_Jakob Platjie_ is 'n etnologiese museum, vol opgestopte Hotnots,

Korannas en Boesmans. Hulle is kunstig opgestel te midde van 'n

nagebootste omgewing. Daar is 'n klipspelonk met mooi tekeninge, 'n

Boesman wat staan uintjies uitgrawe met sy harde kierie, en 'n paar

ander wat wild bekruip. Verder lê daar egte Boesmanspyle, ramkies, ens.

Die ou wildvelle wat die Hotnotpondokkie bedek, is effens opsygeslaan,

sodat ons 'n goeie idee van die konstruksie kan kry. Von Wielligh loop

tussen die opgestopte poppe rond, vertel allerlei anekdotes, verklaar

hul lewenswyse en die gebruik van die primitiewe gereedskappe. En in sy

hande dra hy 'n besonder oulike Hotnotpoppie, wat hy Platjie noem en wat

hy soos 'n geoefende buikspreker allerlei vrae laat stel, as die

museumbesoekers al bietjie dooierig word van die muwwe lug. "Tata en

memme, waar lê tog die danige geboorteland van julle?" (p. 6); "Toel,

waar lê jou geboorteland?" (p. 58); "Oom Bles, waar lê daardie land van

jou?" (p. 95); "Oom Ruiter, wat moes 'n mens eintlik maak as hy skielik

in die veld teen wilde Boesmans dam?" (p. 188), ens. En dan begin Von

Wielligh, as museumdirekteur weer te vertel van die ou dae se volk,

terwyl Ruiter, Toel, Oom Bles en Tys Bokkies by ons staan met hul stywe

gesigte en beweginglose lede. Telkens verseker hy ons, dat alles werklik

waar is: "Die verhaal lyk baie romanties, maar is eg Hottentots in al sy

besonderhede." (p. 58); "Hier volg nou 'n diskoers wat ons so dikwels

onder Hotnots, Korannas en Boesmans hoor vertel." (p. 95.)[115] Soms

raak die direkteur so erg boos op sy poppe, dat hy hulle reguit

toespreek en dan gelyk sy beeldspraak erg veel op die van 'n Griekwa

predikant soos Kleopas Kipie "O skynheilige mensdom, wat sy medemens

oordeel. As die helder soeklig op almal gedraai word, hoeveel

blikskottels en blikborde sal van die rakke tussen die silwergoed moet

pad gee. En hoeveel sal bly staan, wat as egte sterling silwer verklaar

word!" (p. 51.) Maar as Von Wielligh regtig ernstig word, dan draai hy

sy rug op die poppe, gooi vir Platjie ook weg en trakteer sy besoekers

op 'n lang etnologiese verhandeling. (Hoofstuk X.)[116] As 'n mens ook

so oorloop van kennis is dit erg lastig om nog altyd eers iemand 'n

sopie te moet injaag voor sy tong loskom! Of om iemand van Europa te

laat oorkom soos Dr. Kleiner....

Ons moet dit op prys stel dat Von Wielligh sy ervarings onder die

inboorlinge te boek stel. Maar dit is erg jammer, dat hy nie ingesien

het, dat hy sy eie kuns vermoor deur kort-kort allerhande didaktiese

byvoegsels en onnatuurlike dialoog daarin te wring, in plaas van sy

uitgebeelde persone, _soos die lewe self is_ deur hul eie natuurlike

geaardheid en as gevolg van die omstandighede van hul bestaan _vanself_

een of ander mening te laat bewys of suggereer. Hy is verplig om soos 'n

museumgids by sy eie werk lang toesprake te hou, waarskynlik omdat hy

gevoel het, dat die werk self nie sprékend leef nie.

