"Ons wil (die) skrywers net daarop wys, dat hul ons letterkunde 'n groot
diens sal bewys as hul, voor hul aan die skrywe gaan, eers 'n bietjie
wil studeer en nadink oor die wette wat gedurende die eeue heen in hul
besondere kunsvak geformuleer is." In 1920 word dit nodig om aan die
talryke skryflustiges die volgende waarskuwing te gee: "Kyk, die
Afrikaanse Taalbeweging het darem nou 'n stadium bereik waarin ons nie
meer alles wat daar in druk verskyn as hemelval hoef te begroet nie"
(E.C. P(ienaar) Nov.). _Slypsteen_ ontlok aan M.T. die versugting: "Van
Lennep, Van Lennep en sy geesgenote--dat hulle tydperk hier in S.A.
verbygaan!" Daarby word gevoeg: _Slypsteen_ "weet oënskynlik nog niks
van die groot strome in die hele nuwe Europese letterkunde nie." (Julie
1921.)
Dat daar vir die Europese en meer spesiaal vir die Nederlandse
letterkunde so weinig, of glad geen plaas ingeruim word in _Die
Huisgenoot_ nie is 'n gebrek, waarop ek in die uitgawe van Desember 1920
gewys het. "Van die kunsafdeling in ons tydskrifte verwag ons veel meer.
Dit behoort ons op die hoogte te hou van kultuuruitinge en -strominge in
ander lande. Deur ons geografiese ligging loop ons groot gevaar om op
kunsgebied agterlik en geïsoleerd te bly. Ons land lê in 'n uithoek, en
die storme wat die gemoedere elders in heftige beroering bring, gly as
geruislose kabbeling om ons kuste heen, soms 'n paar verdwaalde
opdrifsels meevoerende. Vir ons tydskrifte meen ek is die tyd tans gekom
vir 'n breër behandeling van die literatuur, vir 'n intenser meelewe in
die literêre strominge van die wêreld, sonder welke dit onmoontlik is om
die literatuur van enige land te begryp. Deur vergelykende studie alleen
kom ons tot 'n besef van die groot eenheid, tot 'n begrip van die
menigvuldige aanknopingspunte tussen die nasionale en die internasionale
kultuur. Dit is onmoontlik om elke literatuur in 'n aparte hokkie te
hou. Ons moet in staat wees om 'n blik oor die gehele wetenskap te werp,
en op dié wyse alleen kan ons die onderlinge verband tussen die
verskillende dele en die grote geheel begryp."[99]
Tot die prosaskrywers, wat in _Die Huisgenoot_ gedebuteer het, behoort
A. du Biel, (_Getrou_ en 'n paar kort verhale) en A.A. Pienaar
(Sangiro). Die kort verhale, wat enigsins bo die middelmatige uitkom is
besonder skaars. Die meeste daarvan verraai 'n ongeoefende hand.
_Onsigbare Hande_ deur M. Linde (Maart 1920) en veral _Die Bosduiwenes_
deur J.W. (Des. 1920) verdien vermelding. Laasgenoemde is sonder enige
mooi-doenery, vol stemming en goed vertel. Ook die volgende bevat 'n
belofte: _Die Ou Bliktrommel_ (Aug. 1917) deur _Kleinjan_, J.R.L. van
Bruggen, die digter van _Lente-Stemme_, en _Vergeet-my-Nietjies_ deur
Rikie Postma (Des. 1921).
Van die digter, Dr. C. Louis Leipoldt het o.a. verskyn: _Wit Anjeliere_
(Nov. 1919) en _Die Transportryer se Storie_ (Okt. 1921). Hy laat graag
'n onopgeloste raaiseltjie aan die leser oor om tot nadenk te prikkel.
Dit is in ooreenstemming met sy kritiek oor Van Reenen se _Celestine_,
waar hy sê: "'n Ware kunstenaar fluister as hy by so 'n punt (waar jou
hare moet rys) kom: juis die sagte gefluister gee die indruk van
geheimsinnigheid, moedeloosheid, angs, gevaar, smart, vertwyfling."
