In Thule vorm Rasmussen en die Deense komitee wat met hom die saak

dryf, as-’t-ware ’n koninkryk. Pa noem dit ’n verlige diktatorskap,

waarby hy bedoel dat Rasmussen feitlik koning is, maar alles vir die

beswil van die mense reël. Hulle het hul eie geld, drie soorte

muntstukke van verskillende waarde met ’n gaatjie in die middel. Die

handelstasie betaal hulle daarmee vir hul bont, en die Eskimo’s gebruik

dit weer om goed in die winkel te koop.

Die goedere word baie goedkoop verkoop, en volgens mnr. Rasmussen is

die bedoeling om die handelstasie selfbetalend te maak. Soos ek in ’n

vorige hoofstuk gesê het, het ons baie goedere van New-York

saamgebring. En nou neem ons die vosvelle, die winter se opbrings van

die jag, saam terug.

Vroeg in die agtermiddag van 15 Augustus het ons Thule verlaat.

Die volgende oggend, toe ek op dek kom, was ons by

Northumberland-Eiland en kon ek die eienste plek sien waar ons

skipbreuk gely het en so amper ’n hele ruk moes oorbly.

Ek was op die dwarshoute op die uitkyk na walrusse en gewaar toe ’n

paar seeleeus en twee wat moontlik walrusse kon wees. Toe ek begin koud

kry, neem Bob Peary my plek in. Kort daarna het ons die skip aangehou

weens die mis, en omtrent algar het ingekruip om te slaap, want met die

voortdurende sonskyn, lyk dit, kon ons nie genoeg tyd kry om te slaap

nie.

Ek was onder in die hoofkajuit toe mnr. Nielsen inkom en aan Carl, wat

Deens praat, sê dat daar ’n dooie wit walvis in die nabyheid was. Ek

gaan toe na Pa en vertel hom daarvan. Binne ’n paar minute was daar ’n

boot in die water en was hulle op pad om hom te kry. Toe hulle die

drywende liggaam bereik, skreeu hulle dat dit ’n wyfies-narwal was en

nie ’n wit walvis nie.

Hulle sleep haar toe aan en ons sit twee of drie takels aan haar en

begin haar op te hys. Sy was omtrent vyftien voet lank en het heel

moontlik oor ’n ton geweeg. Sy was al ’n hele ruk dood en het taamlik

sleg geruik, dus het ons besluit om haar oop te sny, terwyl sy langs

die skip hang, en die binnegoed uit te haal en ’n klompie van haar spek

af te sny. Die binnenste vleis was nog goed en bruikbaar.

Ons het ’n roeiboot langs die skip vasgemaak en Harry Raven en Fred het

daarin geklim en die ding stukkend gesny met hulle oliejasse aan, want

dit was ’n morsige werk. In die narwal het Harry ’n kleintjie gevind.

Hy was ook nie te klein nie, maar was vyf voet sewe duim lank. Hulle

het hom sorgvuldig gebalsem, d.w.s. Harry het ’n soort vloeistof in sy

are gepomp wat verhinder dat die vleis sal sleg word. Hy moet na die

Museum geneem word presies nes hy is. Ek dink ’n kleintjie van ’n

narwal is ’n skaars eksemplaar, en ons hoop algar ons sal hierdie een

in ’n goeie toestand kan aflewer.

HOOFSTUK X

ONS ESKIMO-KUNSTENAAR

Karna is ’n Eskimo-nedersetting aan Walvis-Sond, ten noorde van Thule

en regoor Northumberland-Eiland, waar ons skipbreuk gely het. Die

vorige keer kon ons weens die ys nie daar kom nie. Die slag het ons

reguit soontoe gegaan om jagters te kry, daar die omstreke van

Walvis-Sond uitstekend was vir walrusse en narwalle. Onmiddellik noord

daarvandaan word ook wit walvisse gevang.

