In die nabyheid van die rustige Karodorpie, Steenburg woon die Du Pré

famielie op die plaas Rietfontein. Oom Willem en Tant Annie het saam oud

geword in die Karo-eensaamheid. Hul dogter, Bettie is ook 'n "kind van

die vrye veld, 'n pragtige voorbeeld van die Afrikaner-meisie". Oom

Willem is enigsins melankolies van geaardheid en die oorlogsgerugte

vervul hom met 'n donker voorgevoel. "Die vuur sal brand van noord tot

suid ... en dit is my asof ... ek die end nie sal belewe nie", so lui sy

profetiese woorde op die vooraand van die groot kriesis. En die plegtige

huisgodsdiens is nog nie afgeloop nie, toe Servaas Vermaak, die bywoner,

wat dorp toe was en daar Adonis as skaapwagter gehuur 't, met die

oorlogstyding vergoed 'n end maak aan die "rustige rus" van die

plaasbewoners. Nie lank na Servaas kom Bettie se verloofde, Piet Marais,

geneesheer op Steenburg om afskeid te neem. Hy is Kolonialer, maar offer

al sy goeie vooruitsigte op om by die Boere-ambulans in diens te tree.

Oom Willem, wat in alle sake die Bybel tot rigsnoer neem, veroordeel

rebellie, maar heg tog sy goedkeuring aan Piet se daad, as hy hoor dat

hy veral gaan om geneeskundige hulp te gee. Met gloeiende geesdrif

verdedig Piet sy handelwyse teenoor Bettie se besware en peil dan op sy

vosperd reguit Boere toe. Ons ontmoet hom weer by die Boeretroepe, maar

nie meer as Rooikruisdokter nie, want dis al die tydperk van

guerilla-oorlog. Piet is trots al die teleurstellings nog dieselfde

vurige entoesias, die geswore vyand en bestryer van papbroekerigheid.

"Nee, manne, laat ons saamstaan(,) almal wat kan tot die end." Onder sy

invloed word die flouhartige Japie du Plooy en Oom Jan ook

"bitter-einders".

Intussen kom Bester, die beroemde rebelle-kommandant met 600 man die

eentonigheid van 'n vervelige namiddag verdryf op Rietfontein. Bester,'n

35-jarige man, wat tot hiertoe alle vroue met onverskilligheid verby

gegaan 't, moet dadelik "hands-op" vir Bettie! As sy na Piet verneem,

deel hy haar mee, dat hy weet van 'n Dr. Marais, wat vroeg in die oorlog

aan koorssiekte dood is. Hy beloof haar om nader inligtings in te win.

Oom Willem verwek heelwat ontstemming onder die rebellekommando deur die

verdediging van sy bybelse standpunt aangaande trou aan die regering.

Die volgende oggend sukkel hy dorp toe met sy eseltjies om die besoek

van die Boere aan Kommandant Hunt te rapporteer, en loop 'n lelike

skrobbering op, omdat sy rapport so laat inkom.

Bester se liefde vir Bettie beïnvloed die bewegings van sy kommando en

deur sy herhaalde besoeke aan Rietfontein raak die Du Pré famielie in

die moeilikheid. Oom Willem, pas herstel van 'n swaar siekte word in 'n

vreeslike storm dorp toe gevoer deur die Engelse. In haar radeloosheid

bedenk Bettie 'n wanhopige plan om haar pa te red. Sy skryf 'n brief aan

Bester, wat met sy kommando nog in die nabyheid verkeer, en laat dit

deur Servaas besorg. Maar Adonis verklik alles aan die Engelse en as

Servaas terugkom van sy vrugtelose tog, word hy saam met Bettie en haar

moeder na die tronk geneem. Oom Willem en Servaas word na Port Alfred

gestuur deur die militêre, Bettie kom agter die tralies, terwyl Tant

Annie vrygelaat word op parool.

Intussen het Dr. Marais een van Genl. De Wet se vertroudes geword en as

Du Plooy met rapporte na die Kolonie vertrek, kry hy 'n brief vir Bettie

mee, wat hy in Bester se hande laat. Maar deur sy poging om die brief

aan Bettie te besorg, raak Bester gevange en word ter dood veroordeel.