(Nov. 1919.) Maar sy besgeslaagde verhaal het in _Die Brandwag_ verskyn
(1 Aug. 1914). Dis 'n digterlike sprokie van wondervolle teerheid: _Die
Weeskindjie, wat 'n moeder wou hê!_
Die griep-epidemie, die opstand in 1914 en die druk van die oorlog, dit
is oorsake, wat die getal "blyeyndende" verhale so klein maak in die
jare 1918 en 1919, en 'n besondere voorliefde vir die skildering van
treurige voorvalle in die hand werk. Die strekkings-verhale van
_Hermanus_ behoort tot die gebied van die traktaatjiesliteratuur. _As
Vader gaan Biljart speel_ kan dien as staaltjie, (Nov. 1921). 'n
Voorbeeld van valse romantiekerigheid gee N.H. Theunissen in sy verhaal:
_Tussen die Aand- en Môre-skemer_ (April 1920). Hy wil 'n digterlike
Voortrekkersdogter en haar dom-onnosele vryer uitbeeld. Dit sou moeilik
gaan om meer staaltjies van verknoeide viesie en onware tekening in 'n
kort verhaal bymekaar te bring. "Oor die lieflike gesiggie sprei daar 'n
tergende glimlag, ... en haar oë, _diep poele van geheimsinnigheid_,
verduister, en word _onleesbaar_." Die arme Jan kry les in digterlike
natuur-beskouing. "Kom en kyk hoe mooi lyk die groot bome, hoe hulle
hulde bring aan die sonsondergang." Die raadselagtige nooi word so
geteken: "Sy was die verpersoonliking van leed en van vreugde. Die groot
ruimtes was haar wêreld. Sy het geleef en gevoel vir alles om haar. Vir
haar _mede-wagenote_ was sy _onaantasbaar_. Hulle siele kon nie saamgaan
met haar langs die babbelende strome, na die _soemende_ bosse op 'n
blosende môre nie." As Jan haar in sy arme neem is daar in haar "geen
antwoordende vuur nie". Gelukkig, want in die dae was daar nog geen
brandweer nie! Maar nou kry Jan weer les in sielkunde: "Die bloed wat
deur my stroom, het die are van die wêreld gegee; die hart wat in my
klop, is die kloppende hart van die see. Sien jy, Jan, ek kan ook
rym!... Van uit die diepe aarde, van uit die waters het my liggaam
gekom; en my liggaam is 'n _hok_ (sic!) van drome" ... Sy dowwe verstand
kon haar woorde nie volg nie. Die beeldspraak was buite die enge kring
van sy gedagtes." Ook ons slaan dit totaal dronk! Maar die domme Jan
ondergaan 'n gedaanteverwisseling. "Sy ontvang sy lippe sonder weerstand
... Hy trek hom weg en kyk na haar oë. 'n Straal van kennis, 'n
profeteviesie het hom ingevloei". Soe! maar dis darem vir jou 'n nooi!
In die aand het "die stergegordelde nag haar omhels" en na die Soeloes
se aanval "sluit hulle hul lippe in wederkerige, ewigdurende liefde,
terwyl die bloed hulle monde oorstelp. Al die vlekke op die gesigte van
die dode word deur 'n engelehand uitgewis. Die man se gesig word kalm,
oorsprei met 'n waas van alomkennis ..."--"Geef ons natuur en waarheid
weer" mag ons wel uitroep! Gelukkig is dit op ander plekke in die blad
wel aanwesig.
§4. Ander Tydskrifte.
In _Die Boerevrou_, 'n damesblad, opgerig in Maart 1919 onder redaksie
van Mevrou K. Malherbe het 'n paar mooi verhale van Adv. Eugène, N.
Marais verskyn, o.a.: _Die Brief van Nooitgedag_ (Des. 1919)[100]. Ook
F. v.d. Heever,[101] van wie in 1919 'n bundel gedigte uitgegee is, het
'n paar veelbelowende sketse geskryf, waaronder: _Werkstaking by die
Kleigat_ (Mei 1922) uitmunt deur plastiese tekening.
Sedert Maart 1920 het 'n orgaan van die Afrikaanse Studentebond as
byvoegsel van _Die Brandwag_ verskyn onder die naam _Die Banier_. Die
inhoud was meestal van wetenskaplike aard en word hier dus nie nader
bespreek nie.
