verpersoonlik, of met iets anders te identifiseer aanleiding tot die
allersnaakste kombinasies. "Die wapenhuis van Rennie en Ester was
taamlik gevuld met 'n rommel van deug en ondeug; die taak om die gebruik
daarvan onder 'n ystervoet vas te trap was aan streng moeders en minder
geduldige vaders oorgelaat." (id., p. 148); "Die woorde was maar die
vingers wat die harpsnare van aldaagse gebeurtenisse bespeel" (id., p.
158); "Het die uitlegginge ... altyd die blou strikkies van waarheid om
hulle nekke gedra?" (id., p. 147); "Hoe verkwikkend dit ook al vir
moeder en dogter was om in die arms van liefde te val ... tyd, egter,
het die skerp snede van die swaard van skei stomp gevyl en dit minder
gevoelig gemaak." (id., p. 144); "Hulle prikkelende nuuskierigheid om
die groot dorpe en see te sien, was die goue eiers van hulle verwagting
waarin die kuikentjies van verrassing reeds piep." (id., p. 218). Op die
jagveld is die Boesman "vis in die water en stuurman aan die roer van sy
verstand". (_B.-St._ III, p. 47). "Waarom moet ons ons woordeskat gaan
verryk met woorde wat yskoud is en wat met ons geen meegevoel koester
nie?" (_Eerste Skr._, p. 80).
In _Eerste Skrywers_ (p. 125) haal Von Wielligh met instemming 'n
veroordeling van retoriese uitdrukkings aan, maar juis die twee
gewraakte beelde is hy besonder lief voor. In die voorwoord al vertrou
hy dat hy "in die _arms_ van 'n genadige beoordeling sal val" en so is
daar nog baie ander soorte _arms_ in sy werk te vind,[148] terwyl
"Dingaan die _teuels_ van tirannie en dood gevoer het net waarheen hy
wou" (_S. j. M._, p. 11). Von Wielligh is trouens die laaste man, wat
oor retoriese styl moet klaag, want dit sou geen sware taak wees om 'n
paar paginas afgeslyte frases uit sy werk neer te skryf nie. In _Huis en
Veld_ vind ons: "steunpilare van die samelewing" (p. 128), "stortvloed
van trane" (p. 130); "op die louere gaan rus" (p. 177 en 14); "om 'n
luisterend oor te neig aan die sang ... van voëls, wat ... hulle
lieflike akkoorde laat weergalm" (p. 43). In _Eerste Skrywers_: "Toe het
die son van ons nasionale ontwaking ... sy ligdolke in die duisternis
van ons slapende harte ingepriem ..." (p. 103). In _Staan jou Man_: "Dit
het 'n vaste fondament van seltstandigheid onder hulle voete geskuiwe en
die vryheidsvlam in hul harte aangeblaas" (p. 149); "Die nag het met sy
sneeuwit kleed gekom ...; verkwikkende slaap ... het sy sagte ferwele
hand oor die vermoeide ooglede gestryk; die ongestadige weer het sy
septer van gesag aan 'n kalm dag oorhandig" (p. 277). So word soms lang
stukke aanmekaar gelas deur die banaalste beelde,[149] waarvan
_sluier_,[150] _floers, tyd_,[151] _weegskaal_ en _spinnerak_ die
vernaamste is.[152] Wat 'n _floers_ is weet Von Wielligh blykbaar nie,
want hy skryf: "Om die floers van treurigheid te _onderdruk_ staan die
haan ... vlerk klap en kraai ..." (_S. j. M._, p. 240).[153] En hoe mens
se _oogmaat_ jou 'n _sluier voor die oë_ kan _hang_ is ook nie duidelik
nie, (id., p. 5).