In die tronk kry hy geleentheid om Bettie te vertel, dat Piet nog leef.

Kort na Bester se teregstelling keer Bettie en haar moeder weer terug na

Rietfontein. Oom Willem het kort na sy aankoms in die kamp op Port

Alfred beswyk. Na die vrede kom Piet terug om sy bruid te trou.

* * * * *

Bettie word ons voorgestel as 'n ideale Boermeisie. Alleen die feit, dat

sy haar afgeleefde ouers nie kan verlaat nie, weerhou haar om Piet se

voorbeeld te volg en aan te sluit by die ambulans. In die gevangenis en

teenoor Hunt gedraag sy haar kloek. Sy is blykbaar trots op die rol wat

sy gespeel 't, en as Piet haar na die oorlog vra, of sy bereid is om vol

te hou in die groot stryd teen die Engelse kultuuroorweldiging, antwoord

sy met 'n tikkie verontwaardiging in haar stem: "Piet, mag jy my nog so

'n vraag vra nadat ek _soveel opgeoffer en gely het?_"[263] Dit kom my

egter voor asof Bettie haarself _moedswillig_ in die ongeluk gestort 't,

en as dit die geval is dan verloor haar "offer" vir die nasionale saak

heelwat van die heroïese kleure, wat die skrywer daarin geweef 't.

Op pagina 66 staan: "Al die veerkrag van haar nasionale gevoel is deur

die oorlog in volle beweging gekom, en niks is daar sterker by haar

gewees as _die wens om positief te mag meedoen aan die stryd nie_. Maar

hoe kon sy haar ouers verlaat? Onmoontlik vir haar om uit te gaan as

verpleegster! En so is dit haar ernstige gebed geword dat sy op watter

wyse dit God behaag 'n aandeel mog kry aan die oorlog. En as sy niks kan

meedoen nie, dan wou sy meely met haar volk." Hoe edel hierdie besluit

op sigself ook al mag wees, dit neem die feit nie weg, dat Bettie se

naasbysynde plig ongetwyfeld was om vir die veiligheid van haar

afgeleefde ouers te sorg. Maar as sy by haar vader se siekbed moet waak,

dan spook die gedagte van deelneem aan die oorlog, wat 'n _idée fixe_ by

haar word altyd deur haar brein: "Sou die Here haar roep om haar siek

vader op te pas, en mag sy daarom geen deel hê aan die oorlog nie? Sou

dit haar roeping en werk worde, beskeie en stil, _waar sy hoë aspirasies

had?_"[264] Piet Marais se oorlogsgeesdrif en wie weet, miskien ook die

Engelse romans, wat sy van die skool af meegebring 't,[265] het haar

blykbaar taamlik sentimenteel gestem en haar belet om 'n nugter kyk op

sake te behou. As Bester haar meegedeel 't, dat 'n sekere Dr. Marais in

die begin van die oorlog aan koorssiekte dood is, maak sy allerhande

onuitvoerbare planne--"sy sou stilletjies wegraak, te voet loop as dit

al was, haar lewe daaraan waag, sy sou sôre, dat sy êrens by die Boere

te lande kom, sy sou Piet soek ... en as hy waarlik dood was, _sy graf

met haar trane bevogtig!_"[266] Die laaste sinnetjie kon wel in een van

Feith se romans gestaan 't! Daar is trouens meer wat ons aan die

sentimentele romans van die agtiende eeu herinner. 'n Paar ou briewe van

Piet maak sy "met voldoening ope en lees dit in stil mymering en met die

gevoeligheid van 'n teer vrouehart." (p. 64.) Dat Bettie "in die

traag-skrydende ure van die nag" romantiese plannetjies uitgedink het,

is psigologies volkome juis, maar ons is nie gewend, dat 'n flink

Boermeisie van drie-en-twintig jaar, wat bowendien reeds op haar

agtiende jaar "selfbewus en ryp genoeg vir verantwoordelikheid" (p. 33)

was, dat so 'n meisie, tans die enigste[267] stut en steun van haar grys

ouers in uiters benoude dae haar al te lank oorgee aan 'n Wertheriaanse

sentimentaliteit nie.

