En Grace Palmer? Haar huwelik is afhanklik van die toevallige

ontdekking, dat sy die Twede Grieta is. Sy self gee drie redes op,

waarom 'n huwelik met Andries onmoontlik is.[214] "De Intrigeroman kan

alles bewijzen. Hij is een droom; de natuurwet is er buiten dienst

gesteld."[215] Om dié rede behoef dit dan ook geen verbasing te wek nie,

dat daar nog 'n hele reeks onwaarskynlikhede in die twee romans te vind

is, o.a. die verdwyning van Grieta, die onvoldoende motivering van die

haat tussen Andries en Phineas en veral die feit, dat Conradie die Kaap

verlaat sonder Andries mee te deel wie Grace is. Op die manier kry

Andries nog 'n kans om sy koppigheid te wys en die feit, dat hy nou al

deur sy oorlogervarings tot selfstandige man geryp is, verhinder sy

pleegvader nie om hom nog soos 'n stout seuntjie te behandel nie! In _J.

v. W._ laat die karakter van Abram ons ook twyfel aan die egtheid

daarvan; die skoot wat Abram net presies in die hart tref, terwyl hy op

Johannes se hart mik, verwek 'n skeptiese glimlag. Dat Gert in die

gifdrinktoneel hom so maklik laat fop, klink ook onwaarskynlik. De Waal

slaag daar nie altyd in om sy sterk-romantiese gegewens deur 'n

onweerstaanbare suggestiewe werking tot onbetwyfelbare realiteit te maak

nie.

Dit blyk ook duidelik uit Andries se awontuur by Utrecht. Ons verneem

dat 't "buitengewoon donker" is--só donker selfs, dat die ruiter

"nouliks die kop van sy pêrd kon sien."[216] Tog laat "'n warrelwindjie

'n dun stofwolkie ... opstuif"! Later eers word die terrein deur bliksem

af en toe verlig. Maar dit bly só donker, dat die kaffer "slegs 'n

donkere gestalte" is. Die skrywer laat ons egter nie =voel= deur

allerlei fyn trekkies nie, dat dit werklik donker is. Hy teken die hele

toneel asof dit alles in die skroeiende son gebeur 't. "Verbysterd en

asof half lam leun sy (Krysie) met haar een hand teen een van die

opstaande rotse." Het Andries kat-oë gehad, of het hy dit ook alles,

"met die hulp van (die) weerlig" so haarfyn gesien? Hy soek nie

voel-voel na die gewere en bandeliers nie--hy tel sommer "een van die

twee Lee-Metfords en die bandeliers op ...". Hy loop nie

struikel-struikel oor die los klippe in die donker nie--"hy _nader_ ...

die meisie". En sy =sien= hom "verward" aan; "sy skud haar kop", as hy

haar iets vraag en "aan haar kappie en jas kon jy ... =sien=, dat sy

terdeë met klei in botsing gewees het." Het dit ook alles gebeur met die

hulp van bliksemstrale, want dis nog só donker, dat hy byna oor die twee

doodgeslaande perde val.

Die gebrek aan suggestiewe besonderheidjies belet ons om die waarheid

van die nagtelike toneel te voel. Die skrywer het dit nie innerlik

deurleef nie, maar met sy nugter verstand die awontuur inmekaar gesit.

En hy was hier tog op bekende terrein, want hy was self onderwyser in

Utrecht en het seker meer as een van die donderstorme gesien, wat met

sulke plotselinge felheid kan neerswaai, so geheel anders as in die

Kaap.

Die donderstorm word as volg beskrywe: "Die stormwolk, waaruit soveel

_vog gegiet_ en _vuur geskiet_ was, was nog met onverminderde water en

elektrisiteit belaai en woed nog aldeur voort, (dus 'n wolk, wat

voortwoed!) maar nie meer vlak bo-kant die hoofde van die jong twee nie.

Die reusagtige massa was na die noordweste gedrywe, en slegs die

nadruppels val nog by die vlugtelinge. Met die ooptrek van die hemel kom

ook die opgaande maan te voorskyn."[217] Van natuurviesie geen sprake

nie, nog minder van indiwiduële impressie of verrassende segging. Die

hele beskrywing word gegee enkel om die laaste sinnetjie, want Andries

moet 'n kans kry om "die sewentienjarige poppie" te bekyk.