Platjie is, soos reeds aangedui, niks anders as die pomp, wat Von

Wielligh gebruik om die water bo die aarde te kry. Ook in sy droom bly

hy nuuskierig. "Hy voel hom so kalm as 'n lam en luister met gespanne

aandag" (p. 224). As Platjie moeg word vir die pompery, dan kom Koos

Fonk help en later Dr. Kleiner. Maar die droom van Platjie is tog nog

die wonderlikste ding in die boek! Dis nie sommer vandag se Hotnot, wat

só kan droom nie! Platjie hoor 'n koningin sê: "Sien jul daardie

berge--ver en naby? Sien jul die klowe met hul trippelende en murmelende

kristal strome? Sien jul die vlaktes waarop die heide vir die

skoenlapper en die by met nektar versadig? Sien jul die hemelpurper,

waarheen wolkies van vlas deur die son met goud geverf word?" (p. 224.)

As Von Wielligh dan so veel belang stel in die goudmyn van Ofir--'n

onderwerp, wat ook die leier van die Patriotbeweging in 'n roman bewerk

het--laat hom dan in 'n wetenskaplike blad sy opienie lug. Maar hy hoef

ons nie te kom wysmaak, dat 'n Hotnot, al is hy ook so danig geleerd

soos Platjie, só kan droom nie. Dit is 'n psigologiese onjuistheid, so

onbeskaamd-astrant, dat dit selfs die onnoselste "minder bevoorregte"

moet opval.

Huis en Veld.

Willie Rosveld is vyf jaar op jag gewees, neem sy vader se

produktebesigheid oor en trou met Hessie Bendel. Sy vrinde is Frans le

Blanc, 'n ongetroude slagter, en Dolf Baumann, 'n rytuigverhuurder en

groenteboer. Die famielies gee 'n piekniek, vier nuwejaar en gaan saam

strand toe. Dan trek hul na die diamantvelde. Ewert, Dolf se oudste

seun, gaan saam met 'n trek na die Dorsland. Frans word intussen

voorsien van "'n altyd laggende Amalie" (p. 146), 'n weduwee met 'n

groot veeplaas in Transvaal, wat hom trou "omdat sy (hom) van sy jeug af

ken ..." en omdat hy "as slagter, so grondig met veeboerdery bekend was"

(p. 147). As die goudvelde in Transvaal ontdek word, dan trek Willie en

Dolf weer soontoe. Hulle word ryk, kuier rond, besoek Pretoria, waar hul

met Oom Paul en Genl. Joubert gesels, maar word op hul ou dag van mekaar

geskei.

* * * * *

_Huis en Veld_ is 'n poging om die maatskaplike en ekonomiese toestande

omstreeks 1870 te skets. In plaas van _memoires_ te skryf, probeer Von

Wielligh om die mense van 'n halwe eeu gelede self op die toneel te

voer, wat hom egter jammerlik misluk. Hy piets hul met 'n swepie deur al

die vier provinsies rond, sodat hy 'n kans kan kry om van die ou dae te

vertel. Dolf het gelukkig 'n seun, wat Dorsland toe kan trek, maar ons

voel nie, dat dit Ewert is wat al die ellende deurmaak nie. Dis

eenvoudig Von Wielligh, wat 'n opstelletjie skryf. Hy laat Willie trou

"nie om 'n liefdesverhaal in te voer nie, _maar wel om die gebruik, of

gewoonte, van daardie tyd aan te gee_" (p. 30). So gaan dit die hele

boek deur. Hy vertel, o so veel van die uiterlike omstandighede en van

die swerftogte van sy mense. Ons hoor wat die koring gekos 't, waarvan

hul brood maak, ons weet hoe hul 'n kers snuit, dat hulle "in daardie

tyd net so goed tandpyn gekry (het) as nou" (p. 22)--maar die mense self

ontmoet ons nooit. Hulle is nie eers aangeklede poppe in 'n museum van

oudhede nie, hulle is bloot _name_.

Met 'n klein wysiging kan ons Von Wielligh sy eie woorde toeroep: _"Die

huis moenie 'n preekstoel wees nie en die veld nie 'n voorlesingsaal

nie."_ (p. 88.) Dit is juis wat hy doen. Luister maar na hierdie

ouderwetse preek: "Jare is die vasgeklinkte skakels van 'n eindlose

ketting, en snoer aan mekaar tot in ewigheid; ons persoonlikheid is maar

as druppeltjie daaraan, om spoedig te verdamp en sy plek ken hom nie

meer nie ... Dis die laaste dag van die jaar; maar nie die einde van tyd

nie--(sou die "minder bevoorregtes" dit miskien nie weet nie?

