In _Die Twede Grieta_, twede druk, 1921: p. 11, watter adres hom in

Johannesburg sou vind, p. 54, Brittanje steek weer sy vinger in die

pasty; p. 136, 'n Stuiwer vir jou gedagte; p. 149, maar sy vrees het nog

die bo-hand gevoer; p. 213, Ons kon om die lewe nie raai; p. 242, in die

klein uurtjies van die nag; p. 308, die gees van jingoïsme--waarvan alle

... Afrikaners in die stede prooi was; p. 326, koerasie byeengesamel; p.

328, in watter woorde die nuus te breek; p. 377, Die aparte

uitdrukkings, wat daar beurtelings op die gelaat van Grieta verskyn het

... was 'n studie.--_Plompe_ wange is reeds in 'n ander verband genoem.

In _Die Twede Grieta_ hoor ons nog van 'n _milde_ behandeling! (Eng.

mild).

Ook die volgende uitdrukkings, meestal onbeholpe vertalings, toon

duidelik aan hoe De Waal in Engels dink en dan 'n woord of wending kies,

wat glad nie in die verband pas nie. In _Johannes van Wyk_ b.v. p. 48,

aan die agterdeel van die huis; p. 80, 84, 246 die gestremde (Eng.

strained) stilte, verhouding, ens.; p. 84, En hy ... ontmoet haar lippe

met syne ... in 'n soete, hartelike kus; p. 101, U het ons almal uiters

gul vergas; p. 180, Die stem klink op verhewe toon[242]; p. 217, jy 't

my in 'n desperate weg gedring; 'n goeie dag gee.

In _Die Twede Grieta_: p. 41, Die ruime stellasies ... was besprenkeld

van toeskouers[243]; p. 56, Op laasgenoemde plek spring daar 'n stad op;

p. 59, tegelyk sou die forte by Pretoria gegryp word; p. 198, sy

volledig die sin; p. 175, Intussen doen die verpleër aldeur alles in sy

vermoë om die vloei van die bloed te stuit, en werklik was die

lekkasie(!) binnekort aanmerklik verminder.

_Kyk_ (blik), _kom kyk_ (besoek) en _lyk_ (hou van) is vaste

uitdrukkings van De Waal. By die gebruik van voorsetsels is hy ook

gedurig onder Engelse invloed of maak hy die snaakste foute. In

_Johannes van Wyk_ b.v. p. 19, onttrek ... uit; p. 24, voorsien ...

met[244]; p. 59, trakteer met lekkers; p. 60, deelneem in; p. 61, Aan sy

breë mond kan jy ... lees; p. 71, vermorsel aan 'n rots; p. 96, hy roep

op die sangpaar; p. 128, vervang met; p. 170, gedagtes in die saak vorm;

p. 180, om jou naamtekening aan hierdie getuigskrif ... te verkry; p.

204, hy hou hom onledig aan die heel-maak van 'n ... mandjie; ens.

In _Die Twede Grieta_: p. 335, om hom met die nou gang te begewe na sy

kompartement; p. 344, berus by haar laaste antwoord; p. 369, hy spring

met 'n skrik _in_ sy sitplaas op; p. 388, 'n kelkie ... tot mekaar se

gesondheid drink; p. 227, "Kom!" roep die boer aan die pêrde; p. 156,

duskant van Paardeberg; p. 285, ryk in bobbiaan ...; ens.

'n Voorbeeld van stokkerige Hollands vind ons in _Johannes van Wyk_, p,

190: Die _verbeide_ vyand. Telkens is die woordskikking verkeerd. In die

_Tw. Gr._, p. 47, b.v. Die trant van die spel, ja, het so 'n keer

geneem, dat, binne vyf minute na die ongeluk, _was_ een van die

donkerbloues in staat ...; p. 79, Hy het my onder ander vertel ... dat

ofskoon Hollands en Engels op papier gelyke regte het, _word_ daar in

die praktyk gesorg....[245]

Die lidwoord ontbreek in: om sake weer op ou voet te kry; pas het hy

hierdie prooi in oog gekry; hulle wag tot oordeelsdag.[246] Of anders

staan dit waar dit onnodig is: Omtrent honderd kanonne (word) in _die_

werking gebring.[247]

