uitkyk en telkens as artiekel 137 van die grondwet veronagsaam word, het
sy waarskuwingsienjaal weerklink. "Die Afrikaner moet beleefd wees en
ware beskawing voorstaan, in woord en voorbeeld, maar nie tot so 'n mate
dat hy syn eige taal verwerp, nie tot so 'n mate dat hy aan Filistijne
die wapens in hande gee waardeur juis die hogere beskawing en
verdraagsaamheid vernietig sal word, deurdat die Afrikaner-aard met die
Afrikaner-taal vernietig word." (_Die Brandwag_, 1 April 1911.) Van
maand tot maand het die redakteur, Dr. W.M.R. Malherbe die stryd vir
Afrikaans voortgeset en 'n hele reeks warm pleidooie is daar te vinde in
die redaksionele kolomme, veral van die eerste jare.[67]
In 1911 verskyn Leipoldt se digbundel _Oom Gert Vertel_, voorafgegaan
van 'n weldeurdagte, besadigde pleidooi van J.J. Smith, tans professor
in Afrikaans aan die Stellenbosse Uniwersiteit. "Die werk van die
Afrikaanse Beweging is.... 'n oortuigingswerk; en 'n oortuigingswerk
moet dit altoos bly. 'n Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar 'n
vrind en 'n bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as
jyself, moet jy oortuig--as jy ten minste nie jou eie ondergang wil
bewerkstellig nie."[68] Die oortuigingswerk doen Smith op meesterlike
wyse. Hier is 'n geskoolde filoloog aan die woord, wat met kennis van
sake praat. "Ek grond my mening op die geskiedenis van die wording van
ander tale en op die herlewing in ons volk."[69] En met onverbiddelike
logika bewys hy, dat die argumente van die teenstanders "alles maar slim
praatjies" is!
Ook _Die Geloofsbelydenis van 'n Nasionalis_ deur Dr. T.B. Muller is 'n
pragstuk van logiese redenering. Hy skets die ontstaan van ons nasionale
bewussyn. "Die puinhope van die twee republieke het die vrugbare bodem
geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die Kaap tot in
Kongoland, en van Duits Suid Wes tot Brits Oos Afrika." Hier word die
vaste stem gehoor van een wat na 'n goedomlynde doel streef. "In plaas
van na-praat, wil ons nou saampraat en met ander nasies meewerk in die
algemene taak van die mensheid." En op oortuigende wyse bepleit hy die
middele om die doel te bereik, terwyl alle jeugdige voortvarendheid
getemper word deur die besadigde erns van een wat sy verantwoordelikheid
as leier voel. "Die karaktervorming van 'n nasie moet plaasvind deur 'n
langsame groeiproses; deur voort te gaan op die weg reeds ingeslaan; al
wat goed is, te ontwikkel en al wat nadelig is weg te kap.... Die gevaar
van die oormoedigheid van 'n jong nasionale entoesiasme is ek my wel
bewus van; maar ek weet ook, dat sonder entoesiasme niks groots op aarde
tot stand kan kom nie...." 'n Warm entoesiasme klink dan ook heerlik op
in sy hele betoog en met gloedvolle oortuiging leg hy sy
"geloofsbelydenis" af: "Ek self sou my erfenis as lid van die Afrikaanse
nasie vir geen ander burgerreg in die wereld wil verruil nie. Die grote
nasies van Europa is wel oud en sterk en ervaringsryk, ... maar hul dra
ook reeds die spore van hul ouderdom, en rypheid begin al op meer dan
een plek in afgeleefdheid oor te slaan.... By ons is dit so anders. As
'n jong nasie sien ons amper ons hele loopbaan te gemoet. 'n Jong volk
leef vorentoe. Sy leuse is die hoop; geduld en moed sy wagwoorde; 'n
jeugdige entoesiasme sy dryfveer; en sy ywer is nog ongekoel deur die
ontnugterings van mislukking. Vir my altans is dit veel heerliker my
druppeltjie te probeer bydra by die self-bewuswording en karaktervorming
van 'n jong nasie dan om te help dokter aan; die kroniese kwale van 'n
oue ... Misluk ons pogings en moet ons ondergaan, neergedruk deur 'n
vrag van onoorkomelike moeilikhede, dan is dit in elk geval beter om te
sterf as eerlike stryders op die slagveld, dan om te versink in 'n
bedwelmende luilekker eentonigheid van niksdoen.... Laat Jong
Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam,
maar met sy lewe en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie!"