Bettie se volgende dade toon dat sy doelbewus, ja moedswillig alles doen

om "'n aandeel aan die oorlog te kry"--m.a.w. sy leg die veiligheid van

haar ouers in die waagskaal ter wille van 'n meisiesagtige gril, wat sy

vir "hoë aspirasie" aansien! Sy weet, dat haar pa 'n swartkruis agter sy

naam het, dat die geringste suspiesie hom in lewensgevaar kan bring en

tog ontvang sy Bester "alleen in die sitkamer" (p. 92). Bester het

ongetwyfeld 'n sterk indruk op haar gemaak, en ofskoon sy trou bly aan

Piet en haarself wys maak, dat "as Piet dood is, sy ook dood (sou) wees

vir die wêreld" (p. 90), sien sy tog verlangend uit na Bester se

terugkeer. En nie alleen omdat sy hoop, dat hy nuus van Piet bring nie.

Piet behou wel die ereplaas in haar gemoed, maar uit die omstandigheid,

dat sy oorweeg wat Bester vir haar kan beteken in geval Piet werklik

dood is, kan ons besluit dat sy persoonlikheid haar diep getref het. Sy

redeneer so: "Sy is mos sterk genoeg, sy het Piet _te_ lief om aan enig

ander man te dink" (p. 95). En sy doen dit tog! Bettie maak 'n kriesis

van ernstige weifeling deur. Sy het Bester lief en al wat haar terughou

is "die dure besef van plig en eer." (p. 99.)

Oom Willem het dadelik die groot gevaar ontstaande uit die herhaalde

besoeke van Bester ingesien en Bettie ernstig gewaarsku (p. 95). Sy het

volkome goed geweet, "dat alle persone, wat geheime konneksies met so 'n

gevreesde en verwenste mens het op die ongenadigste manier sou gestraf

word." (p. 96.) Tog ontvang sy Bester nòg eenmaal alleen--sy dink nie

aan die gevaar waaraan sy haar ouers blootstel nie, ofskoon hy haar

meedeel dat sy stap gevaarlik is en dat die Engelse dus naby is--sy gaat

_swygend_ met hom die sitkamer binne en steek nog daarby 'n kers op (p.

97). Op die manier, bewerk sy haar pa se ongeluk. Kan ons haar dus glo

as sy uitsnik: "Ag Pa, ek kan dit nie help nie, ek is net so onskuldig

soos Pa"? (p. 102). Miskien wel; miskien was dit bloot vroulike

onversigtigheid. Maar die volgende stap van Bettie--die brief wat sy aan

Bester skrywe--is alleen verklaarbaar as 'n moedswillige poging om

haarself "'n aandeel aan die oorlog" te verskaf. Sy kom tot die

konklusie, dat alleen Bester haar pa kan red. Het sy gemeen, dat hy die

Engelse moet agtervolg en Oom Willem terugbring plaas toe? Moes Bester

vervolgens Rietfontein verdedig teen die Engelse oormag? homself, sy

kommando en die vrouens laat platskiet ter wille van één man? Of moes hy

die afgeleefde, sieklike grysaard, teen die se eie wil saamsleep op sy

swerftogte? In haar opgewondenheid het hierdie eenvoudige oorwegings nie

by haar opgekom nie en in haar naïewe geloof aan Bester se al-sterkheid

skryf sy aan hom--'n impulsiewe daad--psigologies volkome juis. Maar

haar moeder se opmerking, dat haar plan gevaarlik is, bring haar nie tot

nadenke nie. En plotseling blits dit deur haar gedagte: Nou kan ek my

"hoë aspirasies" bereik--sy kry die "besef ... dat sy self in die

draaikolk van gebeurtenisse begin meedans. Was dit dan nie altyd haar

ernstige versugting nie?" (p. 107). Juis, sy is lank al moeg vir die

eensame lewe op die plaas, waar sy al meer dan 'n jaar opgesluit sit.

Haar romantiese siel smag na dade van durf en intussen suggereer sy

haarself, heeltemal ter goeder trou, dat sy alles doen om haar pa se

ontwil!

Maar Servaas is die man, wat haar tot rede sal bring! Hy weet meer dan

sy: "Die vlakte, die bossies, dit lewe van duisende kakies so na Vaaldam

se kant toe. Die hele wêreld is vanaand vol van hulle." (p. 110.) Hy

erken: "dis byna verniet om so iets te probeer en daarby gevaarlik." (p.