'n Totale gemis aan digterlike siening openbaar Von Wielligh in sy
natuurbeskrywing. Hy het ongetwyfeld veel opgemerk en kan ons vertel van
watter bossies skape en bokke die meeste hou. Iemand wat van plan is om
in die Karo te gaan boer, sal heelwat praktiese informasie in _Huis en
Veld_ vind. Maar 'n kunstenaarsblik op die natuur soos die van Malherbe
het Von Wielligh nie. "Bome is hier in oorvloed, ons sien hier die soet
doring, kaffer wag-'n-bietjie, kiepersol, naboom, sekelbos, wilde vy,
waterbessie, wilde sering, vaarlandswilg en nog honderde ander tesame
met soveel soorte bosse." (_H. en V._, p. 155.) So kry ons telkens 'n
dorre opsomming, presies asof dit die jaarverslag van 'n botaniese
vereniging is. Op p. 44 gee hy 'n katalogus van die soorte voëls, op p.
45 en 104 van die veldblomme, op p. 106 van die Karo-plante--"sommige
egter word nie deur vee gevreet nie"![154] 'n Enkele maal tref ons 'n
opmerking, wat van eie siening getuig: "die stoere akkerbome (brei)
hulle arms in alle rigtings (uit) om die kleinere gewasse 'n seën toe te
wens. Aan die stroom swaai die wilg lustig sy groen snoere en speel met
sy swepies in die wind." (_H. en V._, p. 40.) Maar meestal vergenoeg Von
Wielligh hom met 'n verwerking van sy boerekennis, waarin hy af en toe
'n skoolmeesteragtige opmerking vleg om te wys dat hy ook 'n bietjie in
botanie gepeuter 't. "Ja, so noem ons mense dit, maar die plantkundiges
het dit 'n lang, ja 'n beesagtige lang naam gegee van Mesembrianthemum,
wat middagblom beteken." (_H. en V._, p. 104).[155]
Soos iedere boer stel Von Wielligh ook groot belang in die weer. "Kalm
en rustig werp die _goue_ dageraad sy _sombere_ lig oor die vlaktes van
Gwaggas. [Contradictio in terminis. P.C.S.]. Weldra verrys die son; maar
is van sy _oogverblindende_ ligglorie ontroof--die dig gepakte dampkring
het al die sterk uitskietende strale opgesuig. [In Gwaggas was ek nog
nie, maar ek twyfel sterk of die lig van die _opgaande_ son daar direk
"oogverblindend" word. P.C.S.]. Die son lyk nou so groot as 'n wa se
voorwiel (in alledaagse taal). [?? P.C.S.]. Vroeg laat die sonbesies
hulle hoor; die mense voorspel 'n warme dag en spoedig verandering in
die weer." (_Jakob Platjie_, p. 115.) Natuurlik kom daar allerlei soorte
_sluiers_ te pas by sulke beskrywings. "Kyk, hoe pragtig staan elke
bossie onder 'n sluier van allerhande kleure van blomme" (_H. en V._, p.
103); "die appelkoos is oortrek met 'n rooskleurige sluier" (id., p.
40), terwyl "die ruisende melkstroom nog sleg(s) deur die mistige sluier
van die aand sigbaar is." (id., p. 101.)
"Seurtjie, kyk daar steek die dagbreek reeds sy rooi neus agter die
bergkam uit ..." (_H. en V._, p. 38) sê Kammies, en Von Wielligh vind
die beeldspraak so treffend, dat hy dit self gebruik: "Die grou dag
steek spoedig sy droewige wenkbroue agter die bergrand uit...." (id., p.
3). Hoe banaal en konwensioneel is ook die volgende: "Dit was amper,
sononder, net toe die son die weste ligpoorte wou gaan sluit. Alvorens
die gulde deure te grendel, werp die son eers 'n blik terug om te sien
of die Nagwagter met sy vet gesig nog nie deur die oostelike vensters
loer nie. Toe die laaste sonstrale wegsterf en hulle betower en die
liggloed van die omliggende bergtoppe onttrek...." (id., p. 156); "Voor
die vuurstokers van die son nie ekstra brandstof op die sonnehaard plaas
nie om die slapers onder hulle komberse uit te brand...." (id., p.
52.)[156] Dit skyn wel die vernaamste besigheid van die son, want ons
verneem dat "die oprysende son 'n ligstraal deur die skeur van (Soekie)
se venstergordyne (prop) om hom in die gesig wakker te kielie" (_S. j.