Toe ons omtrent drie myl van Karna was, kom daar ’n kajak na die skip

toe. ’n Man klim uit en lag van oor tot oor toe hy vir Rasmussen

gewaar. Dit blyk toe dat hy Olsen, die sendeling van Karna en ’n ou

vriend van Rasmussen, was. Toe hy die maste gewaar, het hy gekom om ons

te ontmoet. Ons skip was natuurlik daardie jaar die enigste een.

Hy het ons die vaarweg na Karna gewys waar ons ’n goeie diepte van

water vir die skip gekry het.

Teen dat ons die anker laat sak het was daar ’n dosyn of meer mans aan

boord. Rasmussen en Pa was spoedig aan land en het jagters gehuur om

narwalle te jag. Kort na ons aankoms het die narwalle op ’n streep voor

die dorpie in die sond op- en afgeswem. Verskillende male het ons ’n

man in ’n kajak so-te-sê bo-op een gesien, klaar om die harpoen te

gooi, maar elke slag gebeur daar iets en hy kry hom nie. ’n Ander weer

het sy harpoen in ’n narwal gegooi, maar hom sê dat sy tou gebreek het.

Skynbaar spring ’n narwal omtrent net soos ’n seevark. Hy is baie mooi

met ’n gespikkelde vel soos blou seep met wit en loodkleurige kolle.

Die mannetjie het ’n groot slagtand wat aan die linkerkant van sy kop

reg na voor uitsteek. Dit is ivoor en het ’n spiraalvormige oppervlakte

(soos die horing van ’n springbok). Die grootste slagtand wat ek gesien

het is tien voet lank. Hulle is „eenhorings van die see” genoem. Die

grootste narwal wat ons gekry het, was vyftien voet lank. Waarskynlik

haal hulle ’n lengte van twintig voet.

Die grootste deel van die nag het ons in Karna deurgebring deur besoeke

af te lê en na narwal-skedels te soek, terwyl die jagters besig was.

Die afspraak was dat Rasmussen saam met Bob Peary in die groot

platboom-skuit met die Johnson-motor die fjord sou opvaar en probeer om

’n paar narwalle te kry.

Later het ek gehoor dat twee jagters hulle narwal in die nabyheid gekry

het net nadat Pa om halfvier ingekruip het. Toe ek in die oggend op dek

kom, lê daar ’n pragtige groot narwal met ’n slagtand. Hy was vyftien

voet lank sonder die slagtand wat omtrent sewe tot ag voet was. Later

het hulle ’n klein wyfie gebring wat omtrent nege voet was.

Fred en Harry was heeldag besig met die narwalle. Daar hulle so swaar

was, moes ons twee van die voorste takels van die slagseil gebruik om

hulle op die skip te hys. Fred het met gips afgietsels van die koppe,

sterte en vinne gemaak. Daar is van al die kante portrette van hulle

geneem, die mate geneem en stroke van hulle velle afgesny, sodat hulle

in die museum ’n natuurgetroue model van ’n narwal sou kon opbou. Toe

hierdie werk klaar was, het ons begin om die vleis van die bene af te

haal. Die meeste van ons het gomelastiek-stewels aangehad, sodat dit

nie iets sou saak maak as ons in die bloed trap nie. Maar die Eskimo’s

het niks omgegee nie. Hulle kry natuurlik die vleis vir hulle gebruik.

Terwyl ons gesukkel het en twee of drie keer moes sny, het die Eskimo’s

baie vinnig en handig te werk gegaan, daar hulle al dikwels die soort

werk gedoen het. Na ’n paar uur was die geraamtes heeltemal sonder

vleis.

Van Karna het ons ses jagters met hulle kajaks saamgevat om ons te help

om walrusse te kry. Vier van hulle was vroeër saam met Peary; hulle

name was Etoekasjoek, Poead-loena, Koedloektoe en Kesingwa.