Verder kom daar nog 'n hele stel uitdrukkings of woorde voor wat (a) 'n

allerkoddigste indruk maak deur hul lompheid; (b) volmaak onverstaanbaar

of ongebruiklik is; (c) waarvan De Waal die gevoelswaarde nie besef 't

nie. Ek gee enige voorbeelde:

(a) Uit _Johannes van Wyk_:

(p. 42) Toe verkwik hy sy gestel by 'n dammetjie; p. 68, die lewendige

kou water; p. 70, Versigtig en langsaam kom hy (die skuit) met sy

_swaarbelaaide_ mense_vrag_ gedurig nader; p. 82, die gemoedvolle vader;

p. 192, 't Was allesbehalwe 'n gevoel van gerustheid waarmee die

verdediger van die kraal nou _beset_ was. Hy moes die toneel ...

_toe_skou; p. 226, Die liewe natuurlike musiek, wat hierdie lewendige

water op sy weg ... ondertoe na die vlakte _baan_; p. 82, En wat kom die

gewaad ook daarop aan, solank as dit nog reg is miet sy _inhoud_! (Ds.

Linde tot Hester); p. 227, Daardie selvolle kykers, wat so sy hart

_verteer_ het.

Uit _Die Twede Grieta_:

(p. 236) Haar storie ... het sy op so 'n belang-prikkelende manier

vertel, dat dit van begin tot end die _aandag_ van haar _geleide

boeiend_ geïnteresseer het; p. 295, So het die burgers hulle _gelate wil

berus_ by die besluite ...; p. 394, die vooruitlopende weet-al-leser; p.

4, in die wye, rond-gegruisde tuinpaadjie.

(b) Uit _Johannes van Wyk_

p. 7, Sy ... _ontlos_ haar van haar helper; p. 201, die bedleërige; p.

163, 'n aangestrande vreemdeling, 'n vermoede gevlugte seeman; p. 24,

spieder en bespeurder; p. 2, sy goedbelynde gesig.

Uit _Die Twede Grieta_:

p. 295, die harttrillende vierkleur; p. 308, weervaardigheid; p. 381,

die salig-oorstelpte besoeker.

(c) Uit _Johannes van Wyk_:

p. 5, die dik _prettige_ dogter; p. 235, met 'n gesig oppervlakkig

prettig; p. 140, 'n prettige boer; p. 169, 253, nering; p. 102, Het komt

my voor dat tante Debora hem daartoe _aansart_; p. 58, die mense was

gemoedelik aangedaan; p. 68, Köhler het haar (die meisie) met geweld

_weggeraap_; p. 80, terugwerping; p. 75, toewerping; p. 165, Ek weet

waarlik van niemand wat 'n mooier _vorm_ en postuur het nie (van

Johannes geseg); p. 188, en al die huisgesinne ... het met waens en

karre _na die setel_ van plesier en vrolikheid vertrek.

Uit _Die Twede Grieta_:

p. 19, Wat sal van daardie verskriklike wil van hom word, as ...; As ek

jou belet om dit met geweld _uit_ hom te _delg_; p. 20, Phineas Junior

... het welig opgegroei; p, 34, Haar geselligheid, wat sy by al haar

kennisse ... _beoefen_ het; p. 114, na 'n koppie koffie by 'n buurman te

_benuttig_ het; p. 286, om Andries _handtastelik_ te verwelkom; p. 302,

tasbare dank; p. 265, nouliks was daardie aanval aanvaar.

Stompies.

_Stompies_, 'n bundel stories, rympies en toneelspelletjies is, wat die

prosastukke betref, uit dieselfde hout as die romans gesny. Tien of

twaalf sulke _stompies_ met timmermansvaardigheid aanmekaar gelas en met

historiese kleefstof van 'n patriotiese merk vasgelym vorm die lang

_stompe_ van die romans. Maar dis dorre stompe van 'n stokoue,

doodgebloeide boom, wat De Waal omgekap 't om die taalvuurtjie mee op te

stook.