M._, p. 119), en Victor "skrik in 'n vaart wakker, een oggend toe die
grou oggendlig die gordyne van sy slaapkamer _aantas_(!)" (id., p. 109).
Ou Kammies sal onder sy kornuite ook seker eer inlê met die volgende:
"Die daeraad steek sy grou sakdoek hoog uit aan die oostekant, asof hy
daarmee in die lug waai...." (id., p. 43).
Nog 'n banale beeld is dat 'n maand of dag _sterf_ en _begrawe word_
(_S. j. M._, p. 99, 277); die jaargetydes of dae is die _jasse_ van die
veld[157] (id., p. 191), terwyl die berge _wit pruike_ dra (id., p. 100
en _H. en V._ p. 101).
"Rapen as kinderhoofies" het Potgieter in sy novelle _Blaauw Bes,
Blaauw Bes!_ "'n ongelukkige vergelyking" genoem, wat mens "van het
kannibalen-maal gruwen doet!" By Von Wielligh gaan "pluimvee,
speenvarkies en lammers", wat so skoon gemaak is as "poedelnakende
babetjies" in "die hongerige poorte des doods, of liewers gesê, die
snakkende monde"! (_Jakob Platjie_, p. 130-1).
As staaltjies van die onbeholpe uitdrukkingswyse, wat mens so dikwels in
Von Wielligh se werk aantref, kan die volgende dien:
In _Jakob Platjie_: "Dan kom hul luidrugtig in geselsery ... huistoe".
(p. 3); "By wyle het my vader in sy stadjie by sy famielie deurgebring"
(p. 59); "Hul had dun arms en bene met volwasse buikies, wat nie op
gereëlde voeding kan beslag lê nie ..." (p. 108); "Hul is by
uitnemendheid byejagters, om byneste op te spoor" (p. 112); "Dit was
genoeglike dae van wetenskaplike voedsel vir altwee partye" (p. 211).
In _Huis en Veld_: "Edelmoedig het hulle (die Uitgewers) op die
voorgrond getree om hulle medewerking tot die bloei van 'n eie
Afrikaanse letterkunde geldelik te ondersteun"[158] ('n Woord vooraf);
"Die lug is ... elektries swanger" (p. 154).
In _Eerste Skrywers_: "Dit was die skone ideale en toewyding" (p. 1).
"En dan draai ons 'n sterker soeklig op al hierdie _gesigs_punte in ons
_gesigs_veld om te getuig, nie wat ons _uit_ ander bronne ontleen het
nie, maar waar ons oog- en _oor_getuige van was." (p. 3); "Hulle moes
onder die wapenrusting van geheimhouding van hulle persoon hulle
skuilhou." (p. 6.) "Hiermee word dus 'n maatstaf in die hande van die
beoordelaars geplaas, wat wel in toepassing mag geneem worde ..." (p.
7); "Die skrywer het ... al die westelike distrikte van die Kaap weer
besoek met opmetings van plase" (p. 28); "dan ontruk ons nie _uit_[159]
nie; maar werp juis gemaakte geskiedenis _in_[159] die gapende kake van
die vergetelheid" (p. 47). "Nog minder het iemand getrag om die skone
wêreld, wat medegevoel afdwing met te veel geleerdheid te bederwe" (p.
53); "As 'n skrywer baie met geoefendes (in plat taal) omgegaan het, en
hy self daar nie mis in bedeeld is nie ..." (p. 101); "Hierdie bewering
klop ons op die skouer, eis verdediging om nie abuislike foute te maak
nie" (p. 129).
In _Staan jou Man_: "'n Lusoord van aardse skepping" (p. 3);
"aangematigde skrik" (p. 15); "die liewe brawe koffie" (p. 37); "Sytjie
(was) reeds daar, want sy het die aankoms van haar pleegouers eerder
ontvang as die huismense gedink het" (p. 102)[160]; "Toe word 'n Hof van
Heilige Geloofsgerig aangestel" (p. 150). Wat dit nou eintlik is, sal
Von Wielligh wel alleen weet! "Sy voel gelukkig om spoedig van aardse
smart verlos te wees en te herenig met haar eggenoot ..." (p. 164).
