boom van die skip. Die vals kiel, ’n groot hout-affêre heeltemal
onderkant die eintlike kiel, was agter die grootmas so-te-sê afgeskeur,
en ’n hele klomp toupluksel was losgeruk uit die voeg van die kuilgang.
Ons het op die nat rotse gaan lê en ’n klomp toupluksel, ’n soort vesal
soos uitgerafelde sakgoed—of sal ons sê goiïngsak?—ingesit met
kalfater-gereedskap wat bestaan uit ’n soort van stomp bytel en ’n
houthamer (of ook ’n gewone hamer) om die goed in die voeë of barste
vas te stamp.
Toe het ons ’n klomp van Billy se smeerseep gevat wat hy vir die
skottels gebruik en dit met ’n hamer bewerk en met die hande tot ’n
deegagtige massa gebrei. Dit het ons oor die toupluksel gesmeer. Ons
het in die water gewerk totdat die see te hoog gerys het, en toe het
ons met ’n leer aan boord geklim. Ek kon ook baie help by hierdie werk.
Daarna was ons baie besig met water uitskep.
Aan land het ons een van ons klein tente opgeslaan en die meeste van
ons goed, soos slaapsakke, komberse, geweers en ammuniesie daarin
gesit. Elkeen het so goed soos hy kon, sy goed bymekaargeskraap om dit
aan land te bring. Dit was baie opwindend, presies asof ons die skip
vergoed wou verlaat. Dit was ook baie treurig om ons pragtige Morrissey
so te sien, deurtrek van die water en olie, en alles so verskriklik
omgekrap.
Na die aflaai van die goed, en nadat die manskappe elkeen ’n beker
koffie en klinkers geniet het en wat Billy verder in die blikke kon
kry, was dit so amper al weer hoogwater, so teen elf uur in die nag.
Die son was natuurlik die hele tyd ewe hoog bokant die gesigseinder,
net in ’n ander rigting, sodat dit altyd gelyk het of dit helder in die
agtermiddag was. Ons was vreeslik gelukkig om g’n stormagtige weer te
hê nie.
Almal is aan boord geroep en drie manne het gepomp, terwyl die ander
die windas gedraai het. Ons het die groot anker en ’n kleintjie in die
see gehad om met die windas daaraan te trek.
’n Taamlike wind het opgekom en ons moes die skip daar en dan van die
rif afkry, anders sou dit sekerlik vergaan, en ons sou daar gestrand
wees. Nadat ons omtrent ’n uur gewerk het, was ons net op die punt om
moed op te gee, toe die wind sterker begin waai. Kapt. Bob het nou
orders gegee om al die seile te span. Elkeen klim in die maste en trek
vir al wat hy werd was. Die wind swel die seile, en die motor beur
volstoom vorentoe. Maar die skip bly sit, en ons was net moedeloos.
Toe kom daar meteens ’n besonder groot golf en ’n windvlaag, en skielik
kreun die skip en gly van die rif af. Vyf-en-twintig uur daarna was ons
heeltemal los. Maar was ons nie bly nie!
Pa, Carl en ek het aan land gegaan om die goed reg te pak in geval dit
sou reën, terwyl hulle met die skip lywaarts [5] omgeseil het, waar
hulle beter daarvoor kon sorg en uitvind hoe sake staan. Die skip het
skynbaar baie gelek, en hulle was van plan om hom op die strand te
bring as die water die pompe baasraak.
Ons het dadelik ingekruip, ek meen omtrent halfdrie. En toe ons wakker
word, was dit twee-uur in die agtermiddag! Dit is te begrype dat ons
baie moeg gewees het. Buitendien is Carl baie siek gewees en het dit
net moeilik gevind om aan die gang te bly.
Die Morrissey was verdwyn. Ons het natuurlik nie die minste idee gehad
waar hy was nie, maar al wat ons kon doen was om te wag en alles so
goed as moontlik in orde te bring. Die volgende dag, in die mis, het
Carl en Pa met die motorboot uitgegaan om te sien of hulle die ander
klomp kon vind, maar hulle het die skip nie gekry nie.