109.) Helaas! Arme Servaas verloor ook àl sy gewone boere-nugterheid--hy

kan "die vurige pleit van 'n skoon jonkvrou" nie weerstaan nie! En hy

gaat jou waarlik waar op die dollemansboodskap uit, ofskoon sy vrou

uitdruklik verklaar dat dit "gek mense se werk is om so iets te doen"

(p. 112).

By 'n nugter beskouing van die feite moet ons kies tussen twee

opvattings: (1) òf Bettie is ten spyte van haar drie-en-twintig jaar nog

maar _'n bogkind_ soos Janetta haar noem, wat met die grootste

onversigtigheid haarself, haar ouers en Servaas in die ongeluk stort, òf

(2) in 'n toestand van radelose opgewondenheid maak die _idée fixe_ "om

haar deel aan die oorlog by te dra" haar onbekwaam om die simpelste

logiese gevolgtrekking te maak. In albei gevalle word dit dan egter

onmoontlik om haar handelwyse as 'n onselfsugtige, edele daad te beskou

en verloor haar =offer= sy grootse betekenis. Soos Malherbe haar geteken

't kan sy nooit as heldin, as die "moedige Boermeisie met haar sterk en

besliste karakter"[268] beskou word nie. Sy is eenvoudig die slagoffer

van haar kinderlike onnoselheid of van haar "hoë aspirasies", wat ons

medelyde opwek, en die bewondering vir haar kloek gedrag in die

gevangenis word getemper deur die bewussyn, dat dit alles onnodig was,

terwyl ons haar bowendien met reg kan verwyt, dat sy haar ouers en

Servaas met sy famielie in die ongeluk gestort 't--ja selfs die dood van

haar vader verhaas het. Bettie, soos die outeur haar wil voorstel, is 'n

psigologiese teenstrydigheid.

M.H. van Campen het die raak opmerking gemaak, "dat kunst het

_zichtbaar worden der noodwendigheid in 't, voorgesteld gebeuren_ ten

gevolge heeft, en dat het blijken dier noodwendigheid de schóónheid van

't _voorgesteld gebeuren_ uitmaakt."[269] Dit is juis die sigbaarwording

van die noodwendigheid, wat ons in Bettie se "offer" mis. Malherbe het

een van die mees dramatiese momente in sy verhaal laat glip. Hy gee ons

self die gegewens vir die uitbeelding van 'n geweldige konflik: aan die

een kant Bettie se geheime liefde vir Bester, die bestaan waarvan sy

self nog nie wil erken nie; daarmee saamgevleg die hoop, dat hy haar

iets omtrent Piet Marais sal kan meedeel en bo-op dit, haar kriewelige

ongeduld om na 'n jaar van gedwonge niks-doen eindelik haar lang

gekoesterde plan om aktief op te tree in die oorlog uit te voer. Aan die

ander kant: die besef dat dit haar plig is om terwille van haar ouers en

as verloofde van Piet, wat miskien nog leef alle omgang met Bester te

vermy. As Bettie in só 'n konflik eenvoudig haar naasbysynde plig gedoen

't, dan sou ons haar _ook sonder om te weet_, dat sy dapper was in die

tronk, as 'n heldin kan bewonder.

_Vergeet Nie_ is 'n aaneenskakeling van dramatiese tonele, waarin die

oorlog voor ons geestesoog verbytrek. Sonder veel verandering sou dit

dan ook moontlik wees om die roman om te werk tot 'n toneelspel, waarin

daar wel veel aksie, maar weinig botsing van hartstogte sou voorkom Ons

kry 'n indruk van wat daar gewoel en gekook het in die hart van die volk

gedurende die oorlogsjare, van die lyding van vrouens en oumense, van

die dapperheid van die Kolonialers, die laagheid van die _National

Scouts_, die vervolging en plaery onder die krygswet. Maar by die

beoordeling van die boek moet ons een faktor veral nie veronagsaam nie:

dit naamlik, dat die teenswoordige geslag nog in meerder of minder mate

_onmiddellik_ betrokke was in die gesketste gebeurtenisse, dat daar

tallose herinneringe van die groot oorlog nog lewe in ons bewussyn. Dié

herinneringe word deur die skrywer in dramatiese verhoudinge gegroepeer

en iedereen kan dadelik uit sy eie ondervindinge analoge gebeurtenisse

rekonstrueer. Dit versterk die indruk wat die gelesene op ons maak

honderdvoudig. Die skrywer roep ou halfvergete impressies uit hul

wegkruipplekkies te voorskyn. Op onbewuste wyse vul ons self die verhaal

aan, en so kry dit op laas 'n aktuële kleur, 'n sterk geprononseerde

persoonlike karakter, wat die leser tot in die diepste roersele van sy

siel beweeg, maar wat die verhaal _op homself nie besit nie_.

Ek noem een voorbeeld om my bewering te verduidelik. Die teregstelling

van Bester herinner ons dadelik aan Kommandant Scheepers. Die

oorspronklike ontroeringe, veroorsaak deur die tragiese uiteinde van

Scheepers, versterk die indruk, wat die soortgelyke lot van Bester by

ons verwek en raak daar gedeeltelik mee geïdentifiseer. Die gevolg is,

dat Bester-Scheepers in die roman 'n werklik lewende persoonlikheid vir

ons word.

Maar nou ontstaan die vraag: Is Bester, wanneer ons ons persoonlike

ervarings heeltemal uitskakel, nòg 'n lewende persoonlikheid, ontroer

die wyse waarop Malherbe hom uitgebeeld het ons dàn nog? Dit is die

enigste wyse waarop ons die kunswaarde van _Vergeet Nie_ vir die

_nageslag_ kan bepaal, want oor 'n tagtig of honderd jaar, sal die boek

nie meer in so 'n voordelige posiesie verkeer nie, dan kan dit alleen

nog profiteer van die nasionale oorleweringe van die groot stryd. En

selfs dìt sal die boek nog 'n groot voorsprong gee, want by 'n volk met

'n kragtige bewussyn word die nasionale helde uit 'n vergange

glanstydperk altyd met 'n stralekrans van heilige aanbidding versier.

Dit is bekend dat _De Geuzen_ van Onno Zwier van Haren lank as 'n

kunswerk van die hoogste skoonheid beskou is, eenvoudig omdat dit 'n

nasionale onderwerp behandel.

Maar ons keer terug tot Malherbe se karakteruitbeelding en vraag: Wat

weet ons nou eintlik van Bester? Hy is 'n bekwame en dapper kommandant,

wat verlief raak op Bettie. As hy hoor, dat haar verloofde nog leef,

besluit hy na enige stryd om haar dit mee te deel. In die hof verdedig

hy sy handelwyse op hartstogtelike manier en gaat sy dood tegemoet soos

'n held. Alleen by die beskrywing van sy laaste dae kry ons enigsins 'n

blik op sy sielelewe en die totaalindruk bly vaag. Bester is sonder

lewensdoordringing geteken, daar is niks indiwiduëels, wat hom tot 'n

duidelike persoonlikheid maak nie.

Piet Marais eweso. Hy is 'n tiepe van die ontwikkelde Afrikaner, wat

deur 'n vyfjarige studie in Europa sy insigte verruim en sy lewe verdiep

het. Hy het daar "jare van worsteling" gehad, hy moes dikwels "met smart

afskeid neem van oortuiinge wat (hom) in vlees en bloed oorgegaan (was)

van (sy) kindsheid af." Hy was 'n ernstige soeker na waarheid, wat uit

ou tradiesies en nuwe wetenskap vir homself 'n eie lewensbeskouing

gebeitel het. In die karakter van Piet lê seker 'n stukkie

outobiografie, maar in 'n oorlogsroman was daar geen kans vir 'n

psigologiese uiteenrafeling van hierdie interessante fase in die

ontwikkeling van die Afrikaanse student nie. Ons wag nog op die

kunstenaar, wat die botsing en gedeeltelike samesmelting van die

Afrikaanse en Europese kultuur moet uitbeeld.

Ons verneem ook nog enige besonderhede van Piet se oorlogservaring en

hoe hy verlang na Bettie. Maar 'n lewende persoonlikheid, met wie ons al

die wisselende stemminge van die awontuurlike kommandolewe deurvoel,

word hy nie.