In _Nimrod Seeling_: "twee wakker blou oge wat 'n lig van bewussyn laat
uitstraal het ..." (p. 59); "Hulle toon toe aan dat dié soort lewe, wat
ek verkies, 'n afbrekende eeu is ..." (p. 116).
In _Boesman-Stories_: "Want 'n weerklank klink altyd mooier as die stem
wat dit weerkaats" (I, p. 34); "sy pylkoker val aan stukkies en die pyle
daarin verdor sy in kaf" (I, p. 141); "So gevoel die kinders hul veilig
onder die beskerming van hulle ouers--al groei hulle op omsingel deur en
onder verskeurende ongediertes. Een dag leef hul in oordaad, dae daarna
vergaan hul onder die gevreet van ondraaglike honger en dors. Hulle ken
net 'n dag van vandag en bekommer hul glad nie oor die dag van môre deur
voedsel en deksel daarvoor opsy te sit nie." (III, p. 31); "om dit mooi
te bewerk en glad te slyp, het hy die kuns nog nie verstaan nie" (III,
p. 5); "Watter ander gevolg moet ons hieroor vel ..." (III, p. 105).
In _Diere-Stories_: Outa is "uitgedos in vriendelikheid self ..." (I, p.
9); Die dierestories "verskaf ... sielslewe in die hart van die ou
bokwagter" (I, p. 12); "Toe lag die Voëls nie meer nie; maar sit mekaar
knersend van verontwaardigheid kwaai aan te kyk ..." (I, p. 24).
Oor die algemeen is Von Wielligh se taal suiwer, maar spore van Engelse
invloed kom tog voor.
"Wydbegrippig" (_broad-minded_) (_Eerste Skr._, p. 59); "Koos vra hul
om saam brekfis _te neem_" (_J. P._, p. 70); "'n Korte wandeling gaan
neem" (_H. en V._, p. 34); "Toe die klok twaalfuur slaan, rys die vrinde
..." (id., p. 52); "nukomelinge" (id., p. 174); "Moet tog nie
moeilikhede halfpad gaan ontmoet nie" (_S. j. M._, p. 17); "alles het sy
natuurlike self gebly" (id., p. 39); "'n dood geheim" (id., p. 136);
"die naarste van drome" (id., p. 263); "toe hy so 'n skewe kyk na Kraai
gooi" (_B.-S._ II, p. 4 en 155);[161] "ondergroei" (id., p. 107); "Die
Boesman kan baie wreed wees en 'n plesier daarin neem ..." (IV, 121);
"Julle neem dit lekker" (_D. S._ I, p. 43); "Jakhals het uit sy eieself
geweet ..." (id., p. 48); Jakhals vra aan Wolf "hoe 'n tyd hy daarvan
gehad het" (id., p. 61); Wolf vra "in 'n fluister" (id., p. 66); "En jy
meen te vertel die kinders het dit alles opgevreet?" (II., p. 11); Die
kat "pir" (id., p. 19). Ook in _Robinson Crusoë_ is daar voorbeelde van
letterlike vertaling.
Met die voorsetsels raak Von Wielligh soms verward: "met bliksem ...
vergeseld; in vatbare (?) wyse opgestel" (_E. Skr._, p. 32, 120); Die
Boesmans "bedien hul met ribbebene wat hol geslyp is" (_B.-S._ III, p.
20). "Kamma-geleerdes" (_E. Skr._, p. 108) is 'n gelukkige neologisme,
"pou-trots" (_S. j. M._, p. 6) egter nie, en nog minder "posing" (id.,
p. 27). Von Wielligh gebruik ook graag vorme soos: "as komme kan",
"ontvalle", "soude", (_E. Skr._, p. 6, 8, 53). 'n Paar voorbeelde van
verkeerde woordskikking kom voor, o.a.: "Oom Willem word tot kommandant
gekies, omdat hy dapper is en kan in die grootste gevaar sy hoof koel
hou." (_J. P._ p. 151.)