Ons het toe maar ’n soort van huis gebou, die komieklikste huis wat
mens jou kan voorstel. Robinson Crusoe het selfs nooit ’n snaakser een
gesien nie. Dit het drie mure gehad, algar hoofsaaklik van kos gemaak,
met ’n groot seil daaroor getrek as ’n dak en ’n paar geteerde bokseile
om te help. Die sterkste muur, aan die kant van waar die wind gewaai
het, was gebouw van sakke meel op kiste met ingelegde groente. In
daardie mure was sakke ertappels, kratte vol uie, vate, sakke met
pakhout [6], hamme en spek. Ons het in elk geval gevoel dat ons genoeg
kos gehad het. Ons was besonder bly dat ons ’n hele klomp „pemmican”
[7], spesiaal deur Armour gemaak, gehad het wat Pa se vriend Herman
Nichols vir ons gegee het.
Ons het twee groot beervelle gehad, en die saam met ’n geteerde
bokseil, het ons op die klam grond gelê as vloer. Met ’n priemusstoof
wat lampolie brand, het ons heeltemal tuis gevoel, al het die wind die
seile amper van die dak afgewaai. Ons het groot klippe daarop gepak en
’n paar swaar hamme wat ons van mnr. Swift gekry het met toue aan die
kante van die seile vasgebind.
Ek het heeltemal siek geword en moes amper die hele tyd wat ons in
„skipbreuk-kamp” deur gebring het, in my slaapsak bly. Dit was deksels
koud sonder ’n vuur om huis te verwarm, maar ons het darem eersteklas
gevorder. Pa het ons verseker dat die draadlose boodskap dat ons skip
van die rif af was, teen die tyd al ontvang was. Ongelukkig het die
water ons draadlose toestel belemmer toe die ongeluk plaasgevind het.
Ed Manley het ’n paar dae nodig gehad om dit weer in orde te bring.
Teen die middag van die derde dag, terwyl hy besig was om tee te maak
op die priemusstofie, kyk hy by die deur van ons hut uit en gewaar ver
weg teen die berg vier Eskimo’s wat na ons toe kom. Toe hulle nader
kom, kon ons sien dat hulle algar groot pakke dra.
Toe hulle by die hut kom, sit die man ’n babetjie wat hy geabba het
neer. Die moeder het ’n sak met leë blikke op haar rug gedra, wat ons
kon sien, het van die Morrissey gekom. Met die paar woorde wat ons kon
verstaan en baie tekens en gelag—hulle is altyd baie goedgehumeurd en
gaaf—vertel ons vriende ons dat hulle op die skip gewees het en gehelp
het om te pomp. Hy was aan die ander kant van die eiland geanker.
Skynbaar was hy net ’n paar myl van ons af.
Nadat ons hulle kos gegee het, hoofsaaklik ’n groot bak vol ertjies
waarvan hulle baie hou, het Carl en Pa vertrek om die skip te soek,
terwyl hulle my agtergelaat het om te slaap. Ek het vergeet om te sê
dat ons vir die Eskimo’s ’n bietjie ham gegee het wat lekker gelyk het,
en wat hulle te kenne gegee het dat hulle graag sou proe. Maar hulle
het net niks daarvan gehou nie, want dit was te sout. Hulle gebruik mos
nooit sout by hulle vleis nie en kan nie verstaan hoe ons daarvan kan
hou nie. „Naggha pioek” het hulle met ’n snaakse gesig gesê. Dit
beteken „nie lekker nie.”
Omtrent middernag, sowat agt uur later hoor ek ’n skreeu. Ek skrik
wakker en sien die Morrissey in die baai, anderkant die plek waar hy
gestrand het. Pa en Carl was aan boord. Daar die wind bedaar het, het
hulle omgeseil om die goed te kom haal.
Hulle het my aan boord gestuur en Dok het my georder om onmiddellik na
bed te gaan en my so warm as moontlik te hou. Daar my kooi nog klam was
waar die water ingeloop het, het ek in Pa se kooi geklim in die
agterste kajuit waar ’n vuurtjie gebrand het.
Toe ek wakker word, was ons op pad na die suide. Die plan was om terug
te gaan na Upernivik en daar die skip op die strand te bring om dit te
herstel. Met soveel mense aan boord het kapt. Bob en Pa gereken dat dit
beter sou wees om nie te waag om die skip aan die noordekant van
Melville-Baai te probeer regmaak nie, want dit is dikwels ’n moeilike
baai om oor te steek.
