Gewoonlik word die serie _Boesman-Stories_ as boeke vir die jeug

beskou. Blykens die voorberig van die vierde deel was dit allermins die

bedoeling van die outeur en uit die karakterisering van die inhoud is

dit duidelik, dat hy gelyk het. Daar is seker min Afrikaanse ouers, wat

sou wens, dat hul kinders so 'n volledige kennis van al die

Boesman-bygelofies bevoorbeeld moet hê, as wat Von Wielligh ons aanbied.

Niettemin sou daar seker 'n klein bloemlesing uit die vier dele kan

saamgestel word, wat sal voldoen aan die vereistes van 'n kinderboek.

Maar Von Wielligh is veels te optimisties waar hy sê: "...daar sal gewis

'n tyd aanbreek dat nie alleen kinders nie, maar meer as kinders hulle

ore sal hou teen die blaaie van _Boesman-Stories_ om te luister na

sprokies en vertellings _asof die woorde direk en duidelik afkomstig is

van die oorspronklike lippe wat hul vertel het_."[124] Dit is in

flagrante teëspraak met die volgende: "Met die skrywe van hierdie

_Boesman-Stories_ het ons die gedagtes van die Boesmans _in ons eie

woorde vertolk ..._"[125] en gee aanleiding tot 'n ander opmerking. Die

eienaardige bekoring van die inboorlingestories sit ongetwyfeld

grotendeels in die persoonlikheid van die oorspronklike verteller. Dit

het Von Wielligh self gevoel, want in die voorberig van _Diere-Stories_

verklaar hy: "Niemand kan 'n Diere-Storie so smaakvol as 'n Hotnot

vertel nie. Dit smaak of hy alles daar voor hom sien en hoor, wat hy

verhaal. Haarfyn kan hy die Diere naboots en namaak--so natuurlik, dat

ons daarvan soms bang word." Nou is dit juis dié natuurlike element, wat

ons in die _Boesman-Stories_ mis, terwyl in _Diere-Stories, soos deur

Hotnots vertel_ die juiste toon baie beter getref word. Gelukkig het Von

Wielligh besef dat 'n kinderboek nie "deurspek met lesse, met sedepreke"

moet wees nie en met uitsondering van sekere minder artistieke

stylwendings kan die _Diere-Stories_ as aangename kinderlektuur beskou

word, wat egter in hierdie verband nie nader kan bespreek word nie.

Al dadelik blyk egter weer uit die volgende aanhaling, dat Von Wielligh,

as leek hoegenaamd geen insig het in die wordingsgeskiedenis van

dierverhale nie. In die voorberig van _Boesman-Stories I_ stryk hy met

'n klein vetkersie ewe parmantig in die volle lig van 'n stralende son:

"In Europa en Amerika word tot nog toe vrugtelose pogings aangewend om

gewilde en ingrypende (?) "Diere-Stories" te skrywe; hier in Suid-Afrika

het die Hotnots en Boesmans dié reeds vir ons eeue gelede uitgewerk. Al

wat ons te doen het, is om die ryk oes in te samel." Hy weet dus nie,

dat feitlik alle volke hul dieresprokies het nie, dat selfs vandag nog

sulke vertellings van mond tot mond gaan oor die gehele aardbodem en dat

baie van ons jakkalsstories groot ooreenstemming vertoon met die

Europese verhale van die vos.[126] Wat die digter van _Reinaerts

Historie_ (II), reeds in die 14de eeu geseg het bly nog altyd waar, ook

in literêr-historiese sin: "Van Reinaerde es een groot saet Ghebleven

dat nu seere up gaet."

Van Von Wielligh het ook nog verskyn 'n Afrikaanse bewerking van

Robinson Crusoë (1920) en 'n Boesman-Robinsonade, _Nimrod Seeling_

(1921). Nimrod is 'n seuntjie van vier jaar, wat in die hande van

Hotnots en Boesmans val en by hulle bly tot sy veertiende jaar. Deur

'n aaneenskakeling van awontuurlike gebeurtenisse kry die skrywer nog

eens 'n geleentheid om die gewoontes, sedes en bygelowe van

verskillende inboorlingstamme te skets, terwyl ook die jag op groot

wild beskryf word. Aangesien die verhaal vir die "jonger geslag"