Die beskrywing van Patrysvlei[218] is soos die van 'n afslaer, wat 'n

plaas wil verkoop. Patrysvlei is "'n lushof" met mooi draadheinings.

Daar is 'n "deftige woonhuis" met "netjies ingerigte buitegeboue,

stalle, krale, kampies en pluimveehokke"; "_in_ sag groen gelowerde

vrugteboorde", 'n groot tuin, 'n "massiefgewalde dam", deur 'n

"altydlopende stroom gevoed" en verder "uitgebreide, duidelik

afgebakende saai- en weilande". Die skrywer verseker ons, dat 't "'n

bekoorlike landgoed, 'n paradysie" is, maar so 'n vendusieagtige

ophemeling laat ons totaal koud en het met kuns niks te maak nie. Die

van buitegekome obserwatoriese gewaarwording is nie deur die van binne

opstygende deurvoeling tot 'n psigiese verbeelding geryp nie.

Die verslag van die voetbalwedstryd in hoofstuk vyf van _Die Twede

Grieta_ is ook 'n bewys van De Waal se onmag as kunstenaar. So 'n

beskrywing kan 'n rapporteur van 'n agterveldse krantjie ook gee, want

dis kleurlose joernalistiek, sonder 'n persoonlike aksent, in die

allergewoonste voetbaljargon. Die partytjie by Bertie was in 'n groot

saal "waar die meeste _van_ die mense in vrolike gebabbel vergader

was.... Verversings en lekkernye is intussen rond_gedeel_ en van die

keurigste sterk dranke kon jy te drink kry."[219]

In _Johannes van Wyk_ nog 'n staaltjie: Hester en Johannes sing saam op

die rots: "Toe begin hulle _weer_. Al die ander was stil as die graf.

Heerlik _weer_ lui (weerlui?) die skone melodie. Trillend _weer_ het

iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant _weer_klink. Met

soveel _ge_volg is elke woord uit_ge_bring _ge_word dat dit in_ge_dring

het tot in die diepste hoekie van elke hart en die fynste snare daar

_ge_roer het. Was dit dan wonder dat selfs Louise haar oë vogtig

_ge_word het?[220] Viermaal _weer_; sesmaal _ge_ opmekaar gestapel! en

dit in ses-en-'n-halwe reël! By die waaragtige kunstenaar, wat hom diep

in sy stof inlewe, verander ritme, styl, taal, woordekeus voortdurend al

na gelang van die stof. De Waal wil hier musiek in woorde verklank en hy

hakkel soos 'n doofstomme. Die mooi alliterasie: "Trillend weer het

iedere noot in die rotsagtige _k_loof van _k_ant tot _k_ant weer_k_link"

gaan verlore in die aanswellende gutturale kakofonie.

De Waal se styl het geen eie geluid nie. Sy taal is die van die koele

gedagte, ontspring nie uit 'n ontroerde gemoed nie, mis harmoniese

ritme. Nooit voel ons; daarin die koorsagtige klop van die digter, nooit

tintel daarin die warm liefde vir singende woorde nie. Kort en saaklik

deel hy ons mee, soveel as nodig is om die intriege te verstaan, soms

met katalogusagtige dorheid. Grace word ingelei in "'n kamer van

middelmatige grootte, wat klaarblykelik gedien het vir eet-, slaap- en

werkkamer tegelyk, want in die middel staan daar 'n tafel met 'n bord,

'n kaasbak, 'n suikerpotjie, 'n standertjie, 'n paar koppies en

pierinkies en nog meer sulke goed; naby die venster sien jy 'n tafeltjie

met 'n goedkoop naaimasien en 'n werkmandjie daarop, terwyl, aan die

teenoorgestelde kant van die kamer, die voetenent van 'n ledikant van

agter 'n Japanese skerm uitsteek. Verder bemerk jy daar ook 'n

wastafeltjie en enige ander meubelstukke--almal oud en eenvoudig, maar

net en sindelik."[221] Geen verrassende wending, geen metaforiese

vermoë. Dit is net asof hy 'n reusagtige settery het, waarin die sinne

netjies in hul bakkies gerangskik staan--_la phrase fait une fois pour

toutes_.[222] As iemand skrik of verbaas is, dan het hy "wydgespalkte,

wit kykers", (_J. v. W._, p. 37); Malherbe en Joosten volg Johannes se

bewegings "met beklemde harte en wyd-geopende oë", (_J. v. W._, p. 71);

"Die dominee sien sy dogter met wydgespalkte oë aan", (_J. v. W._ p.