As die Morrissey met hoogwater op die rif gevaar het, dan sou dit goed
gegaan het. Hier strand dikwels skepe deur die honderde van rotse en
riwwe wat nie op die kaarte aangegee word nie, en deur die onvolledige
inligting waaroor die seevaarders beskik. Maar sulke dinge gebeur
natuurlik altyd op die verkeerde tyd. Dit was pure ongeluk. Toe die
wind opkom, was dit met ons ’n kwessie van vergaan of loskom.
Hierdie het ek in die agterste kajuit geskryf terwyl ons oor
Melville-Baai geseil het op pad na Upernivik. Die skip was in ’n
verskriklike toestand, maar alles in nou weer taamlik agtermekaar. En
elkeen het sy slaap omtrent weer ingehaal.
Rondom my kooi en mnr. Kellerman syne is die planke ingeduik. Dit kom
van die verskriklike drukking op die raamwerk en balke toe die skip op
sy sy gelê het, wat gemaak het dat die ligte binnenste raamwerk van die
kooie gekraak het as die skip net effentjies geroer of meegegee het.
Pa vra my nou net of ek graag weer ’n reis na die noorde sou onderneem.
Ek het natuurlik ja gesê. My eintlike antwoord was: „Met kapt. Bob sou
ek na enige plek graag saamgaan.”
HOOFSTUK VIII
DIE MORRISSEY HERSTEL
Dinsdag die derde Augustus het ons weer in Upernivik aangekom met
Melville-Baai veilig agter die rug. Ons het goed geweet dat ons reis
daar en dan sou ophou, daar ons die lekplekke in die Morrissey nie kon
regmaak nie. Op die terugreis het elke minuut omtrent tien gellings
water ingeloop. Dit op sigself was nie erg nie, maar daar was gevaar
dat dit enige oomblik erger kon word, veral as die skip ooreis sou word
of in botsing kom met ys of iets anders.
Toe ons inseil was ek aan die beurt om te pomp. As die motor slaan,
moes ons amper aanhoudend pomp, want deur ’n toestel wat Robert Peary
uitgedink het, gebruik die motor in sy verkoelingsinrigting baie water
uit die skeepsruim, en dit het die pompery baie verminder.
Ons het dadelik ’n paar Eskimo’s aan boord laat kom om te pomp. Kapt.
Bob het aan land gegaan om uit te vind hoe diep die water was en hoe
skuins die kus, om te sien of ons die Morrissey op die strand kon
bring. Later in die agtermiddag het die Goewerneur en sy assistente ons
vertel dat daar omtrent tien Engelse myle (die Deense myl is omtrent
vier van ons s’n) van Upernivik ’n fjord was waar dit maklik sou wees
om die skip op die strand te bring. Hulle het die plek self gebruik om
onder aan hulle skepe te werk.
Ons het onmiddellik vertrek en dit het ons twee-en-’n-half-uur geneem
om daar te kom. Op weg soontoe het ons deur ’n soort van natuurlike
poort in die rotse wat omtrent so wyd soos die lengte van die skip was,
geseil. Dit was baie, baie diep, want aan weerskante was daar ’n berg
met steil kranse wat waarskynlik baie vame onder die water eindig.
Hulle het die skip geanker en vir ’n hoë gety gewag, terwyl kapt. Bob
voorbereidsels gemaak het om hom uit die water te kry, sodat hulle aan
die boom kon werk. Ongelukkig was die skade heeltemal onder aan die
kiel, dus was dit nutteloos om die skip maar net oor te kantel op sy
sy. Pa het in Upernivik reëlings getref om ’n dosyn Groenlanders saam
te vat wat kon help by die moeilike werk, soos die verskuiwing van die
ballas. Ons het ook die goewerneur se smid en ’n klompie van sy
gereedskap geleen.
