'n Aaneenryging van kakelbonte awonture, wat die nuuskierigheid prikkel

deur al die konwensionele kunsies van 'n vernuftige intriege vind nog

groot byval, selfs by die ontwikkelde klasse. Dit is 'n voorkeur, wat

deur die tallose minderwaardige Engelse ontspanningsromans aangekweek en

in stand gehou word.[45] As 'n skrywer maar behendig die draadjies kan

trek van 'n klompie houtpoppies, liefs met 'n stukkie vierkleur om die

hoed, en hul 'n paar ingewikkelde dansies laat uitvoer, waarby 'n paar

"rooies", of 'n klomp Soeloes in die stof getrap word, dan vind hy

lesers genoeg! Op karakterontwikkeling kom dit minder aan as daar maar

genoeg aksie, beweging en verrassinge is.

Jan Celliers het die oorsake van die toestand as volg geformuleer: "Hoe

kan verwag word dat 'n jong kultuur, wat, so te sê, gister eers ontwaak

het, onder 'n jong volk, wat van die begin af 'n harde stryd om sy

bestaan te stry gehad het teen 'n hardhandige natuur, teen

honderd-duisende barbare, teen 'n vreemde oorheerser van buite, sou

ooreenkom met die van ouer lande? Hoe kan verwag word dat ons vir ons

besonder sou verdiep het in 'n studie van die mens en sy omgewing vir

filosofiese of vir kunsdoeleindes? Ons het die mens en die natuur

bestudeer met die oog op die praktiese vrae van die dag, wat gou en goed

opgelos moes word, waar ons bestaan van afgehang het. En dié stryd hou

nog altyd aan.... Ons bloed is nog aldag te veel in beweging, jaag ons

aan, ons het te veel te doen, ons moet gou klaar wees, het nie tyd om

veel te droom of te peuter nie.... Om een en ander rede is ons romans

nog veel meer op handelinge en vermenigvuldiging van gebeurtenisse

aangelê as op karakterstudie van 'n persoon of versameling van persone.

Dis vir ons onmoontlik om soiets doodkalm te behartig en ons grote stryd

te vergeet; onwillekeurig straal die stryd, en alles in verband daarmee,

in ons werk deur--romans, toneel, alles."[46] Dat die opvatting van 'n

goeie roman, soos deur Jan Celliers in dieselfde voorlesing uiteengeset

nog lang nie algemeen is nie, blyk uit 'n pleidooi in _Die Huisgenoot_

(Okt. 1919), waarin ongetwyfeld die gevoelens geuit word van "die grote

gros van fatsoenlike mense, wat.... 'n pittige, boeiende verhaal belaai

met "kunsies", verkies bo 'n sielkundige studie van mens en natuur."[47]

En dit sal seker nog lank duur voor al die "fatsoenlike mense" tot

juister kunsbegrippe kan opgevoed word en leer insien, dat Hollanders,

wat iets van letterkunde afweet al lank al nie meer op Van Lennep "roem

as 'n egte en groot romanskrywer" nie.

In die laaste tyd is daar egter 'n reaksie gekom op die awontuurlike

rigting. J. van Bruggen, Léon Maré, Kruger, Van Reenen en ander verdiep

hul in karakterstudie en ook in talryke tydskrifverhale word die mens

meer en meer hoofsaak. Deur die genoemde skrywers is realistiese werk

van goeie gehalte gelewer. Oor die algemeen moet egter geseg word, dat

ofskoon ons goeie vertellers het, wat die kuns van aanskoulike

voorstelling verstaan, daar nog uiters selde 'n karakter geskep is, wat

deur plastiese uitbeelding en fyn, menskundige aanvoeling 'n blywende

indruk maak. Daar is meer as een skrywer met 'n raak opmerkingsgawe,

maar ons voel telkens asof die dinge meer deur 'n soort

projeksie-apparaat bekyk word, as deur die oog van 'n kunstenaar. Wat

Van Deyssel "de oppermacht der intuïtie" noem, ontbreek nog.

