klere vir ’n hemp van seehond-vel en klim in die kajak—dit was moeilik
om daarin te kom, want hy is soveel groter as die Eskimo—en keer half
om. Die kajak was nou onderstebo en sy kop kom aan die ander kant uit,
maar gaan met ’n gespat weer onder. Hy kon eenvoudig nie weer orend kom
nie en hang toe met sy kop onder die water en die boot onderstebo oor
hom. Ek het regtig gedink hy verdrink.
Hy kom vir die twede keer op en skreeu om hulp. Ons was natuurlik naby
en Carl roei toe onmiddellik in ’n skuit na hom toe, maar val amper
self in die water terwyl hy vir Robert help om weer regop te kom. En
het die Eskimo’s nie gelag nie! Hulle het dit as ’n groot grap beskou.
Maar Robert het skynbaar gevoel asof hy soveel yswater van Baffin-Baai
ingesluk het as wat hy kon verdra en hy was so koud dat hy reguit na
die skip teruggegaan het om ander klere aan te trek. Dog ek sal ’n
weddenskap maak dat hy ander jaar by die huis in Maine die ding sal
regkry.
’n Paar Eskimo’s is uitgestuur om haaie vir die museum te vang en Doc,
Ralph en ek het in die boot agternagegaan. Hulle het toe al vier grotes
gevang en ’n ander een het weer oor boord geval. Hierdie Groenlandse
haaie is baie stadig en lui. Hulle sit hulle glad nie teë nie. Hulle
beweeg baie stadig en dit lyk of hulle niks kwaai is nie, en heeltemal
anders as die haaie wat ek in Florida gesien het wat mense daar gevang
het.
Die volgende oggend het Goewerneur Otto ons saamgevat om sy honde te
sien wat hy gedurende die somer heeltemal alleen op ’n kaal rotsagtige
eiland omtrent ’n myl vandaar hou. In die somer word hulle omtrent alle
drie dae met eende gevoer wat in ’n groot mandjie soontoe gebring word.
Die meeste eende is skynbaar al taamlik lank bewaar, sodat hulle alle
taamlik „ryp” is. Maar die honde hou bepaald daarvan.
Ons het in ons groot skuit oorgegaan met die goewerneur en ’n paar
Eskimo’s wat die kos gedra het. Toe die honde—dit was omtrent ’n
dosyn—ons sien kom, storm hulle af na die see en volg ons soos ons
verbygaan, terwyl hulle aanhoudend blaf. Hulle het goed geweet dat dit
etenstyd was.
Ons het geland en besluit om hulle ’n end van die water af te voer waar
dit gelyker was en Kellerman dus beter in staat sou wees om lewende
beelde te neem. Terwyl die Eskimo’s die groot mandjie met voëls gedra
het, moes een van hulle die honde afhou. Daarvoor moet hy ’n roeispaan
gebruik. Tog het hulle opgespring en probeer om die mandjie vleis op
die man se skouer te bereik, sodra hulle die minste kans kry. Ek het
g’n die minste twyfel nie dat hulle hom sou onderstebo gespring het as
hy alleen gewees het.
Toe is die voëls klompiesgewys vir die honde gegòoi. In ’n oomblik was
hulle verskeur en opgevreet. ’n Hond kan een van hulle in ’n oogwink
oopskeur en hom afwurg, alles behalwe die vere. Daar was baie
bakleiery, en die hele tyd was daar ’n groot lawaai soos hulle tjank en
vir mekaar blaf.
Dit was baie interessant om die koning-hond te sien. Elke span van
honde in hierdie land het ’n leier, die koning wat baas is. Hy is
gewoonlik die swaarste en mooiste onder hulle en natuurlik ook die
baas-bakleier. Ek dink hy spook die leierskap eenvoudig uit. Een ding
is seker, as hy vir hulle iets „sê”, dan voer hulle sy orders gou
genoeg uit, of anders kry hulle op hul bas.
Die koning het ook ’n koningin, en dit is grappig om te sien hoe hy vir
haar sorg. As sy ’n eend, of ’n stuk daarvan, beetkry, dan staan die
koning maar net by haar en sorg dat g’n ander hond haar molesteer nie.