P.C.S.)--tussen die begin en einde van oneindig ewigheid is geen middel

nie. (Q.E.D.!) Net soos die grootste hemelliggaam 'n stoffie in die

oneindige ruimte is, net so is eeue 'n oogwenk in die ongebroke snoer

van tyd," (p. 48-49.)[117] Op p. 32-33 word ons in egte traktaatjiesstyl

vertel hoe iemand "diep onder die grond in 'n dronkaardsgraf" geraak

het.

Dat daar 'n geestelike verwantskap tussen Von Wielligh en Kleopas Kipie,

die Griekwa-predikant bestaan, bewys die volgende: "Net so onsierlik as

'n blomtuin sonder blomme, so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters,

of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se bors, net so sal

die samelewing op aarde sonder vrouens wees. Daarom, groot is jou mag, o

vrou, sien toe dat jy dit op die regte tyd, en op die regte wyse

gebruik. Maar nie om berge te wil versit, of te uithaler te wees in 'n

kamer waar rotte komedie speel nie ..." (p. 121).

Die selfde Oom Ignaas, wat beweer dat die huis geen preekstoel moet

wees nie, sit ewe getroos twee paginas vol te preek oor huweliksgeluk

(p. 87-88), en sy vrou klop hom nog, want sy het byna drie blaaie nodig

voor sy uitgepraat is, (84-86). Op p. 79 preek Oom Ignaas weer oor

weeskinders en so sou daar nog meer voorbeelde aan te wys wees, wat net

danig "met slaapstof gespesery" is.[118]

Die dialoog is meestal onnatuurlik. Soos 'n egte boekeheld sug Willie:

"Ag mag ek die onsterflike glimlag nog eens op moeder se lippe sien, of

die welgemeende raad van vader aanhoor!" (p. 4.) En watter Boermoeder

sou so praat: "Willie, ons is bly dat jy die veld deurreis het, _waar

alles deur die Natuur self geplant is_...." (p. 9). En Frans, die

slagter, die man wat sê: "Liefde is eiebelang en selfvermaak" (p. 148),

slaan ook 'n snaakse taaltjie uit by die Duiwels-Kantoor: "Waar is die

skilder wat die landskap op seildoek kan weergee! Waar is die digter om

die grillerige aanblik in woorde te beskrywe!" ens. (p. 157).

Ou Kammies, wat so dapper met die doringstomp spook is goed geteken. As

hy praat dan luister ons graag, want sy taal is nie net 'n aftreksel van

Von Wielligh s'n nie. "Maar seur,--nou?--nou kraak my ou litte van

kanniemeernie en ek kan nie eers meer daardie klip raak spuug nie" (p.

47). Een so 'n sinnetjie laat ons direk voel dat ons met 'n _mens_ te

doen het. Hoe raak is ook die toneeltjie waar Kammies met die

piekniekwaens aankom: "Wel, hoe het dit gegaan, outa Kammies?" vra

Willie. "Nee, goed seurtjie. Net jammer die wiele van die wa het van

droogte begin skree," antwoord die ou wynvlieg. "En die swaarste van al

was, outa, dat die smeergoed al die tyd op die waentjie lê," las Dolf

tussen in. "Dis by my kool die waarheid, seur Dolf! Toe het ek maar soos

bobbejaan gemaak--ander pad sit kyk." (p. 41.)

Waarom sleep Von Wielligh kinders in sy verhaal as hy hulle net heeldag

toesnou: Moenie dit nie en moenie dat nie! nes 'n kwaai oupa wat hoofpyn

het? As die arm goedjies iets wil doen, dan moet hul altyd hoor: "Nee,

volstrek nie, die muile sal jul skop" (p. 57), "die slange sal jul byt"

(p. 44) en so word hul nog vyf keer iets verbied, (p. 42, 50, 56, 57

voorlaaste paragraaf, en 67.)[119]

Wat hy in _Staan jou Man_ verklaar, is maar al te waar van homself: "...