149); "die meid, met 'n uitdrukking van angs in haar groot, wit oë".

(_Tw. Gr._, p. 7). "'n Klein gil _verlaat_ sy bors, en met wydgespalkte

kykers starend staan hy vir 'n oomblik asof versteend", (_Tw. Gr._ p.

173); "ontsettend verras staar hy die meisie met wydgespalkte oë en ope

mond aan", (_Tw. Gr._, p. 392); "Palmer!?" roep Conradie, met groot oë,

verbysterd", (_Tw. Gr._, p. 353); "Maar voor hy iets meer sê, deins hy

verskrik terug, en staar haar met wydgespalkte oë aan", (_Tw. Gr._, p.

350); "Met wydgeopende, verwilderde kykers staar hy die besoekster

asemloos aan", (_Tw. Gr._, p. 369); "Met ope monde asof deur towery

geboei, gaap hulle die singers in verlore bewondering aan", (_J. v. W._,

p. 97); "die trotse Chrissie staar met wye fonkelende oë vaag op na die

plafond", (_Tw. Gr._, p. 224). As Boonzaaier dié romans moes illustreer

...! Dieselfde uitdrukking kom ook by Van Lennep voor: "Welnu! waar

wacht gij op?" vroeg de man, wien de uitdaging gold, aan den voerman,

die _met wijd opgespalkte oogen_, dit tooneel stond aan te gapen."[223]

Soms laat De Waal nogal wonderlike maneuwers uitvoer: "Maar Jeanette het

alreeds haar _oë_ met stille valksblikke na huis, werf en elke plekkie

daar rondom, vir sover as haar gesig nie =versper= was nie _geslinger_",

(_J. v. W._, p. 199); "Sy oë begin van vooraf in sy kop te rol", (_J. v.

W._, p. 15).

Nog 'n ander stylverstening is: "'n Rilling loop deur sy lyf", (_J. v.

W._, p. 38); "'n Vinnige rilling loop deur die hele lyf van Johannes",

(_J. v. W._, p. 215); "'n Ysige rilling tref die lede van die

sielvermoeide student", (_Tw. Gr._, p 389); "Hester haar liggaam tril

van die skok", (_Tw. Gr._, p. 200); "wat 'n gril skud sy lede", (_Tw.

Gr._, p. 250); "Dit was of Andries 'n geweldige skok deur al sy lede

kry", (_Tw. Gr._, p. 314). "Wat 'n rilling loop daar deur sy hart", (_J.

v. W._, p. 72). Van Lennep gebruik die uitdrukking ook: "Een koude

rilling liep mij door de aderen."[224]

Nog 'n ander stylverstening is _asvaal_ of _vaal soos as_.[225] So sou

ons die hele inwentaris kan opmaak van die bakkies in De Waal se

settery; van die beperkte aantal stereotiepe uitdrukkings, wat met

tergende reëlmatigheid by amper elke dialoog voorkom--die "knersende

tande", "geamuseerde gesigte", die "hande in die hare", die krappery

agter die ore, of op die kop, die "bevestigende knikkies", "wit bewende

lippe", "glinsterende, _wetende_, verwilderde, verslindende ... oë";

"vuurrooi wange", "veel-betekende (?) glimlaggies", "angstig-kloppende,

bonsende harte" en al die verskillende soorte _kyke!!_--o.a. "die kyk

... wat as 'n dolk tref", (_J. van W._, p. 46). Dan nog De Waal se

besonder hartlam-uitdrukking =kykers=--van allerlei aard, diep, vurige,

swart, donkerbruin, glimlaggende, skitterende, medely wekkende,

sielvolle[226], glimmende, bewonderende, grys, groot, ope, blink,

pragtige, patetiese....[227]