"The depiction of the external, objective, carnal, precedes in every

form of expression of which we can have records, the consideration of

the internal, the subjective, the spiritual. We go from shapes, and

forms, and bulk, and externals, to the presentation of the life

within."[48]

Daar is al genoeg aanduidings dat by ons die ontwikkeling dieselfde weg

sal volg. En Stoddard toon aan dat dit ook op ander terrein die geval

was. So het die skilders eers die Madonna met 'n oureool geskilder;

later pas "illumined and glorified by a light from within."

Verskillende skrywers het op gelukkige wyse die inboorling geteken en

ook hier is die strewe merkbaar om van die skildering van uiterlike

eienaardighede oor te gaan tot die uitbeelding van dieper menslikheid.

En naas die jagstories met hul bonte awonturereeks staan Sangiro se

_Sketse_, waarin hy probeer "om die diere se gewaarwordinge uit hulle

uiterlike beweginge te verstaan."[49]

Die groot behoefte aan leesstof in die moedertaal het meer as een

skrywer, veral in die begin, uit pure vaderlandsliefde na die pen laat

gryp. "Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed, ons

kan nie wag nie!"[50] was die wagwoord. In baie voorredes kan mens dan

ook sien, dat die enigste doel van die skrywer was om die leeslus aan te

moedig. So verklaar De Waal van sy _Stompies_, dat hulle "van geen

besonder gehalte op letterkundig gebied (is) nie", "die enigste doel van

die skrywer is om te help voorsien aan (lees _in_) 'n nasionale

behoefte".[51] "Ons kan nie ons volk laat agterbly nie", sê Langenhoven

by die verskyning van _Stukkies en Brokkies_ (1911) en selfs in 1918

heet dit nog: "Die hele boek is maar 'n noodshulpie". Ook D.P. du Toit

reken homself maar onder die "handlangers en knoeiers, wat somar

roustene aandra vir die binnemure".[52] Onder sulke omstandighede hoef

die groot gebrek aan tegniek, waarop in die volgende hoofstukke

herhaaldelik sal gewys word, geen verbasing te wek nie.

Vandag is die toestand só verander, dat ons met die volste reg van alle

aspirant-kunstenaars kan eis, dat hulle goed georiënteer is in die

wêreldletterkunde, dat hul ten minste 'n begrip het van die algemeen

erkende tegniese reëls, voordat hulle aan skrywe gaan. Ons kan ook met

reg verwag, dat hulle geen uitgediende, outydse modelle navolg nie, dat

hulle steeds in voeling bly met die literêre vooruitgang in ander lande.

Maar aan die eise het nog net enkele voldoen en daarom het ons

letterkunde allesbehalwe 'n moderne cachet.

Op taalgebied heers daar by die meeste skrywers groot onsekerheid. Daar

is nog 'n soekery, 'n rondvallery om die juiste vorm te kry, wat

natuurlik maklik verklaarbaar is, by 'n geslag wat gister eers geleer

het om sy eie taal te skryf. By meer as een is die taal nog stroef en

onbuigsaam, wanluidend en sonder ritme. Ander weer, soos Preller, wat

goed op die hoogte van die moderne stylkuns is, skryf al in 1906 'n

gekultiveerde taal, klankvol wegdeinend op bevallige ritme en telkens

verrassend deur oorspronklike beeldspraak, ontleen aan Afrikaanse volk

en bodem.[53] Uit tallose voorbeelde in die volgende hoofstukke sal blyk

hoe gevaarlik diep die vreemde parasiete al deur die bas van die

taalboom geknaag het, en hoeveel speurende sorg daar sal nodig wees om

hulle uit te vroetel.

By enkele skrywers is daar 'n welbewuste strewe na mooiheid van klank en

frisheid van segging, by die meeste egter 'n gedagtelose naskrywery van

geykte Hoog-Hollandse beeldspraak. Gelukkig is daar ook al prosa

geskryf, wat bewys, dat Afrikaans in smydigheid, in seggingskrag en

klank alleen 'n kunstenaar nodig het om tot sy reg te kom. Wanneer ons

let op die stroom middelmatige verse, dan blyk dit hoe nuttig Jacob Geel

se uitspraak ook vir ons kan wees: _"Laat ons het Proza bewerken: de

echte Poëzie zelve zal er bij winnen"_.

§ 8. Krietiese Standpunt.