As een van hulle opgewonde raak en naby die koningin en haar kos mag
kom, dan gee die koning net een brom—en dit is die end van die saak. Of
as ’n ander hond ’n stuk eend het en die koning kom na sy kant toe, dan
laat hy dit sommer val en hardloop weg, of hy gaan lê op sy rug en
soebat. Daar was sekerlik tug op die eiland.
Toe die spul oor was, was daar net ’n klompie vere op die rotse
rondgestrooi en die honde se bekke en koppe was besmeer van die bloed,
soos hulle die vleis verskeur het.
In elk geval het hulle blykbaar algar ’n goeie maaltyd gehad en het
hulle vir die eerste keer rustig gelê om vir die volgende etenstyd oor
drie dae te wag. In die winter is daar werk vir hulle, baie werk. Hulle
is natuurlik van groot belang vir die mense in hierdie noordelike
streke. Daar is g’n perde nie en natuurlik g’n outo’s of enigiets van
die aard nie. Dus word alles op sleë vervoer en die word deur honde
getrek.
Die hondevelle is besonder fraai. Die haar is dig en sag en blink. Pa
het ’n paar hondevelle gekoop om ’n jas daarvan te laat maak.
Daardie agtermiddag het ons Upernivik verlaat en ’n noordelike rigting
oorgesteek na Melville-Baai. Algar was daar om ons vaarwel te sê en die
Goewerneur het bo die heuwel waar die Deense vlag waai, sy kanonnetjie
laat afskiet. Hulle het ons ’n saluut gegee met drie kanonskote en ons
het met drie geweerskote geantwoord.
Die Eende-Eilande is ’n klompie rotsagtige klein eilande, naastenby
twaalf myl van die vasteland van Groenland aan die suidelike end van
Melville-Baai. Ons het hulle omtrent twee-uur die volgende agtermiddag
bereik en in ’n soort van hawe tussen die grootste twee eilande
geanker. Ek reken die grootste is omtrent twee myl lank en sowat ’n
halfmyl wyd, en heuwelagtig en vol rotse. Langs die see waar die land
’n bietjie vlak is, is die rotse oorgroei met mos en is daar kolle met
vleie en modder.
Op albei eilande het ons taamlik rondgeloop en groot getalle van
eider-eende teëngekom wat daar in groot troppe broei. In die ou dae het
die walvisvaarders as hulle na Baffin-Baai gekom het, hulle
hoofkwartier hier opgeslaan en skeepsvragte van eende-eiers bymekaar
gemaak.
Ons het baie eende op hulle neste gesien. Die nes is somar ’n
donsagtige bol vere op die gelyk grond. Hulle pluk die donse uit hulle
borste, sodat die wyfies as mens hulle in die hande kry, lyk asof
iemand ’n handvol donse daar uitgetrek het. Dit word eider-dons genoem
en word vir baie goeie bulsakke en kussings gebruik. Dit is baie warm
en ook van groot waarde. Die Eskimo’s versamel dit van die neste en
pluk dit van die eende, en dit, saam met die velle van vosse en
seehonde en ’n paar ander artiekels soos die ivoor van walrusse en die
slagtande van narwalle is die vernaamste artiekels vir handel met die
buitewêreld.
Die mannetjies en wyfies van die eider-eende is baie verskillend. Die
wyfie is heeltemal bruin, terwyl die mannetje net ’n bietjie bruin op
sy bors en maag het, met baie wit op sy rug en aan sy nek, en vere wat
donker-grys of amper swart is. Die wyfie is baie stadig en dit is baie
maklik om haar by te kom en dood te maak. Ons het ’n hele klomp van
hulle geskiet om te eet en hulle aan die takelwerk opgehang waar Billy,
die kok, dit kan haal wanneer hy dit nodig kry. Die mannetjie is baie
wilder en vlieg vinniger en is taamlik moeilik om te skiet. Daar was
baie min mannetjies op Eende-Eiland. Dit lyk of die mannetjies op eie
houtjie weggaan, terwyl die wyfies broei. Later het ons in die fjords
anderkant Upernivik baie van hulle teëgekom. Albei geslagte is groot en
swaar en heerlik om te eet.