Die volgende dag het ’n paar van ons die goewerneur in ons motorboot
teruggebring na Upernivik. Dr. Heinbecker en ek het daar gebly en ’n
besoek gebring aan dr. Rasmussen, die vroulike dokter wat daar woon en
al die klein nedersettings in die rondte besoek. Sy maak die ritte in
haar eie klein motorboot, vergesel deur ’n paar Eskimo’s wat dit vir
haar dryf. Sy is Deens en is baie gaaf. Sy is baie groot en sterk en
wonderlike verhale word van haar vertel, hoe sy in die winter haar span
honde dryf, en selfs mans wat probeer om by te hou, word uitgeput. Die
hele tyd wat ons in Upernivik deurgebring het, het sy ons in haar klein
hospitaal in lekker beddens laat slaap, en ons in alle opsigte
uitstekend behandel. Gedurende ons besoek daar het ons allerhande
interessante kos gekry, soos die vleis van seehonde, auks en eende en
eendeëiers.
Daardie agtermiddag het dr. Rasmussen berig gekry dat daar siekte was
in ’n klein dorpie met die naam van Aupilagtok wat net ’n paar myl van
die plek waar die Morrissey was geleë was. Die ander het teruggegaan na
die Morrissey, terwyl Dok en ek saam met dr. Rasmussen na die dorpie
gegaan het, nadat ons hulle versoek het om ons daar te kom haal. Ons
het met haar skuitjie gegaan wat in Denemarke gemaak is. Dit is baie
sterkgebou en ploeg ewe maklik deur die ys asof daar nie soiets was
nie.
Daar was in Aupilagtok ’n klein winkeltjie in ’n klein kamer wat teen
die huis van die hoofman gebou was. Sy naam was Imik en later het hy Pa
op ’n driedaagse tog na die gletsers en die groot gletserveld begelei.
In die winkel het hulle lood vir koeëls wat hulle in primitiewe vorms
gegiet het, ook doppies en kruit. Hulle geweers skiet met koeël en
koeëlpatrone en hulle maak alle ammuniesie self. Hier het die Eskimo’s
geld waarvoor hulle beskuit, suiker, twak en ander dinge koop. Hierdie
artiekels word met ’n snaakse skaaltjie geweeg met twee ou
koper-skarniere as gewigte.
Na ’n ruk het Pa en ’n paar ander met ons motorskuit aangekom en ons
het algar teruggegaan na die Morrissey, dwarsdeur ’n hele spul ys.
Meestal het dr. Rasmussen se skuit, die Mitik, wat baie breed is
vooruit deur die ys geploeg en ons s’n het gevolg.
Toe ons by die Morrissey aankom, wou die kaptein ontslae raak van ’n
paar van ons om dit makliker te maak vir Billy, die kok, wat ook vir
die hele trop Eskimo’s moes sorg. Buitendien was hulle besig om die
ballas te verskuif en alles klaar te maak om die skip op sy sy oor te
kantel. Gevolglik moes hulle alle vure doodmaak en op die strand boer.
Dr. Rasmussen het ons dokter, Harry Raven en my genooi om saam met haar
na Upernivik te gaan, en ons het die uitnodiging aangeneem.
Ons het in haar boot teruggegaan na Upernivik en omtrent vieruur in die
oggend daar aangekom. Dit was natuurlik helder dag en die son het
geskyn; want ons was die hele tyd gelukkig om heerlike weer te hê,
terwyl dit ook taamlik warm was. Ek meen die temperatuur was op sy
warmste sowat sestig graad en op sy koudste nooit onder veertig nie.
Gedurende die middagete om twee-uur die agtermiddag het ons weer ’n
groot geskreeu van die Eskimo’s gehoor.
„Demiaksoa!” het hulle geskreeu. Dit is hulle woord vir „skip”. (Ek het
die woord gespel soos dit vir my geklink het.)
Tot ons groot verbasing sien ons ’n oorlogskip die hawe binnekom. Dit
blyk toe die Islands Falk (dit beteken Ysland-Valk), die Deense
patrollie-skip te wees. Onder in Suid-Groenland het hulle deur middel
van hulle radio-toestel van ons moeilikheid gehoor en het daar en dan
noordwaarts vertrek om ons te kom help. Die eerste draadlose berig wat
deur ’n Amerikaanse skip aan hulle oorgesein is, het gesê dat die
Morrissey heeltemaal vergaan was, en dat ons algar op die kus was.
Waarom juis so’n berig gestuur is, kon ons nie begryp nie, daar ons
natuurlik niks van die aard laat weet het nie.