Laasgenoemde was een van die Eskimo’s wat saam met kapt. Bob teruggekom

het van 87 graad 47 noorderbreedte, net ’n kort end duskant die

Noordpool, toe hy in 1909 saamgegaan het met Peary wat self verder

gegaan het tot by die Pool.

Hulle is algar mooi manne, en alhoewel hulle maar min Engels kan praat,

tog vat hulle ’n ding gou en is hulle baie gaaf om by te kom.

Daar is twee gawe seuns. Die een is Poead-loena se seun Matak. Die

ander een is Nils wat sestien is. Hy het baie ligte hare—omtrent soos

myne—en blou oë. Hy kom van Suid-Groenland, en ek dink sy pa is ’n

Deen. Hy is baie handig in ’n kajak en is algemeen goedgeboud. Al is hy

drie jaar ouer as ek, kom hy tog nouliks tot aan my skouer. Hierdie

mense is natuurlik algar baie klein. Baie min van die mans is langer as

vyf voet vyf, maar hulle is so sterk gebou soos osse met kort bene en

dik lywe net ’n bietjie vet, dog hard. Dié seun Nils het al op sy eie

seehonde en narwalle doodgemaak.

Ons het ook ’n gawe Eskimo aan boord geneem met die naam van Kakoetia

wat meer of min beteken „die een met die sagte stem.” Hy is ’n knap

tekenaar en maak graag tekeninge van die wapens wat hulle gebruik en

van diere en ander dinge.

Ons het hom papier en potlode gegee, en in die loop van twee dae het hy

’n mooi klompie tekeninge gemaak. Party van hulle sal gebruik word as

versierings in die boek wat uit hierdie aantekeninge sal ontstaan. Dit

is baie prettig om te dink dat my boekie oor Groenland gedeeltelik

geïllustreer sal wees deur ’n regte Eskimo, en dat die prente self

werklik in die kajuit van die Morrissey geteken is in die

teenwoordigheid van my en Pa, daar ver in Walvis-Sond op

agt-en-sewentig graad noorderbreedte.

Later het ek uitgevind dat Kakoetia ’n seun is van Panikpa vir wie

kapt. Bob baie goed ken. Hy was een van Peary se manne en was ook ’n

kunstenaar. ’n Klompie van sy tekeninge verskyn in verskillende boeke

oor Peary se reise na die Poolstreek. Dit is interessant om te sien hoe

die gawe om te teken oorgeërf word van vader op seun.

Ons gaan vir Kakoetia ’n groot rol papier gee, ’n paar skryfblokke,

potloode en ’n mooi klomp pragtige tekenkryt, meestal „Crayola” wat

Oupa Bub vir my gegee het. Hy is baie in sy skik daaroor, en ek reken

hy sal in die winter baie pret hê deur prente te teken en te kleur. Ons

het vir hom natuurlik ook nuttige dinge gegee, want hy was baie gaaf

teenoor my. Ek hoop om vir hom later deur Rasmussen, of op ’n ander

manier, ’n kopie van die boek te stuur, want Pa sê sy naam moet op die

tietelblad verskyn as die persoon wat verantwoordelik is vir die

versierings.

HOOFSTUK XI

WALRUSJAG

Omtrent om halfsewe in die aand van die sestiende Augustus het ons ’n

kort end van Northumberland-Eiland ’n trop walrusse gewaar. Hulle het

heeltemal vinnig in die water vooruitbeweeg, terwyl hulle so nou en dan

dryf en baie soos seevarke opkom. Hulle kry die meeste van hulle kos op

die bodem van die see; dit bestaan uit „clams” en ander goed van die

aard.

Tussen hakies, kapt. Bob vis dikwels met ’n sleepnet om eksemplare van

die bodem van die see te kry, en hier in Walvis-Sond het hy nog die

beste trekke gemaak. Daar is „clams” en garnale in groot getalle. Dit

is die rede waarom die walrusse van hierdie plek hou.

In ’n paar minute was die Eskimo’s in hulle kajaks en agter hulle aan.