Hoeveel erns daar in die woorde lê, blyk uit die feit, dat Muller in
1905 'n Rhodesbeurs van £ 300 per jaar om in Oxford te studeer van die
hand gewys 't, omdat hy "eenvoudig nie geld kon aanneem nie van 'n man
wie se politiek hy verfoei en wie hy beskou as die aartsknoeier teen die
vryhede van die Afrikaner-volk."[70] In 1918 is hy aan die griep oorlede
in die ouderdom van 34 jaar. Om die warm idealisme, gesonde argumente en
forse styl is Muller se brosjure een van die beste stukke van ons
polemiese prosa.
Namate die Afrikaanse Beweging sterker word, neem die stryd ook in
felheid toe. In Julie 1914 word die maandblad _Ons Moedertaal_ opgerig
as orgaan van die A.T.V., onder redaksie van J.J. Smith, T.B. Muller en
G.C. Tomlinson. Spoedig moes die teenstanders uitvind, dat die blad
"geen heuningtou" was nie, "waarop allerhande soorte goggas hulle kan
kom vergas.... _Ons Moedertaal_ is veeleer 'n eselskakebeen soos die wat
Simson met sulke dodelike gevolg op die Filistynse vyande van syn volk
gebruik het ..." (15 Okt. 1914). Die offisiële erkenning van Afrikaans
deur drie Provinsiale Rade het die redaksie oormoedig gemaak. "Nou
behoef die Afrikaanse Taalbeweging nie langer te stry nie als
Ismaeliete, teen wie alle man se hand gekeer is; hul veg nou met die
steun van die landswette agter hul rug" (15 Julie 1914). En op
kwaai-sarkastiese wyse het hul geveg! Veral in die kolom _Taalnuws en
Opmerkings_ word nydige klappe uitgedeel. Die beste Nederlands van
Afrikaners noem hul nie meer "amper-Nederlands" nie, maar
"stertjie-Afrikaans", en as _Ons Land_ per ongeluk "_het_ universiteit"
skryf, dan sê _Ons Moedertaal_: "Werkelik dis treurig dat daar in ons
verligte dae nog soveel deurgekapte erdwurms is wat doelloos in twee
rigtings tegelyk spartel." (15 Okt. 1914). Maar later word die redaksie
moeg om die "gebasel" van teenstanders te "verpletter", omdat hul "ander
werk het als om slapers en dromers te probeer wakker maak." (1 Nov.
1915.)
Die "ander werk" was dan ook van meer ernstige aard. B.B. Keet pleit op
oortuigende wyse vir 'n Afrikaanse Bybel. "Daar is ontsaglik veel
onderskeid tussen 'n taal waarmee ek my kan behelp en 'n taal wat ek
liefhet; en al was daar g'n ander rede nie, sou ek hierdie rede afdoende
beskou om te streef naar die doel wat ek my voorstel." (15 Sept. 1914.)
Fagan en Tomlinson se belletristiese bydraes word onder 'n ander
hoofstuk bespreek.[71] Smith set sy werk voort in _Die Huisgenoot_,
waarin _Ons Moedertaal_ in 1916 opgaan.
Tot die polemiese prosa moet ook gereken word G.S. Preller se twee
_Taal-Tiepes_, Die Engelse Afrikaner en 'n Predikant (_Die Brandwag_, 15
Feb. en 15 Maart 1914.) Jiems, 'n Engelse Afrikaner, wat saam met die
Boere veg, raak aan stry met sy maats oor Afrikaans, wat volgens hom "te
arm (is) om te bestaan".
"Wat is 'n _"stoep"_ op Engels, Jiems?" wou een van die seuns weet ...
Dit was ráak. Almal is tjoepstil.--"En wat bedui julle vir _koppie,
spruit, veld, kommando_...?"
Nou was 't Koen se kans om in te vryf: "Dáar het jul dit," sê hy, "die
skatryke mooie Engelse taal leen selfs woorde uit ons armoedige
Afrikaans." So raak Jiems getroef deur die Boereseuns, wat selfs vir die
lastige sportterme raad weet!