VOETNOTAS:
[102] _Die Brandwag_, Des. 1918, waaraan hierdie lewensskets ontleen is;
1850 is egter verkeerd, vgl. _Eerste Skrywers_, p. 151. In _Die
Huisgenoot_, Nov. 1919 staan 'n uitvoeriger biografie.
[103] Vgl. _Eerste Skrywers_, p. 57.
[104] _Eerste Skrywers_ p. 35.
[105] t.a.p., p. 85.
[106] t.a.p., p. 159.
[107] t.a.p, p. 124.
[108] Vgl. my artiekel oor Letterkundige Kritiek in _Die Huisgenoot_ van
Des. 1920.
[109] Private meedeling van die skrywer.
[110] _Eerste Skrywers_, p. 113. Kursivering van my.
[111] t.a.p., p. 54. Kursivering van my.
[112] Vgl. Dr. L. v. Niekerk: _De Eerste Afrikaanse Taalbeweging_^1, p.
189.
[113] Vgl. oor "Patterjots" Dr. L. v. Niekerk t.a.p.
[114] _Eerste Skrywers_, p. 101.
[115] Vir hinderlike tussenkoms van die outeur kan ook nog vergelyk word
p. 12, 21.
[116] Vgl. ook nog p. 217 et passim.
[117] Vgl. _Staan jou Man_, p. 88, 143.
[118] _Staan jou Man_, p. 55.
[119] Vgl. ook _Staan jou Man_ p. 47.
[120] Waarom Daan Wiks so lank wag met sy gewigtige getuienis word nie
opgehelder nie.
[121] Ook nog verskillende fuiwe van Hotnots.
[122] Vgl. ook die flou praatjie oor Ester se droefheid, p. 169.
[123] Vgl. Voorwoord.
[124] _Voorberig_ 4de deel. Kursivering van my.
[125] _Voorberig_ 1ste deel. Kursivering van my.
[126] Vgl. o.a. Prof. J.W. Muller se inleiding by sy Reinaert-uitgawe.
[127] Vgl. o.a. p. 93, 22-23, 52, ens. Of daar in _Ghwennie Barnveld_,
'n boek "vir jong meisies" in dié opsig verbetering is, kan ek nie
beoordeel nie, omdat dit na die skrywe van hierdie bespreking verskyn
het.
[128] _Boesman-Stories_ II, p. 194.
[129] Vgl. nog _Eerste Skrywers_, p. 27:
gedruk--gedruk--drukkery--drukpersie; p. 60: "Ons was met ons deurkruis
van ons land ...", ens.
[130] Vgl. o.a. _H. en V._, p. 143: "Al hierdie gebeurtenisse het baie
gevoelig 'n diepe indruk op die Afrikaanse huislike lewe en dinkwyse
gemaak en nagelaat." Lomp is ook: "Hy skuif sy raam op en staan die
heerlike koffie met tyd te geniet, terwyl sy oë 'n blik werp wat buite
in die fris oggendlug plaasvind." (_S. j. M._, p. 119).
[131] Vgl. _Boesman-Stories_ I, p. 55, "'n woelige Gees sonder rus".
[132] Jacob Cats: _Houwelijck_ I, 235.
[133] J. Prinsen: _Handboek tot de Ndlsche Lett. Ges.^2_, p. 335.
[134] G. Kalff: _Ndlsche Dichters der 17de Eeuw_, p. 37 (Cats).
[135] Vgl. Kalff, t.a.p., p. 100.
[136] Kalff: t.a.p., p. 98.
[137] Vgl. in _Glorie Pan_: "Niks op aarde is bestendig nie; alles is
van korte duur nes 'n lappie op die seer vinger van 'n bobbejaan." (_Die
Brandwag_, 10 Des. 1913).
[138] Vgl. ook die onsmaaklike opmerking in _S. j. M._, p. 65: "Ons ou
mense het min van snorbaarde gehou, wat so hinderlik met, soen en
sop-eet geblyk het"!