In die volgende hoofstukke word 'n poging gedoen om die letterkundige

waarde van ons vernaamste prosawerk te bepaal. Wie bekend is met die

toestande in ons land sal toestem, dat by die estetiese kritiek 'n

verwysing na die kultuur-historiese waarde van die besproke boeke

noodsaaklik is. In enkele gevalle word dit afsonderlik gedoen, maar hier

kan met nadruk daarop gewys word, dat die meeste behandelde werke, wat

ook al hul gebreke mag wees, en hoe primitief hul ook dikwels mag skyn

vir iemand, wat op die hoogte van die moderne Europese lettere is, _tog

almal, byna sonder uitsondering, voortreflike dienste in ons taal- en

kultuurstryd bewys het_. Daarom pas dit ons om 'n eresaluut te bring aan

al die voortrekkerskrywers, wat ons volk van 'n geestelike hongerdood

gered 't, deur wie se liefdevolle ywer ons nie langer as doofstomme

bywoners in ons eie land hoef te sit en swyg nie. 'n Eresaluut, nie

alleen aan die begaafde artieste nie, maar ook aan die, wat in alle

eenvoudigheid houtkappers en waterdraers was, toe die meeste nog stil

gesit 't, of niks anders as spot oor had vir 'n beweging, wat 'n einde

aan ons lang periode van geestelike knegskap gemaak het.

Die gevoel van piëteit hoef egter ons krietiese vermoë nie te verlam,

mag ons nie belet om sonder doekies omdraai 'n estetiese oordeel uit te

spreek nie. Dit sou 'n verkragting van ons gewete wees en 'n fatale

uitwerking hê op die verdere ontwikkeling van ons jong letterkunde. Nou

dat die taalstryd feitlik afgeloop is, word dit tyd om vas te stel, wat

ons tot dusverre bereik het; om te waardeer wat skoon is, om te laak wat

gebrekkig is. Tyd ook, om die voortbrengsele van ons kuns te meet aan

die meesterstukke van die buiteland. Want ons wil vorentoe beur! Ons wil

Suid-Afrika "hoog opstooten midden in de vaart der volken". Ons wil nie

'n pieperig-bleek kasplantjie hê nie, wat alleen 'n sukkelbestaan kan

voortsleep in 'n vaderlandse broei-atmosfeer. Dit moet 'n _kan-nie-dood_

wees, wat ook die kritiek van ons Dietse stamgenote nie kan ontwortel

nie, in vaderlandse bodem geplant, maar tog bestand teen alle wind en

weer.

Op dié gedagte is ook die krietiese beskouing in die volgende hoofstukke

gebaseer. Wie dit daarmee nie eens is nie, sal op meer as een skynbaar

onbillike oordeel stuit. Maar laat diegene bedenk, dat ons op kuns-, net

so min as op ander gebied 'n laer kan trek en met doringtakke inmenging

van buite afweer. Op die gevaar van isolasie is reeds in 'n vorige

paragraaf gewys. As ons digters reeds so 'n hoë peil bereik het, dat

selfs Europese fynproewers hulle werk kan waardeer, dan hoef ons

prosaïste ook nie met minder tevrede te wees nie. Jong Suid-Afrika

streef ook op kunsgebied vooruit en die kunstenaar wat laag mik, sal in

'n paar tiental jare skoon vergeet wees. Daarom moet ook ons prosakuns

op 'n kosmopolietiese plan kom te staan, wat geensins denasionalisering

hoef te beteken nie. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons tans

verkeer, kan 'n gemotiveerde kritiek, waarin breedvoerig op prinsipiële

kwessies ingegaan word nuttig wees en daarna is ook in hierdie werk

gestreef. As dit lei tot 'n ruimer belangstelling in ons prosakuns, tot

meer vergelykende studie en 'n juister insig in letterkundige

verskynsele, dan is die doel van die skrywer bereik.

Op die ooreenkoms tussen ons toestand en die Vlaamse is al dikwels

gewys en dit geld ook van die kritiek. August Vermeylen sê: "Elke

flamingant achtte het zijn plicht zijne algemeene gedachten in de

godentaal weg te brullen of uit te kwinkeleeren. In het begin onzer

herwording, na het jaar 1830, was de literatuur het voornaamste wapen

der Vlaamschgezindheid geweest, en lang nog meende ieder taalstrijder

dat wapen te moeten hanteeren. Het vergde dan ook meer dan gewonen takt

van den kritikus, om zich niet schuldig te maken aan landverraad, als

hij den rijmelenden taalbroeder wat minder "puik" moest verklaren."[54]

§ 9. Beperking van Onderwerp.--Indeling.