Ook sy eerwaarde, wat al die populêre argumente teen Afrikaans aanvoer,
kry goed op sy baadjie. Hy wil: "Gij zult de dorschende os niet
muilbanden" vertaal met "Jy moet die os wat koring trap die bek nie
toebind nie". Maar sy optimistiese teenstander weet vir alles raad:
="Vir ons is Afrikaans die taal van die Toekoms in ons wêrelddeel, ons
glo daarin, ons werk en leef daarvoor."=
"Ons skryf tien jaar na bowestaande gedagtewisseling. En, kyk,--'n mens
moet jou oë vryf om séker te maak dat 't regtig só is! Maar dit is so!
Sy hoogmogende is 't nou so waarlik "'n lus geworde om gade te slaan hoe
daar gewoel word in Afrikaans, en om die eerste vrugte daarvan te
proef!" En selfs in minder dan tien jaar, selfs in _vyf_ jaar is die
wonder geskied!
Dit hoef ons dan ook nie te verwonder nie, dat 'n warm kampvegter vir
Afrikaans, C.J. Langenhoven, wat nog in 1911 die oorsetting van die
psalme in Afrikaans as heiligskennis beskou 't, in 1922 self een van die
eerstes is om die hand aan die ploeg te slaan! In _Ons Land_ van 12
September 1911 skryf Langenhoven: "Als die Hollandse Kerk my sou vraag
om die Bybel, die psalm- en gesangboek en die formuliere, wat aan my
hart geheiligd is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans o'er te
set, dan sou ik dit ten enemaal weier, al had ik die bekwaamheid
daarvoor; en ik sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskouw als
heiligskennend. Dit sou vir my smaak 'n parodie wees."
Een van die laaste, maar ook een van die welsprekendste pleidooie vir
Afrikaans het Langenhoven gelewer op die vyfde jaarvergadering van die
Akademie in Julie 1914.[72] Hierin tril die stem van 'n fel-bewoë gemoed
so innig, dat dit meer geword 't dan 'n episode in 'n verbygaande stryd,
en op sigself beskou, kunswaarde het. Dit is die skone kristallisasie
van gevoelens en gedagtes, wat jare lank in die hart van die volk geleef
het, maar nog nie hul definitiewe uitdrukking gehad het nie. En al die
"dorstige vulletjies", wat jare lank gesukkel en geploeter het langs
hopeloos versperde ompaaie om by die dam te kom, weet maar al te goed
hoe raak en hoe juis Langenhoven die vermoeienisse en vernederinge van
die pynigende dwaaltog geskilder het! "Ik denk terug met bitterheid aan
die verdere verlore lewensjare wat dit my gekos het, nadat ik skool en
kollege verlaat, om vir myself te doen wat my leeraars vir my moes
gedaan het: om dieselfde intellektuele skool-kultuur deur lange en
pynlike self-oefening om te set en tot my siels-besitting te maak" (p.
427).
Dit is veral op die gevoelskant, die psigologiese kant van die saak wat
Langenhoven nadruk lê. "Ik wil namelik sukkel om 'n skerpe lyn te trek
tussen die gebruik van 'n taal als 'n verstands-medium, en sy gebruik
als 'n gevoels-medium; en in albei gevalle nie alleen als 'n middel tot
uitwendige openbaring nie, maar als 'n middel tot inwendige bewustsyn"
(p. 428).... "Dit mag vir elke Afrikaner ewe verstaanbaar wees om te
lees: "Die huis se muur is stukkend", of om te lees: "De muur van het
huis is stuk". Eersgenoemde uitdrukking roep 'n beeld van 'n puinval
voor sy gees. Laasgenoemde doet dit ook op 'n manier. Maar in die eerste
geval is beeld en uitdrukking deur onheuglike lewensgewoonte
onafskeidelik vasgeheg aan mekaar. Laasgenoemde uitdrukking val nie met
dieselfde spontane voegsaamheid in die gedagte-wereld, waar die beeld
uit die elemente van vroegere ervaringe deur die geheuge opgebouw word
nie" (p. 440).