Sover terug as die jaar 1850 en vir sowat dertig jare daarna is in
hierdie dele veel jag op walvisse gemaak. Baie van die skepe het van
Skotland gekom. Daar is op die heuwel of klein berg by Eende-Eiland ’n
klipbaken van walvisjagters en ook ’n ringmuur vanwaar hulle uitgekyk
het. Tussen hakies, in daardie baken het Peary in 1888 ’n dokument
agtergelaat. Ons kon egter niks vind nie. Waarskynlik het die Eskimo’s
al lank gelede alles daar uitgehaal.
In ’n laagte naby die water, waar ’n hoop vuilgoed gelê het, het ons
die graftes van ’n paar walvisjagters gevind. Hulle was met klippe
bedek, maar net een naambord het oorgebly. Daarop was die volgende te
lees: „In memory of William Stewart, A. B., S. S. Triune of Dundee,
June II, 1886. Aged 24.”
Art het met my uitgegaan om met my nommer sestien haelgeweer te gaan
skiet, maar ek het nie goed gevaar nie. Ek het nie baie oefening gehad
om voëls in die vlug te skiet nie en is, daarin maar sleg. Om met ’n
twee-en-twintig koeëlgeweer te skiet, lyk baie makliker. Art self is ’n
uitstekende skut met koeël- of haelgeweer.
Ons het baie eiers gevind en Pa en ’n paar ander het groot klompe eiers
gevind, honderde van hulle blykbaar deur Eskimo’s wat die eilande
vroeër in die seisoen besoek het, versamel en daar neergesit om later
gehaal te word. Hulle was in ’n gat gebêre met klippe daar omheen gepak
en die skeure met mos toegestop, sodat hulle uitstekend goed beskut
was. Hulle het ook die kopbeen van ’n ysbeer gevind.
By drie van die eiers wat ons gevind het, het die klein eendjies net
uitgekom. Ons het hulle saamgevat na die skip. Een het ek onder ’n
eendewyfie gesit wat ek lewendig in ’n Eskimo-strik gevind het, en die
ander twee agter die stoof in die kombuis waar dit lekker warm was.
Twee van hulle het ’n taamlike ruk gelewe, maar later het ons hulle op
’n pynlose manier doodgemaak en hulle gebêre as eksemplare vir die
museum. Ons het ook ’n paar neste vir die museum saamgevat, en ek het
een vir my versameling gekry.
HOOFSTUK VI
DWARSOOR MELVILLE-BAAI
Teen die twintigste Julie was ons amper oor Melville-Baai. Dit was op
die kop ’n maand na ons vertrek van die huis, wat uitstekend goed was.
Ons was natuurlik baie gelukkig dat ons die hele tyd nooit regtig
moeite met die ys gehad het nie.
Gewoonlik is Melville-Baai omtrent die gevaarlikste en moeilikste deel
van die reis noordwaarts. In baie gevalle duur dit weke eer mens daar
deurkom, en partykeer is dit eenvoudig onmoontlik om deur te kom. Dr.
Rasmussen het my later vertel dat hy al terwyl hy probeer het om deur
te kom, ses volle weke rondgedryf het, daar sy skip vasgevries was in
die pakys. En dit in die middel van die somer.
Na ons vertrek van Eende-Eiland was ek ’n hele ruk besig om die goed
vir handel en vir presente reg te maak. Ons sou natuurlik nie veel
handel dryf nie, net vir goed wat ons persoonlik wou hê. Die meeste
goed was bedoel om die mense te betaal wat ons op jag, en by die
versameling van eksemplare sou help. Een van my lekker werkies was om
blikke met skroefdeksels vol te maak met lekkers en suiker. Ons het ook
woloorhemde en jersies met skitterende kleure wat mnr. Alex Taylor van
Rye aan die ekspediesie geskenk het, uitgesoek. (Ek mag sê dat ons hele
bemanning nou mnr. Alex Taylor se woloorhemde gebruik en dat ons hulle
nuttig vind).