Dit was baie interessant om hulle dop te hou. Een Eskimo gaan voor die

trop en maak ’n groot lawaai om hulle aandag te trek. Dan kom die ander

jagters stadig en stilletjies van agter en probeer om miskien tot op

twaaf voet van hulle te kom, en dan word die harpoen met alle mag in

die walrus gegooi. Mens hoor dan ’n harde geblaas soos van stoom wat

ontsnap, deurdat hy sy asem optrek. Dan slaan hy met sy stert en

verdwyn. Die man in die kajak gee gou pad, om te verhinder dat die

walrus miskien onder hom weer opkom. Dan hou hulle die dobber dop—dit

is ’n opgeblaasde seehondvel wat aan die ent van die harpoen se tou

vasgemaak is om te sien in watter rigting die gekweste walrus gaan.

As die dobber wegtrek of deur die dier onder die water getrek word, dan

volg hulle. Dit is alles verskriklik gevaarlik en menige Eskimo word

beseer of doodgemaak as die verwoede walrus ’n aanval maak op hul ligte

bootjies wat hy met een stoot van sy slagtand kan verpletter. As die

walrus aanval, lig hy sy kop op en kom met sy slagtande neer op die

ding wat hy aanval, waardeur hy dit verskriklik oopskeur. Ek het hulle

al baie dobbers op die manier sien aanval.

As die walrus opkom en die manne kan naby kom, dan word die hele ding

weer herhaal, behalwe dat hulle dié slag probeer om naby genoeg te kom

om die dier met ’n speer dood te steek. Die origes bly dikwels naby die

gekweste en blaf en brul, baie nes die geloei van ’n koei, en proes en

blaas water uit. Dit is ’n verskriklike lawaai, en dit is baie

opwindend. As die ander naby kom, dan stamp die Eskimo’s met die

roeispane op die rand van die boot en skreeu om die walrusse af te

skrik, of anders mog die hulle aanval. Partykeer as hulle die walrusse

so wil verwilder, kom hulle tot drie of vier voet van hulle af.

Binne ’n kort tyd was daar vier walrusse geharpoeneer waarvan drie met

die speer doodgesteek was en gereed om op die Morrissey gehys te word.

Die gewonde een was aan die groot boot vas. Ons wou hom nie skiet nie,

want hy het ’n pragtige kop gehad, en ’n koeël beskadig maklik die

kopbeen en bederf dit as ’n eksemplaar.

Art, Pa en kapt. Bob het in die groot boot uitgegaan om hom te haal.

Die kaptein wou hom self doodsteek. Hy het vir Art georder om hom met

sy pyl en boog te skiet, Art het sewemaal na hom geskiet en hom elke

slag in die nek geraak. Hy het erg gebloei en was net briesend. Die

pyle sou sy dood veroorsaak het, maar hulle wou hom so gou as moontlik

afmaak.

Hy het so hard geruk dat hy die Morrissey geswaai het. Hy was nou aan

die skip vas met ’n Eskimo-tou wat van die vel van die gebaarde

seehond, of oeghsoegh, gedraai is. ’n Bewys van sy wonderbare krag is

die feit dat hy in staat was om die skip om te swaai.

Eindelik het hy hoop opgegee om los te kom en toe storm hy reg op die

groot boot af. Hy draai half op sy rug, sit een van sy groot vinne aan

elke kant van die boot se boeg en maak met sy slagtande ’n verwoede

aanval op die boot. Ons het op die dek gestaan en kyk, omtrent maar net

dertig voet van hom af, en kon die splinters sien waai. Hy het twee

gate dwarsdeur die boot gemaak.

Die Eskimo’s was in hulle kajaks en hulle en kapt. Bob het daarin

geslaag om die groot bul dood te steek. Een slag het hy direk onder ’n

kajak opgekom wat werklik so-te-sê van sy rug afgegly het toe die man

daarin weg roei vir al wat hy werd was.