bedoel is, word 'n eenvoudige styl gebruik. Maar selfs die spannendste

awonture word op dorre betoogtoon verhaal, sonder enige poging tot

plastiese uitbeelding. "Die leeu is nou kort agter ons. Toe Saba in

haar boom was, steek sy haar hand uit om my op te help. Maar helaas,

my lang hare raak verward in 'n droge tak. Saba breek met wilde krag

die stuk tak en pluk my op; net toe kom die leeu onder die boom en

vang met sy voorpoot naar my voete. _Hierop_ maak Saba haar man as of

hy uit sy boom wou afklim. Die leeu sien dit, hol soheentoe en kry 'n

skoot met 'n gifpyl, deur die ander Boesman afgeskiet. _Hierop_ gee

Saba haar man hom nog 'n skoot, en hy was nie meer nie." (p. 33-34.)

Dit is maar een voorbeeld van die dooierige, kroniekagtige

vertellings, waarin die verskillende insidente deur 'n uitgerekte

string van hierop--daarop--waarop--daarna--verder--voorts en

soortgelyke woorde aanmekaar geryg word.[127] Dat ook hier herkouing

van ou motiewe aanwesig is, bewys o.a. die Griekwa-preek op p. 76.

Hy tok-tok, hy tok-tok,

Hy tok-tok, hy tok-tok, ens. ens.[128]

Dit is die enigste ritme, wat daar in Von Wielligh se prosa is. Gevoel

vir die klankwaarde van woorde, vir die fyner modulasies, vir die mooi

melodie van glydende woordereekse besit hy nie. Ewe geduldig stryk hy sy

ramkie en op die eentonige deun "kerf" hy riel na riel uit. Dit is die

totaalindruk. In _Jakob Platjie_ word ons af en toe deur 'n mooi

klankeffek verras en ook in die _Boesman-_ en _Diere-Stories_, maar in

_Huis en Veld_ dreun die dowwe preektoon dwarsdeur.

Herhaling van dieselfde woorde is 'n vaste kenmerk van sy styl. "As 'n

man wild na huis bring, dan word die afgekoude _bene_ 'n entjie van die

deur van sy hut op 'n hopie ge_gooi_. So het elke man in die kraaltjie

sy eie _been_hopie. Die af_geëte bene_, so lank _geëet word, word_ in

die hol bak van die bors_been_ van 'n volstruis geplaas. Is daardie

_been_skottel vol _bene_, dan word dit na die _been_hopie gedra en daar

neerge_gooi_." (_Boesman-Stories_ III p. 34-35.) En so gooi Von Wielligh

nog 'n paar paragrawe aldeur _bene_ op die _beenhopie_, totdat dit 'n

berg word! In _Huis en Veld_ (p. 145) kom behalwe ander herhalings voor:

herstel--stel--stel, alles in een paragrafie.[129]

"Onder sy aanvoer kom hul altyd vier_kant_ veilig ander_kant_ uit"

(t.a.p., p. 67). "Dit het Daan gesê, en hy gaan toe op 'n verraderlike

blok _sit_, wat sy plesier daarin vind om óm te slaan en die een wat

daarop wou _sit_, nog die moeite te gee om dit weer met sukkel in ewewig

op die grond te plaas en dan daarop te _sit_, met meer aandag wat onder

as wat voor die _sit_ter plaasvind" (t.a.p., p. 24). Afgesien van die

storende herhaling is dit seker besonder lompe styl. En sulke voorbeelde

is daar soos bossies![130]

Met nog een tok-tok-deuntjie kan ons volstaan. _"Daar_ was nie lopende

_water_ in die _kloof_ nie; alleen was _daar_ 'n gat _water_ onder 'n

_water_val. _Daar_ was geen ander ingang tot die _kloof_ as van onder af

nie. Ons vind die dooie kalf bo in die _kloof_ digteby die _water_val en

_daar_ het ons die slag_yster_ gestel soos dit behoort te wees, sonder

die _yster_ aan iets vas te maak--anders draai die tier sy poot _daar_in

af. Lê die _yster_ los, dan kan hy wel 'n entjie _daar_mee stap, dog van

ontvlug is glad geen sprake nie, _daar_ die _yster_ te _swaar_ aan sy

seer poot hang." (_N. Seeling_ p. 77-78.) "Ma, Pa vra of Ma nie Pa se

osse na die wa sal laat ja nie?" is kindergestamel van dieselfde

klankwaarde.