In _Stompies_ (1911) word die getal van die "engelagtige" meisies met

hul "betowerende, hemel-fraaie kykers (o.a. p. 7, 10, 156), _plompe_

rooskleurige wangetjies (p. 98), Venusagtige gestalte (p. 140), ens.

vermeerder. Hulle "stuur 'n elektriese stroom deur al die lede" (p. 156)

van hul aanbidders en as hulle so onversigtig is om in die water te val,

of deur Kaffers toegetakel word, dan kry die dapper redders, wat

_toevallig_ daarop afkom die welbekende "koue rilling" wat "deur hul

hele lyf loop" (o.a. p. 78), totdat hul uiteindelik "die hemelse

gedaante van hul teergeliefde(s) te gemoet _vlieg_" (p. 83) en

"verrukkelike vreugde in hul _hart_ straal." (p. 83.) Die gelukkige

paartjies word dan nog almal voorsien van 'n liewe gesonde seuntjie (p.

60), "twee fraaie kindertjies" (p. 104) of "drie gesonde kleintjies" (p.

158).

Die voorwoord bevat nog 'n merkwaardige verklaring: "Soals die ironie

dit wil, gee _ek_, die alle digters en rympiesmakers beskou als

beklagenswaardige dromers en dwepers, nou self 'n klomp rympies uit!--"

Dat iemand wat so 'n beskouing daarop na hou, geen kunswerk kan lewer

nie, spreek vanself. Hy het self dan ook erken dat hy nie "in die wieg

gelê was om romans te skrywe nie. (Hy) het maar die leeslus onder ons

volk vir Afrikaans wil help opwek"[248]. Hierdie oordeel kan na ons

ondersoek volkome bevestig word. Sy romans het geen letterkundige, maar

wel kultuur-historiese waarde. Dit was propaganda-werk, wat verskyn het

in 'n tyd toe die meeste ander voormanne nog niks gepresteer had en daar

feitlik geen Afrikaanse leesstof was nie. Sy doel het De Waal dan ook

bereik; _Hy het 'n groot deel van die Afrikaanse volk hul eie taal leer

lees_. Wanneer ons nou dat die stryd vir Afrikaans gewin is, behoefte

gevoel om ook die letterkundige waarde van die eerste prosawerk te

bepaal, dan moet daar nogeens met nadruk op gewys word, dat _Johannes

van Wyk_ met al sy gebreke 'n faktor van belang in die taalstryd was.

Dat dit gelees is, is veral te danke aan die spannende intriege. Wat J.

Koopmans van Van Lennep sê is ook van De Waal waar: "Meesterlik worden

de draden in één punt samengetrokken; als in een vuurwerk knapt en

knettert de kruithuls aan alle kanten; de ene vonk ontsteekt de andere

en draait de spil naar de gewenste zijde"[249]. Solank as daar mense is

wat 'n boek lees alleen "vir die storie", sal De Waal se romans seker

gelees word.

§ 2. J. Lub.

J. Lub is op 1 Mei 1868 gebore te Garijp, 'n dorpie in die provinsie

Friesland. In 1892 het hy as onderwyser na die Transvaal gekom. In die

Anglo-Boere-oorlog was hy vir ses maande in diens van die Rooi Kruis as

bestuurder van die ambulanstreine. Na die vrede het hy opgetree as

Hollandse dosent aan die Johannesburgse Normaal-Skool en tans is hy

inspekteur van skole op die Rand. Vyf bundels sketse het van hom

verskyn: _Eenvoudige Mense_ (1908), _Donker Johannesburg_ (1910)[250],

_In en om de Goudstad_ (1912), _Het Zwarte Gevaar_ (1913), _Oom Frikkie

en ander Sketse_ (1918).[251]

Van Lub se sketse is 'n groot aantal in Afrikaans geskrywe, maar dit is

die Afrikaans van 'n buitelander, waarin, hoe goed hy die taal ook al

deur 'n langdurige verblyf onder ons mense geleer 't, tog altyd nog iets

vreemds klink. Omdat sy persone meestal in 'n Engelse milieu optree, kom

daar in sy werk nogal baie Engelse uitdrukkings voor en hoewel dit soms

deur die geaardheid van die sketse noodsaaklik word, moet die

veelvuldige gebruik van woorde soos "cab, stretsjer, uitgeswindel,

loafers, motormen, sweets, gingerbier" ens. beslis afgekeur word.

"George lyk om te "marry", maar sy "job" betaal maar net £12-10s., en hy

het die laaste tyd op die reisies verloor, want sy "friend" het hom die

"wrong tip" gegee" (_Eenv. Mense_^3, p. 52). Al dien so 'n staaltjie nou

ook ter karakterisering, tog word die herhaling van sulke gebrabbel op

lange laas onleesbaar.