ons wat groot en oud geword het, het magtig baie vergeet wat in die

kindersiel woon." (p. 147.) Anders sou hy die twaalfjarige Ester nie so

'n ou-menstaaltjie laat praat nie: "Kom ek om, dan kom ek om.... Sit ons

stil tuis, dan is ons tog kinders van die Dood." (p. 177.) En die

wonderlike Amerikaner, wat so netjies sug nes 'n middeleeuse rederyker

(p. 201) het ook 'n snaakse begrip van 'n kinderverstand as hy vir Ester

sê: "Hulle (die eierdoppies) het wel eens die kiem van lewe gedra, maar

is nou siellose stof geword en is tans oorblyfsels van verongelukte

verwagtings, nes die graffies van kinders wat slegs tydelik aan hulle

volk geleen was." (p. 201.)

Eweas in _Jakob Platjie_ hou Von Wielligh ook in _Huis en Veld_ lang

verhandelinge oor die toestande van 'n halwe eeu gelede, wat heeltemal

los staan van die verhaal. So kry ons in hoofstuk III besonderhede oor

poswese, boerdery, kerk, skool, spoorweë en ... swawelhoutjies. Daar is

historiese uitweidings en 'n beknopte geskiedenis van die

Patriotbeweging; 'n definiesie van 'n lugspieëling (p. 109), wat sou pas

in 'n handboekie oor aardrykskunde, 'n boereraad teen koorssiekte en 'n

persoonlike appresiasie van die deugde van Engelse sout, kienapille en

"grou vomitief", ens. ens. Von Wielligh het ongetwyfeld 'n goeie kennis

van die tydperk wat hy beskrywe en sou seker 'n handboekie kan opstel

wat vir die historikus en argeoloog nuttig sal wees, as hy maar net leer

om te onderskei tussen gewigtige en onbelangrike sake en hul nie heel

deftig vertel dat "die graanboer meestal sy gesprek voer oor graan ploeg

en afoes; die wynboer belang (stel) in wingerde en wyn, en die veeboer

verdiep (is) in sy skape en beeste ..." (p. 57-58). Hy kan gerus aanneem

dat iedere normale mens dit oor vyftig jaar ook nog sal weet! Laat hom

in elk geval nie weer probeer om sy kennis soos Koos Fonk in 'n roman

rond te smous nie, want ook op letterkundige gebied is sulke

smokkelpraktyke strafbaar.

Staan jou Man.

In _Staan jou Man_ word die boerelewe op die ooster-grense van die

Kaapkolonie in die tyd net voor die Groot Trek geskets. Gert Markeland,

weens sy groot lengte bekend as "Groot Fant" woon op die plaas

Kliphuiskoppie in die nabyheid van Grahamstad. Een van sy bure is Samuel

Firtree, 'n Engelse "setlaar", wat egter heeltemal Afrikaner geword het.

Jakob Raster, 'n Hollandse matroos, is Daan Wiks se skoolmeester. Groot

Fant gee op sy verjaarsdag 'n groot fees, en later word trekplanne op

Org Dapperman se plaas bespreek. Daar word 'n tier geskiet, by welke

geleentheid Raster les kry in perdry. Frankie Daai, 'n ou-jonkman maak

flikkers by Sytjie, wat skielik ryk geword het deur 'n groot erfenis,

maar word deur sy handelsvennoot Soekie Grasman uitgeoorlê. Victor, die

seun van Firtree, skiet per ongeluk Org Dapperman dood en verwond sy

vrou, waardeur die trekplanne uitgestel word. Allerlei kaskenades van

Rennie, Groot Fant se seun en Ester, Dapperman se dogter, word verhaal.

Ester red die bewoners van Kliphuiskoppie deur op dapper wyse die aantog

van Kaffers aan die bure bekend te maak. Plase en meubels word verkoop

en voorbereidings vir die Trek gemaak. Intussen het Daai en Grasman in

die tronk geraak en Groot Fant Sytjie gekies om die plek van sy oorlede

vrou in te neem. Die verhaal sluit met enige awonture van die trek.