'n Enkele maal word ons verras deur 'n raak tekening: "rooi as 'n

granaatappel", (_Tw. Gr._, p. 121); "met 'n berouvolle krakie in sy

stem", (_Tw. Gr._, p. 269),--maar dis nes 'n eensame blommetjie in 'n

vaal stoppelland. Meestal is De Waal doodtevrede met die ou beskrywende

adjektiewe, wat die Neerlandse skrywers van vóór 1880 duisendmaal

afgerinkink het. Dit blyk veral waar hy die uiterlik van sy persone

teken. Hester Linde het "'n _lelie-blanke_ kleur, afgewissel deur die

_roseblos_ van gesondheid, ... daarby vertoon sy 'n paar oë so helder,

so _hemelsblou_, so _sielvol_, as g'n digter of skilder sou kan teken

nie; 'n lieflike neusie gelyk en reg _as van 'n marmer beeld_." (_J. v.

W._, p. 63). Sy is 'n _engelagtige_ wese, (_J. v. W._ p. 72 en 162) met

_hemelse_ oë; ook Grieta is "'n _beeldfraaie_ mens.... meer geskik vir

die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaiese aardbol", (_Tw. Gr._,

p. 1); "'n buitengewone _juweel_" met "melkwit hals" en "goudbruin hare,

wat tot sieraad sou gestrek het vir die skoonste _towergodin_", terwyl

Hester weer 'n "liewe _juweeltjie_" is, "'n allerpragtigste kind, die

_beeldskone_ predikantsdogter" met "'n _sneeublanke_ gelaat". Sy is "die

liewe engel wat dag en nag Johannes se gedagte besig hou en 'n _vuur_ in

sy hart _aangesteek_ het wat niks kan uitblus nie...." (_J. v. W._, p.

178). Ook Grace laat "'n _vlammetjie ... ontbrand_, wat Andries nie lig

kon _blus_ nie". Nes by Hester word ons verseker van die magteloosheid

van die skilder en nou ook nog van die beeldhouer: "Het ooit 'n skilder

'n kinnetjie pragtiger geskets? Het ooit 'n beeldhouer 'n mondjie bedeel

met soveel uitdrukking, soveel karakter, soveel _soete onskuld_, as wat

vertoon word deur daardie twee gesonde, klein, allerliefs gevormde

lippies?" (_Tw. Gr._, p. 239). Sy is ook soos haar moeder "meer geskik

vir die tuiste van engele": "Dat 'n regtige, gewone, aardse mens so

_fouteloos_ (anglisisme!) daar kon uitsien, sou hy nooit kan geglo het

nie." Ons glo dit dan ook nie!! Mens moet na Tollens en sy konfraters

gaan om die sussies van De Waal se engeltjies te kry. Hoor maar hoe

Tollens "_Het Ongenoemde Meisje_" "besing"[228]:

"Der nachtegalen zang is schoon,

Maar tienmaal schooner is haar toon,

Haar stem doortintelt merg en bloed;

Geen ziel, die zij niet smelten doet;

Geen booswicht is er, als zij zingt,

Wien niet een traan in de oogen dringt.

Zij zweeft, als had zij wiekjes aan:

Haar zooltje laat geen teeken staan.

Haar vlechten zijn als ravengit,

Haar boezem is als zwanenwit;

Geen enkel sproetje vlekt haar kin

En 't englenzieltjen evenmin.

Wie zulk een meisje ooit ontmoet,

Zoo schoon, zoo rein, zoo engelgoed;

Wie 't orglen van een stem vernam,

Zoo fraai of ze uit den hemel kwam,

Geloof hij 't vast--zweer hij 't vrij:

Dat is mijn meisje! dat is zij!"

De Waal se "fouteloos fraai" meisies dra natuurlik ook klere, "fouteloos

passend" soos Grieta; hul het "lieflike gelaatstrekke", "pragtige

elegante" gestaltes, of anders "heerlik-fraai--slank en tog vol";

meestal "langwerpige" gesiggies soos Hester Linde, Hester Fourie en

Grace; maar die koddigste is wel die _plomp_[229] wange, wat by De Waal

blykbaar die betekenis van die Engelse _plump_ het!!