Vir kombinasies van verwante gedagtes is Von Wielligh baie lief en

dikwels gee hy _in aliis verbis idem_. "Dit vul ons hart egter _met

blydskap_ om _met vergenoegdheid_ 'n terugblik te mag werp ... (_Eerste

Skrywers_ p. 7); "Maar gelukkig het 'n _verwydering_ van liefde en

vrindskap die lede nie van mekaar kon _skei_ nie. Vrinde as altoos!"

(t.a.p., p. 49)--wat onsin is! "Hulle (verstaan: die Engelse) beskik oor

wêreldberoemde skrywers en _vertalings uit ander tale"_ (t.a.p., p. 91);

"_Hy het_ die Britse gesag _verlaat en vaarwel gesê_, en met sy Groot

Trek _het hy_ in 1836 die Kolonie _verlaat_ ..." (t.a.p., p. 103); "'n

lappies dorp _van tente_ of 'n blikkies dorp _van sinkhuise_" (_H. en

V._, p. 111); "_Rusteloosheid_ egter gun hom _geen rus_ nie"[131]

(t.a.p., p. 6); "die renbaan het Freddie se beurs omgedop, _sodat die

binnekant nou buite sit_" (t.a.p., p. 128); "alles natuurlik onder vier

oë _en in diepe vertroue"_ (_J. P._ p. 94); "Die trekboere het in tente,

maar liefs _by voorkeur_ in matjieshuise gewoon" (t.a.p., p. 92); "die

man se lyf was amper kaal en _met min klere bedek_" (_Boesman-Stories_

I, p. 148). Dieselfde neiging om tog maar veral niks aan die fantasie

van die leser oor te laat nie blyk ook uit tal van nuttelose opmerkings

by die _Boesman-Stories_. Die tietel van No. 58 in deel III lui: "Nog

meer oor Bygeloof" terwyl die _Opmerking(s)_ ons nog ewe deftig

verseker: "In hierdie Verhaal sal ons nog meer vertel oor die bygelofies

van Boesmans"! By No. 53 en elders gaan dit net so!

Ick sie: geen dingh en is soo kleyn,

Of 't gaet u tot het innigh breyn:

Geen dit of dat, geen boere-schuyt,

Of gy en treckt er voordeel uyt.[132]

As Von Wielligh in die sewentiende eeu geleef 't sou hy seker 'n tiental

emblematabundels geskryf 't. Wat van Vader Cats geseg is, geld ook van

hom: "Niets is hem te gering; geen afstand is hem te groot, geen

combinatie te zonderling; zijn blik volgt de vloo, dwaalt van de oester

tot het haantje van den toren."[133] "De voorstellingen (in Sinne- en

Minnebeelden) zijn meerendeels ontleend aan het dagelijksch leven; een

doorgehakte paling welks twee deelen zich zoeken te vereenigen, een

brandend hout en een mooi meisje, eene papegaai in een kooi, een

spinneweb, een windhaan, een rattenval, een bordurende juffer ...

verwelkte rozen, een vlinder, eene fuik, enz."[134]

"Frans weer was soos sodawater: druk jy die prop in, dan bruis dit, maar

die gas is gou uitgekook. Gou driftig, maar gou weer goed." (_H. en V._,

p. 14.) Met 'n mooi plaatjie daarby sou dit 'n goeie _sinnebeeld_ wees.

Cats redivivus, maar dan tog in onderbaadjiesak-formaat, want van sy fyn

vertellerstalent is daar by Von Wielligh weinig te bespeur. Dit is

bekend, dat Cats twistery tussen man en vrou verdedig deur daarop te

wys, dat 'n braakmiddel af en toe goed is vir die maag. Dit is wel iets

na Von Wielligh se smaak: "Om iemand kwaai woorde toe te voeg, of om hom

_vomitief_ in te gee, kan jy iets onaangenamer terug verwag" (_H. en

V._, p. 88). Dieselfde skerp "tegenstelling van verheven en plat" wat by

Cats so 'n komiese indruk maak, tref ons ook by Von Wielligh aan. As

Cats bevoorbeeld wil duidelik maak, dat die gedrag van iedere vryer

noukeurig ondersoek word, dan sê hy:

Een vryer moet het lyf als op de rooster leggen,

Om daer, gelyck een worst, te worden omgewent,

Totdat men aen den reuck syn roet (vet) en reuzel kent.[135]

Von Wielligh verklaar met groot erns: "... so nutteloos as 'n horlosie

sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se

bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees." (_H. en

V._, p. 121).