Toe hy dood was, het ons die twee voorste takels van die stagseil aan

hom gehaak en hom aan boord gehys, ’n taamlik moeilike werk. Daarna het

ons die ander gaan haal wat die jagters doodgemaak het. In die geheel

was dit sewe en ’n kleintjie waarvan ek netnou sal vertel.

Wat mooi is by hierdie soort jag is dat nie ’n enkele pond vleis

verlore gaan nie. Mens kan sê dit is ’n seën vir die Eskimo’s. Hulle

vat elke stukkie en gebruik dit as kos vir hulle self en vir hul honde.

Ons koms het hulle net gehelp om ’n voorraad te kry. Ek reken hulle het

in die geheel vier of vyf ton vleis gekry van die walrusse en narwalle.

Daarna het Pa, Dan en ek in die klein roeiboot twee jagters in kajaks

gevolg. Hulle het reguit tussen ’n trop van omtrent veertig ingegaan en

een geharpoeneer en vir ons ’n teken gegee om hom te kom skiet. Daar

was ’n taamlike groot trop van hulle binne vyftig tree van ons wat

geproes, geknor en geblaf het. So nou en dan het een tot amper teenaan

ons boot afgedwaal. Hulle lyk vreeslik komieklik as hulle hul gesigte

met die baarde uit die water steek en ’n mens aanstaar soos kwaai ou

mans. Dan gee hulle ’n knor, blaas ’n straal stoom uit en verdwyn.

As hulle kwaad gemaak word soos nou, dan vorm hulle ’n kring met die

slagtande van die bulle na buite, na die jagters gekeer. Ek kan my nie

’n meer spannende soort sport voorstel nie. Ek wens ek kan eendag leer

om ’n kajak regtig goed te hanteer en probeer om self ’n walrus dood te

maak.

Toe ons taamlik naby was, skiet Pa vyf skote, en ek dink vier daarvan

het hom in die nek en in die kop geraak. Maar dit was net ’n 2.56

geweertjie—nie ’n groot kalieber nie—en het dus niks uitgevoer nie. Toe

skiet Dan ’n skoot met sy groot ver-draende geweer, en raak hom agter

in sy nek sodat hy dadelik omval. Hy het egter op die water gedrywe.

Baie van hulle sink sodra as hulle dood is.

Toe het ons teruggegaan na die een wat Dok en Keilerman geskiet het,

nadat ons die ander gehaal het. Twee jagters in kajaks het daar gewag.

Dit was ’n walrus-koei. Maar die interessantste was dat daar by haar in

die water twee kleintjies was. Die oudste een was ’n bulkalf, omtrent

’n jaar oud, reken ek.

Hierdie tweetjies wou ons lewendig in die hande kry, dus het Carl sy

lasso gaan haal. Pa het hom in ’n klein skuit soontoe geroei. Carl

staan daar en swaai, sy lasso gereed om te gooi as hy die kans kry.

Hulle roei tot teenaan die koei wat gedeeltelik bo die water drywe.

Toe die kalf met die slagtande opkom, gooi Carl sy tou, maar dit gly

af. Toe besef hulle dat dit makliker sou wees om die klein kalf sonder

slagtande te vang, daar hy skynbaar nie so wild was nie. Carl probeer

dus om hom te vang, en met sy derde gooi kry hy sy tou om die dier, wat

glad nie maklik was nie, want sy kop was klein en glibberig, en hy het

gou geduik.

Daar was ’n groot gespat en ’n gedoente. Die klein walrus was gladnie

so klein nie. Hy het omtrent 150 pond geweeg en was so sterk soos ’n

jong bul. Carl trek toe die tou oor die agterstewe en kry dit

uiteindelik nog ’n paar slae om die dier, en toe maak hy hom heeltemal

vas. Ten slotte het hulle hom na die Morrissey gesleep en toe is hy met

die takels vir die platboom-skuite op die dek gehys. In die tussentyd

het die ander jong walrus verdwyn.