In die aand van 20 Julie het ons by Kaap-York aangekom. Dit is ’n groot
kaap wat die noordelikste punt van Melville-Baai uitmaak en eintlik die
begin is van die verre Noord-Groenland. Die mense wat daar en nog meer
noordelik woon, maak deel uit van die Eskimo-stam van Smith-Sond en
woon nader aan die Noordpool as enige ander volk. Omtrent op hierdie
breedtegraad is ’n mens verder noord as die noordelikste deel van die
vasteland van Noord-Amerika, Europa of Asië. Ons het dus besef dat ons
begin het om regtig ver noord te kom.
Die kaap self is ’n hoë berg wat so-te-sê direk in die see uitloop.
Party van die hange is heeltemal rooi, en die sneeu is ook
karmosynkleurig weens ’n soort stof wat dit skynbaar bedek. Hierdie
deel word die Karmosyn-Rotse genoem en feitlik elke
Noordpool-ekspediesie maak melding van hulle en beskryf hulle. Agterom
die kaap is ’n groot gletser wat direk in die water afbreek, en dit is
baie gerieflik. Kapt. Bob het die skip tot reg teenaan die ysmuur
gebring en ’n paar man het van die boegspriet op die gletser gespring
en die skip met toue vasgemaak, sodat hy daar teenaan kon lê asof die
ys ’n kaai was. Natuurlik was daar g’n wind nie en die see was
heeltemal stil.
Toe vat hulle ’n slang en gaan daarmee ’n end op en sit die punt in een
van die baie stroompies wat van die top van die gletser afloop, alles
gesmelte sneeu. Die skuinste was genoeg om die water in ons groot
waterbak op dek te laat afloop. Die matrose het ook die vaatjies met
behulp van emmers volgemaak. Dit was ’n uitstekende plan om ’n hele
voorraad egte yswater te kry.
Terwyl ons daarmee besig was, het ’n paar Eskimo’s in hulle kajaks
aangekom. Ons het vir ’n koeëlgeweer en ’n klompie ammuniesie ’n
pragtige kajak van hulle gehandel. Die volgende dag, toe ons aan land
gaan, sien ons dat die eienaar van daardie kajak al goed op weg was met
die maak van ’n nuwe. Hy het dus met sy uitstekende geweer goeie
vooruitsigte gehad vir die jag. Ek hoop dit van harte, want ’n kajak is
vir ’n Eskimo omtrent die vernaamste lewensbehoefte. Waarskynlik is ’n
geweer die volgende. Dit is veral waar as ons dit vergelyk met ’n outo
wat vir ons tog maar ’n weeldeartiekel is, waarsonder ons maklik kan
klaar-kom.
’n Kort end van die klein nedersetting by Kaap-York is daar ’n
„voëlberg”. So noem hulle die plekke waar ’n mens „dookies”, ’n klein
soort auks [4] vind. Hulle is klein voëls wat teen berge hou waar mens
talus-hellinge aantref—dit wil sê lang afdraandes met los rotse wat
opmekaar gestapel is. Hulle maak hulle neste in die holtes en skeure
waar hulle moeilik is om te vind.
’n Eskimo het saam met ons in die skuit na hierdie „voëlberg” gery. Ons
het teen die helling uitgeklim tot by ’n plek wat hulle gereeld gebruik
en waar hulle van los klippe ’n ruwe skerm gemaak het. Hy het ’n net
aan ’n lang stok saamgevat. Ons het teen die helling gaan sit,
gedeeltelik bedek deur die skerm. Toe vlieg die voëls verby, altyd in
dieselfde rigting. Dit lyk of hulle gedurig aan die gang was, of hulle
opvlieg van die rotse, ’n wye draai oor die see maak en dan weer
terugkom. Daar was duisende van hulle.
As ’n voël by ons verbyvlieg, amper so naby dat mens hom kon aanraak,
maak die Eskimo ’n vinnige swaai met sy net en pardoems,—daar lê een
van die voëls in die net. Hy trek gou die net terug, haal die voël uit
en maak hom dood, en hy is weer gereed. Dit is hoofsaaklik die werk van
die vrouens wat baie bedrewe daarin is en honderde (waarskynlik
duisende) van hulle vang. Hulle is heerlik om te eet, en die velle word
gebruik om veer-klere te maak vir ’n voering wat teen die lyf gedra
word.
