Malherbe en Gustav Preller. Na die eerste ses nommers egter, vanaf 1
September 1910, is Dr. Malherbe alleen redakteur, totdat hy in September
1919 weer vervang word deur Preller, wat die blad redigeer totdat die
uitgawe in Februarie 1922 om finansiële redes gestaak word.
Die doel van die blad word in die eerste nommer só omskryf: "Die
Brandwag heeft positie gekozen op 'n punt waar 't terrein alsnog
onbewaakt bleef: het Afrikaner huisgezin." Dit wil die plek verower, wat
opgevul word deur "vreemde kaf, als _Home Notes_ en _Home Chat_ en _Home
Journal_, enz." Verder wil die tydskrif probeer om "leiding en koers te
geven aan de vele zeer bekwaam gebleken Afrikanerpennen, die ernaar
streven ... 'n eigen nasionaal-afrikaanse letterkunde te helpen groot
maken." Met die uitvoering van die programma het die blad uitstekend
geslaag en dank sy die medewerking van feitlik alle skrywers en digters
van betekenis kon dit 'n hoë literêre peil bereik en tot die end toe
handhaaf. Dat die blad 'n faktor van groot betekenis in die kultuur- en
taalstryd was is ongetwyfeld, en die verdwyning daarvan moet as 'n ramp
beskou word. Daar is werk van blywende waarde in gepubliseer en deur
middel van die wedstryde het 'n hele reeks nuwe skrywers, soos Jochem
van Bruggen, Léon Maré, E. de Roubaix, M. Jansen, Hettie Cillié, e.a.
bekend geword. In die kinder-afdeling het Mev. Iz. van Heerden naam
gemaak met haar voortreflike verhale, sodat "Tannie van Die Brandwag" 'n
geliefde naam by die kleinspan oor die hele land is.
Veel het die blad ook daartoe bygedra om gesonde begrippe oor kuns
ingang te laat vind. Deur goeie vertalings en studies oor buitelandse
kunstenaars is 'n poging gedoen om in voeling te bly met Europese kuns,
terwyl talryke sketse, veral oor die Voortrekkers, die historiese
belangstelling aangekweek en wakker gehou 't. So word b.v. aangedring op
die publikasie van ou handskrifte: "Daar is al soveel in die laaste
oorlog verlore gegaan, dat ons nou betyds moet begin om te red, wat nog
te redde is." (15 Julie 1910.)
Gesond was die letterkundige kritiek van die blad. Reeds in die eerste
jaargang waarsku die opstelle-kommissie teen verhale met "awonture en
kunsmatige verwikkelinge. Daarin moet die bekoring van 'n verhaal nie
gesoek word nie, maar wèl in onopgesmukte voorstelling van buitengewone
of gewone gebeurtenisse--met ware en rake tekening van karakters." (Des.
1910.) Die krietikus X verklaar: "Ons skrywers begin in te sien, dat die
krag en betekenis van 'n verhaal nie geleë is in gesogte samevlegting
van buitengewone gebeurtenisse, opsetlike mooi-soekery, maar juistheid
van skildering, natuurlike voorstelling, diepte en waarheid van
karakter-uitbeelding, selfs in wat grappig is." (15 Feb. 1911.) Dit is
nog iets anders as die "gemoedprikkelende verrassingen", waar _De Goede
Hoop_ na gesoek het!