Die volgende bespreking is beperk tot oorspronklike prosa, wat meer of

min tot die terrein van die skone lettere behoort. Buiten beskouing bly

dus _(a)_ suiwer wetenskaplike prosa, waaronder 'n groot aantal

Afrikaanse dissertasies en die _Populêr-Wetenskaplike Serie_ van die

Nasionale Pers; _(b)_ godsdienstige prosa, soos die kinderbybel van Ds.

Conradie en 'n hele paar preekbundels; _(c)_ vertalings en omwerkings;

_(d)_ kinderboeke. Daar word 'n poging gedoen om te bepaal in hoeverre

ons historiese prosa, deur versorging van styl en ander artistieke

kenmerke tot die gebied van die kuns behoort.

In § 7 is 'n algemene karakteristiek van ons prosa gegee. Op enkele

strominge word daar gewys, maar tewens blyk ook hoe alles by ons nog in

wording is. Veral by die romans en verhale is dit moeilik om tot 'n

bevredigende indeling te geraak. Waar daar nog net vae aanduidings is

van enkele hoofgroepe, en die meeste skrywers nog in verskillende

rigtings rondsoek, word dit onmoontlik en ongewens om nou al kampe af te

baken. Om dié rede is die voorkeur gegee aan 'n kronologiese indeling,

wat onder ander die voordeel bied, dat die meeste skrywers as 'n eenheid

kan bespreek word en, waar nodig, die ontwikkelingsgang in hul werk kan

aangedui word. Op die manier is die verbrokkeling van 'n skrywer se werk

soveel moontlik beperk. G.R. von Wielligh word in 'n afsonderlike

hoofstuk bespreek, omdat hy in baie opsigte _"'n Laaste stem uit die

Genootskap van Regte Afrikaners"_ is. Vir die ander hoofstukke is geen

opheldering nodig nie. Op enkele uitsonderings na word hier die

Akademie-spelling gevolg.

VOETNOTAS:

[1] Vgl. _Die Huisgenoot_, Jan. 1922: _Eerste Skrywers en Eerste

Geskrifte in Afrikaans_.

[2] Die vyftigste verjaardag van die _Genootskap_ in 1925 mag seker nie

ongemerk verbygaan nie.

[3] Dr. L. van Niekerk: _De Eerste Afr. Taalbeweging_ (1916); _Ds. S.J.

du Toit in Weg en Werk_, deur Dr. J.D. du Toit (1917); _Eerste skrywers_

deur G.R. von Wielligh (1918); S.J. du Toit, _Geskidenis van die Afr.

Taalbeweging_ (1880).

[4] Vgl. _Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk_, p. 203.

[5] Preller: _Inleiding tot Die Vlakte_, 5de druk, p. 7.

[6] Gesiteer deur Dr. J.D. du Toit: _Ds. S.J. du Toit_, p. 210.

[7] Vgl. Dr. S.P.E. Boshoff: _Volk en Taal van Suid-Afrika_, p. 62.

[8] J.H.H. de Waal in _Die Burger_, 12 en 13 Aug. 1921.

[9] Dr. T.B. Muller: _Die Geloofsbelijdenis van 'n Nasionalis_. (1913),

p. 8.

[10] Preller: _Inleiding tot Die Vlakte_, 5de druk, p. 12.

[11] Die taalstryd het Dr. E.C. Pienaar beskryf in: _Taal en Poësie van

die Twede Afr. Taalbeweging_. Vgl. daarby egter Hoofstuk III.

[12] Dr. W.J. Leyds: _Het Insluiten van de Boeren-Republieken_ I, p. XI.

[13] Vgl. L. v. Niekerk: _De Eerste Afr. Taalbeweging^1_, p. 64.

[14] _De Volkstem_, 18 Aug. 1906.

[15] Ek kursiveer.

[16] _Die Huisgenoot_, Julie 1919.--Prof. J.J. Smith. Vgl. ook Hoofstuk

III, § 3.

[17] _Neerlandia_, Sept. 1913.