"Zeker, Potgieter had gelijk toen hij, met het oog op Huygens, zeide

dat voor den waren dichter niets te laag is om het tot zich op te

beuren. _Indien_ de dichter het lage dan ook maar opbeurt. Dat doet Cats

zelden. Gewoonlijk bukt hij zich of hurkt er bij neer ... Liefst houdt

hij zich bij het dagelijksch leven; maar het dagelijksche wordt licht

alledaagsch, het alledaagsche staat niet ver van het platte, het platte

daalt gaarne af tot het ruwe."[136] So gaan dit ook met Von Wielligh.

Dat hy sy boere ens. van die ou dae, beelde ontleen aan hul daelikse

bedryf laat gebruik, is goed gesien. As Frans die slagter b.v. in _Huis

en Veld_ na aanleiding van 'n opmerking dat gebrekkige en sieklike mense

nie behoort te trou nie sê: "Dus hulle is van egtelike Liefde

uitgesluit. Hul moet hulle geluk in Vrindskap gaan soek--en is stompoor

gesny en op die stoppelland geja." (p. 16), dan tiepeer dit meteens die

man se hele persoonlikheid. Willie se grappie: "Ons het die ou jaar net

vandag nog aan die puntjie van sy stert, vannag glip hy hand uit en

slaan bolmakiesie oor die afgrond van die verlede" (p. 47) pas mooi in

die koffiedrink-atmosfeer. Maar wanneer Dolf se vrou in volle geselskap

sê: "dan maak Ma eers goed vuur op hulle asplekke" (p. 74), stap sy oor

die grense van alle welvoeglikheid. Von Wielligh moet bedenk, dat wat

uitstekend pas in _Jakob Platjie_ nie orals kan gebruik word nie. Koos

Fonk se mikstuur "maak vrolik en olik en dan moet daar weer van die hond

se hare gehaal worde om op die hond se bytplek te sit" (p. 81). Sina is

"vir die tronk so bang ... as 'n bobbejaan vir die hits van 'n gloeiende

yster" (p. 5)--dit is raak opmerkings, wat ons dadelik as psigologies

juis voel. Maar ongelukkig het die Hotnot-Griekwa-Boesman-suurdesem deur

_al_ Von Wielligh se werk getrek. Dolf se "beskouing omtrent sake het

nie dieper ingedring as 'n speld in 'n aap se duim nie" (_H. en V._, p.

13); sy gestalte "laat iemand aan 'n bobbejaanpaal dink ... terwyl Frans

iemand aan 'n ronde-rib skapie herinner" (p. 13)[137]; Hessie "kielie 'n

kort stukkie op die klavier" af (p. 36); Dolf lyk "net verspot ... asof

hy te veel galsterige varkspek geëet het" (p. 97) en in _Staan jou Man_

sit "algar ... by hierdie tyd soos paddas danig erg van die gemmerbier

opgeblaas" (p. 61); "Die son steek asof hy Fant in 'n groot stuk kaiings

wou opsmelt" (p. 18); Soekie Grasman is "so grappig dat hy 'n hele vrag

ape van lag sal laat uitskater" (p. 104) en druk Sytjie "om haar

beenderige ribbe" (p. 131); "M.A. en B.A.-tietels was vir hulle net

soveel wêrd as 'n broeksak vir 'n hond" (p. 149); "ons almal weet dat

die troos wat hieraan ontleen is, maar altyd 'n handvol vlieë bly" (p.

244). Met sulke beelde sal Von Wielligh seker die outas en aias in die

kombuis laat lag.[138]

Met eienaardige logika probeer hy om die plat taal van die

_Patriotters_ goed te praat: "'n Fout werd gevinde met die Eerste

Skrywers, dat hul ongekuiste taal gebruik het. Maar dit vind 'n mens by

die eerste skrywers van alle volke en die rede is hierin te soek: dat as

iemand van 'n vlooi praat, dan is dit onbeskaaf, maar hy mag wel van 'n

vlieg praat. Dis niks om van 'n koei te praat nie; maar pas op om van 'n

bul te praat. Iemand kan sê: "dis leuenagtig"; maar "_dis waaragtig_"

dan is dit vloek. In die opvoeding word hom geleer wat te sê en nie te

sê nie. Dus hy word geleer hoe om in die sitkamer te praat. Alle dinge

is geoorloof; maar alle dinge is nie oorbaar nie". (_Eerste Skr._, p.