Ofskoon in die eerste jare die blote verskyning van 'n Afrikaanse boek
al 'n gebeurtenis van belang was, laat die blad hom nie verlei nie tot
wat G.S. P(reller) noem "onnadenkende, steriotiepe koerante-aanprysinge"
(15 Sept. 1913). Nadruklik word gewys op die waarde van elke boek vir
die besonder Afrikaanse kultuurtoestand, maar steeds ook aangetoon, dat
dit geen blywende maatstaf moet wees nie. 'n Mooi voorbeeld daarvan is
J.F.E. C(elliers) se beoordeling van _Stompies_ deur Adv. J.H.H. de
Waal. "Ons is bly met die verskyning van sulke werkies. Wat in ander
land daarvan gesê mag word, gaat ons nie aan nie; ons weet net dat 't
vir ons S.A. goed is, en dat manne wat hul daarop toelê om ons volk aan
lees en aan dink en aan gebruik van sy eie taal te bring, alle lof
verdien. Die skrywer siet goed in dat romanties aangelegde verhaaltjies,
met 'n pikante sousie van awontuurlikheid of wonderbaarlikheid daaroor,
meer lesers sal trek dan iets wat bepaald op letterkunde aangelê is, op
karakter- en gevoelstudie van 'n fynere soort.... Nou die skrywer die
_groot_ publiek al by herhaling tevrede gestel het, spreek ons die hoop
uit nog eendag 'n roman van sy hand te sien wat in diepgang, in
gevoel- en karakterstudie, 'n letterkundige eersteling sal wees in ons
wêrelddeel ..." (15 Jan. 1912.)
In die laaste jaargange tree veral Adv. Eugène, N. Marais op as
krietikus, en ofskoon sy opmerkings meestal raak is, sou mens van een
wat self digter is, nie sulke snaakse bewerings oor poësie verwag nie.
Sonderling is b.v. die volgende uitspraak na aanleiding van Van Bruggen
se bundel _Lente-Stemme_: "Om die soort van gediggies goed te maak, is
veel moeiliker dan om 'n goeie stoel te maak. Dit vereis meer tegniese
bekwaamheid en seker veel meer arbeid. Dit kos altyd handwerk om alle
spore van sukkel uit jou werk te skaaf en weg te polieer" (Maart 1920).
Nadat hy die aanwesigheid van "ware poëtiese gevoel" gekonstateer het sê
hy: "Al wat makeer is die handskaaf en die sandpapier.... En laat die
digter dit vir 'n grondbeginsel eerbiedig: in die maak van 'n volmaakte
rympie is handewerk van net soveel betekenis as inspirasie." Na
aanleiding van dié resensie het ek aangetoon, dat so 'n beginsel 'n
absolute miskenning van die wese van alle egte poësie is. (_Die
Brandwag_, Okt. 1920.)[82] Dit is bes moontlik, dat Marais met _skaaf_
en _handwerk_ iets anders bedoel as die gewone opvatting van dié woorde
in die letterkundige geskiedenis, wat uit die agtiende eeu dateer. Hy
moes egter bedenk 't, dat die woorde 'n danig slegte reuk het met
betrekking tot poësie en aanleiding kan gee tot fatale misverstand.
Een van die trouste medewerkers was
Jan F.E. Celliers.[83]
As digter is hy bekend genoeg, maar dat hy ook een van ons mees
verdienstelike prosaskrywers is, daarop mag nog wel gewys word. In _Die
Brandwag_ het onder sy eie en onder verskeie skuilname heelwat
prosastukke van hom verskyn, waarin hy op populêre wyse allerlei
historiese, sosiale en wetenskaplike onderwerpe behandel. In dié stukke
munt sy styl uit deur helderheid en logiese gedagtegang, eienskappe, wat
dit dan ook bevatlik maak vir selfs onontwikkelde lesers. Die meeste
daarvan is later herdruk in sy _Afrikaanse Leesboek_ (1920). Veel het hy
ook gedoen om juiste begrippe oor kuns en meer besonderlik oor
letterkunde te bevorder. In dié verband kan gewys word op 'n reeks
artiekels, getietel _Lewe en Lettere_ in _Die Burger_, 1921,[84] waarin
hy blyk gee van 'n gesonde kunsopvatting. In die stadium van
ontwikkeling, waarin ons volk tans verkeer, is so 'n causerie oor kuns
van groot waarde. 'n Verdienstelike omwerking van 'n roman van Henri
Bordeaux, _Bang vir die Lewe_, het ook van hom in _Die Brandwag_ verskyn
en is later opgeneem in Die Burger-leeskring (1919). _Colombo_ van
Prosper Mérimée het hy ook daarvoor vertaal (1920).