Vergelyk ons nou hiermee die manier, waarop Van Lennep sy dames en

here teken, dan val die sterk ooreenkoms dadelik in die oog. In _De Roos

van Dekama_ word Madzy as volg voorgestel: "Voor zooveel men, nu zij

gezeten was, haar gestalte kon beoordeelen, was zij rijzig van postuur;

doch haar fijne leest was gewikkeld in een zwarten zijden mantel, die

niets liet bespeuren dan de bevallige ronding van een _leliewitten_

arm.... De kap van den mantel bedekte het hoofd, en was onder de kin

vastgestrikt, doch liet echter vryheid om de _edelste_ en tevens

innemendste _wezenstrekken_ te beschouwen, welke immer in het hart eens

jongelings liefde verwekt hebben[230]. De strenge regelmaat des beloops

van neus en voorhoofd, welke aan het profiel der Grieksche Juno

herinnerden, was getemperd door den zachten, minzamen opslag van _twee

groote, helder hemelsblauwe oogen_, overwelfd door gitzwarte

wenkbrauwen, zoo zuiver van omtrek, _als waren zy door een

penseelgevormd_, en door de kuiltjes welke in de van gezondheid

schitterende wangen en in de ronde kin als tot een schuilplaats voor de

bevalligheden gevormd waren. Een klein vlekje ter zijde der bovenlip,

instede van het gelaat te ontsieren, stak geestig af tegen de blanke

tinten van het fijne, met blauwe adertjes gemarmerde vel, en verhoogde

de levendigheid van uitdrukking der wezenstrekken, vooral wanneer zij

zich tot een lachje saamtrokken, en de halfgeopende rozemond, de dubbele

rij der hagelwitte tandjes ontdekken liet."[231] Vir Reinout is Madzy

dan ook dadelik 'n "_lieve engel_". "Reinout ... had een wel niet

rijzige, maar toch in allen deele _fraai gevormde_, gestalte.

_Ravenzwart haar krulde_ hem met bevalligheid om de slapen; zijn

gelaatstrekken waren fijn en regelmatig, en schoon van nature bleek en

door de zuiderzon en de vermoeienissen des oorlogs met een gele tint

overdekt, hoogst bevallig en innemend. Geest en _scherpzinnigheid_

straalden uit zijn gitzwarte oogen, wier _levendigheid_ waarde gaf aan

alles wat hij zeide."[232] Malherbe "was middelmatig van gestalte,

welgeset, kragtig gebou. Sy blas kleur en Paryse neus het duidelik te

kenne gegee dat hy van Franse afkoms was; en sy groot welgevormde kop,

versierd met 'n bos digte, _pikswart krulhare_, het blyk gelewer van

meer dan 'n gewone mate van harsings; terwyl sy diep, vurige,

donkerbruin kykertjies, wat treffend gepas het by sy swaar wenkbroue,

die _wakkerste skerpsinnigheid_ verraai het." (_J. v. W._, p. 61.)

Daar is nog meer reminisensies aan die versteende terminologie van vóór

1880 by De Waal. "Iedereen luister met ingetoë bewondering na die

_sielverheffende_, heerlike musiek", (_J. v. W._, p. 228);

_verbryselende_ tyding, (_J. v. W._, p. 251); "wat daar in sy gemoed

omgaan, kan beter verbeel dan beskrywe word", (_J. v. W._, p. 106); 'n

_ontluikende_ man, (_J. v. W._, p. 8). De Waal besef nie die

gevoelswaarde van die woord _ontluikende_ nie, want ofskoon "'n

ontluikende _maagd_" 'n doodgewone staaltjie van die Parnastaal is, kan

ons ons moeilik 'n ontluikende _man_ voorstel. In _Die Twede Grieta_ kom

ook nog voor: "_verhewe_, edele gelaatstrekke", (p. 209);

"_onvergeetlike, hartstrelende_", (p. 318); "'n soet druppel in die

bitter beker", (p. 12); "_hartedrif_" (p. 382); "dit was asof 'n _priem_

sy hart deurboor en sy bloed yskoud word", (p. 96)[233] "'n Vloed van

bitter onaangename gewaarwordings deurstroom sy beklemde gemoed", (id.

vgl. _J. v. W._, p. 174); "sy was weggevaar na die heerlike wêreld van

die sorglose vergetelheid, rustig in die arms van die slaapgod ...", (p.

238); "_oorstelp_ van vreugde en droefheid", (p. 174).