Nadat ons Eskimo-vriend ons gewys het hoe om dit te doen, het ek ook
probeer. Dit het baie maklik gelyk. Maar dit was nie die geval nie. Ek
het baiemaal misgevang.
Pa en Dan Streeter het gestaan en kyk en kiekies geneem, en hulle het
vir my gelag as ek so’n swaai maak sonder om iets te vang.
„Drie kanse en jy is uit!” roep hulle toe ek vir die derde keer
misvang.
Maar na ’n ruk het ek darem ’n paar gevang, en ’n paar het ek met die
stok raakgeslaan sodat hulle half bedwelmd was en ons hulle kon kry. Pa
en Dan het ook probeer, maar hulle het ook g’n rekords geslaan nie. ’n
Kêrel met ’n goeie oog vir krieket soos Babe Ruth behoort by soiets uit
te blink. Dit was in alle geval groot pret, en natuurlik was dit die
eerste keer dat ek probeer het om voëls met ’n net te vang. Wat baie
snaaks is, is dat ek die volgende dag werklik met ’n strik ’n paar
gevang het.
Die plek waar ons skip die agtermiddag gelê het was net lang ’n groot
klomp baai-ys, ysskolle met water tussenin. In die verte kon ons hier
en daar seehonde sien. Hulle sit in die son en bak, maar gewoonlik
digby ’n gat in die ys. Sodra hulle skrikgemaak word, seil hulle af en
verdwyn. Selfs as ’n mens hulle skiet, tensy hulle onmiddellik dood is,
plof hulle nog in die water en sink.
Dan en een van die Eskimo’s het probeer om die seehonde—of „poeiesie”,
soos die Eskimo’s hulle noem—te bekruip. Hy was taamlik gelukkig en het
drie raakgeskiet, twee waarvan hulle gekry het. Hulle het ook taamlik
nat geword, terwyl hulle so oor die ys kruip en deur dammetjies water
wat deur die son gesmelt is. In alle geval was dit ons eerste buit en
die vleis was ook lekker.
Voor die volgende oggend het ons noordwaarts gegaan na
Parker-Sinow-Baai. Toe ek wakker word, lê ons daar geanker. Dit is ’n
mooi plek, ’n klein baai heeltemal op die kus met ’n stukkie gelyk
grond en daar agter kom ’n gletser af wat tot by die groot gletserveld
uitstrek. Aan weerskante van die gletser staan twee steil berge en een
van hulle het ons Bartlett-Kop genoem. Een van die berge het aan die
seekant kranse wat steil uit die see oprys. En daar is ’n groot
voël-kolonie.
Op die kus het ons ’n blou vos gesien. Na môre-ete het ons die
voël-kolonie aangepak om eksemplare te kry. Dit was ’n heerlike,
sonnige en stil dag en ons het regtig ’n aangename tyd gehad. Party van
ons is tot die agtermiddag besig gewees en het die boot teruggestuur om
ons middagete te haal.
Ons het teen ’n krans uitgeklim. Om dit reg te kry moet ons die
maklikste kant van ’n steil puntjie uitkies. Van die krans af kon ons
’n paar van die neste bereik. Ons kon selfs aan party van die voëls
raak, aan auks en seemeeue. Hulle het op hulle neste gesit en broei, en
party op baie klein kuikentjies. (Toe ons drie weke later terugkom, was
daar baie meer kuikentjies.)
Op hierdie plek het ek ’n ligte lyn gebruik en heel party voëls daarmee
gevang. Ek het aan die een ent ’n lissie gemaak en die oor die kant van
die krans laat afsak, totdat dit op een van die neste lê. As die voël
dan terugkom en reg daarop gaan sit, gee ek ’n skielike ruk. Dit het
heeltemal goed gewerk.