Dit is veral in sy natuurbeskrywings, dat Celliers as woordkunstenaar
verdienstelik is. Hier openbaar hy 'n fynheid van gevoel vir die
kleinste klanknuansering, 'n liefde vir die woord, wat ons dan ook van
hom as digter mag verwag. Skoonheid in die natuur bring hom in 'n
jubelende ekstase: "O _laat_ my hier verlore raak, hier altyd bly, hier
sterwe as dit moet, want hier bereik die lewe sy hoogste heerlikheid, so
naby die Onsienlike as nêrens anders nie...." (_Die Brandwag_, Jan.
1917.) "Ons wil een word met die gaos van dartelende geluk en
ongebondenheid, ons wil verfrommel word in die mallende, krullende
skuim, ons wil onsselwe vergeet en verloor in die wilde vrye roes van
uitjuigende, uitspattende beweging en krag ..." (Jan. 1918). In sy
uitgelatenheid laat hy die woorde om ons wirrel-warrel, soms wel in
verbysterende veelheid, maar altyd vol suggestiewe klank. "Die see in
die rotse! O, nêrens soos hier is die water 'n beeld van krag--dronk,
mal van pret, van selfbewuste eie weelderige oordaad, sigself
oortreffend, oorrollend, oorbotsend in aksie-begeerte teen hindernis,
swelgend in oordaad van alles-oorswalpende aanstorming, melk-wit
oor-soppend die rotsbanke se skulp-skurfte, swoep! opdoeffend teen
blinde klip, oppluimend, uitspattend in 'n wolk van skuim wat bo in
puntjies uitpyl en wind-verwaaid neerswiets in die siedende karning
omlaag; na aanstorming waggel-wild wegvallende elke keer, in
rotstregters ingesuie, maar opgudsend weer na halwe wegsakking, in
altyd-durende dans van strydlustige durf en ongeduld." (id.)[85]
"Malkop-moedwillig spring waterdruppeltjies af van die oorleunende
kranse bo, om te kyk wie die beste kan duik--met 'n stadig-lange swaai,
net of die lug hul dra in hul val, seil hul neer, en pets op onse hande
of val in die rivier naas die skuit." (_Die Brandwag_, Jan. 1917.)
Sulke impressionistiese prosa is in ons letterkunde maar al te skaars!
Noem dit navolging van die Tagtiger woordkuns as jy wil; praat van
Querido-aanse oorlading--ook goed; maar hier is in elk geval 'n
ontroerde, wat soek na treffende segging en juiste klank.
Celliers raak nie alleen in vervoering oor die skoonheid in die natuur
nie; hy is die peinsende wandelaar, wat steeds na dieper waarheid soek,
telkens met 'n wondervraag stilstaan. "Pylsnel skiet 'n groot
naaldekoker soos 'n blou bliksemstraal deur die lug en is weg met een
van die stryders. En ek verwyder my, met die ewige vraag op my lippe,
hier as in die groot wêreld daarbuite: Waarom, God, waarom?" (_Leesboek_
p. 206.)
"Die genius van die veld het die invloed op ons, dat ons telkens die
vraag aan onsselwe doen: het ons lewe en bestaan op aarde 'n doel of is
alles sommerso?" (id. p. 204.)
"Soek ons hier nie wat ons soek in die donkere dieptes van ons eie gees,
in elke ander gees, in elke oog, in boeke, in die natuur: _wat, waar is
die groot geheim, is daar skoonheid, is daar waarheid vir my te ontdek?"
(In die Kango-grotte. Die Brandwag_, April 1918.)
Mooi plastiese uitbeelding is daar ook in _Winter-môre-mark_: "Kaffers
wat werk toe gaan, loop met skouers hoog opgetrek, hande diep in die
broeksakke, elke voet eina-eina neergeset,--almal ewe stuurs.... 'n
Pikenien het 'n soldaatbaadjie aan; en as jy daar so inkyk, sien jy sy
kaal pensie, en daaronder sy nakende maer beentjies, wat lyk of daar as
aan kleef." (_Leesboek_ p. 133.)