Aan beelde waag De Waal hom baie selde en as hy dit doen, dan is 't

gemeenplaatse, of ridikule voorstellings soos: "Hy kon sy brein in geen

ander rigting laat vloei nie" (_Tw. Gr._, p. 259); "Die nommer van die

meisie wat nou so dryf op die hete onstuimige stroom van sy gedagtes",

(_J. v. W._, p. 64); sy gedagtes rol oor al die gebeurtenisse van die

aand terug", (_J. v. W._, p. 106); "Die digte sluier wat haar geestesoog

bedek het, is afgeruk", (_J. v. W._, p. 174); Andries hoor Grace se

"silwerstem. Dit _tril(!)_ die snare van sy hart", (_Tw. Gr._, p. 259);

"Byna onmiddellik daarna, soos in 'n towerslag verander haar gelaat in

glad 'n ander plooi ..." wat net so 'n wonderlike metamorfose is soos

die van Andries, wat volgens Phineas van 'n _askoek_ tot 'n _doring

ontwikkel_, (_Tw. Gr._, p. 242 en 382).

"Jacob van Lennep was van 1829 tot zijn dood in 1868, Rijks-advokaat;

bijna 40 jaar dus. Het ambt maakt de man. Deze man moet dus wel tot in

z'n tenen advokaat zijn geworden, vooral omdat-ie van z'n eigen natuur

al had, wat dat ambt in 'n mens pleegt te ontwikkelen: handigheid in 't

pareren en uitvallen; scherpzichtigheid van elk plekje dat de

tegenpartij bloot geeft; en bij deze schermmeesters-talenten, toch

eenvoudige waarheidszin en oprechtheid....[234] Dieselfde eienskappe is

ook te vind in die romans van Advokaat De Waal. Hy het sy eie

pleiterstalent aan Malherbe geskenk en die kruisverhoor van Gert is een

van die besgeslaagde gedeeltes van _Johannes van Wyk_. Phineas behaal

ook 'n advokate-oorwinning op die Smithfielders en die weduwee, en sy

listige draaitjies laat ons meer aan die geregshof dan die Teologiese

Kweekskool dink. Vir die samestelling van sy intrieges kon De Waal dan

ook profiteer van sy eie ervaring by die geregshof, 'n element wat 'n

ruim plaas beslaan in albei romans. Die lewendigheid van sy dialoog laat

aan dieselfde invloed dink. Oor 'n raak antwoord staan sy persone selde

verleë, en tog ontaard dit nie in 'n vernufsdialoog nie, maar is

gewoonlik 'n weergawe van die los natuurlike gesèlstoon. Dat hy dit

egter nie altyd tref nie, bewys die volgende kromtaal, wat hy in die

mond van Professor Clarke lê: "Jy het skone vooruitsigte, _my jong_

(sic!), as jy net getrou by jou studies wil bly; en ek gee jou my woord,

dat alles, wat ek kan doen om jou meriete bekroon te kry met die sukses,

wat dit verdien, _sal_ ek.[235] Ook Ds. Kestell en Conradie spreek

Andries toe as _my jong_.[236]

'n Staaltjie van gebrekkige psigologie vind ons in _Die Twede Grieta_.

Dis Andries se verjaarsdag en hy moet natuurlik die gewigtige

gebeurtenis aan sy maat op skool meedeel. "Mag jy soet opgroei! fluister

die ander grappig terug."[237] Wie sou so 'n ou-tante-agtige wens verwag

van 'n kind van elf jaar? As hy nou nog gevra 't: "Het jy baie presente

gekry?" dan kon ons dit verstaan!