Bob Peary, wat baie goed kan klim, het ’n tou om sy lyf vasgemaak, en
toe het ons hom laat afsak om eiers en neste te kry. Art Young en Carl
was die „ankers” aan die ander ent van die tou. Een slag terwyl hy
afgaan, het Bob op ’n los klip getrap en dit afgestamp. Die klip het in
sy val ’n groot klom ander klippe losgeruk en die hele spul het met ’n
geweldige geraas en gespat in die water geval.
Die krans was van bo tot onder omtrent loodreg, met net ’n lys wat
omtrent twintig voet bokant die water uitgestaan het. Na ’n ruk het Bob
tot daar afgegaan waar hy kon staan, en toe het ons Pa ook soontoe laat
afsak met ’n klein kamera waarmee hy lewende beelde kon maak. Later het
die boot soontoe omgegaan, en die manne wat daarin was het die tou styf
vasgehou, terwyl die manne bo dieselfde gedoen het, en so het eers Pa
en na hom Bob langs die tou afgeseil, nadat hulle eers ’n emmer met
eiers en ’n kissie met neste laat afsak het en ook ’n klompie kuikens
wat hulle daar gekry het.
HOOFSTUK VII
SKIPBREUK
Maandag die ses-en-twintigste Julie het ons teen ’n verborge rots
geseil naby Northumberland-Eiland wat aan die mond van Walvis-Sond op
77 graad twintig noorderbreedte lê, aan die oostekant van Baffin-Baai.
Ons was besig om rondom die eiland te seil om ’n paar Eskimo’s te soek
wat saam aan boord sou kom om ons te help jag. Ons was nou in goeie
jagveld. Die aand vantevore het ons van die skip af sewentien walrusse
gesien.
Kapt. Bob het al by Kaap-York verneem dat seker Eskimo’s op seker
plekke sou wees waar hulle gewoonlik woon; maar toe ons daar kom, was
hulle toepiks verlate. Die nasie trek baie rond na die beste plekke om
te jag, en hulle het seker onverwags getrek, omdat die fjords en baaie
vanjaar besonder vroeg vry van ys was.
Ons was in alle geval taamlik naby genoeg om vier sooi-huise op ’n
seker punt te ondersoek. ’n Groot-kliprif het van die berg uitgeloop na
die see se kant. Dit is wat die aardkundiges op Engels ’n „dyke” noem,
’n harde kliprif waarvan die sagter gedeelte aan weerskante weggevreet
is deur die reën en sneeu.
Wel, die „rif” het blykbaar onder die water taamlik ver uitgesteek.
Naderhand het ons uitgevind dat daar aan altwee kante diep water was
tot amper teenaan. Maar ons het net die buitekantste knoppie gevang
omtrent tien voet onder die oppervlakte van die water.
Dit was omtrent half-een in die oggend toe ons teen die rif vasgeloop
het. Dit was natuurlik dag en die son het helder geskyn, en gelukkig
was daar g’n wind nie, en die see was kalm. Dit was verskriklik
opwindend. Die skok het my amper uit my kooi gegooi. Ons het ’n gekraak
gehoor en ’n stamp gevoel, en daarna was alles stil. Ons het dikwels
vantevore teen ligte ysblokke geseil wat die skip ’n bietjie laat dril
het, maar dit was niks vergeleke met hierdie nie.
Ek het so gou as wat ek kon my broek aangetrek en was net besig om my
kouse aan te trek, toe Pa deur die bolig skreeu dat algar op dek moes
kom en maar moes laat staan om aan te trek. Ek het vir Bob Peary en Dok
wakkergemaak en ons is toe gou boontoe.
Ons was ’n halfuur besig om die olievate van agter na die boeg te
verskuif om die agterstewe ligter te maak, want daar het die rif die
skip geraak en daar het hy vasgesit. Dit was net hoogwater toe ons die
stamp gekry het. Ons het die fokseil, en die binne- en buitekluiwer
opgehys en die motor volstoom laat loop, maar die skip het nie geroer
nie. Toe, terwyl die see sak, bring ons in die platboom-skuite ’n groot
klomp goed aan wal en doen wat ons kan om gereed te wees vir die
volgende gety.