Drie verhaaltjies van 'n wonder-mooi innigheid het Celliers ook
geskryf: _Sy tel nie mee nie_, en _Nie nodig nie_, in sy _Leesboek_ en
_Waarom Hy en nie Ek nie?_ in _Die Brandwag_ (15 Maart 1914). Hier is hy
ook die woord-arties, wat ons verras met fris beeldspraak. "Arme Gawie
verwag 'n bondgenoot en uitredder in oupa en begin dadelik: "Meneer, is
dit nou reg...." maar, wie sê, die ou-meid blus hom in 'n kits, met 'n
maxim-sarsie van kort en klein gekapte skreeuerige woorde...." Onder sy
ander verhale munt die volgende uit: _Suster Greta_, (5 Aug. 1913); _'n
Ou Vlam_, (1 Mei 1912). _Vyf Minute_, (15 Junie 1913), is besonder goed
gestileer. Die goeie beginsels wat hy in _Die Huisgenoot_, (Aug. 1919)
aanbeveel, word hier toegepas--geen kakelbonte awonture nie--maar studie
van die mens.[86] Van sy hand is ook die reeks didaktiese _Briewe van
Bram_, waarin 'n paar treffende gedagtes voorkom.[87]
Vir 'n juiste begrip van Celliers se kunsopvatting is die volgende van
belang: _"Kuns is nie daar vir die kuns nie, maar vir die mens_,[88]
omdat dit ook maar een van die middele in die mens se hand is in sy
strewe naar geluk, deur volmaaktheid, waarheid, skoonheid.... In ons
land het 'n skrywer 'n besonder moeilike taak: hy staat voor die
moeilikheid dat die buite-bevolking ander leesstof nodig het as die
dorpsbevolking; en hy mag die buite-bevolking nie sommer aan hul lot
oorlaat nie, en sê, "ek bemoei my net met die dorpsmense", omdat die
Afrikaners te min in aantal is teenoor die inkomelinge van buite, omdat
elke Afrikaner 'n onmisbare gewig in die skaal is vir ons taal- en
volksbestaan. _Die nasionale skrywer moet as-ware elke Afrikaner uit
snuffel en soek om hom 'n skool te gee, 'n meester, 'n boek, wat hy kan
verstaan, wat hom voorlig en opvoed_.[89] Hier staan Celliers dus op
dieselfde standpunt as Langenhoven en in verband met die se opvatting
sal die vraag nader bespreek word.[90] 'n Groot gedeelte van Celliers se
prosawerk is dan ook suiwer didakties en ontstaan uit 'n drang om die
volk op te voed tot 'n beter begrip van kuns. In dieselfde artiekel sê
hy verder: "Aan die ander kant staat die dorpsman, wat al gesnuffel en
geproe het in die letterkundige tuin van die groot wêreld.... Aan hom
moet ook gegee word wat sy smaak bevredig en wat enigsins 'n vergelyking
kan deurstaan met die letterkundige voortbrengsels van die buiteland....
Die Afrikaanse kunstenaar moet dus _nie altyd_[91] uitsluitend aan die
beginner dink nie _en sy gevoel of siening in-toom nie_[91]--hy moet
daar dikwels die volle teuel aan gee en die allerbeste lewer wat hy kan,
want veral die opgevoede man moet vir ons taal en nasionale saak gewin
word ..." In sy poësie word die twede gedeelte van die program uitgewerk
en gelukkig het dit weinig gely onder sy didaktiese en patriotiese
geteoretiseer. As 'n =digter= ons kom vertel, dat hy _nie altyd_ ... _sy
gevoel of siening in-toom nie_, m.a.w. dat hy dit soms tòg doen om vir
die "beginner" bevatlik te wees, dan sou ons verwag dat dit met sy kuns
heeltemal misloop, hoe goed die bedoeling ook al mag wees. Gelukkig is
dit by Jan Celliers nie die geval nie. Wat C.R. de Klerk van Vondel sê,
geld ook hier: "De beste schilders zijn niet zelden de onbeholpenste
stamelaars als ze hun eigen werk trachten te duiden in woorden."[92]
"Nut en stichting", "nuttigheid voor de scholieren en opluikende
jonkheid", sulke woorde kry mens in meer dan een Berecht van Vondel,
maar in sy beste werk, soos b.v. die _Lucifer_, vergeet hy totaal, dat
hy die mense wou "verbeter" en is hy veral 'n _soeker van skoonheid_.
