Op pagina 34 word die gang van die verhaal onderbreek deur die volgende

opmerking: "Arme Bettie en Piet, watter reggeaarde sou nie medely hê met

julle nie, ..." en op pagina 46 roep hy uit: "O, die wonderlike gawe van

heerlike ontboeseming aan die mensekinders gegee, ..."

Bettie se innerlike lewe word soms op fyn-psigologiese wyse deurvoel.

Haar tobbery oor die lot van die geliefde, die nuansering van haar

gevoelens by die verskyning van Bester, die manier waarop sy wik en weeg

wat hy vir haar sou kan beteken ingeval Piet werklik dood is, dit is

treffend uitgebeeld. Maar haar karakter word onwaar, omdat ons nie kan

glo aan die egtheid van haar "offer" nie. Ook die tekening van Oom

Willem is aandoenlik in sy egte menslikheid. Maar die groot betekenis

van _Vergeet Nie_ as literere kunswerk lê nie in die karakter-tekening

of komposiesie nie, maar in die styl met sy sterk persoonlike aksent.

Malherbe se prosa is byna heeltemal vry van vreemde invloed. Dit is

prosa met 'n eie ritme, prosa waarop 'n fyn digterlike waas rus. Hy

beskryf nie alleen die uiterlik van wat hy sien nie, maar dring deur tot

die innerlikste wese, sodat ons die geur daarvan kry. Die skroeiende son

brand ons deur die hele boek, ons sien die stowwerige dwarrelwinde op

hul grillige togte oor die vaal Karovlaktes. Al die wisselende

natuurtonele het die skrywer diep ontroer--die skaduwees van die swart

wolke, langsaam skuiwend oor die jong skaapbossies, wat "soos dwergies

koes"; die plasreens, wat neerbons met woeste geswiep, die langgerekte

kettingligte wat geheimsinnige tekens aan die swart hemel skrywe. Op

Rietfontein het hy die witgeswelde arms van die vyelaning gesien, "waar

die jong vye soos klein kindervuisies aan uitloer"; Steenburg teken hy

met 'n paar uiters fyn penseelstrepies--die "rustige Karodorp, dromend

in selftevredenheid en wyd omwoon deur slapende koprande wat in

donkerbruin pantser en ylvaal groei uitgebeiteld rus teen die ewig-blou

hemel aan."[271]

Sonder aarseling vertolk die digter die fantastiese skyn wat die dinge

in sy oog aanneem; sy impressionistiese beelde tril en bewe van jong

lewe. Sy metafore is nie spoggerige blinkgoed, wat as versiering van

buite opgeplak is nie, hul sit vasgegroei in sy skepping, wel spontaan

op uit sy onbewustheid. Adonis se ou baadjie is "lewensmoeg en klaar met

die wêreld", die kleurevariasie van sy gelapte ferweelbroek is "soos 'n

bont mensesee by 'n wedstryd waar die son sy ligte glans oor heenstrooi

op 'n vrolike somermiddag". So gee Malherbe ons telkens met 'n paar

raak-etsende woorde 'n verrassend-nuwe kyk, en haal hy skoonheid selfs

uit die flenter-ploiings van 'n ou Hotnot. Op die plaas het hy die

"dowwe basmusiek van die ooie, swaar van dreuning nes dié van 'n

aanstormende vloed afgewissel deur indringende skreenote van die

lammertjies" gehoor; hy het die kalwers stofdraaie sien maak as hul

onbekommerd die jong dag ingaan. Die swaar reendruppels spat teen die

vensterruite "of jy ertjies saai"; die westewind, "die hoopbederwer van

die Karoboer ... vlie tussen die wolke in en skeur hul uiteen met

dreunende en druisende gebaar. Wild klop hy hulle uiteen, die swaar

gepakte wolkemassas _soos 'n geoefende hanteerder van 'n sweep 'n digte

klomp vee_, totdat hul uitgedun heenseil, een-een wegsmeltend onder sy

verskroeiende asem, en die lug weer vry neerblou in die hittige

sonstrale."[272]