In elk geval het kapt. West van die Valk later ’n ander berig ontvang
van die Kanadese skip Boethic wat aan die Kanadese kant was. Die
Boethic het ’n draadlose onderhoud met ons gehad en het kapt. West met
die ware feite bekendgestel, naamlik dat ons op weg was na Upernivik om
ons skip te herstel. Die Valk het dus na Upernivik gekom om ons te
help.
Ek het ’n klein skuit gekry en uitgeroei na die oorlogskip en aan boord
gegaan. Tot my groot verbasing is ek begroet deur dr. Knud Rasmussen
wat in die Valk opgekom het van Disko waar ons hom sou ontmoet het.
Maar sy skip van Denemarke was baie vertraag en hy kon dus nie daar by
ons aansluit nie. Ek het hom vertel wat ons oorgekom het.
Kapt. West, kommandeur Riis-Carstensen, dr. Rasmussen en ’n paar ander
gaan toe na die Morrissey en bied hulle hulp aan. Op die end het hulle
’n gawe klomp manne soontoe gestuur met ’n duiker en bote en alles. Die
duiker het omtrent ses dae gewerk, terwyl die Deense offisiere en
matrose op die skip geslaap het en aan land uitgekamp het. Dit blyk toe
dat dit met behulp van die duiker moontlik was om die lekplekke meer of
min toe te stop. Maar ek is seker dat ons sonder sy hulp in ’n taamlik
benarde toestand sou gewees het. Die groot moeilikheid was om die
beskadigde plek te bereik wat heeltemal onder aan die skip was. En op
die plek waarheen hulle ons gestuur het om die skip op die strand te
bring, was die gety nie sterk genoeg om die kiel heeltemal uit die
water te kry nie.
Ons was regtig dankbaar vir alles wat die Deense amptenare vir ons
gedoen het. Niemand kon gawer en edelmoediger teenoor ons gewees het
nie. En ek het nog nooit ’n gawer klomp manne teëgekom nie. Dit was vir
my groot pret om op die skip en in die dorp met hulle rond te gaan. Die
meeste van die sestig man aan boord het van alle dele van Denemarke
gekom en was juis besig om hulle verpligte jaar op see uit te dien. In
Denemarke moet elke man een jaar in die land- of seemag diens doen. En
ek dink hulle hou algar daarvan om hierdie reis na Groenland te maak,
omdat dit so ’n verandering is.
Terwyl hulle aan die skip besig was, het Dok, Harry en ek na Upernivik
getrek. Pa het drie mans na die gletser geneem waar hulle portrette
geneem het en eksemplare van voëls versamel het.
Dit was ’n woelige tyd vir Upernivik, waarskynlik die lewendigste wat
hulle nog ooit gehad het. Want behalwe die Morrissey was die Valk daar
met sestig man wat meestal aan land was. Daar was elke aand ’n dans in
’n groot pakhuis naby die skeepswerf, wat gewoonlik tot die oggend
aangehou het. Dit was in kort nooit nag nie. As in die somer ’n skip na
een van die afgeleë dorpe kom, vergeet die mense heeltemal om te slaap.
Algar bly die hele tyd wakker. Vir die manskappe van die skepe is dit
eintlik vermoeiend, want die dorpsmense kan tenminste slaap as die skip
vertrek, terwyl die manne aan boord dan eers regtig begin werk.
Die kerk van Upernivik is die noordelikste in die wêreld. Die nuwe
gebou is toe net klaargemaak en die Sondag toe ons daar was, ingewy.
Daar was ’n menigte mense, en die Goewerneur het sy pluiskeil opgehad
en wat daarby behoort. Ons het natuurlik algar soontoe gegaan, ook na
’n Eskimo-bruilof in die agtermiddag. Die gesange en ’n lang preek was
algar in die Eskimo-taal. Die eerste kerk in Upernivik is reeds in 1780
gebou.
In die aand van 10 Augustus het die Morrissey teruggekom na die hawe.
Die duiker het die skip pragtig reggemaak. Kapt. West het aan kapt.
Bartlett ’n brief gegee wat getuig dat die Morrissey weer heeltemal
seewaardig was. Ons was dus gelukkig, want dit het beteken dat ons ons
reis wat so amper noodlottig was, kon voortsit. Ons het besluit om weer
noordwaarts te gaan en Knud Rasmussen na Thule te bring.