Die verwording van die Afrikanerkarakter in die kosmopolietiese

goudstad--dit is die vernaamste onderwerp van Lub se sketse. "Daar binne

in die kuil (Johannesburg), vergaan 'n deel van ons arm mense, wat in

hoë plekke behoort te wees, maar wat nou in hole van ellende omkom en

bedelaars is ... of nog erger" (_Oom Frikkie_, p. 66). Die degenerasie

van sulke sosiale drenkelinge word in lewendige tafreeltjies beskryf.

Die algemene opset is gewoonlik so: eers word met 'n paar vegies die

stadsbeeld geteken; dan ontmoet "meester" een van sy oud-leerlinge of 'n

ander bekende van die plaas, wat nou in die uiterste ellende verkeer. So

kry "meester" af en toe 'n kans om die rol van Hildebrand teenoor die

diakenhuismannetje te speel. Anders word allerlei straattiepes op die

manier van Justus van Maurik beskryf, soms met 'n moraliserende prekie

as slot. "Dink tog 'n bietjie, as julle die busdrywer(s) sien, dat hy

ook een van ons medemense is", ens (_Eenv. Mense_, p. 36). Met 'n

poliesman as geleider besoek Lub die gevangenisse, agterbuurte en

reddingshuise. Die redakteur van _Die Brandwag_ het sy werk juis

gekarakteriseer: "Sulke sketse is menslike dokumente ... 'n simpatieke

argief, wat die koue koerante en dokumente-argief van vandag se

geskiedenis aanvul vir die toekoms" (t.a.p., Des. 1918). Dit is goeie

joernalistiek, met veel mensekennis geskryf, en dit werp 'n lig op die

ontstaan van ons arme blanke, 'n kwessie wat nog altyd aktuëel is.

By die beskrywing van sy melankoliese tonele gebruik Lub soms

melodramatiese motiewe, wat as pakkende slot moet dien. Op die manier

verswak hy die indruk van roue realiteit, wat sommige van sy woordfoto's

op ons maak. Ter afwisseling kry ons sketse in die komiese genre, wat

meestal goed geslaag is.

§ 3. J.G. Engela.

J.G. Engela is gebore in 1862 op Ceres, waar hy alleen Engels op die

skool kon leer. Op sewentienjarige leeftyd was hy al ouerloos en toe

moes hy tog-ry, skoolhou en allerhande ander werk doen om 'n bestaan te

maak. In die Transvaal was hy op die kantoor van die mynkommissaris, toe

die oorlog uitbreek. Hy is by Paardeberg gevang en na Ceylon gestuur. Na

die vrede was hy klerk in 'n winkel en in dié tyd het sy boeke verskyn.

In 1914 is hy as winkel-inspekteur aangestel, en toe hy op sestigjarige

leeftyd volgens die regulasies moes aftree, het hy gaan boer op "Die

Vlakte", in die distrik Bloemhof.

Afrikaanse Verhale en Gesellige Half-Uurtjies.

In die voorwoord van sy twede bundel, _Gesellige Half-Uurtjies_ verklaar

die skrywer, dat hy "in alle eenvoudigheid getrag (het) om ons volk tot

meer lees aan te spoor." Dié doel het hy seker bereik, veral omdat in

1909, toe die eerste bundel verskyn het, Afrikaanse boeke nog baie

skaars was, maar ook omdat hy sy grappies op aangename wyse vertel.

Engela laat gewoonlik een of ander norse persoon in 'n strik loop. Hoe

om iemand 'n poets te bak is sy spesialiteit. Wie onder humor nog iets

anders verstaan dan pure grapperigheid sal dit seker nie eens wees met

Nico Hofmeyr nie, waar hy in die voorrede van die _Verhale_ die skrywer

se "fyn humor" roem.

Minder gelukkig is Engela met sy ernstige verhale, wat by voorkeur 'n

moordgeskiedenis behandel en erg melodramaties is. Vir romantiekerige

situasies is hy ook lief. So hoor ons dat Gratia "plaas neem op die ou

omgevalle boomstam, en ... haar betraande oë omhoog-slaan, naar die

heerlike groen lommer waarmee die woud so kunstig in 'n Septembergewaad

versier was.... Saggies roer sy die snare van haar Mandoliene aan...."

(_Half-Uurtjies_, p. 33). Tog ken Engela Rhijnvis Feith seker net uit sy

gesangeboek.