So magtig is die indruk van die natuur op die skrywer, dat hy al die

wisselende stemminge van sy persone met 'n stukkie natuurviesie

deurwewe. As Servaas "vol van vrees vir die toekoms" teen "die vaal

hange uitslinger met sy kar", dan lyk "die swygende rande so naar, so

onvriendelik nes dreigende ongediertes", dan ry hy op 'n pad, wat

"spookagtig wegslinger tussen die donker swartkoppe in." Wanneer Piet

Marais wegry van Bettie oorlog toe, dan is dit donkermaan, dan sing "'n

byterige Oktoberluggie 'n klaende sangetjie" in sy ore. En as Bettie hom

agterna kyk dan straal "die blinkende sterre met oë van genade op 'n

verbroke vrouehart" neer. By haar ontwaking die volgende oggend "lê die

sonnegoud heilig en skoon soos 'n glimlag van Gods genade" op tafelrande

en koppies. Vir Japie du Plooy en sy maats is die rooi lug 'n

onheilspellende teken. Die westewind laat Bettie huiwer; "net so wreed

en meedogenloos soos die stofstorm daar buite heenbruis, so het die

omstandighede ook met haar lewe gespeel!" Wanneer Oom Willem weggevoer

word van Rietfontein hang "'n afgryslike weer in die lug" en na die

storm ruis die sagte buitjies "soos 'n vreedsame verontskuldiging vir

verbygegane wreedheid" neer oor die onskuldige grysaard. En die vroue op

die plaas voel "of die natuur selfs geen simpatie en gevoel vir hul leed

had nie." Oor die kindertjies van Servaas "gly die sonstrale van 'n

koninklike somermiddag beskermend en seënend." Oom Willem sterf saam met

die ondergaande son en die geruis van die see is 'n plegtige dodeklag".

Wanneer Bester sy doodvonnis hoor, sien die son "soos 'n rustige god in

spraaklose medely op 'n toneel van menslike leed" neer. By die

uitvoering van die vonnis kom die son weer "net agter verre rande uit

... terwyl rondom die _ligfontein_ 'n bloedrooi halwe maan ver in die

blou uitsirkel. _Betyds gekom om bloedvermaak te aanskou_". Hier egter

kry ons die indruk, dat die son en die bloedrooi maan daar =met geweld=

bygesleep is. Veral die gekursiveerde sinnetjie bederf die stemming,

terwyl die omskrywing "ligfontein" banaal is.

Wanneer Piet en Bettie na die oorlog op die klipheuwel by Rietfontein

sit, dan "_treur_ ook die son in sy bloedrooi vlieserige omhulsel, 'n

weerglans van die bloed wat vergiet is op die Afrikaanse velde", maar

enige oomblikke later as hul twee siele "saam(vloei) in 'n heilige

vervoering van onvermengde geluk, van toekomsdrome en toekomsweelde" dan

"skemer die laaste _glimlag_ van die ondergegane son in roerlose stilte

uit...."

_Vergeet Nie_ begint met die son en eindig met die son. Meestal slaag

die skrywer daarin om met sy digterlike viesie op die natuur sy

stemmingsbeelde te verinnerlik, maar dit word ook soms bloot _manier_.

Naas eg-Afrikaanse beelde, wat getuig van fyn waarnemingsgawe kry ons

egter ook flou-geryde uitdrukkings soos: "Verder het hy die sleutel

waarmee hy onmiddellike toegang tot Bettie sou verkry", (p. 69); Bester

is oortuig van sy "onblusbare liefdegloed" vir Bettie (p. 96); Aan Oom

Willem het die willekeur sy skaamtelose hand geslaan (p. 149); Bester

het sy vonnis in die gesig gekyk soos 'n marmerbeeld (p. 186); die

maatskappy, waarvan hy 'n bruikbaar lid geword het (p. 17); vanaand sal

'n nog bitterder leed haar siel deurboor (p. 19); Daar brand 'n vuur,

daar gloei 'n drif, 'n hartstog wat geen stormvloed sal uitdoof nie,

daar setel 'n beslistheid wat die teerste bande nie sal verander nie.