[18] Vermeylen: _Verz. Opstellen_.

[19] Carel Scharten: _De Roeping der Kunst_, p. 5.

[20] Vgl. my artiekel: _Kuns regeringsaak,^2 Die Brandwag_, Jan. 1921.

[21] _Taal en Poësie^2_ ens. p. 110-117.

[22] _Die Banier_, Aug. 1921. Dr. Steyn se verdienstelike artiekels oor

_Die Dietse Bond_ het seker reg op meer algemene belangstelling en

behoort herdruk te word.

[23] _Die Huisgenoot_, Nov. 1921.

[24] Dr. E.C. Pienaar: _Taal en Poësie^2_ ens., p. 47.

[25] _Die Brandwag_, Junie 1917.

[26] id. 15 Aug. 1911, _Skrywers en Gekrifte_, deur N.N. (Jan Celliers).

[27] _Die Banier_, Okt. 1921. _Het Geleerde Jong Suid-Afrika 'n

Program?_

[28] _Akademie-Jaarboek_ I, p. 94.

[29] Dr. H.J. Steyn: _Die Banier_, Des. 1921.

[30] _Akademie-Jaarboek_ V, p. 89.

[31] Id. I, p. 83. _Die Afrikaanse Volksziel_.

[32] _Het Calvinisme en de Kunst_.

[33] _Die Huisgenoot_. Feb. 1919.

[34] Vgl. _Jaarboek_ I, p. 49 vlg. en p. 14. Vgl. ook Dr. G. Besselaar:

_Z.A. in de Letterkunde_, p. 95.

[35] In die pers is aangekondig, dat D.J. Smal, die bekende yweraar vir

gelyke taalregte na die buiteland gaan vir tegniese toneelopleiding.

[36] _Akademie-Jaarboek_ I, p. 92.

[37] _Jaarboek_ III, p. 54 vlg.

[38] _Jaarboek_, p. 67. Vgl. ook sy oordeel oor Beets in V, p. 95 vlg.

[39] V, p. 103.

[40] III, p. 68.

[41] _Die Banier_, Okt. 1921 na aanleiding van die tydskrif: _Het

Getij_.

[42] Vgl. § 5.

[43] Dr. W.M.R. Malherbe in 'n voorwoord by _Die Veldblommetjie_.

[44] _De Roeping der Kunst_, p. 399.

[45] Vgl. Jan Celliers: _Die Roman. Die Huisgenoot_, Aug. 1919.

[46] t.a.p.

[47] Die skrywer is J.W. van Kaapstad.

[48] Stoddard: _The Evolution of the English Novel_, Chapter I.

[49] Voorwoord.

[50] Jan Celliers in _Die Volkstem_, 19 Junie 1907.

[51] Voorrede 2de druk.

[52] Voorrede: _Sy Pa se Skuld_.

[53] Vgl. b.v. sy Persoonlike appresiasie van _Joh. van Wyk, De

Volkstem_, 18 Aug. 1906.

[54] _Verz. Opstellen_ II, p. 149

HOOFSTUK II.

Polemiese Prosa.

"Ik houd van woorden, die op mij neêrbonken als vallende balken, van

woorden, die mij voorbijsissen als kogels", sê Lodewijk van Deyssel.

Sulke woorde van "roode gramschap" en "gele spotternij" sal in die

volgende oorsig telkens aangehaal word met die doel om daarop te wys,

dat enkele van ons strydskrifte oor die taalkwessie, nie alleen van

histories, maar ook van letterkundig belang is. Hier word dus geen

gedetailleerde geskiedenis van die taalstryd gegee nie--dit het Dr. E.C.

Pienaar in sy dissertasie gedoen[55].