Met 'n fris oorspronklikheid word al die ou argumente teen Afrikaans
weggebesem. Bitter is die aanklag teen die Hoog-Hollandse literatuur van
Suid-Afrika; daarin "mankeer die goddelike vuur--die element wat
onbepaalbaar is, wat jy nie kan voorskryf nie soos jy nie van elke
wa-skilder en klip-kapper met paster- en duimstok-voorskrifte kan 'n
Murillo of 'n Michael Angelo maak nie" (p. 445). En die gevolg is: "'n
land sonder skrywers en sonder lesers; 'n beskaafde nasie sonder eie
literatuur. Die inspirasie ontbreek.... Ontbreek! ontbreek!! ontbreek!!!
in ons heerlike Suid-Afrika, waar elke berg en elke vlakte skreeuw om
digters, waar elke tafereel uit ons roemryke geskiedenis skreeuw om
skrywers" (p. 447). Maar met voldoening word gewys op die ontluikende
letterkunde in die moedertaal. "Ons wat so lank kwynend gesuig het aan
die artifisiële gomelastiek tepels van die ingevoerde botteltjies dooie
kondens-melk, begin nou aan ons eie moederbors gevoed en verpleeg te
word" (p. 449).
Treffend is ook die aanklag teen die skoolsisteem. "Die Afrikaanse kind
(word) deur les en boek, voorskrif en voorbeeld ingeprent en wysgemaak
dat die taal van sy huis nie 'n taal van kultuur en beskawing is nie"
(p. 460).
Deur die hele betoog klink "die smeekstem van 'n Afrikaner met
mede-Afrikaners om te erken wat syne en hulle s'n is, wat dit tog maar
altyd sal bly, wat nie van die gehalte is om ons voor te skaam nie" (p.
461). En by die laaste gedagte tril die stem van gloeiende
verontwaardiging: "Te skaam nie, menere! Skande op daardie skaamte! dis
onse kostelikste roem, onse hoogste besitting: die één enigste
witmans-taal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar
gekom het nie, wat die spore van die lief en leed draag van alles wat
ons en onse vadere hier deurleef en deurworstel en deur triumfeer het;
die één band wat ons als nasie aan mekaar heg; die uitgedrukte siel van
ons volk" (p. 461).
In 1919 toe die Kaapse Sinode oor die erkenning van Afrikaans moes
besluit, kom Langenhoven nog 'n keer met 'n vlammende aanklag: "Komt
aan, gij de Villiers's en Steytlers. Gij hadt er nu honderd jaar tijd
voor--(om 'n letterkunde op te bou) gij en degenen die het voorrecht
hadden Hooghollands evengoed als gij, of beter, aan te leren--zoals de
priesters in de Middeleeuwen het Latijn aanleerden. En wijst ons, mijne
heren, waar gij gezaaid hebt? Waar is uwe oogst? Het volk van
Zuid-Afrika hongert te midden van de overvloed zijner mededingers. Ziet,
zoals van gemelde priesters, is uw akker dor en onvruchtbaar gebleven.
Ge hebt ons kultuurhuis voor ons woest gelaten: gij en uwsgelijken, de
bevoorrechten onder een onbevoorrecht volk wier plicht het was geweest
in onze bittere behoefte te voorzien. Ge kunt me geen enkel boek
noemen--ook niet tot één toe--dat, door een Afrikaner in 't Hooghollands
geschreven in al de tijd toen men, volgens u terecht, het Hooghollands
onderwees en schreef en predikte, vandaag als een volksbezitting in de
letterkunde leeft. En deze dorre landen van u voorbijgaande zijn _wij_
begonnen--een korte halve generatie geleden--met onze gemene
kombuistaal. En de werken onzer schrijvers in het Afrikaans hebben ons
nu reeds een eigen letterkunde bezorgd, zodat de Afrikaner ook in de
kultuurwereld zijn hoofd niet meer met schaamte hoeft te laten hangen.
Denkt gij, dat is niets? Dat wij gearbeid hebben waar degenen die ons nu
tegenstaan niets deden?... Komt het u als een kleinigheid voor dat ook
deze nieuwe tempelbouw belemmerd zal worden door de Rehums en de
Simsais?" So skryf Langenhoven in sy brosjure _De Heilige Ennen van
Rehum en Simsai_, wat onder die lede van die Sinode versprei is. Hoe
mooi word daarin die deftige toon met sy bybelse wendinge vir die
hoogeerwaarde here getref! Dit was sy antwoord op die brosjure _Onze
Afrikaans-Hollandse Spreektaal_, van Melius de Villiers met 'n
aanhangsel van Ds. A.I. Steytler (1919), waarteen ook J.J. Smith in _Die
Huisgenoot_ op kalm-wetenskaplike wyse te velde getrek 't.[73]
VOETNOTAS:
[55] _Taal en Poësie van die Twede Afr.-Taalbeweging_, 2de druk, 1920.