(p. 22). En so staan hy daar voor Servaas as 'n toonbeeld van goeie

voornemens.... (p. 7); ens.

Ook onvervalste retoriek: Die suiwer suiderhemel met sy ontelbare

_flikkerbronne_ ... 'n _klanklose(?) prag van lewende juwele_ gesaai oor

die grondelose _boesem_ van die lug, ... (p. 44); 'n gloeiende naald

boor langsaam deur sy siel, agterlatend 'n smal baan van verskroeide

lewensvreugde (p. 44)--'n beeld wat positief walglik is.

Dan vind ons ook nog uitdrukkings, wat onduidelik en onbeholpe of

minstens vreemd is: Bettie is besig om met haar eenvoudige musiek "die

grond_toon_ van haar lewensgeskiedenis te _vertel_ (p. 73); die _trek_

van verwyt in haar vader se woorde (p. 105); 'n woord wat wreed sou val

op die tere _bodem_ van plegtige liefde ... (p. 38); Bettie is die

_voorwerp_ van die liefde (p. 18); Dit is of sy beperktheid oor homself

weggegroei ... het (p. 195); Bester met sy listige planne en

parmantigheid moes in die _hand_ kom, ja selfs op sy _lewe_ was dit

gemunt, waar kleurlinge in diens van Sy Majesteit hul _lewe_ moes

_prysgee_ onder sy _hande_! (p. 161); Bester "met sy onverskrokke

_bende_ (p. 161);[273] program (p. 31); _aan_speling i.p.v.

toespeling[274] (p. 77 en 90); vuurgeveg (p. 140); Daarheen word gestuur

wat in die oë van die Engelse outoriteite as lastige pro-Boer-mense

_verskyn_ het ... (p. 151). Alle kommunikasie met die distrik (is)

afgesny en handel _tot 'n nietigheid afgedruk_ (p. 82); sommige

oomblikke voel dit hom of sy verstand hom begewe onder die invloed van

gedagte (p. 150).

_Waagmoed_ is 'n ongelukkige neologisme; _wikkelwakkel_ is ontleen aan

Guido Gezelle se gedig: "_Bonte Abeelen_" "Die Dood se grillige

_ont_klemming" is geen Afrikaans nie. (p. 154). 'n Voorbeeld van lelike

klink-klank staan op p. 175: Dit was 'n beleefde voor_spel_ van die

treur_spel_." Malherbe is trouens nogal lief om kort op mekaar, soms in

een sin dieselfde woorde te gebruik. So kry ons tweemaal _toevallig_ op

p. 99; warrel op p. 65; huis op p. 17, skynbaar op p. 18, nou op p. 14.

Gevoel is maar al te dikwels _gemengd_--'n stereotiepe niksseggende

uitdrukking: (p. 24) daar woel 'n mengeling van gevoele in haar siel;

(p. 66) 'n warreling van gemengde gevoel.

As 'n kunstenaar ons vertel dat iets _onbeskryflik_ is, dan is dit 'n

belydenis van onmag of 'n retoriese reminisensie. Enige voorbeelde: (p.

65) Wie beskryf haar sielelyding ...; (p. 44) met 'n onbeskryflike krag;

(p. 46) die onbeskryflike weelde van onbeheerste gevoel.[275] Op p. 34

kom nog 'n ouderwetse slim draaitjie voor: "Bettie is toe na haar kamer

gegaan en ... wat sy daar gemaak het, sal iedereen wel weet wat van

meisies kennis het"! En wat moet ons dink van die "arme student wat met

'n _verskeurde_ hart en _verslae_ gees moet afskeid neem van sy

_dierbaarste op aarde_ en dit vir baie lang tyd"! (p. 34).

Afgeslyte uitdrukkings ontstel ons in dubbele mate by Malherbe omdat sy

stylkuns oor die algemeen deur so 'n innige, suiwer-eenvoudige woordkeus

beheers is. Ons voel dat hy gesoek het na die alleen-juiste woord en

dikwels klink daar 'n harmoniese toon in sy geïndiwidualiseerde sinsbou.