In Junie 1922 het onder redaksie van Dr. D.F. Malherbe verskyn die
_Tydskrif vir Wetenskap en Kuns_. In die voorwoord word gesê: "Ons (wil)
met hierdie Tydskrif 'n gees van ernstige studie help aankweek,
geleentheid bied vir elkeen wat oorspronklike beskouinge het of nuwe
resultate of nuwe materiaal om te publiseer.... Laat die Tydskrif dan 'n
middel wees om Afrikaans betekenis te verleen in die wetenskaplike
wêreld, om te ontplooi die rykdom van sy vormende krag, sy vermoë om die
nuwe woord te skep wat met raak seggingskrag verras, om te openbaar sy
suiwerheid en helder eenvoud, om te getuig van sy mondigheid en
bruikbaarheid op elke gebied van die geestelike lewe, om deur sy
veelsydigheid van uiting ons volkskultuur tot skoner bloei te bevorder."
Die blad wil ook gee "kunskritiek wat kan oprys uit die vlakteveld van
dorre eensydigheid tot 'n hoër plan met wyer uitsigte." Die oprigting
van so 'n tydskrif is 'n bewys van die gestadige ontwikkeling en
ernstige strewe van die Twede Beweging.
VOETNOTAS:
[74] Werk, wat later gebundel is en ook los artiekels of verhale van
skrywers, wat in die volgende hoofstukke ter sprake kom, word hier nie
behandel nie.
[75] _Goede Hoop_, Julie 1903.
[76] In die Junie-nommer 1905 merk hy op dat sommige lesers beswaar het
teen te veel Afrikaanse stukke en gee die versekering "dat na Juli de
bijdragen in 't Kaapsch-Hollandsch een zeer gering deel van ons
maandblad zullen opnemen." Na aanleiding van Preller se brosjure _Laat
't ons toch Ernst wezen_ sê hy: "Wij willen (Preller) in alle
vriendelikheid waarschuwen niet te haastig te werk te gaan.... De
invoering van Afrikaansch als schrijftaal moet zacht en geleidelijk
geschieden" (Sept. 1905).
[77] Na aanleiding van die kwessie het daar 'n vinnige polemiek ontstaan
in _Die Burger_, 12, 13, 22 Aug. en 5, 14, 16 Sept. 1921. Prof J.J.
Smith het in _Die Huisgenoot_, Sept. en Okt. 1921, 'n helder
uiteensetting en samevatting van die korrespondensie gegee. Oor die
geskiedenis van die Twede Beweging is die laaste woord seker nog nie
gesê nie, maar voorlopig is m.i. Prof. Smith se konklusies heeltemal
juis.
[78] Vgl. die eerste no., Julie 1903.
[79] Die lewensskets is aan _Die Brandwag_, Des. 1918 ontleen.
[80] 'n Paar daarvan het eers in _Ons Moedertaal_ gestaan.
[81] Ek kursiveer.
[82] In sy repliek hierop maak Preller hom van die kwessie af met 'n
paar kwinkslae oor "inspirasie-bakoond" (!) en ontydig slapende of
badende digters--grappies wat in 'n hoogstaande tydskrif seker ongepas
is. En hyself het nadruklik verklaar: "Die digkuns is geen handwerk
nie". Voorwoord, _Die Vlakte_, (1920) p. 7.
[83] Vir lewensskets, sien dissertasie Dr. E.C. Pienaar, p. 209.
[84] Vanaf Feb. 1922 voortgeset in _Die Huisgenoot_.
[85] Op die mooi passage het Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie ook
gewys, 2de druk, p. 228.
[86] Vgl. p. 21 vlg.
[87] Een daarvan is opgeneem in die _Leesboek_, p. 185.
[88] Kursivering van die skrywer.
[89] Ek kursiveer. _Die Brandwag_, Julie 1917.
[90] Sien Hoofstuk VII.
[91] Ek kursiveer. _Die Brandwag_, Julie 1917
[92] _Kultuurbeschouwende inleiding tot Vondels spelen_, p. XI.
[93] _Kuns en Sedelikheid. Die Huisgenoot_, Jan. 1922. Ek kursiveer.
Vgl. egter _Reg bo Reg_ (1922): "In onse tyd van Jonge nasionale opbou
... is kuns wat 'n sedelike of ander strekking het, ook te verdedig."
(Voorwoord).
[94] Lewensskets aan _Die Brandwag_, Des. 1918 ontleen.
[95] Vgl. _Z.A. Prozabundel_: Hoekstra--Viljoen, p. 102.