Gesels.

_Gesels_ (2de druk, 1913) is die swakste van die drie bundeltjies. Taal

en styl is hier besonder onbeholpe, die grappies word flou, soms selfs

stuitend. _Die Storms van Bergendal_ is seker die summum van alle

bereikbare onnatuurlikheid. 'n Broer, wat met sy verlore gewaande suster

trou, haar dan keel af sny; 'n lyk, wat na 'n vreeslike storm deur die

"rumoerige woelwaters ... met alle sorg" in 'n kar "neergelê" word; 'n

gedrogtelike misgeboorte, wonderlike drome, en geesverskynings, waarby

vier predikante te pas kom, 'n groot skat, ens ... brr! Dis 'n

gruwelstuk, wat Jan Vos sou laat watertand!

As 'n staaltjie van Engela se gebrekkige sinsbou kan die volgende dien:

"David was 'n Hotnot van ongeveer 40 à 50 jaar: Kort en sterk geboud, en

was van nature 'n buitegewoon opgeruimde skepsel, en kon hom ..." (p.

41); "Hy was uit op huisbesoek, en waarmee hy toe klaar was, en weer op

die terugreis huis toe" (p. 42). Dié snaakse gebruik van die voegwoord

tref mens deur die hele boek aan.

§ 4. Adv. C.J. Langenhoven.

Polietikus, joernalis, digter, prosaïs en toneelskrywer is

Langenhoven, en veral in die laaste tyd toon hy 'n veelsydige

bedrywigheid op letterkundige gebied. Op Oudtshoorn was hy redakteur

van _Het Zuid-Westen._ In 1911 het verskyn _Stukkies en Brokkies_, "'n

leesboekie vir almaal en hulpboekie vir Kristelike Jongeliede- en

Debatsverenigings". Dit is in 1914 opgeneem in _Ons Weg deur die

Wêreld_,[252] grotendeels 'n didaktiese werk, wat egter ook verhale,

fantasieë, samesprake, aforismes en gedigte bevat. Die verhale en

fantasieë word hier bespreek, die didaktiese gedeeltes in hoofstuk VII.

Die samesprake behoort tot die toneel-literatuur en die "Spesiale

stukke vir Debatsvereniginge" (Afd. V.) kan buiten beskouing bly.[253]

Op Langenhoven se belangrike aandeel in die taalstryd het Dr. E.C.

Pienaar gewys[254]. Nadat hy 'n tydlank lid van die Kaapse Provinsiale

Raad was, word hy volksraadlid vir Oudtshoorn. Tans is hy senator.

Van hom het ook verskyn: _Die Pad van Suid-Afrika_, 'n digbundel; twee

satieries-humoristiese verhale: _Sonde met die Bure_ (1921) en _Doppers

en Filistyne_ (1922), wat in hoofstuk VI bespreek word; _Die Hoop van

Suid-Afrika_ en ander toneelstukke; _Twee Geskiedkundige Opstelle_[255]

in samewerking met G.S. Preller; in Engels: _Republicans and Sinners_ en

_The Everlasting Annexation_. _Aan Stille Waters_, wat nou in _Die

Burger_ verskyn, is 'n reeks artiekels oor onderwerpe van uiteenlopende

aard. Daar is verhale, fantasieë, gedigte en bewerkings van psalme,

gesange en Engelse liedere. Binnekort verskyn dit in die _Almal se

Boeke_-serie, terwyl die gesange al afsonderlik uitgegee is onder die

tietel _Afrikaanse Gesange_. _Die Eensame Hoop_ (1922) is 'n

kinderverhaal.

Ons Weg deur die Wêreld.

(Afdelings II en III.)

In die eerste verhaal raak Ou Verkeerde Faans "'n onvermoeide ou

twismaker" onder die strelende warmte van die kaggel al sy kwellings

kwyt. Maar daar sal "nie more weer vuur in die kaggel wees nie" en

daarom moet Neef Kerneels maar dadelik die saak oor die bogslootjie

tussen hom en sy buurman skik. _Lammetjie en Wolf_ is die verhaal van 'n

verdwaalde kindjie, wat in die hande raak van 'n verstokte misdadiger,

vir manslag tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Klein Miemie

verteder die ou sondaar se hart en hy bring haar terug na haar ouers.