Hy wou méér gee, dan 'n gewone amusementsroman en as een van die eerste

_kuns_-uitings in prosa sal sy werk steeds van belang bly. Hy het die

joernalistieke vaalheid uit ons taal weggevaag deur sy fleurige beelde,

ontleen aan Afrikaanse veld en lug, en daarby besit hy as digter 'n fyn

gevoel vir woord- en klankwaarde.

Ten spyte van die foute in sy styl en komposiesie hang _Vergeet Nie_

soos 'n klein druiwetrossie in die groen wingerd van ons letterkunde.

Die beelde met hul Karo-omwaasde ongereptheid is die wynkleurige

korrels, mekaar verdeukend in die transparante ronding van sappige

swelling, wat die tingerige steeltjies in hul liefdegroei bedek. En wie,

stil-gelukkig, die korrels een vir een in al hul sonnegeurende

sappigheid geproef het, sal ook die tere stingeltjie nie àl te wreed

vergooi nie.

§ 7. Mej. Chris. C. Euvrard.

Van Chris. C. Euvrard, onderwyseres in Rhodesië het drie novelles

verskyn: _Twee Susters, Lena_ en _Twee Broers_. Haar werk word hier

alleen vermeld, omdat aan _Twee Susters_ in 1914 die eerste prys

toegeken is in die jaarlikse wedstryd van die Akademie. Dit is van geen

letterkundige belang nie, en bevat oorlogsondervindings in onbeholpe

skoolmeisies-styl. Ter tiepering 'n enkel staaltjie: "Lena was skaars

onder die _seil_ uit, toe een van die wagte wat by die wa was, vir haar

vra of hy die _seil_ sal aftrek. Lena sê ja en in 'n paar oomblikke was

die _seil_ af en kon almal weer lug kry. Die _seil_ was maar net af van

die wa, toe 'n offisier daar kom. Hy begin met mev. van Eeden en tant

Sannie te _praat_, en terwyl hulle nog _praat_, kom 'n paar soldate ook

by die wa en begin ook met die meisies te _praat_." (_Twee Susters_^2,

p. 45.) Die redakteur van _Die Brandwag_ het in Des. 1918 nog verklaar,

dat ofskoon haar werk oppervlakkig is dit "veel daartoe by(dra) om

leeslus op te wek by die wat anders nooit 'n boek sou opneem nie" (p.

214). Vir die taalstryd mag dit dus miskien wel van enige betekenis

gewees het.[276]

§ 8. Joubert Reitz (1880-1919).

Joubert, 'n seun van President F.W. Reitz is gebore op Bloemfontein in

1880, kort na die slag van Majoeba. Daarom het sy vader Generaal Piet

Joubert gevra om sy peetoom te wees. Met die oorlog van 1899-1901 het hy

dadelik aangesluit by die Pretoria-kommando. In 1900 het hy gedien onder

Kaptein Heinrich du Toit en terwyl hy in die Soutpansbergse distrik siek

lê aan die koors, het die Engelse hom gevang en na Bermuda gestuur.

Na die vrede is hy met twee broers Madagascar toe, maar omdat dit daar

nie na hulle sin was nie, het hulle teruggekom na die Transvaal. Joubert

het hom toe as prokureur op Potchefstroom gevestig, waar hy in 1919

oorlede is.

Van hom het verskyn twee romans: _Die Dolosgooier_ (1916) en

_Beproewing_ (1918). Vir die Potchefstroomse koerant het hy dikwels

gedigte en prosastukke geskrywe, meestal van grappige aard. Onuitgegee

is 'n reeks artiekels oor "_Oom Fanie_ en sy ervarings met 'n maai- en

vliegmasjien."[277]

Die Dolosgooier.