38.) Met iemand wat hom van sulke argumente bedien, val daar nie te

redeneer nie.[139] Dat "die eerste skrywers van alle volke" hul van

ongekuiste taal bedien het, is 'n bewering wat stellig onwaar is in sy

algemeenheid; bowendien kan die gebruik daarvan in die negentiende eeu

beswaarlik geregverdig word deur 'n vergelyking met toestande van vyf of

ses eeue terug.

In sy studie _Ons Geselstaal_ verklaar Von Wielligh: "Dog iemand wat

regtig meen om suiwer Afrikaans te bestudeer, moet peil tot die bodem om

die Afrikaanse gedagtegang baas te raak. Hiervoor lewer Plat Taal ons 'n

uitstekende geleentheid om te leer hoe woorde van suiwer gehalte te

vorm. Dit wil sê, as ons meester van die Afrikaanse Plat Taal is, dan

besit ons die sleutel om woorde van 'n hoë gehalte te smee; besit ons

dan sulke doeltreffende woorde, dan word praalskrif op suiwer grondslae

vir ons so duidelik as die son aan die hemel--altyd opklim, opklim tot

die hoogste sport."[140] Von Wielligh is hier ongetwyfeld op die regte

spoor, al raak hy ook verward in sy beeldspraak. Met _plat taal_ bedoel

hy blykbaar die geselstaal van die onderste lae van die samelewing, wat

volstrek nie noodwendig plat is nie, terwyl onder _praalskrif_, taal van

letterkundige gehalte moet verstaan word. As Von Wielligh dus bedoel dat

die kunstenaars die volkstaal moet beluister, dan gee hy 'n raad wat

baie groot skrywers van alle volke gevolg het. Dit is bekend hoe Vondel,

Hooft, Brederoo en ander sewentiende-eeuers gedurende die wordingsproses

van die Neerlandse taal geput 't uit die sappige volkstaal. Hooft sê in

'n brief van 1630: "Verworpelingen van woorden van straet op te raepen

ende doen dienen daar ze deugen, al was 't onder de edelen, daer kan men

eer af hebben". Van Vondel vertel G. Brandt: "Om op elke stof en zaak de

rechte spreekwysen te vinden, onderzocht hy, by allerley slagh van

menschen, wat Duitsche woorden elk ontrent zyn werk, handteering en

kunst gebruikte. De landtluiden vraagde hy, hoe sy spraaken ontrent den

landtbou, en hoe ze 't geen daar toebehoorde noemden, en uitdrukten.

Ontrent den huisbou vraagde hy op gelyke wyse de timmerluiden en

metzelaars: ontrent de zeevaart en 't scheepstuig de zeeluiden; ontrent

de schilderkunst, en wat daartoe hoorde, de schilders: en zoo voort

ontrent alle ander bedryf, wetenschappen en kunsten. Dit strekte tot

opbou der taale en om van al wat hem voorquam met woorden die de zaake

eigen waaren te spreken."[141] Dit is presies wat Von Wielligh met groot

ywer en toewyding gedoen het en die uitkomste van sy jarelange ondersoek

is dikwels verrassend. Maar dit is van meer belang vir die taalwetenskap

as vir die letterkunde, omdat Von Wielligh geen kunstenaar is nie, wat

uit sy versamelde gegewens 'n werk van skoonheid kan skep. Hy is

eenvoudig 'n belangstellende leek, wat hom verlustig in die "raak

kolskote"[142] van die "spraakmakende gemeente", wat "sy lag nie kan

bedwing vir die raaksê-uitdrukkings"[143] van die volksvernuf nie. As hy

binne "die grense van sy eie ploegland"[144] bly, en die gesprekke van

eenvoudige volkstiepes of inboorlinge weergee, bereik hy dikwels 'n mooi

effek, maar sodra hy hom "werp op die vleuels van praalskrif" dan gee

dit 'n lelike misoes af. Van sy fyn opmerkingsgawe waar dit dinge uit

die alledaagse lewe geld, uit die boerebedryf en jagveld getuig byna

iedere pagina van sy werk. Ook die gewoontes van die diere het hy ywerig

bespied. Hy het honderdmaal geluister na geselsery oor "pynplekkies en

weersgesteldheid"[145], hom "knippeldik" versadig aan die kwinkslae en

"pittige" gesegdes van eenvoudige siele, wat jarelank in die veld- en

woestyneensaamhede rondgeswerf het. Daarom is daar in sy beeldspraak so

dikwels 'n plat-by-die-grondse geestigheid, 'n kombuisagtige bysmakie,

daarom verlustig hy hom in bywonergrappies.