Die omkeer by Hans Bonsa word alleen op betogende wyse beskryf; daar is

geen plastiese uitbeelding, soos van Miemie se dwaaltog nie, wat met

mooi innigheid geteken word. Dieselfde innigheid tref ons in _Twee Oues

van Dae_, waar 'n grysaard op gevoelige wyse uiting gee aan sy liefde

vir 'n troue hond. _Die Nuwe-Jaars-offer_ is 'n verhaal van 'n jonge

man, wat gewillig die dood tegemoet gaan om 'n medeminnaar te red. In

die _Brief_ klink die fyn sarkastiese toon van _Doppers en Filistyne_ al

helder op, en ook die _Sonde met die bure_-motief is aanwesig.

"Eergister het Bertus Bakbene weer 'n straal van my beurt water gesteel

om sy ou pattatta-tuintjie nat te maak en ek het sy jong se graaf daar

uit sy hande geruk en hom 'n skrams raps daarmee oor die korrelkop gegee

en toe in die uitkeerplek ingerol om weer reg te lawe" (p. 48)[256].

Waterlei-moeilikhede gee ook in _Doppers en Filistyne_ aanleiding tot

kostelike humor, maar Oom Stoffel moet op die dorpse bure 'n meer

verfynde taktiek toepas. Die naskrif van die brief is 'n mooi voorbeeld

van misplaatste moederliefde. _Die Kluisenaar van die Karro_ "kon ...

uit elke bossie 'n preek haal" (p. 60). Dit is 'n botaniese les in

aantreklike vorm. _Meester_ bevat skoolherinneringe. Dat meester egter

"'n _suiwere_ Nederlandse aksent" had is onjuis, want die Nederlandse

"e" is allesbehalwe "presies die Afrikaanse ij" (p 62).

Die _Fantasieë_ begint met 'n allegorie in Bybelse styl. In die orige

stukke is "Boet Nelie" 'n grysaard, wat soos Jonathan in _Waarheid en

Droomen_ op weemoedige wyse aan mymer gaan. Hy het 'n hunkering na die

ou "romantiese, skilderagtige" boereplase "met onbewerkte hoekies en

kweek-plekkies onder 'n skaduboom om op te lê en droom" van sy kinderdae

(p. 77). Niks is daar wat hom so treurig stem nie as die gestadige

verwoesting van soveel heerlikheid in die natuur deur die moderne

boerderymetodes. "Alles moet nou gelyk gemaak word--gelyk en reghoekig

en reglynig. Die tyd van sentiment is verby: dis nou die dag van

besigheid". Daarom gaat Boet Nelie vir laas kuier na die ou watersloot

en hy gesels op vertroulike wyse daarmee oor die ou dae. Hy is ook, die

vriend van die ou wa, wat vir brandhout moet verkoop word. Die sê van

Nelie "Sy hart is so vol liefde dat daar plek is vir al die ou goedjies

wat hy as kind mee maats gemaak het en al is hy nou 'n bejaarde man ...

dan kom hy nog met my gesels net soos toe hy 'n kind was--met my, die

stomme ou wa asof ek 'n mens was net soos hy" (p. 100). Die motorkar wat

Nelie mee plaas toe ry "is 'n masien. Daar is geen siel in hom nie en hy

roof my van my siel ook." (p. 105.) Op die ou geboorteplaas vind hy

nêrens troos nie. "Al die ou dinge wat sy hart aan vasgekleef het en die

metgeselle van sy skooldae en die dierbare van sy huisaltaar word een

vir een weggeruk ..." (p. 107.) Maar die ou berg het staande gebly en

die moet vir hom die raaisels van die lewe help oplos. "Seg my, my ou

berg, wat is die plan van die hele besigheid?" (p. 109.) Net soos Elia

wil hy weg wees "van die kranksinnige gewoel van die wêreld en nader

naar die troosvolle rus van die voorportaal van die hemel" (p. 110). En

die berg vertel hom: "dis nie die groot dinge wat belangrik is (nie)."

(p. 110.)

Op die weemoedige kadans van sy mymerstemming laat Nelie hom saggies

voortwieg en die klare eenvoud[257] van sy volsinne, wat met rustige en

kalme geleidelikheid mekaar opvolg is in harmoniese ooreenstemming

daarmee. Maar die doodnugter opmerkings oor mishandeling van die maag,

en die walging vir "insak-gansveermatrasse", waarin party mense op

"bloedige Karro-somerdae" kruip--dit is wanklanke in die

fantasie-atmosfeer.