Die aand voor ons vertrek het hulle vir ons in Goewerneur Otto se huis
’n groot geselligheid gegee. Alle luike is toegemaak om dit donker te
maak en toe, om dit geselliger te maak, het hulle ’n menigte kerse
opgesteek. Agtien mense het in die klein eetkamer ingedruk. Daar is
toesprake gehou, en dit was net ’n lekker affêre. Ek het taamlik vroeg
ingekruip, maar die grootmense, dink ek, het nie voor sewe-uur in die
oggend gaan slaap nie.
Die laaste aand was daar nog ’n afskeid op die Ysland Valk. Kapt. Bob
en Pa was die gaste van kapt. West by ’n dinee. Hulle het al die goed
van dr. Rasmussen op die Morrissey gelaai. Hy sou die hele end pad saam
met ons gaan, tot by New-York, en het dus ’n hele klomp klere en ander
goed gehad.
Toe ons die anker lig en weer op koers gaan, laat ons ons vlag sak en
skiet drie skote van ons grootste geweer as ’n saluut. Die Valk
antwoord toe met drie skote van sy groot kanonne, en die mense op die
land skiet nog ’n saluut met hulle klein kanonnetjie. Dit was heeltemal
’n spoggerige afskeid. Die Goewerneur was in sy groot roeiboot en waai
vir ons vaarwel. Upernivik kon ons bepaald nie beter behandel het nie,
en ons het dit ten volle waardeer.
En toe draai ons weer noordwaarts met dr. Rasmussen. En ons het ons
gelukkig geag dat ons weer op pad was in plaas van suidwaarts te
retireer. Ons was nou op die punt om Melville-Baai vir die derde maal
oor te steek, wat heeltemal ’n rekord is vir een seisoen.
Dr. Rasmussen het byvoorbeeld al veertig maal oor die baai geseil.
Waarskynlik het hy meer in hierdie streke gereis as enige ander lewende
man. Hy het my vertel dat dit hom een slag ses weke geneem het om net
oor Melville-Baai te kom, daar sy skip in ’n groot massa dryfys
vasgevries was en sommer rondgedryf het. Hoe gelukkig was ons dus nie
om driemaal oor te kom nie feitlik heeltemal sonder ys.
HOOFSTUK IX
ONS EERSTE NARWAL
Nadat ons Melville-Baai oorgesteek het sonder om by Kaap York aan te
gaan, het ons in Thule aangekom. Met die opkom, aan die ander kant van
Melville-Baai, het hulle my uit een halt gekul. Dit was een oggend baie
vroeg toe ek nog geslaap het, en hulle het my nie wakker gemaak nie.
Toe die bote uitkom om die Morrissey te ontmoet het die manne hulle
hoede geswaai om ons te groet. Maar toe hulle nader kom en dr.
Rasmussen aan boord sien, begin hulle te skreeu en te juig. Die man wat
hulle klein motorboot gedryf het, was so opgewonde, dat hy skoon
vergeet om die motor tot stilstand te bring, met die gevolg dat sy boot
in volle vaart reguit teen die sy van ons skip loop en so hard stamp
dat al die mense in sy boot omval.
Ons het Rasmussen na sy handelstasie gebring nadat hy vyf jaar laaste
daar gewees het, en Pa het onderneem om die vosvelle wat hulle
gedurende die winter van die Eskimo’s gehandel het, vir hom saam te
neem na New-York. Mnr. Rasmussen se bestuurder, wat ook sy neef was,
het die belofte gekry om vanjaar te mag teruggaan na Denemarke, nadat
hy ses jaar aanmekaar in Thule gewees het. ’n Appel wat Pa vir hom
gegee het, toe ons vir die eerste maal daar was, was die eerste wat hy
in al die tyd geëet het.
Van Thule het ons ook ’n Eskimo-meisie Nette saamgevat wat haar
opleiding as verpleegster begin het en nou na Denemarke teruggaan om
haar kursus te voltooi; sy sal by mevr. Rasmussen tuisgaan.
Hans Nielsen is Rasmussen se bestuurder, en hy is natuurlik baie in sy
skik oor die geleentheid om weg te kom. Hy het sy eie kajak op die
Morrissey gebring om ons met die jag te kan help.