Met die oprigting van die tydskrif, _De Goede Hoop_, in Julie 1903 onder

redaksie van Adv. J.H.H. de Waal, 'n algemeen erkende voorstander van

Afrikaans, wat al sedert 1897 bydraes in dié taal gelewer het in _Ons

Land_[56] kry die Twede Beweging vaste vorm. As eindpunt van die

taalstryd kan beskou word 7 November 1919, die dag waarop die Kaapse

Sinode Afrikaans as offisiële kerktaal naas Nederlands erken het. Wat

Ds. N.J. Brümmer in 1909 gesê het geld ook tans nog: "Dit is wel waar,

dat so nou en dan nog een of ander Rip van Winkel uit syn slaap

opflikker en teen Afrikaans uitvaar, maar dit is maar die stuiptrekkinge

van 'n slang wat swaar vervel."[57]

In die sestienjarige stryd het daar 'n groot aantal polemiese geskrifte

verskyn, aanvanklik in Hoog-Hollands weens die groot vooroordeel teen

die moedertaal, maar later meestal in Afrikaans. Reeds in die twede

nommer van _De Goede Hoop_[58] moet De Waal "'n geachte correspondent

uit Stellenbosch", wat gekla het oor "te veel Afrikaansch" daaraan

herinner, "dat Kaapsch-Hollandsch bij velen bijval vindt en hoe langer

hoe meer als zelfstandige taal erkend wordt." By sulke kalme

teregwysings het dit natuurlik nie gebly nie en De Waal het later onder

die skuilnaam _Jan van Rosenburg_ die teenstanders meer as een kopskoot

gegee.

Twee jaar later, op 19 April 1905 begint die stryd ook in Transvaal,

wanneer Gustav Preller sy reeks artiekels _Laat 't Ons Toch Ernst Wezen_

in _De Volkstem_ publiseer. Dit is 'n kloek, goedgedokumenteerde

manifes, wat met onverbiddelike logika al die argumente van die

teenstanders ontsenu en as gevolg gehad 't die stigting van _Die

Afrikaanse Taalgenootskap_, op 13 Desember 1905. In Julie 1905 word

Preller se artiekels met weglating van die eerste gedeelte en voorsien

van 'n nuwe inleiding in brosjure-vorm uitgegee, met die ondertietel:

_Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse Schrijftaal_.[59]

Afgesien van die historiese betekenis van Preller se brosjure verdien

dit, ofskoon nog in Nederlands opgestel, ook uit letterkundig oogpunt 'n

ereplaas onder die polemiese literatuur van die Twede Beweging. Met 'n

forse stem verkondig hy die waarhede, wat vandag so vanself sprekend

lyk, maar sestien jaar nodig had om algemeen ingang te vind.

In die polemiek van dié jare klink daar uit meer as een artiekel 'n

warme oortuigingsdrang op. Met die stryd vir die vereenvoudigde spelling

(1904) het dit krioel van spellingdeskundiges en nou was weer iedereen

filoloog! "In ons vaderland kan het gebeuren dat uw schoenmaker meer

theologiseert dan uw zoon, die student is in de theologie," sê Allard

Pierson in _Intimis_. Lees mens filologie in plaas van teologie, dan was

dit presies ons toestand. Onder al die dilettante-wysheid en verwarde

taalbegrippe kom egter ook telkens brokstukke van entoesiastiese

welsprekendheid voor, waaruit blyk dat heel die volk in roering was.

Naas die lekeredenasies staan dan die kalm-wetenskaplike betoë en

ernstige pleidooie van die leiers, wat so stadig aan met hul mokerslae

alle opposiesie vergruisel het.

Van die begin af was daar al sekerheid van die uiteindelike oorwinning.

"'n Mens kan net sowel perbeer om die see met 'n besem te keer as die

Afrikaanse taal met sulke klein dingetjies", sê Preller op 9 Augustus

1905 in _De Volkstem_. Met groot erns pleit Jan Celliers twee jaar later

vir 'n eie letterkunde: "Maar dit is tog voor elke Afrikaner duidelik

dat slegs 'n eige letterkunde, uit Afrikaanse grond opgeskote,

deurtrokke van die Afrikaanse gees en v'r Afrikaners verstaanbaar, deur

en deur in taal en inhoud, dat so 'n letterkunde alleen bereken is om

hier werkelik doel te tref. Wie wil ons help om so 'n letterkunde voor

ons mense op te bouw? Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om

op te voed; ons kannie wag nie!"[60]