* * * * *

Uit _Staan jou Man_ blyk ten duidelikste dat Von Wielligh se

intriegemasjienerie net 'n paar radjies het, wat al lelik uitgeslyt is.

In _Huis en Veld_ het hy tweemaal gebruik gemaak van 'n verlore brief

(p. 117 en 125), in _Staan jou Man_ doen hy dit nog eens (p. 103) en ook

in Jakob Platjie speel 'n brief die rol van verklikker (p. 85). In

_Staan jou Man_ bewys Sytjie ook nog Daai en Grasman se onskuld deur 'n

brief (p. 237).[120]--Koos Fonk se verjaarsdagfees by Gansmond word

beskryf (Hoofstuk XII)[121]; in _Huis en Veld_ is daar Nuwejaarviering

(Hoofstuk VII), in _Staan jou Man_ alweer 'n verjaarsdagfees (Hoofstuk

VI), en daarby nog 'n poffertjiesparty (Hoofstuk III).--Platjie sien

"skrifgeleerde" visioene, nadat hy soutvleis en stormjaers geëet 't (p.

222), Frankie Daai ooreet hom aan buffelkarbonaadjies en word deur 'n

lelike nagmerrie gery (Hoofstuk IX).--In _Huis en Veld_ skrik die

vrouens hul lendelam vir spinnekoppe (p. 181) en Tant Annie het groot

respek vir klipsalmanders (Hoofstuk II).--Die vrindskaplike verhouding

tussen die famielies in _Huis en Veld_ vind ons onder gewysigde

omstandighede terug in _Staan jou Man_. Jakoba word skielik ryk (_H. en

V._ p. 114), Sytjie ook _(S. jou M._ p. 90) en albei kry dadelik vryers.

Birdie se twee vryers raak albei in die moeilikheid deur hul slim

planne, Sytjie s'n netso. En so sou daar nog meer ooreenkomste aan te

wys wees.

Die oorvloed van los anekdotes in al drie boeke is ook opvallend. In

_Staan jou Man_ loop so baie kruispaadjies, dat ons glad van die

grootpad verdwaal. Die skrywer het dit blykbaar self gevoel, want hy

begint Hoofstuk XIV aldus: "Ons verlang nou al so baie na Kliphuiskoppie

... dat ons nou g'n minuut langer sal versuim om daarheen te gaan nie."

Die enigste draad, wat die anekdotes verbind, is dat almal bewys, dat

die persone hulle _man kan staan_. Dit word so 'n opeenhoping van dapper

dade, dat mens naderhand voel, dat die kindere Enaks weer opgestaan het,

terwyl Groot Fant 'n reinkarnasie van Simson is. Dat hy nog die moeite

doen om die pilaar van die kliphuis met kruit weg te blaas en dit nie

sommer omstoot nie, soos sy prototiep met die tempel van die Filistyne

gemaak 't, bly 'n raaisel!

Dit spreek vanself dat by 'n roman, waarin die skrywer probeer om deur

'n semelagtige aaneenstrengeling van awontuurlike voorvalle te bewys,

dat die vernaamste persone almal hul man kan staan, van die psigologiese

uitbeelding niks tereg kom nie. As hy die smart van die trekkers moet

uitbeeld, wanneer hul die Kolonie verlaat, dan roep hy uit: "Ons verberg

ons gesig vir die warme trane van afskeid, ons sluit ons ore vir die

_hartverskeurende_ snikke, wat sielesmart vertolk.... Vroue en kinders

wink mekaar toe met hulle hande of sakdoeke, en die mans waai met hulle

hoede--alles tekens van 'n _hartgevoel wat woorde magteloos slaan om

(dit) te verklank"_ (p. 240-241).[122]

Dieper dan die trane en die sakdoeke kan hy nie sien nie en daarom wil

hy sy oppervlakkigheid agter 'n retoriese poespas wegsteek. Met die een

voorbeeld kan ek volstaan en merk alleen nog op, dat daar selfs geen

goedgetekende Hotnotsfiguur in _Staan jou Man_ is nie.