Die Morrissey het vyf-en-veertig graad of meer na bakboord oorgehel en
aan boord was alles in ’n verskriklike wanorde! ’n Mens kon eenvoudig
nie op die droë dek staan nie, en waar dit glibberig was van die
olie—en dit was amper orals die geval—was dit net moontlik om weg te
kom deur aan ’n tou vas te klou. En boonop het hulle verskillende male
lelik geval met die verskuiwing van die olievate. Kapt. Bob het sy hand
lelik gesny en Dok het dit daar en dan verbind. Onder in die kajuite
was alles onderstebo. Dit het te gek gelyk om die klere wat aan hakies
in die plafon gehang het van die mure te sien skuins wegstaan soos
dronk mense.
Die water het gesak en die skip hoog en droog op die rots agtergelaat,
behalve die boeg wat nog skeef in die water gehang het. Kapt. Bob het
aan elke kant van die agterstewe tien leë olievate vasgemaak om die
skip te help oplig as die water weer hoogkom.
Ons moes eenvoudig klaar wees vir enigiets, ingeval dit sou blyk dat
die Morrissey so erg beskadig was dat hy nie bo water kon bly nie, of
veral as ’n storm sou opkom, wat die skip sou uitmekaar breek en dit
baie moeilik of miskien onmoontlik maak om enigiets te red. En julle
moenie vergeet dat ons byna duisend myl van die naaste Deense
nedersetting was en meer as 2000 myl van Sydney, die naaste groot plek
nie.
Een ding wat ons dadelik baie versigtig aan land gebring het, was die
klein draadlose toestel waarmee ons draadlose telegrafis, Ed Manley,
met die wêreld in verbinding kon tree ingeval ons groot toestel aan
boord verlore sou gaan. Dié klein toestel wat vir ons so uiters
belangrik kon gewees het, is deur die Nasionale Karbou-Maatskappy wat
die „Eveready”-batterye maak, aan ons present gegee.
En toe, in die middag, kom die hoogwater, en ons was bitterlik
teleurgesteld. Want die see was meer as drie voet laer as toe ons die
ongeluk gekry het. Daar was dus g’n hoop dat ons voor die volgende
hooggety sou kon loskom nie. Dit was ’n kwaai saak, want die oorhel en
die gemaal is verskriklik skadelik vir ’n skip, en sou sekerlik ’n
swakker skip vernietig het. Maar die Morrissey is van eikehout en is
besonder sterk.
Die see was darem hoog genoeg om oor die laagliggende deel aan bakboord
te spoel, al kon dit die skip nie oplig nie. Daar het ’n lelike lekplek
in die sy van die skip ontstaan en die water het so vinnig ingeloop dat
ons algar moes help om die water uit te skep met emmers wat aan ’n tou
deur die bolig moes neergelaat word in die middelste kajuit. Die pompe
was onbruikbaar, want deur die skuins ligging van die skip kon hulle
die water nie bereik nie.
My kooi en twee ander was gevul met ’n mengsel van water en olie en my
goed, veral die in die kas daaronder is baie beskadig. Gelukkig het
iemand my kooigoed uitgehaal.
Die vuur in die stoof van die kombuis en van die agterste kajuit moes
doodgemaak word, want daar was gevaar dat dit sou uitval en die skip
aan brand steek. Die groot stoof in die kajuit was met kramme
vasgemaak, sodat dit nie kon skuif nie. Billy, die kok, het aan land
gegaan en aanhoudend koffie gemaak, dus kon die mans gedurig iets warms
kry om hulle aan die gang te hou. Eer alles verby was, het amper algar
vir meer as veertig uur aaneen gewerk, Ek was meer as vyf-en-twintig
uur besig en was toe omtrent doodmoeg.
Die kaptein het orders gegee om al die kos aan land te bring. Daar was
ook baie meer om te doen: Ons moes meer vate aan die skip vasmaak, die
vrag regpak, petroleum aan land bring vir die motorboot, ingeval ons
vasbrand, en lampolie vir die priemus-stowe. Dan het hulle ook nog die
groot swaar anker in die platboom-skuite ’n hele end van die skip af
weggevat en dit daar in die see laat sak, sodat ons met die windas
daaraan kon trek.