Terwyl ons in Thule was, het Pa, Dan, Bob Peary en ek een oggend vroeg
met twee Eskimo’s in die motorboot uitgegaan om te sien of ons seehonde
kon kry. Ons het omtrent vyf myl die fjord opgegaan tot aan die voet
van die gletser, en het omtrent ses gesien, maar ons kon nie naby
genoeg kom om hulle te skiet nie. Ons het ’n paar skote op ’n afstand
geskiet, maar het niks gemaak nie.
Toe moes ons teruggaan, want sodra as Nielsen en Nette gereed was, sou
ons na Walvis-Sond vertrek. Daardie oggend, terwyl hulle besig was om
te pak, het ons voor mnr. Nielsen se huis ’n dansie gehad. Kel het
lewende beelde van die geselskap gemaak. Ons het ’n emmer lekkers daar
gehad, en toe die omgestuur is, het die Eskimo’s albei hande ingesteek.
Maar hierdie gawe noordelike volkie is regtig uiters beleefd en sal
nooit iets vat eer hulle genooi word nie. En ek glo nie dat hulle ooit
steel nie. Dit was baie interessant om van mnr. Rasmussen te verneem
dat die Eskimo-taal g’n vloekwoorde besit nie. Hulle gebruik eenvoudig
g’n slegte taal nie. Die ergste wat mens vir ’n man kan sê, is dat hy
’n leuenaar is of ’n slegte jagter.
Ons het van Thule ’n klomp Eskimo’s saamgeneem, waaronder ’n ouerige
man wat saam met Peary gegaan het en baie siek was. Hy het aan kapt.
Bob gesê: „Ek verlang terug na die dae van Pearyarksjua, toe ons volop
kos en klere gehad het.”
Die kaptein het hom natuurlik goed geken en het nog vertel dat hy
omtrent die sterkste was van die hele lot Eskimo’s wat hulle gehad het,
en ook een van die beste jagters. Sy naam is Aangmalokto. Dr.
Heinbecker het vir hom ’n bietjie medisyne gegee en die skipper het hom
tee en brood met konfyt gegee, maar hy kon dit nie eers eet nie. Dit
was baie treurig.
Thule self lê aan die punt van Noordster-Baai op ’n rotsagtige stuk
strand in die vorm van ’n halwermaan. Aan die kant wat naaste aan die
oseaan is, is daar aan die een kant ’n groot tafelkop met steil kranse
bo wat ondertoe eweredig skuins afloop en talus-hellinge vorm. Dit lyk
baie nes ’n mesa of hoogvlakte in die weste van ons land (V. S. A.).
Hierdie eienaardige berg se naam is Omoenoeï. Daar is vier
raamwerk-geboue, die noordelikste handelstasie in die wêreld. En
omtrent ’n myl van daar lê die Eskimo-dorp, bestaande uit ’n aantal
verstrooide toepiks, die velhutte waarin hulle in die somer woon, met
die kliphutte vir die winter langs die kus in die nabyheid. Ek reken
daar woon omtrent veertig mense.
Rasmussen hou hierdie handelstasie sedert 1910 aan die gang. Dit is
bedoel om hierdie noordelike Eskimo’s, die Smith-Sond-stam, te help.
Hulle is die noordelikste stam in die wêreld. Voor daardie tyd is hulle
nooit in die geleentheid gewees om gereeld hulle benodighede te koop of
hulle velle van die hand te sit nie, behalwe so nou en daan as
walvisvaarders of ontdekkingsreisigers daar gekom het. Voordat Peary
omtrent dertig jaar gelede begin het, het hulle g’n geweers of staal of
iets dergeliks gehad nie, behalwe wat hulle self gemaak of gevind het.
Toe het hulle pylpunte van stukkies meteorsteen gemaak en vuurklip wat
hulle opgetel het, gebruik om vuur te maak. Omtrent al hulle wapens en
messe was van ivoor gemaak. Die slagtande van ’n walrus is uitstekend
daarvoor.
Selfs vandag besit hulle baie min in vergelyking met die armste volk
wat ons in die wêreld ken. Maar hulle is gesond en gelukkig en baie
goedgeaard en goedhartig. Hulle is natuurlike, uitstekende jagters. Dit
is absoluut noodsaaklik as hulle aan die lewe wil bly.