Die neiging om lang "moralisatiën ende contemplaciën" oor sy persone

te hou, is in _Staan jou Man_ nog baie hinderliker dan elders. "En as

ons Frankie Daai so sien lê, dan rys die volgende oorwegings in ons

gedagte op:--" (p. 86). Wat die "oorwegings" met die slapende Frankie

te doen het, weet Von Wielligh alleen, want dis 'n beskrywing van die

winter!! As Frankie egter eers gedroom het, dat Sytjie hom wurg, maak

"hierdie afgryslike gesig ... verder 'n beroep op ons nadenking" en

dan pas merk ons dat die wintertoneeltjie 'n aanlopie was vir 'n

uitgewerkte preek oor die "vraatsugtige Mens", by welke uitroep ons

seker aan Frankie se gulsigheid met die buffelkarbonaadjies moet dink!

Maar dis glad mis! Die "vraatsugtige mens" handel nes die "kille

nagwindjies"! So raak ons "toegespinnerak" in die "stowwerige webbe"

(p. 88) van onverstaanbaarheid.

Op p. 186 versoek hy die "waarde leser" om die pen uit sy hand te neem

"om die blydskap van tant Annie _in skrif_ ... neer te _skrywe_"; op p.

147 staan 'n prekie oor kinders in Griekwa-styl; op p. 270 vertel Ester

en Rennie "hulle awonture en uitredding, _wat ons as volg teruggee_".

Die verklaring van _stormjaers_, p. 26, wat hy oor en oor gee in byna al

sy boeke, en die beskrywing van 'n _kakebeenwa_ moet hy bewaar vir sy

oudheidkundige handboek.

Boesman-Stories.

"The religion of the Bushmen is made as clear from their own recitals

as such a subject can be, when it is remembered that the minds of the

narrators were like those of little children in all matters not

connected with their immediate bodily wants. Their views concerning the

sun, moon, and stars seem utterly absurd, but a European child five or

six years of age, if not informed, would probably give no better

explanation. Their faith too, that is, their unreasoning belief in many

things that to an adult European seem ridiculous, is seen to be that of

mere infants." So lui die verklaring van Dr. Theal in sy inleiding tot

_Bushman Folklore by Bleek and Lloyd_ (p. XXXVIII) en wie die eerste

deel van Von Wielligh se _Boesman-Stories_ (1919) gelees het, moet die

juistheid daarvan erken. Die stories verplaas ons in 'n spook-wêreld,

waar alles met toordery aanmekaar hang, waar die snaakste

gedaanteverwisselinge plaasvind en die aller-gekste maneuwers uitgevoer

word. In die wonderlike gedoentes is daar weinig logiese gang; daar is

geen kliemaks wat steeds die belangstelling gespan hou, geen goeie

motivering, geen artistieke, harmoniese eenheid nie. Meestal weet ons

nie of ons met mense of diere te doen het nie, want ofskoon die diere

gewoonlik enkele kenmerkende eienskappe hou, word die juiste maat in hul

vermensliking selde getref, en verrig hul dade, wat al te spesifiek

menslik is. So lees ons van 'n uil, wat sy mes laat val (I, p. 117), 'n

aasvoël, wat 'n springbok skiet (II, p. 19), 'n leeuwyfie, wat met

Boesmankinders saamwoon en hulle met knopkieries wapen (II, p. 109), 'n

tier wat hom as 'n reisiger vermom (II p. 140). En van sulke voorbeelde

krioel die stories. Dit word ten slotte 'n marteling om die grillige

kronkelinge van die Boesman-fantasie te volg. Van skoonheid uit

letterkundige oogpunt is daar heel weinig te bespeur in die kinderagtig

inmekaargedraaide versinsels, waaraan mens geen osseriem kan vasknoop

nie. Vir die etnoloog mag die gegewens, wat Von Wielligh met sulke

prysenswaardige ywer byeenversamel het van groot waarde wees, maar vir

die letterkunde is alleen enkele verhale uit die eerste twee dele van

enige betekenis. Mooi is nommer 41 waar 'n leeu met 'n klein meidjie by

die wagvuur speel. En so is daar ander toneeltjies uit die swerwende

jaglewe van die Boesman, wat treffend is deur oer-naïewe eenvoud; ook

raak skildering van diere (b.v. in nommer 44), maar selde 'n skone

geheel.