[139] Vgl. ook die snaakse betoog om te bewys dat _jy, jou_, ens., nie
plat is nie. _Eerste Skr._, p. 97.
[140] _Die Huisgenoot_, Okt. 1921, pag. 247. In Hoofstuk XII van _Eerste
Skr._ behandel hy plat taal en ook in _Die Huisgenoot_ Junie 1921,
Hoofstuk XV van _Ons Geselstaal_. Vgl. die voetnoot van die redaksie oor
wat Von Wielligh onder "plat taal" verstaan.
[141] _Leven van Vondel_, Ndlsche Klassieken, p. 123.
[142] _Eerste Skr._, p. 100.
[143] _Die Huisgenoot_, Okt. 1921, p. 247.
[144] _Eerste Skr._, p. 126.
[145] _H. en V._, p. 15.
[146] _Die Huisgenoot_, Mei 1921, p. 25. _Ons Gesels taal_.
[147] _S. j. M._, p. 133.
[148] Vgl. o.a. _S. j. M._, p. 144, 195, 270, 282; _H. en V._, p. 146;
_N. S._ Voorwoord.
[149] Vgl. b.v. _S. j. M._, p. 191.
[150] O.a. _S. j. M._, p. 213, _H. en V._, p. 123, 67, 86, 101, 130.
[151] O.a. _S. J. M._, p. 167, 143.
[152] Uit _Die Huisgenoot_ van Febr. 1922 blyk dat Von Wielligh nog
lustig op sy "praatmasjien" die ou deuntjies afdraai. Die "spinnerakke"
en die "kloue (wat) nes blinkleerstewels kraak" is daar, terwyl die
katalogus van die verskillende soorte koppies en rante uitgebrei word
deur ... "pramkoppies"! (p. 421).
[153] Vgl. ook _Eerste Skrywers_, p. 49, waar "'n floers van
neerslagtigheid" 'n somber gevoel "verwek".
[154] Vgl. ook nog p. 185.
[155] Vgl. ook p. 104 en p. 109 waar 'n verklaring van 'n
"lugverheffing" gegee word.
[156] Dieselfde beeld kom ook voor in _S. j. M._, pag. 19.
[157] Ook die voëltjies dra "winterjassies", _H. en V._, p. 43.
[158] "Ondersteunen" is waarskynlik 'n drukfout. Die twede "hulle" slaan
op "ondersteuners" in die vorige sin. Vergelyk _S. j. M._, p. 239:
"Rustig verhef hulle die woonhuis ... deur die Trekkers hulle eie hande
opgebou".
[159] Kursivering van Von Wielligh.
[160] Vgl. _N. Seeling_, p. 57: Baie seediere, wat my geheuge ontsnap
het ..."!
[161] _N. S._, p. 50, "afskeidskyk".
HOOFSTUK V.
Romans, Verhale en Sketse.
§ 1. Adv. J.H.H. de Waal.
Jan Hendrik Hofmeyr de Waal is gebore op 30 Desember 1871 op die plaas
Bakkerskloof, Stellenbosch. Sy vader was boer en handelaar, sy moeder
die oudste suster van "Onse Jan". Aan die Normaal Kollege in Kaapstad
het hy gematrikuleer en daarna was hy 'n tydlank onderwyser o.a. op
Uitenhage en Utrecht. Later het hy 'n betrekking aangeneem in sy vader
se ysterhandel, maar die joernalistiek het hom aangelok en as
voorbereiding vir dié vak het hy regte gaan studeer in Londen, waar hy
aangesluit 't by die Inner Temple en as studievrind o.a. Generaal Jan
Smuts had. Nadat hy in besonder kort tyd sy wetseksamens afgelê het,
tree hy in die huwelik met Emma de Kock (1898) en woon vir ses jaar in
dieselfde huis as "Onse Jan", vir wie hy as "luitenant" dien.
In Julie 1903 word hy redakteur van die tydskrif, _De Goede Hoop_,
waarin _Stompies, Johannes van Wyk_ en _Die Twede Grieta_ verskyn het.