[96] Op die betekenis van _Ons Moedertaal_ is in Hoofstuk II al gewys.
[97] Vgl. § 4.
[98] Vgl. die nommers van Feb. en April.
[99] Uit 'n artiekel: _Oor Letterkundige Kritiek_. t.a.p.
[100] Nadat dit afgedruk was, het twee daarvan in die
_Almal-se-Boeke-_Serie verskyn onder die tietel _Margriet van
Laastelust_, (1922).
[101] Gebore 1894 op Heidelberg, Tvl. Sedert 1921 as advokaat gevestig
in Windhoek.
HOOFSTUK IV.
G.R. von Wielligh.
"Die Laaste Stem uit Die Genootskap van Regte Afrikaners".
Die stamvader van die Von Wielligh-geslag was offisier in die
Oos-Indiese Kompanjie. Gideon Retief is op 1 April 1859 gebore in die
Pêrelse distrik. "Van sy sewende jaar af moes hy ploeglei, vee-oppas, op
die oesland hopies maak en meer dergelike werkies wat vir 'n plaaskind
nie ongewoon is nie."[102] Deur borgstaan het sy vader alles verloor en
so moes Gideon self sy studie bekostig. Op sy elfde jaar het hy sy vader
vergesel op 'n handelstog na Boesmanland. Toe hy by sy terugkeer op die
Pêrelse Gimnasium kom, het hy net soveel Engels as Jakob Platjie geken,
maar binne vyf jaar was hy al landmeter. Deur sy beroep het hy groot
streke van Suid-Afrika goed leer ken. Op vyf-en-twintig-jarige leeftyd
is hy benoem tot Landmeter-Generaal van Transvaal.
In 1903 het hom 'n ongeluk oorkom, wat byna tot volslae blindheid gelei
't. Hy het na Delagoabaai gegaan om die astronomiese instrumente van die
Transvaalse regering te haal. By dié geleentheid is op 'n karnaval kalk
in sy oë gegooi. Mediese behandeling het sy toestand sover verbeter "dat
hy nou in sy regteroog 'n kwart natuurlike gesig teruggekry het. Hy lees
met 'n sterk bril en 'n dubbelde vergrootglas--sy neus byna op die
papier, en dan sien hy nog maar vyf tot ses letters tegelyk."
"Omdat hy lange tyd op die platteland deurgebring het en 'n ystersterk
geheue besit, beskik hy oor 'n skat van tiepiese Afrikaanse uitdrukkinge
soos miskien geen ander lewende persoon op die oomblik nie."
Vanaf 1876 het Von Wielligh geskryf in _Die Patriot_, maar toe die blad
'n onnasionale politiek begin te verdedig, het hy hom daaraan onttrek
(1891). Later was hy weer medewerker vir _Ons Kleintji_, waarin die
eerste paar hoofstukke van _Jakob Platjie_ verskyn het. Ook aan die blad
_Ons Taal_ het hy bydraes gestuur.
In 1907 het sy eerste _Dierestories_ verskyn, vier dele waarvan tussen
1917 en 1922 uitgegee is. Verder: _Jakob Platjie_ (1918); _Eerste
Skrywers_ (1918); _Boesmanstories_ I-IV (1919-1921); _Staan jou Man_
(1920); _Robinson Crusoë_ (1920), _Huis en Veld_ in 1921 gepubliseer,
maar reeds in 1916 geskryf; _Nimrod Seeling_ (1921); _Ghwennie Barnveld_
(1922). 'n Groot aantal stories en artiekels het in die tydskrifte
verskyn, o.a. _Ons Geselstaal_ in _Die Huisgenoot_ (1921-'22), terwyl
nog 'n paar werke in die pers is.