In die eerste deel word hoofsaaklik die mitologie behandel, deel twee

bevat dierstories, terwyl die derde deel eintlik geen reg op die naam

_Boesman-Stories_ het nie, want dis 'n geskiedkundige verhandeling oor

die "sedes, gewoontes en bekwaamhede" van die Boesman. Heelwat

besonderhede, wat reeds in _Jakob Platjie_ en die eerste twee dele

voorkom, word hier herhaal, te same met persoonlike herinneringe en

allerlei anekdotes, wat die skrywer van ander persone verneem het. In

eenvoudige taal vertel Von Wielligh alles wat hy van die Boesmans weet.

Gelukkig het hy sy meedelings nie "met 'n vergulde nerfie

oor(ge)blaas"[123] nie, want soos uit 'n nader bespreking van sy styl

sal blyk, is 't juis dìt, wat hinderlik is in sy romans. Hier loop hy

eenvoudig padlangs en vir die ondersoeker van Boesman-gewoontes deel hy

heelwat wetenswaardigs mee. In die voorwoord van die derde deel verklaar

hy, dat dit "van 'n wetenskaplike aard" is. Populêr-wetenskaplik sou

juister wees, want Von Wielligh is met als sy persoonlike ervaring 'n

leek sonder etnologiese vorming, wat geen begrip het van die groot

verband van sy onderwerp, en wat hom deur sy hartstog vir die Boesman

tot allerlei gewaagde en moeilik bewysbare generalisasies laat verlei.

So verklaar hy op p. 73, dat die Boesman 'n paar oë het, "om ver en raak

te sien soos nog geen ander menseras hom op kan beroem nie", en op p. 68

verseker hy ons, dat daar "op die Europese toneel min ... dansers (is),

wat 'n Boesman in 'n riel sal uitstof ..." Op p. 21 verklaar hy: "soiets

as mis-skiet ken 'n Boesman glad nie", terwyl hy kort daarop moet erken:

"In sterk wind is hy minder gelukkig". Die meedeling oor die slangsteen

op p. 52 is seker ook nie van wetenskaplike aard nie, ewemin as die

snaakse definiesie van "deursigkunde--dit wil sê, om voorwerpe op 'n

tekening op verskillende afstande voor te stel" (p. 67). Vir die vakman

sal die volgende bewering ook stellig nie van veel nut wees nie: "Sy

voedsel (d.i. die Boesman s'n) bestaan byna uit enige ding--al wat hy

nie eet nie, is wat hy nie in hande kan kry nie." (p. 21).

Die vierde deel bevat "gemengde vertellings, mees van 'n awontuurlike

aard", wat die skrywer gedeeltelik self opgeteken 't en gedeeltelik aan

ander bronne ontleen 't. Daar is 'n paar goeie jagstories en verhale wat

ons 'n kyk gee op die awontuurlike lewe van die boere teen die end van

die negentiende eeu. Uit letterkundige oogpunt is dit die besgeslaagde

bundel, ofskoon ook hier die psigologie soms nie dieper as die boonste

nerfie gaan nie, soos blyk uit die volgende: "Dis wonderlik watter

indruk so 'n verandering in die lewe van 'n Boesman maak. Hy kom uit die

wildernis, alwaar beskawing nog op sy beurt wag. Hy kom in Kaapstad en

sien treine, skepe, hoë huise, en hoe baie mense daar besig is. Die

groot winkels met alle soorte goed wat hy nie ken nie, is vir hom 'n

wonder bo wonder." (p. 132.) Met dit al het Von Wielligh met die

versameling van die stories 'n verdienstelike kultuur-historiese bydrae

gelewer. Wat hy met onvermoeide speursin uit verborge hoekies en

gaatjies gehaal 't sal altyd van belang bly, maar waar dit ons hier te

doen is om letterkundige skoonheid, moet gekonstateer word, dat die

geaardheid van 'n groot gedeelte van die stof sodanig is, dat dit slegs

vir wetenskaplike doeleindes geskik is.

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 6 / 27 段