Verblydend is dit, dat Jan Celliers in die laaste tyd ook in sy
teoretiese beskouing 'n veel juister standpunt inneem. "Geniale
uitbeelding, plastiese voorstelling, dis die eintlike werk van die kuns,
die letterkunde. En die uitbeelding is hier alleen goed as dit,
daardeurheen, die gronde en dieptes laat sien, _sonder dat dit die
eintlike welbewuste doel van die kunstenaar was om bepaald sedelik of
opbouend te werk te gaan, soos die predikant of die onderwyser_. 'n Ware
kunswerk kom alleen voort uit 'n vrye estetiese stemming of gevoel, wat
sy doel bereik sonder dat dit lyk of hy 'n bepaalde doel gehad het. As
die vrye uiting hom 'n rigting laat voorskrywe deur 'n sedelike of ander
doel, word persone en toestande vanself verdraai, pasklaar gemaak, om
aan die doel of strekking diensbaar te wees, en dan is so 'n werk, as
kunswerk, nie meer van die beste nie."[93]
* * * * *
Een van die skryfsters wat baie opgang gemaak 't in die tydskrif en wie
se werk herhaaldelik bekroon is, is
Hettie Cillié.
Sy is die dogter van 'n onderwyser, wat in 1884 uit Wellington na
Transvaal getrek 't. Na die Engelse oorlog het sy haar opvoeding aan die
Hugenote-Seminarie ontvang. In 1906 en 1909 het sy Taalbondpryse vir
histories-romantiese verhale gekry. 'n Twintigtal van haar stories en
sketse is in verskillende krante en tydskrifte gepubliseer.[94]
Sy teken by voorkeur 'n eenvoudige verwikkeling, waarin die liefde 'n
rol speel en verstaan die tegniek van die kort verhaal goed. Haar
karakteruitbeelding getuig van groot mensekennis, maar is nie treffend
genoeg om 'n blywende indruk te maak nie, veral omdat haar styl so
onpersoonlik is. _Twee Susters, (Die Brandwag_, 1 Maart 1913) en _'n
Ongeluk_, (15 Des. 1910) is tiepiese verhaaltjies, op rustig-aangename
toon vertel.
Emanuel H.F. de Roubaix.
Van hierdie skrywer het 'n hele reeks verhale in verskillende tydskrifte
verskyn. Hy is gebore in 1880 op Tabaktuin, 'n plaas digby
Nieuwoudtville. Jare lank het hy sy vader se skape opgepas. Die enigste
lektuur was die Bybel, Katkisasieboek, _Ons Kleintji_ en _Ons Tydskrif_.
In 1898 kon hy op Nieuwoudtville skool gaan en met die Engelse "Step by
Step" begin. Gedurende die oorlog het hy by Gen. Maritz aangesluit.
In die Boland het hy gematrikuleer en sedert 1907 hou hy skool in
Namakwaland. Veertien jaar was hy op Roggeland en vanaf 1922 is hy op
Paardekraal (Noord-Bokveld).
Die gewoontes van die Boesmanlanders, hul awonture op lang
trektogte--dit is die tema van Roubaix se verhale. Soms gee hy 'n reeks
los anekdotes, (_Op wag in Boesmanland_ b.v., (_Die Brandwag_, 1 Mei
1916), maar meestal 'n afgeronde verhaal. Hy ken die mense deur en deur,
en in eenvoudige, ongekunstelde taal, wat uitstekend pas by sy
onderwerp, vertel hy die ervarings van eenvoudige siele. Dit is 'n
primitiewe beskawing, wat hy beskryf in onopgesmukte toneeltjies van
roerende eenvoudigheid. Treffend het hy die agterdog van die
Boesmanlanders teenoor allerlei nuwighede geteken in _In die Land van
Dr. Steenkamp_, (_Die Brandwag_, Julie 1920). In sy styl is daar af en
toe 'n fris oorspronklikheid; sy taal en beeldspraak sit vasgewortel in
die Boesmanlandse aarde. Met sy dialoog is hy minder gelukkig. Daar
stuit mens telkens op gedagtes van die skrywer self. Onwaarskynlik klink
dit b.v. om 'n Namakwalandse "boggie van veertien jaar" te hoor praat
van "ware skuldvergiffenis, (wat) altyd volg op ware skulderkentenis",
(_Die Brandwag_, 1 Des. 1917). Ook die outa in _Maar 'n ou Hotnot_ praat
'n opgepoetste, onware taal.