Von Wielligh is feitlik die enigste voorstander van die Eerste
Beweging, wat ook aktief opgetree het in die twede. In _Eerste
Skrywers_ (1918) skets hy die ontstaan en werk van _Die Genootskap van
Regte Afrikaners_, en verdedig die opvattings van die genootskap
teenoor verskillende aanklagte van die Twede Beweging. Hy deel
allerlei feite mee wat van groot belang is vir die geskiedskrywer van
die Patriotbeweging, polemiseer teen die spelling en organisasie van
die Twede Beweging en gee talryke taalkundige beskouings, wat getuig
van 'n uitgebreide kennis van die volkstaal, maar wat soms minder juis
is deur sy gebrek aan wetenskaplike insig in taalverskynsele. Reeds
vanaf 1877 het Von Wielligh "alle egte en suiwere Afrikaanse woorde,
uitdrukkings, sinswendinge, ens." opgeteken, maar sy werk het in die
Anglo-Boere-oorlog in die hande van die vyand geraak.[103] Sy
uitgebreide studie oor _Ons Geselstaal_ in _Die Huisgenoot_ (1921-22)
getuig van 'n onverfloude belangstelling in die ontwikkeling en
dialektiese verskynsels van die volksspraak. Hy is 'n voorstander van
purisme. Woorde soos "energie, soliditeit, affiliasie, alternatief"
noem hy _taalkriekies_, "wat ons mense op die platteland--en ook baie
dorpelinge--hoor sing, maar hulle weet nie waar die goedjies presies
sit nie."[104] Hy waarsku veral teen die gebruik van Neerlandse
uitdrukkings "deur skrywers wat in Hollands en in Holland gestudeer
het."[105] Eienaardig is dan ook die poging wat hy doen om Hollandse
en vreemde uitdrukkings "nae 's landts gheleghenheyt" te verafrikaans.
Woordevloed word "'n waterval van woorde" (_Eerste Skr._, p. 9);
wierookvat, "wierooktessie" (p. 59); 't onderspit delven, "die
onderspit byt" (_Huis en Veld_, p. 31); wittebroodsdagen,
"soetebroodsdae" (p. 32); clairvoyance, "heldersienery" (t.a.p., p.
177); propaganda, "voortplantingplanne" (_Die Brandwag_, Feb. 1918).
Von Wielligh se oordrewe purisme hang saam met sy opvatting van kuns.
Eweas die ou Genootskap streef hy daarna om "die grote gros te bereik,
wat letterkundig honger en dors ly".[106] "Die ou Genootskap het vir
leesstof vir die minder bevoorregtes gesorg, terwyl die nuwe net vir
lektuur vir ontwikkelde persone wil sorg". Hulle stelling is "Ons mik
hoog".[107] In die voorwoord van _Huis en Veld_ verklaar hy: "Nog
vashoudende aan die ywer om ons mense meer en meer te laat lees, het ons
vir ons meer deur die populêre Afrikaanse verhaaltrant laat lei, as om
ons aan praalgeskrif te bind, want ons volk hou min van geskrifte,
volgeprop met dromery, maar verlang wel om verhale met korte bewoordinge
in sy (_lees hul_) ware kleure afgeskilder te sien. So het ons die wenk
gevolg van "praat gou want ek woon ver"." Von Wielligh staan dus nog
heeltemal op die Ou _Patriot_-standpunt. Hy vergeet dat daar sedert 1875
groot dinge gebeur 't, dat die Twede Beweging die taalstryd gewin 't,
juis omdat die _intellektuele gedeelte_ van die bevolking die voortou
geneem 't en nie tevrede was alleen met rympies en grappies nie. Vandag
mag nie iedereen meer rympies maak nie "van Generaal Smuts af tot die
veewagtertjie in die veld", en hom dan verbeel dat hy ons letterkunde
help opbou. Dit neem natuurlik die feit nie weg, dat in die periode vóór
1900 die Patriotskrywers op kulturele gebied nuttige werk gedoen 't, dat
hulle die land geskoffel het waarop ons vandag ploeg en saai. Maar vir
my is dit nog 'n ope kwessie of die taalstryd nie al vóór die
Anglo-Boere-oorlog kon gewin gewees het nie, as die leiers van die
Eerste Beweging hoër gemik 't.
