende gevoel
oor hul afhanklike posiesie. En ook hulle baas, Andries Vry, die
konserwatiewe boer en Bybelvaste ouderling ontmoet ons.
'n Enkele maal kom Van Bruggen self om die hoekie loer, op pagina 29
nl., waar hy verstandige maar onletterkundige opmerkings maak oor
kafferpolitiek.
_Ouboet, Oom Jannie_ en _Die Praatmasjien_ is ook goed geslaag. Veral
die lugtige verhaaltoon val op na die sware sleepgang van
_Teleurgestel_. Daar is 'n vaardigheid in komposiesie, 'n handige
groepering van allerlei tiepes uit die boerelewe, wat met al hul
eienaardighede goed geteken word. As realistiese skilder van die
plattelandslewe openbaar Van Bruggen 'n bewonderenswaardige
deurdringingsvermoë. Stoffel Harmse, die omslagtige verteller en
lastige buurman, met sy vervelende "jy kan vir Sarie ook vra", Oom
Jannie en die weduwee, wat by "gebrek aan stof vir vertroulike
konversasie hoofpersone uit geslagregisters van al twee kante opnoem en
bespreek" (p. 101)--dit is fyn-psigologiese trekkies, wat bewys dat die
skrywer hom ingeleef het in die mentaliteit van sy mense. Hulle
karakter word nie bestuur deur geestige bokkespronge van die outeur
nie, maar daar is 'n innerlike ontplooiing, wat ons direk as waar en
noodwendig voel. Dit geld egter nie van _Die Beeswagtertjie_ nie, wat
eenvoudig 'n nugter bedenksel is, en waar alleen Kleinbooi met enige
lewenswarmte geteken is. Die mynwerkers is alleen met so 'n paar
strepies toneelverf bestryk en die styl het weer dieselfde
opgeskroefdheid as in _Teleurgestel_. Veral pagina 140 is swak, waar
"die onmusikale Josef 'n singlus uiter", en "'n siel-treffende Engelse
liedjie" deur sy neus gons "met omgewing-influenserende dreun"! Die
beskrywing van die begrafnis in _Oom Jannie_ (p. 83) is ook gedeeltelik
misluk. Die toespraak tot die "onverskillige, gevoellose ligmis" is
heeltemal misplaas, terwyl die volgende sinne ons aan die paddas
herinner, wat met so 'n voortreflike gawe des onderskeids die boere op
Waterval verwelkom (p. 88). "Kyk! die osse hou op met wei, of die
redelose vee gevoel, dat nou die tyd nie is vir sinlike lus nie," ens.
(p. 83).
In die natuurbeskrywing tref ons nog gemeenplaatse aan. "In
lewensvolheid juig die veld-van-reuse-blare, vol frisse groeikrag,
(wat?) met die fynste silwer blink en as diamante skitter" (p. 121). 'n
Enkele stylwending en woord, b.v. mande (p. 21), welk (p. 112) verraai
nog Hollandse invloed. Onbeholpe of foutief is o.a. die volgende:
argelose boerewerwe (p. 55); voorbeeldige besef (p. 112). In sy beperkte
moreel-voel is 'n verdrietige wens (p. 129); _myners-_ontboeseming (p.
133); Met Sitman op die onderpunt ... gaap die reeks van bywoners en
spring op die gros ... (p. 12) diamante te grawe wat stadig in die
stroewe hersens vreet (p. 14); 'n Ry van arbeid (p. 15); 'n gehele
voorkoms, wat H. dadelik kooi toe bring (p. 41), ens. Die volgende
meditasie is van die outeur en nie van Oom Jannie nie: "Daar moet weer
lewe kom, waar sorgvolle vlyt...." (p. 90).
In die roman _Ampie_, waarvan nog net twee hoofstukke verskyn het[290]
is Van Bruggen op sy beste. Hier laat hy ons as objektief-beeldende
kunstenaar die lewe van die opgevoerde persone intens meeleef. Hoe
suiwer is die weergawe van Ampie se gewaarwordings as sy maat, die esel
verkoop word! En op wat 'n innerlik-ware toon is sy in-hom-self-pratery
meegedeel! Los en natuurlik is die dialoog, waarin soms ewe 'n toon van
die rou werklikheid opklink: "Ampie stamp sy simpel suster eenkant-toe:
"Gee pad van my plek af!--Ma, kyk vir Ampie!--Ampie jy sal bars! brom
die ma, sonder om te roer." Raak-psigologies is dit om ou "Goor Dawid"
saam met Booyse vir sy seun te laat vermaan: "Ja Ampie, doen jou bes,
... dis Kaffersleg as 'n mens ongeleerd bly." Hoe rats is hy om 'n
ekskusie te bedenk as hy die kontrak moet teken: "Oom Kasper, jy weet
die griep.... Ek het hom in my rug gehad, en my hande was daardie tyd
glad dood, en ek het glad verleer om my naam te teken. Kom Ampie, vat
die pen onder: ek sal bo vat."[291] 'n Enkel minder gelukkige
uitdrukking kom af en toe voor o.a.: "Nou is hy die voortbrengsel van
wat sy taaie liggaamstemming eis en sy sintuie."[292]
Die Burgemeester van Slaplaagte.