[56] Sien _Die Huisgenoot_, Okt. 1921.
[57] _De Volkstem_, 30 Des. 1909. Vgl. _Die Huisgenoot_, Julie 1922, oor
opposiesie in die gemeente Noorder-Pêrel teen Afrikaanse preke.
[58] Aug. 1903.
[59] Vgl. Dr. E.C. Pienaar: _Taal en Poësie van die Twede
Afr.-Taalbeweging_^2 p. 16, waar 'n uitvoerige bespreking aan die
brosjure gewy word. Die voorrede van Dr. Engelenburg is gedateer 14
_Julie_ 1905. Pienaar se datum, Junie, is dus 'n vergissing. Die eerste
gedeelte, wat in die brosjure weggelaat is, bevat 'n droom oor drie
perskebome in 'n snaakse tussentaal, nog Hollands, nog Afrikaans,
waarvan die volgende 'n staaltjie is: "Deze bomen waren hier geplant van
steggies, en by al twee waren klompies mense hard bezig om te proberen
ze te laten groeien, de een deur water te lei, de ander deur los te
spit, de een weer deur te snoei, en de ander deur mest te geven." _De
Volkstem_, 19 April 1905.
[60] _De Volkstem_, 19 Junie 1907.
[61] _Dit is ons Ernst_, 13 Aug. 1908.
[62] _Dit is ons Ernst_, 13 Aug. 1908.
[63] Vgl. die raak opmerkings oor hierdie bewering in _Die Brandwag_, 15
Febr. 1913, en in 'n volgende nommer Brümmer se repliek.
[64] _De Roeping der Kunst_, p. 5 en 25.
[65] In 'n artiekel: _Het Boek in Engeland (Algemeen Handelsblad.)_
[66] Gesiteer in die _Algemeen Handelsblad_.
[67] Sommige is van Jan Celliers, soos o.a. die artiekel _Stryd en
Taalstryd_, (1/4/11), in hierdie paragraaf aangehaal.
[68] _Oom Gert Vertel^3_, p. XX.
[69] t.a.p., p. XXI.
[70] Tomlinson in _Die Brandwag_ Des. 1918.
[71] Vir verder besonderhede oor _Ons Moedertaal_ kan verwys word na Dr.
E.C. Pienaar: _Taal en Poësie_^2, p. 64-74.
[72] Herdruk in _Ons Weg deur die Wêreld_ (1919): _Afrikaans als
Voertaal_.
[73] Augustus 1919. Op aandrang van enige predikante is Prof. Smith se
verweer oorgedruk en as pamflet versprei.
HOOFSTUK III.
Prosa uit die Tydskrifte.[74]
§ 1.(a) De Goede Hoop (1903-1914).
Die oprigting van die tydskrif _De Goede Hoop_ in Julie 1903 deur Mev.
Koopmans-de Wet en "Onze Jan", "benevens andere der voorste Afrikaners
in de Kaapstad".[75] met Adv. J.H.H. de Waal, 'n erkende voorstander van
Afrikaans as redakteur, is ongetwyfeld 'n feit van groot betekenis in
die geskiedenis van die Twede Afrikaanse Beweging. Die talentvolle leier
van die Eerste Beweging, Ds. S.J. du Toit, het deur sy on-Afrikaanse
politiek van ná 1896 die hele saak, waarvoor hy en sy medestryers met
soveel opoffering sedert 1872 ge-ywer het, laat misluk. Die laaste
spartelings van die Genootskap van Regte Afrikaners het nog tot 1909
geduur, toe die tydskrif _Ons Taal_ dood gekwyn 't, maar veral om
politieke redes moes daar 'n heeltemal nuwe begin gemaak word. Die
ondersteuning van _De Goede Hoop_ deur "Onze Jan" was 'n voldoende
waarborg vir die eg-Afrikaanse rigting van die blad, en die redakteur
het van die staanspoor af vasgetrap vir Afrikaans. Deur sy verstandige
stadig-oor-die-klippers-taktiek[76] het hy veel gedoen om die ou
vooroordele teen die moedertaal weg te ruim, terwyl sy kragtige
artiekels onder die _nom de plume Jan van Rozenburg_ 'n groot stoot aan
die nasionale beweging gegee het. _De Goede Hoop_ was dan ook veel meer
as 'n "eerste voorbode van die naderende renaissance", soos Dr. E.C.