By De Waal kan ons konstateer 'n byna volslae veronagsaming van die

volkstaal. Hy was een van ons eerste skrywers en het soos weinig ander

die kans gehad om gebruik te maak van tiepies Afrikaanse wendinge, wat

in die rykste verskeidenheid net op die lewewekkende adem van die

kunstenaar gewag 't. Maar in plaas daarvan gebruik hy die dorre beendere

van 'n voos ou-tydse retoriek, wat al twintig jaar morsdood was. Of wat

uit kultuuroogpunt nog veel erger was, hy leen hot en haar van die

Engelse en set die jong lesers van _De Goede Hoop_ 'n onsmaaklike

hutspot à l'anglaise voor--juis dié mense, wat hy, as taalyweraar, moes

oortuig van die deugdelikheid van die Afrikaanse taal. As De Waal

woordkunstenaar gewees 't, dan sou hy op sy togte met die Rondgaande

Hof, wat hom in nou aanraking met al die klasse van die samelewing oor

'n uitgestrekte gebied van die Kaapprovinsie gebring 't, die volkstaal

beluister 't, met volle teue die fris veldgeur van die ongerepte

Afrikaanse idioom ingedrink 't. En indien hy ook al dikwels die

verpestende lug, wat stadig maar seker by ons taalvensters ingewaai het,

moes opsnuif, was dit dan nie juis sy heilige plig as _voorman_ om met

speurende sorg alle uitlandse bysmakies uit die nasionale taalspys, wat

hy vir argelose jongeliede opgedis het te verwyder nie? Maar die Engelse

stormwind het De Waal omgewaai en al het hy in die afgelope sewentien

jaar effentjies gespartel om op te staan, die vyfde druk van _Johannes

van Wyk_ en die twede druk van _Die Twede Grieta_ bewys dat dit hom tot

nog toe nie geluk 't nie.

In sy dissertasie _Taal en Poësie van die Twede

Afrikaanse-Taalbeweging_ het Dr. E.C. Pienaar gekonstateer, dat met

betrekking tot anglisismes _Johannes van Wyk_ "aan 'n ongeneeslike kwaal

ly".[238] In _Die Burger_ van Augustus 1921 laat De Waal hom as volg

daaroor uit: "Is dit die skuld van die outeur dat soveel anglisismes

burgerreg verkry het in ons taal? Toe ek die boek geskrywe het, het ek

die spreektaal ten naastenby weergegee soos hy gebruik geword het, nie

soos ek of my taalvriende sou verkies het dat hy moet wees nie. My

skryftaal was maar 'n weerspiegeling van die spraak.... Die woorde lyk

(hou van) en kyk (blik) ... sou ek darem in geen geval laat vaar het

nie. Hulle het pos gevat in ons taal en verarm dit nie." Dr. Pienaar het

ongetwyfeld gelyk as hy beweer, dat De Waal se taal "'n weerspiegeling

was van 'n kunsmatigvervalste spraak-werklikheid, soos die onder

bepaalde anti-nasionale skool-invloede in bepaalde kringe geheers

het."[239] Tereg word ook verder gelaak die gebrek aan "historiese

atmosfeer" in _Johannes van Wyk_ "omdat die skrywer deftige Hollanders

van die jaar 1700 anglisismes in die mond lê, wat tuis hoort by

verengelste Afrikaners van twee honderd jaar later, en selfs dan nog

maar in sekere kringe."[240]

"Moed broei moed" is die vertaling, wat Grace Palmer gee van "Courage

breeds courage". Andries verbeter dit tot: "Moed kweek moed"[241]. Dit

is presies die wyse waarop De Waal te werk gaan. Sy _gedagtewêreld_ is

Engels; en sy skrywery is 'n langdurig gesukkel, 'n kriewelagtige

gepeuter om aan Engelse gedagtes 'n Afrikaanse tint te gee. Só kan geen

kunswerk ontstaan nie. Ons stuit gedurig op uitdrukkings en woorde,

waarvan die Engelse voorbeelde hul direk aan ons opdring. Dit is dan ook

'n vergeefse poging om die twee romans van anglisismes te suiwer, wat

die skrywer alreeds probeer doen 't; die rooi suurdesem het deur-en-deur

getrek tot in hul kern, soos blyk uit die volgende paar voorbeelde wat

gemaklik verdubbel kan word. In _Johannes van Wyk_, vyfde druk 1921, kom

voor: p. 29, "sou hy 'n twintigtal van daardie gebroed binne vyf minute

kon uitgevee het; p. 149, "Wat 'n jammer ..." p. 173, "dat F.K.... sy

kop mag verloor en 'n hand in so 'n daad hê; p. 174, Sou sy nie ... iets

kan sê of doen wat hom mag weggee nie? p. 215, (hy) bind sy rooi sakdoek

oor _die groter deel_ van sy gesig; p. 224, Die twee lawwe kêrels ...

vind hulle uitgesny deur "die Franse advokaat"; p. 76, "Gou nou!" _haas_

Joosten sy twee vrinde _aan_, ...

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 10 / 27 段