Wanneer hy binne "die grense van sy eie ploegland" bly, dan is sy

beeldspraak ook baie beter as die van sy "praalskrif". Ter tiepering 'n

paar voorbeelde: "Mog daar 'n verskilletjie ontstaan, word dit so gou

doodgedruk as die vonkie wat val op 'n pyproker se broek (_H. en V._, p.

15); "Niemand kry die eer om hom te fop nie; hy lê altyd vir hulle

klaar, nes 'n haas wat met sy oop oë slaap, of nes 'n ystervark met sy

skerp penne, na die bedrieër toe." (_S. j. M._, p. 68.) "Vat hom aan sy

hakskeen, en jy kry 'n terugskop met die polvy van 'n velskoen, waarin

'n nommer-12-voet sit, om jou maagpyn en winduit op jou hurke te bring;

dan pak hy die parmant aan die arms, ... stamp hom nes 'n karringstaf op

en af, tot hy hik." (id., p. 12); "Daarom het al die mans in daardie dae

nes spinnekoppe gelyk wat tot agter hulle nekke oopgeboener was." (id.,

p. 6); "Fant het net soos iemand wat korhaan jag, om en om Sytjie gestap

tot sy gaan sit, toe korrel hy" (id. p. 229); "Wie sy ou steeks perd,

wat gewoonlik agteruitbeur as daar seekoegate agter is, verruil vir 'n

ander wat gewoonlik die vaart neem as daar miershope en slote voor is,

weet bepaald dat hy deurgaans in die midde van onsekerheid verkeer."

(id., p. 239). Rosa "sal haar laaste seep uitleen en dan haarself met 'n

baksteen skrop" (_Jakob Platjie_, p. 166). Abdol maak geld "soos

gemaalde koffie uit 'n meul." (id., p. 71.) "Oom, my bokke is regtig

mooi--hulle kloue kraak nes blinkleer stewels as hul so rondstap." (id.,

p. 57.)

Wanneer Von Wielligh nou sulke uitdrukkings gebruik, dan bly hy binne

sy eie ervaringssfeer en ofskoon daar geen sprake is van digterlike

siening nie, voel ons direk dat alles eg en deurleefd is. Maar te

dikwels vergeet hy dat die lekker-gesels-praatjies om die wagvuurtjie in

die oop veld sleg pas in die sitkamer en dan verspreek hy hom lelik. So

lank as hy nog by die wagvuurtjie bly, kan ons soms met genoege luister

na sy jaganekdotes en vertellings van die ou dae, dan hinder sy gekruide

styl ons nie, omdat dit so innerlik-eg is, so getuig van intieme omgang

met die natuur in sy oer-staat. Maar sodra hy die sitkamer binnestap,

begint hy op onnatuurlike toon te preek,--dan rek hy "'n

taai-tammeletjie so lank uit as (hy) kan"[146] en jaag die geselskap

uitmekaar deur sy "pittige plat taal". Die gedurige botsing tussen sy

natuurlike geselsstyl en sy onegte "praalskrif", wat hom verlei tot 'n

ridikule vermenging van hoog en laag is juis wat ons kriewelrig maak.

By die bespreking van _Huis en Veld_ is aangetoon, dat hy _Kleopas

Kipie_ maklik uitstof, wanneer hy sy sondagse manel aantrek. Dan word hy

gewoonlik onverstaanbaar in sy geaffekteerde hoogdrawendheid. "Met hulle

(die Trekkers) aangesigte na die noorde gekeerd, dwaal hulle dáár ver in

die suide op die agtergrond en sit op die verlede te broei. Die verlede

is vir vleis en bloed onnaakbaar; dog ons herinneringe, nes 'n

vliegtuig, is in staat om ons uit die deinsige hoogte op ons ou

dwaalplekke te laat neerkyk. Hulle sien uit hulle voëlvlug die ouderlike

woning, waarin hul die besitters van lewe met sy worstelinge geword het;

hulle sien die speelplekke met die waentjies en poppe wat hul

verbeeldingskrag gevoed en uitgeswel het, om deur bespieëling die weg

van toepassing te volg; ... Daarop keer die herinnering langsaam terug

... tot waar hul daardie aand gesit het. Dan lei Herinnering hul tot

onder die uitgebreide vleuels van Hoop, wat hul aan die hand vat ..."