En in die volgende jaar roep Dr. D.F. Malan: _"Dit is ons Ernst!"_ "G'n

taalgeleerde kan 'n werkelik lewende taal maak nie, ewemin als 'n

skeikundige op syn laboratorium di lewe kan skep. Di taalgeleerde kan di

taal alleen vind en analiseer. Iedere lewende, kragtige taal word gebore

op di bodem van di volkshart en di volksgeskiedenis en leef alleen in di

volksmond. G'n volk kies ooit syn spreektaal of, voor lange tyd selfs

syn skryftaal nie, op raad van eksperte. Volke en tale word saam gebore

en sterf saam."[61] Op helder wyse set hy uiteen, dat Nederlands nooit

ons volkstaal kan word nie, dat Afrikaans onuitroeibaar is. "Di

Afrikaanse Taalbeweging is niks minder nie dan 'n ontwaking by ons volk

tot 'n gevoel van eiewaarde en tot di roeping om 'n waardiger plaas in

te neem in di wereldbeskawing."[62]

Hoe die "gevoel van eiewaarde" al sterker word, blyk uit die brosjure

_Die Afrikaanse Nasie_ (1908) waarin Prof. N.J. Brümmer 'n uiteensetting

gee van wat hy as 'n nasie beskou. Hy konstateer, dat tot nog toe alleen

die Hollandse Afrikaners met die benaming kan aangedui word "omdat hulle

'n eie en aparte volkssiel besit en hulle daarvan skerp bewus geword

het". Hy ontken alle "nasionale eenheid" tussen Nederland en Hollands

Suid-Afrika. "Om die eerlike waarheid te sê, is daar meer soortgelykheid

in wereldbeskouing, gees en strewe tussen die Afrikaner en die Skot, dan

tussen die Afrikaner en die Hollander....[63]. Wat die Hollandse

letterkunde betref, die veelbesproke kultuurskat--die bestaan nog vir

enkele spesialiste onder ons volk, en sekere uittreksels daarvan bestaan

ook soms vir studente, solank as hulle vir 'n eksame of prys werk. Ons

volk as volk dra van Hooft, Vondel, Cats of Bilderdijk net so min kennis

as van die man in die maan. Van Couperus, Van Eeden, Perk en Kloos wil

ek nie eers praat nie. Of hierin ooit verbetering kan kom, betwyfel ek

sterk. Die Hollandse skrywers skryf nie vir ons nie, en al sou hulle ook

vir ons skrywe, dan raak hulle tog ons volkssiel nooit." Dit is

verstaanbaar, dat sulke opmerkings in die hitte van die taalstryd gemaak

is, maar Brümmer gaan in sy militante ywer tog té ver, al sit daar

natuurlik 'n kern van waarheid in die bewerings. Die werk van sulke

geestelike aristokrate soos Hooft en Vondel kan nooit deur die _hele_

nasie gewaardeer word nie. Sonder ons Cats uit, dan sou dieselfde

bewering met die grootste stelligheid van die Nederlandse volk self kon

gemaak word. Carel Scharten sê b.v.: "Het leelijke, het onwegwerkbare

feit is juist, dat Vondel vergeten worden kon, en ongelezen blijft en

ongelezen blijven zal.... Er zijn altijd de dichters voor weinigen naast

die voor heel een volk geweest."[64] En in ander lande gaan dit net so.

Edward Garnett sê b.v. van Engeland: "Ons toneel is het grofste in

Europa en onze verwaarlozing van het drama van Shakespeare is werkelik

een schandaal."[65]

Clément Vautel het nog onlangs in verband met die Molière-herdenking

opgemerk, dat die Franse dié kunstenaar alleen met die lippe eer. "Ieder

doet alsof hij Molière op zijn duimpje kent. Maar, in gemoede, is al dat

fraais, en is al die wierook nu wel echt? Is die geestdrift die op een

vastgesteld uur losbarst, niet veeleer zelf ook komedie?"[66]

Met 'n pleidooi vir 'n Afrikaanse letterkunde sluit Brümmer sy betoog.

"Ons het lang genoeg ons sielkos in blikkies ingevoer en die ingelegde

en ingevoerde kos vergewe 'n mens dikwels." Maar die manier waarop hy

hom die ontstaan van 'n letterkunde voorstel, getuig van weinig insig.

"As elkeen van nou af aan begin om vir sy boek stof bymekaar te maak,

dan sal dit wel nie te lang duur nie of ons het 'n eie letterkunde"! Dis

maar gelukkig dat al die Stellenbosse studente nie die raad opgevolg het

nie!

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging · 第 2 / 27 段