Ook Tant Annie bly 'n vae figuur. Op Bettie het sy blykbaar geen invloed

nie. Selfs aan Hunt was dit duidelik, dat sy geen aktiewe rol kon speel

nie en die treurige gebeurtenisse slaan haar dan ook heeltemal terneer.

Oom Willem is met meer liefde geteken. In sy bybelvasteid, sy afkeer van

pronk en na-apery is hy 'n tiepe van die Afrikaanse boer. Ons verneem

dat "dors na kennis hom aangespoor (het) tot selfopvoeding", maar uit

die opgawe van sy biblioteek blyk, dat dit hoofsaaklik godsdienstige

kennis was, waar hy na gestreef 't. Hy bly getrou aan die Engelse

regering, omdat sy godsdienstige oortuiging hom leer, dat rebelleer

sonde is. Maar, as hy later persoonlik kennismaak, met die onregverdige

taktiek van die Engelse, laai sy haat op teen die vyand van sy volk en

kry hy simpatie met die rebelle. _Vergeet nie_ is die plegtige boodskap,

wat hy aan Servaas gee op sy sterfbed.

Bester, Piet Marais en Tant Annie is karakters, wat _getiepeer_, maar

nie psigologies _gekreëer_ is nie. Die skrywer staan te veel met sy eie

ekheid tussen die objektief beeldende teksdele, hy mis die gawe om sy

gegewens tot 'n saamgegroepeerde eenheid te bring, om sy persone

heeltemal objektief van uit hul eie innerlike wese te laat lewe. Deur

die subjektief deurleefde werklikheid vleg hy sy eie beskouings en

daardeur verdwyn die realiteitsillusie. Die roman word 'n

aaneenskakeling van dramatiese momente, maar geen epiese struktuur,

waarin die ganse sielelewe van 'n groot tydperk in sy gehele menslikheid

tot een grootse beelding samesmelt nie.

As Piet Marais oorlog toe ry hoor ons: "Dis die eerste rit vanaand van

'n besielde Kolonialer na 'n slagveld wat so groot sal word soos byna

die gehele beskaafde Suid-Afrika, na 'n oorlog wat nie sal oortref word

in gemene gruweldade nie ... ens." (p. 22). Dit is wat Malherbe weet,

maar Piet was tog geen profeet nie. Op hinderlike wyse dring die skrywer

homself hier op die voorgrond.

Sy historiese kennis verwerk Malherbe presies soos De Waal. Op pagina

52-54 staan 'n lang oorsig van militêre gebeurtenisse en op pagina 63-64

'n uiteensetting van die toestande onder die krygswet. Alleen deur 'n

betoog kan hy die nodige atmosfeer vir sy verhaal skep. Só kry ons geen

begrip van die dramatiek van die worsteling nie.

Soms egter slaag Malherbe daarin om deur pittige plastiek die leser

direk te tref. 'n Voorbeeld daarvan is die mooi kommando-toneeltjie in

hoofstuk X, waar 'n lewendige dialoog ons dadelik op hoogte van sake

bring. Die brief uit die konsentrasiekamp met sy bemoedigende woorde:

"Gaan voort, want ons saak is reg en God sal ons nie verlaat nie" laat

ewe ons gemoed tril en ons sien die duisende vroue in geduldige lyding.

'n Oomblik later vaag die nugter vraag van Generaal De Wet: "Hoe is die

posiesie?" alle droomgepeins weg. Maar as kort daarop "soos 'n magtige

gebed waar berusting in ruis" die burgers se plegtige lied tussen die

koppies weergalm en die generaal en sy staf met eerbiedig gebaar hul

hoede afhaal, dan sweef ons op die klankedeining na 'n wonderland van

heilige herinnering--dan sien ons die stoere manne "saamsing met vrou en

kind, met vrind en bloedverwant onder gewyde dak...." Hier is innigheid

van weergawe. Ons voel die diepe kneusing van sterk manneharte, wat op

die nuwe dag in stille Godsvertroue wag. 'n Skrywer, wat so mooi die

nodige sfeer met uiters gevoelige tikkies kan aandui, hoef waarlik nie

sy toevlug tot koel-verstandelike histories geredeneer te neem nie. Hy

hoef nie uit sy denkbewussyn allerlei verklarende toeligtings aan te

voer nie--die leser vang dadelik die aksent van waaragtigheid uit die

klank van sy woorde op.