Blykens die voorberig van die derde druk het Langenhoven afgesien van

"die imperfektum wat (hy) eentyd van malligheid wou invoer".[258]

Eienaardig is die gebruik van "ieder 'n mens" i.p.v. iedere mens[259],

"tussenposend" (p. 67), "'n lustige gemak" (p. 84, _Ons Weg_). Enkele

minder gelukkige uitdrukkings kom voor: die kalwertjies wat wil laat

drink wees (p. 15); die dik doringplate ... het begint minder te

weergalm (p. 19); 'n groot karree-boom, _wie se_ diepgaande wortels....

(p. 41); hy stuur hom daar haal (p. 54). Daar is 'n paar

opslag-mangelwortels tussen die beetrye,[260] o.a.: "sonder om enige

partikuliere persoon toe te spreek (p. 6); met 'n effe suggestie van

rood (p. 80, _Ons Weg_); die doodskleed van die nag word ingegaar deur

die hand ... (id. p. 79).

Daar is oorspronklike beeldspraak: as verkoue en sinkings jou gelyk

beetkry "een aan die disselboom ... en die ander aan jou briek ..." (p.

6); maar taamlik afgeslyte kom ook nog voor o.a.: die veld ... weef 'n

prag-tapyt op die vloer van die aardse tempel ... (_Ons Weg_, p. 29);

die onstuimige boesem van die rivier (p. 88); om snare in die

liefde-ontblote hart aan te roer (p. 21); die laken of doodskleed van

die winter, (_Ons Weg_, p. 78).

§ 5. Christian Zinn.

Van Christian Zinn het in 1911 verskyn: _In Harte Verenigd_, of _Sketse

uit die Boere-Lewe_. Dit is 'n verhaal uit die tyd van die

Jameson-strooptog en Anglo-Boere-oorlog, waarin die skrywer geleentheid

vind om heelwat politieke beskouings aan die man te bring. Die dapper

held, mooi meisie en lae verraaier ontbreek nie. Die liefdesverhaaltjie

is vol soeterige sentimentaliteit. Daar is o.a. sprake van "'n miljoen

dralende soene"! Die historiese gebeurtenisse word oppervlakkig behandel

en die uitwerking daarvan op die uitgebeelde persone uiters gebrekkig

aangedui. Letterkundige verdienste het die verhaal nie, want die styl is

onbeholpe, gebrekkig en taamlik vol anglisismes. Vir die taalkundige kan

dit interessant wees, omdat daar soveel oorgangsvorme in voorkom. Van

die woord _baie_ het Zinn blykbaar 'n groot afkeer; dit kom glo maar

eenmaal voor (p. 127). As voorbeeld van taal, styl en spelling kan die

volgende dien: Dit was net als of Suid Afrika verdoemd was om 'n

vreselike terugsetting te kry net so's voorspoed in bereik was. Die land

had mooi vooruit gegaan, in alle rigtinge was verbeterings te bespeure,

kapitaal had ingevloei, en die wonderlike rykdom wat S.A. eige is, werd

geopend, (p. 33); Sannie haar auntie Maria maak net goeie vooruitgang

met haar jongste minnaar, 'n jeugdige luitenant die met 'n party van die

Yeomanry uitgekom had, en die so opgenome was met die lewe in die

uitgestrekte Karroo, dat hy met graagte daarnaar vooruitsiet om sig neer

te set tot vee-boerdery ... (p. 132).

§ 6. Dr. D.F. Malherbe.

Vir sy lewensloop en werk kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar se

proefskrif.[261] Van belang is die volgende meedeling: "As 17-jarige

knaap het hy een keer deur die Karo gery sonder om meer te sien as 'n

vervelige uitgestrektheid van vlakte, dor en verlate. Maar toe hy in

1907 weer in daardie omgewing kom, het dit hom magtig aangegryp. Daar

was vir hom so 'n wonderlike geheimsinnigheid in, so 'n bekoring dat hy

gemeen het om daar vergoed te bly. In dié stemming is sy eerste werklike

gedigte geskrywe."[262] Vir sy prosawerk ook, is soos nader sal blyk, sy

verblyf in die Karo van groot belang gewees.

Vergeet Nie, (1913).

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 11 / 27 段