Pienaar in sy dissertasie beweer (2de druk, p. 12). "Van Kaapstad begint
die viktorie vir die Twede Beweging en Adv. De Waal was seker een van
die vernaamste kampvegters, wat deur middel van sy blad suksesvolle
voortrekkerswerk gedoen het.
Dat Gustav Preller se verdienste in verband met die Twede Beweging
besonder groot is, ly geen twyfel nie, maar om te verklaar dat dit "op
sy kragtige inisiatief in die lewe geroep" is, soos Dr. E.C. Pienaar
doen, (Diss. p. 1) is stellig onjuis.[77]
_De Goede Hoop_ het leesstof bevat vir mense van ryper leeftyd, maar was
tog meer bepaald vir jongeliede bedoel.[78] Dit het dan ook veral by
jong Suid-Afrika lees- en skryflus opgewek en as propagandamiddel goeie
dienste bewys. Op die betekenis van De Waal se werk word in 'n volgende
hoofstuk gewys. Onder sy medewerkers was daar niemand, wat Afrikaanse
prosa van letterkundige gehalte gelewer het nie. Dit is meestal kort,
luimige verhaaltjies. Van 'n diepgaande letterkundige kritiek is daar
ook nouliks sprake; kort aankondiginge is die reël.
Wat De Waal se opvatting van 'n roman is, blyk duidelik uit die
volgende: "In de gewone roman heeft de held altijd te kampen met een
listige mededinger om de hand van de beminde ... Onverwachte
gebeurtenissen, gemoedprikkelende verrassingen komt ge heel weinig
tegen" (_G.H._ April 1913). Dit word gesê na aanleiding van Malherbe se
roman _Vergeet Nie_, en in nommer van Des. 1911 hoor ons van
"verrassingen die zo onontbeerlik zijn voor 't sukses van 'n roman".
Dr. D.F. Malherbe gee in die nommer van September 1906 uiting aan sy
bewondering vir _Johannes van Wyk_. By sy beoordeling het die betekenis
van die roman vir die taalstryd swaar geweeg. "Ons volkstaal, ons
dierbare boompie, swoeg vandag onder die dubbele las van vyandskap en
verfoeielike vooroordeel. En daarom verdien diegene, wat skriftelik of
andersins manmoedig optree vir die saak ons ondersteuning en
waardering." Vandag sal Malherbe seker nie meer van _Johannes van Wyk_
o.a. beweer nie: "Oral 'n diep-historiese gevoel, wat omstandighede en
gebeurtenisse in die oog hou.... (De Waal) bied ons in sprekende simbole
die inwendige van sy persone."
(b). De Goede Hoop (1915-1921).
Vanaf Januarie 1915 tree Prof. Ds. N.J. Brümmer as redakteur op. Hy is
in 1866 gebore op die plaas Prospect, distrik Dordrecht.[79] In sy
studiejare op Stellenbosch het hy blyk gegee van buitengewone knapheid
en daarna in Skotland en Duitsland sy teologiese en filosofiese studie
voortgeset; maar 'n dringende beroep as predikant na Jansenville het hom
van die doktorsgraad laat afsien. Op filantropies, kerklik en
wetenskaplik gebied het hy prominent opgetree en ook as voorstander van
die A.T.V. belangrike werk gedoen. Sedert 1911 is hy professor in die
wysbegeerte aan die Stellenbosse Uniwersiteit. Die grootste gedeelte van
sy werk is in Hollands, o.a. _Spoken_ en _Eerbied_. Die Afrikaanse
brosjure _Die Afrikaanse Nasie_ is al onder Polemiese Prosa bespreek.
Die grootste gedeelte van die blad verskyn ook onder Brümmer se
redaksie nog altyd in Hoog-Hollands, en ofskoon daar heelwat Afrikaans
in voorkom, word dit, as mens op die inhoud afgaan, langsamerhand veral
die orgaan van die konserwatiewe minderheid, wat aan Nederlands vashou.