"Sy bedoeling met daardie geskrifte was om die jong lesers soveel
moontlik met leesstof in populêre skryftrant te voorsien, en wel in die
taal wat hy van jongsaf voorgestaan het--Afrikaans."[162]
Op sy kantoor is op 5 Oktober 1906 die Afrikaanse Taal Vereniging
ontstaan. Aan sy inisiatief is die erkenning van ons taal in die Kaapse
geregshowe te danke.[163] In Des. 1914 het hy afgetree as redakteur van
_De Goede Hoop_, as gevolg van 'n wryving met die uitgewers oor
politieke kwessies. Onder die _nom de plume_, _Jan van Rozenburg_ had hy
naamlik Generaal Hertzog se politiek verdedig by die kabinetskriesis in
1912. Nederland het sy dienste as voorvegter vir ons taalregte erken
deur sy benoeming tot lid van die Leidsche Maatschappij. Op die oomblik
is hy lid van die volksraad vir Piketberg en een van die voormanne van
die Nasionale Party in die Kaapprovinsie.
Johannes van Wyk, (1906).[164]
Johannes van Wijk is 'n jongeling van edel inbors, wat deur sy
onbesproke gedrag, hoflike maniere en fyn beskawing die gunsteling van
die Kaapse samelewing word. Dit wek die jaloesie en haat op van sy neef,
Gert Rass, wat besluit om sy ondergang te bewerk. 'n Plan om Johannes
deur die Boesmans te laat doodmaak misluk. Gert word egter tot nuwe
wraakplanne geprikkel deur die feit, dat Hester Linde aan Johannes die
voorkeur gee. Deur vervalsing van 'n brief slaag hy daarin om Johannes
op 'n aanklag van hoogverraad teen die Goewerneur, Adriaan van der Stel,
in die gevangenis te kry. Johannes ontsnap, word deur Gert en sy
handlangers agterna gesit, maar vind eindelik onder die naam Koos Emmert
'n skuilplaas by 'n boer, Pierre de Villiers aan wie hy hom as kneg
verhuur. Hier raak hy weer deurmekaar met die Boesmans, maar word op die
laaste tippie deur sy vrinde, Malherbe en Joosten, gered. Intussen het
die goewerneur sy ontslag gekry en hoef Johannes nie meer as droster te
lewe nie. Gert drink 'n vergiftigde kelkie wyn, wat hy vir Johannes
bestem had en sterf. Met 'n driedubbele huwelik eindig die verhaal.
_Johannes van Wyk_ het oorspronklik in _De Goede Hoop_ verskyn, die
eerste hoofstuk in Jan. 1904. Die skrywer verklaar self, dat die
ontstaan van die roman te danke is aan sy betrekking as redakteur van
die blad.[165] De Waal het skrywer geword, nie deur 'n innerlike
skeppingsdrang nie, maar deur die dwingende mag van omstandighede.
Toevallig het 'n yweraar en hartstogtelike voorstander van die lang
geminagte volkstaal die middel in die hand gekry om aan verstokte
teëstanders te wys, dat in dié taal 'n roman kon geskrywe word. Eers
probeer hy om deur uitlowing van 'n honorarium die skryflus van sy
lesers op te wek, maar die resultaat was teleurstellend; al die stukke
moes in die snippermand. Aangemoedig deur die sukses van sy toneelspel
_Angelina_ het De Waal toe besluit om self 'n roman te skrywe. Met sy
nugter verstand het hy 'n reeks toneeltjies op kunsmatige wyse inmekaar
gepas en die resultaat was 'n leesbare roman, wat veral die jongeliede,
vir wie _De Goede Hoop_ in die eerste plaas eintlik bedoel was met
groot spanning gevolg het. Ons staan hier voor 'n gewigtige
kultuurgebeurtenis. Dit naamlik: _in 1904 het die eerste Afrikaanse
roman van die Twede Beweging verskyn_.[166]
Die skrywe van _Johannes van Wyk_ was 'n daad van betekenis. Na al die
gekibbel 'n _daad_. En 'n daad, wat vir meer as een die oë laat oopgaan
het. Vir lange jare had die teëstanders van Afrikaans met triomfantlike
gebaar hul onweerlegbare stelling opgedreun: "Het Afrikaans heeft geen
letterkunde!" De Waal se antwoord was: _Johannes van Wyk_. "Die eerste
oplaag het bestaan uit 500 eksemplare, en die drukkerskoste was toe
slegs een-sesde van wat dit vandag vir so 'n aantal sou wees. Tog is ek
destyds gelukgewens geword met my moed dat ek dit gewaag het om 'n boek
in Afrikaans uit te bring."[167] Vir die voorstanders van Afrikaans was
_J. v. W._ dan ook 'n welkome bondgenoot. Die Afrikaanse Taalgenootskap
in Pretoria het onmiddellik 'n beroep gedoen op alle Afrikaners om dit
te lees, en die meeste krante het dit warm aanbeveel.