In die laaste tyd vertoon De Roubaix 'n neiging vir melodramatiese
grieselighede. So teken hy in _Pietertjie en Johannetjie_ 'n verlore
seun, wat op sy ouers se graf met 'n skeermes sy nekare afsny. (_Die
Huisgenoot_, Junie 1920.)
Iz. van Heerden--(VAALSWAER).
Onder die jagstories, wat in _Die Brandwag_ verskyn het, verdien die
reeks _Herinneringe van 'n Jagter_ deur _Vaalswaer_ vermelding. Dit is
geen geweldige awonture wat hy verhaal nie. So af en toe vleg hy wel 'n
klein anekdote in, maar hy is in die eerste plaas die peinsende jagter,
wat onder die bekoring van die bosveld sy gedagtes vrye loop gee en met
'n paar trekkies mooi 'n stemming aandui. 'n Goeie voorbeeld daarvan
staan in die nommer van 1 Oktober 1916. _Vaalswaer_ is in 1870 in die
distrik Cradock gebore. Sedert 1905 het hy met Preller saamgewerk in die
taalstryd, o.a. as sekretaris van die A.T.G. Met sy eggenote, _Tannie_,
woon hy nou op Potgietersrust.
* * * * *
_Die Brandwag_ bevat ook verskillende goed geslaagde oorlogsverhale,
waarvan o.a. die volgende kan genoem word: _'n Bestorming_ deur Nig
Mimmie (15 Mei 1911); _Oormag_ deur P. (Sept. 1921); _Boere op See_ deur
O.D. (Sept. 1921).
Onder die groot aantal verdienstelike kort stories verdien die volgende
veral aandag: _Die Bymot_ deur Carl Jeppe (15 Des. 1910); _Sy Terugkoms_
deur Steph. Maré (1 Des. 1912); _Wraak_ deur J.F. Engelbrecht (15 Des.
1912); _'n Brief_ deur H. (1 Des. 1915); _Oom Hans_ (Sept. 1921). Van
sulke min of meer onbekende outeurs sou daar 'n mooi bloemlesing kan
saamgestel word. As vervolgstorie het vanaf 1 Oktober 1914 'n roman in
Afrikaans: _Die Niggies van die Kommandeur_ verskyn deur J.F. van Oordt
(1856-1918),'n skrywer, wat onder die naam _D'Arbez_ 'n hele reeks
Hoog-Hollandse romans gepubliseer het[95]. Van hom is ook die verhaal
_Die Wolwegat_, later opgeneem in die bundel _Losse Klippe_.
§ 3. Die Huisgenoot (1916-1921).
In Mei 1916 is _Die Huisgenoot opgerig_ onder redaksie van Prof. J.J.
Smith, as vertegenwoordiger van die Afrikaanse Taal-Vereniging en C.J.L.
Ruysch van Dugteren, van die Nasionale Pers. Met die blad is verenig die
A.T.V. orgaan, _Ons Moedertaal_, wat onder die oorlogsdruk moeilik kon
bestaan[96]. Na die dood van Ruysch van Dugteren in 1918 is Prof. Smith
alleen redakteur. Ofskoon Hollandse stukke natuurlik nog 'n enkele maal
opgeneem word, verskyn die blad sedert 1918 feitlik uitsluitend in
Afrikaans. Dit is ook die offisiële orgaan van die =A.T.V., A.C. V.V.,
O.V.V.= _Helpmekaar_ en _Werda_.