Dit is onloënbaar dat daar tans nog 'n groot skare rustelose soekers na
skoonheid is, wat spartel om hulself te verhef bo die wanhopig reëlmatig
terugkerende besighede van die alledaagse lewe, mense wat bevrediging
soek vir dieper behoeftes dan dié van geldsak en liggaam. Hul sit
dikwels op afgeleë buiteplase, waar alle middele om die vae drang na
iets hoërs en skoners te verwesenlik heeltemal ontbreek en waar 'n
oorspronklik warme aandrif langsamerhand jammerlik verkwyn.[108] As Von
Wielligh hom geroepe voel om vir die "minder bevoorregtes" te skrywe,
dan doen hy seker nuttige werk, maar dit ontslaan hom nie van die plig
om "hoog te mik" nie, en daarby tog te sorg, dat hy nie bokant die
vuurmaakplek van sy lesers gaan nie. Daal hy af tot hulle peil, wat hy
in _Huis en Veld_ en elders maar al te dikwels doen, dan leer hy hul
miskien wel hul eie taal lees, maar dan is daar geen sprake van
kulturele opheffing nie. En dit is tog sy doel, want hy verklaar sy
standpunt as volg: "Die kunstenaar lewer 'n kosbaar monument om sy volk
onder die ander volke te laat uitblink; maar die Volksskrywer saai die
sade, wat voedsel vir sy eie Volk lewer."[109]
Von Wielligh is geen dienaar van die skoonheid nie. Sy begrip van kuns
druk hy so uit: "Kuns is skoon, kuns is verhewe, kuns is edel en
bo-aards; _maar dit neem 'n kunstenaar om kunsstukke te waardeer_. En
dis daarom dat die grootste gros net baie van 'n goeie "rympie" dink(,)
want dit klink in hulle ore nes die Walse van Strauss en nie nes die
Sonatas van Beethoven nie."[110] Die gekursiveerde stelling is vals.
Tussen die kunstenaar en leser moet daar natuurlik 'n seker mate van
geestelike affiniteit bestaan, voordat daar sprake kan wees van
kunsgenot. Maar terwyl die kunstenaar, gedrewe deur 'n aangebore
skeppingsdrang die diepste aard van 'n wese of ding peil en dit dan tot
skoonheid herskep, hoef die kunsgenieter alleen 'n normale mens te wees
met 'n klein bietjie aanvoelings-vermoë. Die kunstenaar dring deur tot
die kern, verwyder daarvan al wat bykomstig is en bied ons dit aan in sy
suiwerste skoonheidsessensie. Hy doen die werk, ons moet alleen die
vreugde, wat hy by sy skeppingsdaad ondervind het, kan navoel en
hervoel. Von Wielligh speel dus maar 'n eenvoudige deuntjie op die
konsertiena of "ramkie", omdat hy meen dat daar tog so weinig mense is
wat iets beters kan geniet.
Vir sy opvatting van die ontstaan van kuns is die volgende sitaat ook
van belang: "Daar was baie briewe en gedigte uit alle oorde van die
land.... (vir _Die Patriot_.) Baie minderwaardige stukke werd ook
geplaas om skryflus aan te wakker. Diegene wat beter kon doen, het nie
stil bly sit nie, en die wat swak was, het bygeleer. _Want as iemand
iets herhaaldelik aanpak, leer hy vanself om die volgende keer dit beter
te doen. En so werd die wieg vir aanstaande skrywers gereed
gemaak."_[111] Hier staan Von Wielligh dus nog op die agtiende-eeuse
standpunt: "Kunst wordt door arbeid verkregen". Sy werk dra nog
heeltemal die stempel van die _Patriot-periode_, en die ideale, wat hy
na streef is die van 'n verbygegane geslag. Hy staan met sy gesig
agterwaarts gekeerd en is "'n laaste stem uit die Genootskap van Regte
Afrikaners".
Jakob Platjie.
In _Jakob Platjie_ gee hy "egte karaktersketse uit die volkslewe van
Hotnots, Korannas en Boesmans".[112] Platjie woon met sy ouers, "twee
opregte peperkorreltjie Hotnots" by die Drakensteinberg. As hulle op die
end van die maand hul loon ontvang, peil hul kantien toe. Iedries en
Sina, Platjie se ouers raak in die tronk en hyself verdwaal op weg plaas
toe en loop Koos Fonk, 'n smous raak, wat hom saam neem op 'n handelstog
na Boesmanland, ens. Dan word die verhaal 'n aaneenskakeling van los
anekdotes; Hotnotsfeeste word beskryf, Koos vier sy verjaarsdag en
agtervolg Boesmans, wat sy beeste gesteel 't, terwyl saans om die
wagvuurtjie allerlei Hotnotstiepes hul stories aan die nuuskierige
Platjie vertel. Koos Fonk trek ook na Griekwaland, waar ons Kleopas
Kipie hoor preek en twee kapteins sien oorlogmaak.