By die beoordeling van _J. v. W._ moet veral rekening gehou word met die
omstandighede waaronder dit ontstaan het. Maar sedert die eerste uitgawe
het nou byna twintig jaar verloop. De Waal het dit herhaaldelik omgewerk
en in 1921 het reeds die vyfde druk verskyn, veral omdat dit vir drie
publieke eksamens tegelyk voorgeskrywe was.[168] Noudat die taalstryd
verby is moet ook die literêre waarde van _J. v. W._ bepaal word. Omdat
egter in bou en opset _Die Twede Grieta_ soveel ooreenkoms daarmee
vertoon, kan die twee romans tegelyk bespreek word.
Die Twede Grieta
is die dogter, van Johan Conradie, wat kort na haar geboorte, waarby
haar moeder sterf, uit die huis van haar vader gesteel word en in Natal
as Miss Grace Palmer opgroei. Andries Burger, pleegsoon van Conradie,
loop saam met sy vrind, Bertie Muller, van die S.A. Kollege weg aan die
begin van die Anglo-Boere-oorlog en hul sluit by die republikeinse leërs
aan. Phineas Marais, stiefbroer van die "eerste" Grieta, Conradie se
oorlede vrou, is die sondebok van die roman. Hy verlaat die Teologiese
Kweekskool op Stellenbosch na die dood van sy vader, wat 'n groot
erfenis nalaat, word 'n geldwolf, loop in die oorlog oor na die Engelse
en vervolg Andries en Bertie, vir wie Hester Fourie, sy verloofde
afgewys het as doodsvyande. Andries en Bertie beleef die wonderlikste
awonture in die oorlog. Andries red Grace uit die hande van Kaffers, en
Bertie word verpleeg deur Hester. Na die oorlog ontdek Conradie dat
Grace Palmer sy doodgewaande dogter is, 'n feit wat Phineas se
roofproses teen hom in duie laat val. Presies soos Johannes van Wyk
eindig die verhaal met 'n driedubbele huwelik. Andries trou met die
twede Grieta, Bertie met Hester en selfs Conradie slaag daarin om "'n
sagsinnige liewe vroutjie van ag-en-twintig jaar" raak te loop, terwyl
Phineas na Engeland vertrek om die reputasie van S. Afrika daar te
verbeter.
Ook die _Twede Grieta_ het in _De Goede Hoop_ verskyn, vanaf Jan. 1912.
* * * * *
"Het grondplan van de meeste Scottsche romans is: de held trekt de
wereld in, beleeft komische of tragische avonturen en sluit in het eind
zijn bruid in de armen. Dit geldt voor Waverley, Old Mortality, Abbot,
Fortunes of Nigel, Peveril of the Peak, Quentin Durward, Rob Roy en meer
andere; de avonturen zijn meestal die van den oorlog en van de politiek
... En naast dit hoofdtype spreekt dikwijls de sensatieroman van
Radcliffe in de geheimzinnige verwikkelingen, het duistere mysterie, dat
den lezer tot het eind in spanning houdt."[169]