Frits Kok, 'n Johannesburgse klerk gaan na die diamantvelde by Bloemhof,

maar die groot geluk bly weg. Gedurende 'n aanval van moedeloosheid wil

hy vertrek, nadat hy op die stasie "'n sterretjie" gesien het, maar sy

kaffer gooi die dolosse en die se voorspelling blyk juis, want Frits kry

'n paar mooi diamante. Nou trek hy weg om sy "sterretjie" te gaan soek

en al gou blyk dit, dat sy die dogter is van Harvey, met wie hy 'n

vennootskap gesluit het. Met Collins het hy op Bloemhof moeilikheid

gehad en dié strooi nou skinderpraatjies uit, want hy het ook 'n oog op

die "sterretjie". Collins slaag daarin om 'n fabelagtige skat uit

Sekekoen se kafferstad te roof, maar hy beswyk aan 'n wond op die

hoëveld, waar Frits hom nog eers verpleeg. Frits laat die kaffers £5000

betaal vir die verlore diamante en die dolosgooier se twede voorspelling

kom ook reg, want hy sluit Maria in sy arms.

Beproewing.

Hierdie roman is meer of min op dieselfde plan gebou as _Die

Dolosgooier_. 'n Doodgoeie jonge man word vervolg deur 'n gewetelose

skurk, maar na baie moeilikheid triomfeer die onskuldige, word

plotseling skatryk en trou met die meisie, terwyl sy mededinger deur 'n

koeël uit die weg geruim word. Die ekspediesie na Duits-Suid-Wes en die

opstand vorm die agtergrond van die verhaal; 'n vervalste tjek gee

aanleiding tot verwikkeling en die spanning oor die erfenis word deur

middel van 'n naamsverandering tot die ontknoping bewaar.

* * * * *

Teen sy sin en oortuiging het die skrywer deelgeneem aan die

Duits-Wes-veldtog. Die raamwerk van _Die Dolosgooier_ het hy in 'n

militêre gevangenis geskryf, want hy het in die hande van die Duitsers

geraak. Later het J.H. Malan, die "Oom Fanie" van die voorwoord dit

persklaar gemaak, onvoltooide gedeeltes verder uitgewerk, taal en styl

verbeter, kortom die hele boek oorgeskryf met behoud van die

oorspronklike intriege.[278] Dat die aandeel van die bewerker taamlik

groot was, blyk uit 'n vergelyking met _Beproewing_, waarin taal en styl

so sleg versorg is, dat die verhaal feitjik onleesbaar is. Dit krioel

van anglisismes en alle moontlike foute. Reitz had aanleg om 'n

spannende intriege inmekaar te sit, maar sy uitdrukkingsvermoë was

hopeloos swak. Selfs na die skawery van die bewerker het daar in _Die

Dolosgooier_ soveel oorgebly, wat onbeholpe is, dat van letterkundige

verdienste weinig sprake is, ofskoon dit deur die handige toepassing van

Afrikaanse motiewe seker tot die beste van ons awontuur-romans behoort.

As voorbeeld van die kreupel styl en taal kan die volgende dien: "Frits,

hoewel 'n jonge, onervare man, terwyl hy nog onder sy komberse half-sit,

half-lê, naar die pragtige natuurprent kyk, gedronge om die natuurskoon

in oëskou te neem en, daar hy 'n dorpenaar was, moes tot die konklusie

kom ... ens. (p. 17); Harvey ... had die saak van die likwidasie moet

laat vaar.... Harvey het dit so haastig aangeneem, dat die kêrel had

begin te dink...." (p. 105). Anglisismes groei ook nog geil: (Hy) moes

van skool om sy eie lewe te verdien (p. 4); ons geluk is uit (p. 26); hy

begin te voel dat die grappie nie die kers wêrd was nie (p. 146), ens.

Op p. 3 is daar al 'n toespraak tot die "troue geagte leser" en

dwarsdeur die verhaal bly die skrywer aan die woord. Collins, Hooper en

Petrus is tiepes van die bekende volbloed skurke. In _Beproewing_ neem

die politiek 'n groot plaas in. Die skrywer sê self: "Maar laat ons

liewer nie van die dinge praat nie, anders word die verhaal 'n politieke

vlugskrif...." (p. 97), wat dit dan ook teen die end werklik word.

§ 9. Jochem van Bruggen.[279]

J. van Bruggen is gebore te Groede in die provinsie Zeeland, Nederland,

op 29 September 1881. In 1892 het sy vader hom in Johannesburg gevestig.