Maar selfs by hierdie mooi veldtablo kom die skrywer se opdringerigheid

te pas. Hy vind dit nodig om weer blyk te gee van sy historiese kennis

en vertel ons dat "die wêreld in kampe van blokhuise afgeperk is ...

waaromheen swaar kolomme opereer met 'n onuitputlike gedetermineerdheid

om die groot veggeneraal van die Boere in die reusenetwerk van bewegende

lyne toe te wikkel".[270] Dat De Wet se gevangeneming die Boer-magte sou

knak is 'n feit, só vanselfsprekend, dat die meedeling daarvan absoluut

oorbodig is, vir ons _èn vir die nageslag_. Mens sou ewegoed 'n Fransman

daaraan kan herinner, dat Blücher en Wellington vir Napoleon wou vang by

Waterloo!! As die skrywer die orige informasie tog wou meegedeel 't, dan

moes hy dit so in die dialoog gevleg 't, dat ons dit nie voel as 'n

opsetlik skoolmeesteragtige opmerking nie.

Gebrek aan plastiek is daar in die volgende sinnetjie: "In 'n

omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer." (p. 135.) Dit is 'n blote

konstatering, wat by die leser geen impressie van die handeling wek nie.

En juis in die vorige sin slaag die skrywer daar pragtig in om deur die

herhaling van die woord _afsaal_ 'n duidelike gehoorbeeld te suggereer.

"Afsaal", klink dit deur die rye, "afsaal tot ver agteruit en rondom".

Ons hoor hoe slaperige burgers met sware basstem mekaar die woorde nasê,

totdat die klankeketting dreun in die agterste gelid. Maar in plaas van

die gehoorhallusinasie te verinnig deur die geskuifel van die saals, wat

met dowwe plof en stiebeuelgerinkel op die aarde bons, kom die skrywer

met sy niksseggende verklaring: "In 'n omsientjiestyd is die welkom

bevel uitgevoer."

Nog so 'n geval vind ons op pagina 13. "Dit kan stil, ontsettend stil

word op Rietfontein. In die middel van die dag kan dit gebeur dat daar

geen lewensteken te bespeur is nie." Uit so 'n beskrywing blyk duidelik,

dat die outeur nie _in_ die toestand is nie, maar praatjies _oor_ die

toestand maak. Hoeveel mooier is die beeld waarmee hy ons dadelik die

stilte en eensaamheid op Steenburg laat voel--die dorp, "waar alle

geluid en rumoer van menslike bedrywigheid nietig wegsterwe _soos die

breek van 'n dun, droë takkie in 'n ontsaglike woud_".

Dan is daar nog iets wat hinderlik is in die kommando-toneel. Japie du

Plooy is "deur die invloed van Dr. Marais tot 'n waaghals en onvermoeide

verkenner _omgetower_." (p. 138.) Ook al "in 'n omsientjiestyd"? Vir so

'n sielkundige bolmakiesie het mens 'n ouderwetse toordokter nodig en ek

twyfel of Piet dié kuns in Duitsland geleer 't.

Daar is nog meer voorbeelde van die neiging van die skrywer om hom

tussen sy verhaal en die leser te plaas. Servaas kom die dorp ingery op

die 12de Oktober 1899. Dan kry ons in enkele raakgetekende lyne 'n

pragtige ets van Steenburg en omgewing,--maar dit is nie _Servaas_, wat

die dorp so sien nie--dit is _Malherbe_. Ons loop nie saam met Servaas

onder die peperbome nie. Nee, die skrywer sit op een van die koppies en

peins oor die "sukkel-werksaamheid" van klein mensies en die

wyd-omhemelde velde, waarin die dorpie "soos 'n nouliks sigbare stippie"

wegsink. Intussen vergeet ons Servaas totaal, verdwyn alle

realiteitsgevoel. Malherbe vertolk die gedagtes van sy persone deur _sy_

lieriese parafrase in plaas van die gedagtes self, in hul eie taal te

gee.

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 12 / 27 段