Die voorstanders van Afrikaans verenig hul rondom _Ons Moedertaal_
(1914), later verenig met _Die Huisgenoot_ (1916) en _Die Brandwag_
(1910). Dat die politieke beroeringe, wat na 1912 die Afrikaners in twee
kampe splits, invloed gehad 't op die groepering van lesers is
ontwyfelbaar. In hierdie oorsig van die letterkundige prosa uit die
tydskrifte sou 'n nadere bespreking van die kwessie egter uit sy plek
wees.
Brümmer skryf veral oor etiese en sosiale vraagstukke en sy kragtige
Hollandse artiekels wek in kerklike kringe groot belangstelling. Vanaf
Augustus 1918 verskyn van hom 'n reeks didaktiese stukke _Die Spraaksame
Ossewa_[80] in Afrikaans. Die ossewa is vir hom 'n beeld van die
menslike lewe en elke deel daarvan kry 'n sinnebeeldige betekenis, van
die as, wat "'n fatsoenlike karakter, die draagbalk van (die) lewenswa"
is, tot die lunspen, die simbool van getrouheid. Die lewenswa kom by
Brandewynshoogte, Praatdrif, Skinderkrans, ens., wat natuurlik
aanleiding gee tot allerlei didaktiese oorpeinsings. "Die ossewa is al
oud en daar sit wysheid in sy jare" (Sept. 1918). Dat so 'n sistematiese
vergelyking soms uitloop op 'n soekery na vae ooreenkomste spreek
vanself. Tog vorm dit 'n mooi bydrae tot ons didaktiese literatuur.
Brümmer skryf 'n rustig betoënde styl, wat soms verras deur
kernagtigheid en slegs selde storende wendinge bevat soos die volgende:
"as 'n goeie ding gemisbruik kom worde" (Feb. 1919).
Dat Brümmer soms agtiende-eeuse middels gebruik om sy blad vol te kry
blyk uit 'n digwedstryd in die jaargang 1916. 'n Prys word nie alleen
uitgeloof vir die beste gedig nie, maar selfs die onderwerp word
aangegee, nl. die verhaal _Hansie Smal_, wat in een van die nommers van
die blad verskyn het. By die beoordeling van die ingestuurde stukke gee
Brümmer die verrassende uitspraak: "Poëzie moet vloeien, moet _zalvend_
zijn....[81] (Sept. 1916). Dit staan daar!
Hoe laag die literêre peil van die blad word, blyk uit die opname van 'n
eindelose reeks prulrympies. As staaltjie kan die volgende "gedig" dien,
wat in 'n maandelikse wedstryd bekroon is:
Geagte Heer, die editeur,
Ek wil vir jou weer pla,
Want ek wil in die "Goede Hoop"
Vir jou 'n plekkie vra.
Ek wil ook iets vir jou instuur
Soos al jou vrindetal;
En daarom skryf ek nou vir jou
Oor "Lente in die Dal",
Op die manier kry die rymelaar "Charon" nog twee en 'n halwe kolom vol!
(Sept. 1920.)
Die bekroonde verhaal in dieselfde nommer is nie van veel beter gehalte
nie. Dit is van "'n weerspannige dogter", wat "met 'n treurige, bleek
gesiggie.... soos 'n skim deur die huis" dwaal, omdat haar vader vir
Roelie weggejaag het. Sy is Protestants, maar voel so ellendig dat sy in
'n ... klooster wil gaan! Gelukkig oorwin Koos, 'n ander minnaar sy
beskeidenheid, "versamel (genoeg) moed om sy geluk te beproewe" en in 'n
ommesientjie word die weerspannige dogter weer 'n verstandige bruid.
'n Aantal verhale van E. de Roubaix staan op hoër plan, maar omdat sy
beste werk in _Die Brandwag_ verskyn het, word dit daar bespreek.
Die letterkundige kritiek van _De Goede Hoop_ bestaan nog altyd uit kort
aankondiginge. "Dons maar op, alles sal reg kom!" word _Marius_
toegeroep, (Nov. 1916). Wie Afrikaanse werk van letterkundige gehalte in
_De Goede Hoop_ soek, kom egter tot die oortuiging dat alles verkeerd
loop.
§ 2. Die Brandwag (1910-1922).