(_S. j. M._, p. 282-283). Dit is seker nie moontlik om meer "vishoekvas

in die spinnerakke"[147] van jou verbeelding te raak nie, om nou 'n

tiepiese Von Wiellighaanse uitdrukking te gebruik. Eers _dwaal_ die

Trekkers, dan _sit_ hul "op die verlede te broei". Hul herinnering word

met 'n vliegtuig vergelyk; die vliegtuig kry 'n hand wat deur die

gevleuelde Hoop gevat word! Hiermee kan vergelyk word _Eerste Skrywers_,

p. 106: "Die heldemoed van die Afrikaner daar aan die dag gelê, het die

sluise van nasionale ontwaking oopgetrek; want die volk werd daarvoor

intyds ryp gemaak, sodat die verrassing nie as 'n onweerslag op hulle

gekom het nie."

In die voorwoord van _Huis en Veld_ kom nog 'n voorbeeld van verwarde

beeldspraak voor: "Hierdie swakke poging, deur ons aan die hand gegryp

om 'n druppeltjie in die emmer te laat val--is dit mis, dan is dit

mis,--is die uitvloeisel van 'n dryfveer, wat ons aanspoor, nie alleen

die skouer teen die wiel te sit nie, maar om ook volhardend ons hele

gewig daarop te werp. Ons mog in die voorreg deel om vanaf 1875 as

handlanger en baksteen-aangeër met die opbou van ons Afrikaanse

taalgebou mee te help ..." Sulke voorbeelde is daar baie in Von Wielligh

se werk.

As voorbeeld van die komiese effek veroorsaak deur die teenstelling van

sy gewone en kamma-verhewe styl kan die volgende uit die twede paragraaf

van _Eerste Skrywers_ (p. 1) dien: "Graag het ons gesien dat 'n

bevoegder lid ... sy kop oor die onderdeur van ons hartbeeshuis gesteek

het om te antwoord op die herhaalde aanklop." Maar dan word hy meteens

deftig: "Broeders en Susters! Blyhartig werp ons vir ons op die vleuels

van die gedagte om terug gedra te worde tot daardie dae, toe die sonskyf

van ons goeie nasionale taalsaak sy vergulde rand nog net so effentjies

bokant die donkere berge van onbewustheid en sluimer uitgesteek het."

Dan hoor ons van "'n koue harnas van geheimhouding oor ... brandende

gevoele", van "'n Afrikaanse boom, wat daar sy takke vry in ons heldere

lug uitbrei ..." en verneem dat in die dae "besigheid so slap soos

pannekoekdeeg en handel so plat soos die pannekoek self was"!

Tot welke onsinnigheid Von Wielligh hom deur sy opgeskroefdheid laat

verlei, blyk uit die volgende voorbeelde: "Hierdie pragtige stukkie

landskap is met die penseel van die verwoestende mensehand op die

seildoek van die skone panorama doodgeskilder, sodat dit daar nooit weer

sal verskyn nie." (_H. en V._, p. 71.) Die herhaling op die end is

tiepies. "Watter angs dit op die kindersiel afgespieël het val beter vir

die gedagte om dit te ontplooi as vir die pen om dit neer te grif" (_S.

j. M._, p. 272); "Hulle monde was meer vloeibaar as die vloeistof wat

uit die man se klere tap." (id., p. 243); "Toe eers ontprop hy sy

opgebottelde gedagtes en gee hul onsigbare vleuels om oor die

gebeurtenisse van die dag, oor die twee jongmeisies en oor homself te

laat vlie." (id, p. 84) "Selfs die kristallug, waar die sterretjies uit

die onmeetlike verte neerkyk, is tans met 'n swart plafon toegespyker."

(id., p. 167.) 'n Voorbeeld van Laag-by-die-grondse humor staan op p. 95

van _Staan jou Man_. Daar ontmoet ons ook nog juffroue, wat bordjies dra

met die opskrif: "alle toegang ten strengste verbode" en wat hul

voorstel hoe hul "'n weg sal baan deur 'n Eden van aardse saligheid"!!

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 7 / 27 段