Aan die Pretoriaanse gimnasium het Jochem begint verse maak oor die

Voortrek. Die Anglo-Boere-oorlog het 'n end gemaak aan sy studie en vir

sewe maande was hy op kommando, totdat hy, by die oorgawe van

Johannesburg vasgekeer is. Van toe af moes hy vir homself sorg en in

plaas van ingenieur te word moes hy lewe van die geringe verdienste, wat

'n agentskantoortjie aan 'n onervare jong man in daardie tyd kon gee. Na

die vrede het hy in 'n wassery die gestrykte wasgoed in pakkies

opgemaak, boordjies getel, ens. Maar dit kon hy nie uithou nie. Hy het

uitgebars die veld in, ruimte toe en by sy boesemvrind G.J. Oosthuizen

op Steenkoppies gaan woon. 'n Tydlank was hy daar onderwyser aan die

C.N.O. skool. 'n Debatsvereniging en koor het onder sy leiding gebloei,

terwyl daar ook van hom toneelstukke opgevoer is. Sy volgende

onderneming was 'n tabaksbesigheid, wat hy met sy vrind Oosthuizen

opgerig het. Aanvanklik het alles goed gegaan, maar later, veral deur 'n

konneksie met 'n uitgeslape seun van Israel het die besigheid 'n totale

mislukking geword, met die gevolg dat albei in 1909 diep in die skuld

was. In _Ouboet_ is o.a. 'n sydelingse herinnering aan hierdie episode,

wat vir 'n tydlank sy letterkundige aspirasies heeltemal gesmoor het. In

1912 het hy sy Voortrekkerverse weer verwerk, maar kon geen uitgewer

daarvoor kry nie. In 'n wedstryd van _Die Brandwag_ het _Die

Praatmasjien_ in 1914 'n prys gehaal en van toe af het Van Bruggen sy

koers gekry.

In 1917 het sy roman _Teleurgestel_ die Hertzogprys van die Akademie

behaal en in 1920 is sy kort verhale onder die tietel _Op Veld en Rande_

gebundel. Van 'n nuwe roman, _Ampie_ het twee hoofstukke in tydskrifte

verskyn. "As boer moet ek in hierdie swaar tye net my kop gebruik om die

boerdery agtermekaar te hou, wat my werk as skrywer uitermate belemmer",

skryf Van Bruggen na aanleiding van _Die Burger_ se enquête. _Die

Burgemeester van Slaplaagte_ het in die serie _Almal se Boeke_ in 1922

verskyn.

Teleurgestel,

is 'n roman uit die Anglo-Boere-oorlog. Die Boere van Waterval en

omstreke is besig met skyfskiet as die veldkornet hulle kom

opkommandeer. Dirk Liebenberg het sy afgeleefde ouers na die kruitbadjie

by Waterval gebring en op 'n wandeling deur die kloof probeer hy om

Maria Brinkman oor te haal om sy vrou te word. Sy gee egter die voorkeur

aan haar ou speelmaat, Gys, wat as gevolg van 'n speelse opmerking van

haar die kordaatstuk uitvoer om 'n blom op 'n gevaarlike krans by die

waterval te pluk. By dié geleentheid word Gys en Dawid, Maria se broer,

deur Swartbooi, 'n geheimsinnige potteskuurder in 'n spelonk gelei, waar

hy vir hulle dolosse gooi en somber voorspellings oor die naderende

oorlog maak.

Na vyftien maande kom 'n kommando nuwejaar vier op Waterval. Dirk

koester hands-op-planne, wat afstuit op die idealisme van die vrouens.

Later vind hy geleentheid om met Stols en Greef, wat graag hul famielies

wil besoek stilletjies af te swenk van die kommando. Hy trakteer hulle

op 'n paar goeie doppe "perskesop". Stols is 'n swak jabroer en laat hom

maklik oorhaal, maar Greef ry met sy maats se perde terug kommando toe.