In _Die Burgemeester van Slaplaagte_ bly die opgaande lyn in Van
Bruggen se kuns gehandhaaf. Dis 'n heel eenvoudige geskiedenis van 'n
paar eenvoudige mense in 'n dooierige dorpie, maar Van Bruggen maak dit
tot 'n stukkie treffende realiteit deur sy lewensware uitbeelding. Oom
Lood wat "almelewe oorhoekse jukskeie en vrot voorslae" (p. 88) met 'n
toegeknypte oog verkoop, is famielie van Stols uit _Teleurgestel_. Maar
hy is met 'n dieper indringingsvermoë geteken. Ons ken nie alleen sy
uiterlike eienaardigheidjies nie, sy lus vir 'n boegoesopie, sy neiging
om alles voor die voet te sekondeer op 'n vergadering, maar droom saam
met hom oor sy toekomstige kosterskap, kreun saam met hom in sy
vadersmart. Want Lewina, sy dogter, doodmoeg vir die eentonige lewe in
'n slaperige stofholte trek na Johannesburg. Goed is die ouers se
instinktiewe wantroue vir die grote-stadslewe aangedui. Maar as hul
dom-gerus oor die dogter se toestand huistoe kom, is dit tog lekker om
so 'n bietjie te spog oor die ryk "huwelik"! Wanneer Lewina eindelik met
haar skande terugkeer, tob haar vader oor die raaisels van die
stadslewe, wat hy met sy onnosele Slaplaagte-logika wil oplos. Oom Lood
is met soveel gelukkige trekke uitgebeeld, dat ons hom deur-en-deur ken.
Die nasionale skoolmeester se skoene word toegedraai in die Engelse
krant, waarmee Peach hom wou oortuig van die Duitse gruweldade! Van
sulke kostelike humor is daar meer staaltjies. By Oom Lood staan dit
vas: "Daar was net een vèrplie baklei, en dit was in een-en-tagtig se
oorlog; en daarom het ons die Rooies toe uitgestof"! (p. 39). Van 'n
kunstenaar, wat so diep in die psiege van 'n eenvoudige siel kan
deurdring, kan seker nog veel verwag word. Treffend-juis is ook die
uitbeelding van Tant Lewina, 'n eenvoudige werk-esel met tog so 'n
gevoelige moederhart. As Boet Heina met sy plegtige waarskuwing kom,
gaan sy sit "soos 'n huismoeder op 'n Sondagmôre se boekevat as sy
tewens die kokery moet dophou" (p. 51). Deurtastend van geaardheid hou
sy haar met geen gepiep op nie (p. 84) en verstaan die kuns om
nuuskierige famielielede te troef met haar ratse tong.
Ook die byfigure word met enkele raak trekke geteken, sodat die hele
stowwerige Slaplaagte met sy bewoners helder voor ons staan. Daar is
Pieter van Staden met sy moedelose, _don't-kêr_-stemming, omdat die
reent nie wil kom nie, maar vol vuur op die skoolkommissie-vergadering,
waar hy sy wysheid oor windpompe uit. Die hele vergadering is 'n mooi
geslaagde voorbeeld van Van Bruggen se "copiëerlust des dagelijkschen
levens". Hy hoef ons nie nog te verseker, dat 'n voorval "histories" is
nie (p. 60), ons voel direk dat alles eg is, so noukeurig selfs, dat dit
telkens die indruk van 'n "document humain" maak.
'n Enkele maal kan hy 'n uitroep nie bedwing nie; "O, die kwaadpraat en
kwaaddink van die mensdom!" (p. 38). Ook in die dialoog is daar hier en
daar 'n plekkie, waar ons die skrywer, en nie die uitgebeelde persone
hoor praat nie. So sê die meester: "Ek hoop julle sal van teleurstelling
vrywaar wees" (p. 70), en Oom Lood: "Alles is net een infame bedrog" (p.
101). Komies is dit om net na die beskrywing van die groot droogte te
hoor dat "niks (voor)val wat _stof_ gee tot gesels nie"! (p. 4).
Onduidelik is die volgende: "Op die bulteveld ... boei die eensaamheid
deur 'n magtige bekoring die onsigbare werking van die skeppende
Almag...." (p. 73); en slordig: "'n _Trek_ van onverskilligheid om_trek_
haar oë" (p. 35).
§ 10. Gordon Tomlinson.
Gordon Tomlinson is gebore op Swellendam in 1889. Vir alles wat
Afrikaans is, was hy van jongs af aan 'n sterk propagandis, sodat hy
b.v. in die Anglo-Boere-oorlog van skool weggeja is, omdat hy 'n
Vierkleur-ruiker in sy knoopsgat gedra het. Later het hy voortdurend
stroebeling gehad met die Engelse hoof. Die meeste awonture, wat in
_Deur die Smeltkroes_ beskrywe word het in Swellendam gebeur tydens die
oorlog. Eers wou Tomlinson predikant word, maar weens 'n keelaandoening
moes hy die plan opgee. Op Stellenbosch het hy in die regte gestudeer en
daar het hy saam met Dr. Tobie Muller en Professor J.J. Smith een van
die voormanne van die A.T.V. geword, en deel uitgemaak van die redaksie
van _Ons Moedertaal_. Later het hy hom ingespan vir die Helpmekaar en
tans woon hy in Vredefort, waar hy hom met sy eggenote aan die
skilderkuns wy.[293]
Deur die Smeltkroes, (1917).