Platjie keer na sy ouers terug, trek met hulle na Stellenbosch en kom na
hul dood op die sendingstasie Genadendal. Daar maak hy kennis met Dr.
Kleiner, wat uit Europa gekom 't vir etnologiese studie en vergesel hom
op sy togte as tolk. Platjie raak net hooggeleerd, word kristen, vertel
wolf-en-jakkalsstories aan sy kinders en sterf.
* * * * *
In die voorrede verklaar Von Wielligh: "Wat die taal betref, wat ons in
die mond van die sprekers geleg het, mag ons in die rede geval worde
deur iemand wat sê dat in sommige gevalle die taal te verhewe is vir die
onbeskaafde inboorling. Dit mag so wees, maar ons het genoeg aanhalings
in hulle gewone spreekwyse gelewer om te toon van watter woorde hulle
hul bedien het om hulle gedagtes aan ander bekend te maak. Alleen het
ons gevrees om deur aanhoudend van die plattaal gebruik te maak, dat ons
die lesers sou hinder." Uit 'n kunsoogpunt bederf hierdie besluit die
hele boek, want dit beteken 'n opsetlike vervalsing van die dialoog. Dit
was Von Wielligh se plig as kunstenaar om 'n Hotnot soos 'n Hotnot te
laat praat en ofskoon sy standpunt verdedigbaar was in die dae van die
Eerste Beweging, toe "Patterjots" sinoniem was met plat taal en die
getroue weergawe daarvan die taalsaak sou benadeel het, kon daar geen
rede bestaan om in 1918 nog so 'n apologie te maak nie.[113] Ek gee 'n
paar staaltjies van die kunsmatig vervalste dialoog: Sina praat van
konstabels "wat net _daarop uit_ is om _hulpelose_ mense die tronk in te
prop" (p. 5); Iedries vertel: "Boems! Daar val 'n kanon_skot_ op see in
Tafelbaai--_die egó bulder_ van klofie tot klofie...." (p. 14), "So 'n
_toestand van sake_ kon nie lank aanhou nie. Daar moes _'n toenadering
plaas vinde_" (p. 16); die ou toordokter sê vir Toel: "... maar jy is my
regterhand en _die voorwerp van my ongeveinsde vrindskap_", (p. 62); ou
Bleskop, 'n Koranna veewagter, vertel van die waterslang: "die water
maak agter hom sulke wit _kabbelings_ en hy klowe die water _soos 'n
skip_" (p. 98); Platjie sê: "die baas het hom _in vrindelikheid_ vanmôre
gestewel en gespoor" (p. 132); Samuël praat van kieries wat "begin _te
kletter_" (p. 77).
Gelukkig staan naas sulke papiertaal baie dialoge, wat bewys, dat Von
Wielligh die Hotnotsspraak goed beheers en hul mentaliteit deur-en-deur
ken. En dis 'n kennis wat berus op 'n intieme aanraking met die
inboorlinge. Hy het hul bespied in al hul gewoontes en gebruike. Veral
die tekening van die parmantige Tys Bokkies is goed geslaag. Die
grootste gedeelte van die Griekwapreek is ook 'n bewys, dat hy hom
heeltemal ingeleef het in die psiege van die mense wat hy uitbeeld. Hy
slaag daar uitstekend in om die naïewe taal en beeldspraak, die
primitiewe gedagtegang weer te gee. Ook van die eienaardige humor van
die inboorlinge het hy gelukkige staaltjies gegee. By die beskrywing van
sulke toneeltjies is hy op sy beste, en ofskoon daar groot foute in die
komposiesie is, bly dit tog altyd nog 'n verdienstelike werk deur die
raak tiepering van enkele figure. _Die sentrale fout is, dat die mense
daar is ter wille van die taal en nie die taal ter wille van die mense
nie_. Von Wielligh het sy taal hartstogtelik lief. Jare lank is "pittige
taal" sy spesialiteit gewees. Reeds in 1881 het hy die burgemeester van
Utrecht (Holland) met sy "naieve uitdrukkingen" dronkgeslaan.[114] En
nou het hy in _Jakob Platjie_ probeer om sy moeisaam opgegaarde taalskat
te verwerk. Mens kry soms die indruk asof sekere anekdotes opsetlik
bedenk en ingelas is om 'n treffende uitdrukking of komieke
woordverdraaiing te kan gebruik.