Dirk vind Maria nog onhandelbaar en sluit in groot verbittering by die

Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak, Stols sukkel terug

Boere toe, maar laat in sy verbouereerdheid sy geweer agter, wat die

vyand aanleiding gee om die woonhuis op Waterval af te brand. Deur Dirk

se verraad word Gys en Dawid vasgekeer in Swartbooi se grot, waaruit

hulle met moeite ontsnap. Gys word later gewond, die vrouens raak in die

kampe, maar na die vrede trou Gys met Maria, en Dawid met Elsie Greef,

terwyl Dirk 'n suiplap word.

In _Teleurgestel_ het Van Bruggen sy oorlogservarings verwerk. "Hy het

die verwoeste plase gesien na die oorlog, en hy het geluister na die

ondervinding van die _Bittereinders_, na die verhale uit die tyd toe die

Engelse oor Steenkoppies en omgewing hot en haar getrek het en uit die

droewe tyd van Johannesburg se renbaan."[280] Swartbooi se prototiep was

"'n verdwaasde ou kaffer, wat die Hartleys--daardie tabakmagnate--se

kombuisgereedskap geskuur het, dag vir dag in 'n driffie en as 'n

malmens geskreeu het party nagte as hy rondloop."[281]

In _Die Burger_ het Van Bruggen verklaar: "In ooreenstemming met my

vorige werk, sal my strewe bly: 'n afbeeldsel van die lewe soos ek dit

gewaar, wat duidelik sal staan in die skynsel van romantiek."[282] Nou

is "romantiek" juis een van die terme wat moeilik definieerbaar is, maar

Van Bruggen wil blykbaar te kenne gee, dat hy geen realis in die enge

betekenis van die woord is nie. Is die opvatting juis, dan gaan hy van

dieselfde beginsel uit as meer dan een kunstenaar van betekenis. Johan

de Meester sê b.v. "En als ik iets als onbelangrijk voel--als een ding

dat me niet interesseert--dan is 't het realisme, dat aan de loutere

beschrijving zonder meer van een brok werkelijkheid z'n volle kracht

geeft. Dat zou ik nooit kunnen doen."[283] Cyriel Buysse verklaar: "De

beschrijving van een realiteit is toch heel iets anders dan die

realiteit.... Als de artiest niets aan de werkelijkheid toevoegde, zou

hij geen artiest zijn. Het beschrijven van détails zonder meer, zooals

Van Deyssel wel eens heeft gedaan, daar voel ik niets voor. Dat kan ik

niet mooi vinden. "L'âme des choses", zooals de kunstenaar die voelt,

moet uit zijn werken spreken."[284] En Is. Querido verklaar met die

grootste stelligheid: "Ik moet met mijn innerlijk leven ingaan op de

dingen ... ik kan de dingen niet klein zien: ik moet ze vergrooten,

doorlichten ... ik moet er heelemaal door vervoerd worden ... =Ik heb

niets aan de realiteit=!"[285]

Ofskoon ons Van Bruggen se beginsel dus kan aanvaar, lei sy

ver-romantisering dikwels tot 'n sodanige vermooiing en opsiering van

die werklikheid, dat die egtheid van sy figure in die gedrang kom. En

daarvan sê Querido: "Elke willekeurige fantastische belichting van 'n

werkelijkheidstafereel ... wordt valsch maakwerk, onechte,

gedrochtelijke romantiekerij."[286] Swartbooi met "sy dwalende brein,

wat sy lewe so vol misterie maak" (p. 195), sy geheimsinnige grot en

orakeltaal is seker romanties geteken, maar wek skeptiese bedenkings van

ernstige aard. Gys en Maria op wie ook 'n sterk romantiese skynsel val,

bly vir ons vae figure. Stols daarenteë, wat deur sy jabroer-geaardheid

geen aanleiding tot romantiekerige vermooiing gegee het nie, is deur 'n

raak-realistiese uitbeelding tot 'n lewende mens geword, wat ons nie

maklik vergeet nie. Arme Liepie met sy "bang-oormekaar-kyk oë", seer rug

en orige knipmes ken ons deur en deur. Nog 'n ander byfiguur, Moeder

Greef met haar laslappies en ou-mens gemaal is met trekkies van

boetserende fynheid geteken, terwyl Luikes Greef met sy droë humor ook

goed geslaag is.

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 13 / 27 段