Die doel van _Die Huisgenoot_ word in die uitgawe van Julie 1917 só
aangedui: "_Die Huisgenoot_ is 'n tydskrif, wat tot doel het die
handhawing van ons taalregte en die bevordering van Afrikaans. Dit wil,
sonder die terrein van partypolitiek te betree, meewerk in die opbou van
ons nasionale lewe deur die aandag te vestig op alles wat goed is in die
geskiedenis, owerleweringe en ideale van Hollands Suid-Afrika." Heel
goed word die geaardheid van die blad deur die redakteur beskryf: "_Die
Huisgenoot_ het probeer om populêr te wees, sonder om juis die wetenskap
enige geweld aan te doen; en dit was altyd sy strewe om vir elke leser
in die Afrikaanse wêreld iets boeiends te verskaf. Deur
lewensbeskrywinge van groot Afrikaners, deur sketse uit ons dierewêreld,
deur stukke oor Suid-Afrikaanse kuns, deur verhale vir kinders en
grootmense, deur die bespreking van taalkwessies, deur wenke vir die
vrou, deur foto's, grappies en ander sake, het ons probeer om met die
smaak van al ons lesers enigsins rekening te hou. Ons het, met ander
woorde, 'n bont verskeidenheid nagestreef...." (Mei 1918). Met groot
sukses het die blad sy program uitgewerk. In die moeilike taak om
wetenskaplik en daarby ook populêr te wees, het die redaksie vry goed
geslaag. Voorlopig skyn die bestaan van 'n tydskrif nog daarvan af te
hang, want pas in 1922 het die pogings om 'n suiwer wetenskaplike en
kuns-blad te stig sukses gehad[97].
Deur 'n konsekwente, ofskoon krietiese toepassing van die
Akademie-reëls het _Die Huisgenoot_ veel gedoen om aan die verwarring op
spellinggebied 'n einde te maak en die afdeling _Taalvrae_ was seker een
van die nuttigste. Tog het die redaksie nooit uit die oog verloor nie,
dat daar naas die taal nog ander belangrike sake was. "We moeten een
volk zijn met eigen taal niet alleen, maar met eigen tradities, eigen
bouwkunst, eigen schilderkunst, eigen muziek, eigen levensopvatting."
(Feb. 1917.)--"'n Volk wat hom ten volle wens te ontwikkel en wat 'n
waardige plek onder die nasies van die wêreld wil beklee moet hom op
alle gebied(e) ontwikkel. Dit is nie genoeg dat ons vir ons taalregte
stry nie; en dit is ook nie genoeg om na politieke mag te strewe
nie...." (Julie 1919).--"Uit ekonomiese afhanklikheid spruit alte
dikwels kultuurslawerny...." (April 1919).
Daar is een geval waar die ywer vir die taal van letterkundige standpunt
minder gelukkig was. B. Spoelstra bring, "op 'n heel interessante
manier", seg die redakteur 'n versameling van ses-en-vyftig spreekwoorde
in 'n verhaaltjie byeen, (Jan. en Mei 1921) en ander lesers word
aangespoor om die spreekwoord-gimnastiek na te volg! Tot watter
verwarrende beeldspraak dit aanleiding gee, blyk al uit die eerste sin:
"Toe ons die ander dag _'n voëltjie gehoor fluit 't_, dat twee jong
mense _die huweliksbootjie wou instap_, en al taamlik gou _die
vierperdewa wou inspan_, het _menigeen sy tande geslyp_ vir die bruilof
en gehoop om weer 'n keer lekker _te gaan skoffel_." (Jan. 1921.)
Letterkundige kritiek beslaan 'n vername plaas in die blad en oor die
algemeen is dit op gesonde beginsels gebaseer. Dat die blad hom nie leen
tot onoordeelkundige ophemeling van minderwaardige of middelmatige werk
nie en by sy kritiek steeds 'n hoë peil handhaaf ten spyte van heelwat
teenstand is 'n verblydende teken.
Dit spreek egter vanself dat met ongeveer 'n vyftiental resensente dit
moeilik gaan om die eenheid op krieties gebied te handhaaf. So word
dieselfde stuk by 'n eerste en twede druk nogal heel verskillend
beoordeel. Dit is die geval met _Die Vrou van S.A._ (Nov. 1918 deur H.A.
Fagan, Feb. 1922 deur F.B.).
Veral in die begin van 1919 het 'n paar resensies van verskillende kante
teenspraak uitgelok en aanleiding gegee tot vrugbare polemiek.[98]