Ek dink dis seker die eerste keer dat ’n walrus met ’n tou gevang is.

Dit is in elk geval die eerste keer dat hierdie „cowboy” dit reggekry

het. Ek weet dat ysbere al vantevore so gevang is.

Ons het die klein walrus twee dae lank aan boord gehou. Pa het hom

Halitosis genoem. Hy het nie al te lekker geruik nie. Ons het probeer

om hom melk te voer en hy het skynbaar deur ’n waterslang ’n bietjie

ingekry. Hy het vir elkeen kwaai geblaf. Maar dit was regtig treurig om

hom te sien net nadat hy aan boord gekom het. Die liggame van die ander

walrusse het in ’n groot hoop op die dek gelê. Hy begin toe dadelik

rond te snuffel totdat hy sy moeder kry, en toe gaan lê hy doodstil

teen haar.

Later het Harry hom op ’n pynlose manier doodgemaak, met kloroform. Hy

is toe gebalsem om net soos hy was, saamgeneem te word na die

Amerikaanse Museum vir Natuurstudie.

HOOFSTUK XII

NA JONES-SOND

Ons het al ons jagters by Karna agtergelaat, nadat ons ’n dag daar deur

gebring en rondgekuier en met die Eskimo’s afgereken het vir die werk

wat hulle vir ons gedaan het. Hulle het natuurlik al die walrusvleis

gekry, ook die vleis van nog twee narwalle wat gedurende ons

afwesigheid gevang is. Dit het ons aan dr. Rasmussen te danke gehad,

want hy het daarvoor gesorg dat elkeen sy uiterste bes doen om vir ons

die nodige eksemplare te verskaf.

Daar was in werklikheid nog drie narwalle, maar een kleintjie het Harry

heel gehou en gebalsem. Die geraamtes en kopbene van die ander het ons

ook saamgevat. Kellerman het ook lewende beelde geneem wat wys hoe mens

die dooie narwalle aan land bring en stukkend sny. Dit was in die nag

toe dit betrokke lug was en nie lig genoeg om portrette te neem nie.

Dus het ’n paar mans helder flikkerligte wat Kellerman gehad het,

opgesteek en die het die strand met ’n snaakse helder, amper

verblindende lig verlig.

Nadat die narwalle aan land gebring is, het Koedloektoe en die ander

groot stroke van die vel afgesny waarvan hulle algar baie hou. Hulle

het dit uitgedeel en al die mans het dit gretig geëet. Hulle manier om

dit te eet is om ’n groot stuk in die mond te stop totdat hy vol is,

dan sny hulle dit met ’n mes teen hulle lippe af. Hoe hulle nooit hul

neuse of lippe raaksny nie, begryp ek nie. Dit lyk in elk geval baie

komieklik, en behoort ’n goeie rolprent te maak.

Ek het ook narwalvel geproe, maar het dit niks lekker gevind nie. Dit

is taaierig en word skynbaar afgesluk sonder om gekou te word. Ek dink

die binneband van ’n outo sal omtrent net so lekker wees, behalwe dat

hy beter sal ruik.

Poeadloena en nog ’n jagter het saamgegaan na Northumberland-Eiland.

Die agtermiddag het ons nog ’n paar walrusse gekry, maar terwyl ons

rondgepeuter het om ’n paar lewende beelde te neem, het ons twee van

hulle verloor. Ek dink dit het die Eskimo’s ontmoedig, want hulle kon

nie begryp nie hoe die wit mense goeie vleis kon laat verlore gaan wat

hulle feitlik doodgemaak het deur allerhande fratse uit te haal vir ’n

man wat in ’n masjien kyk en ’n handvatsel draai. Daar was daarem een

groot walrus, en ons het sy vleis na Keate geneem, die dorpie waar ons

die jagters afgelaai het. Dit was net ’n klein endjie van die plek waar

ons skipbreuk gely het.

Daardie aand het ons begin om Baffin-Baai oor te steek na Jones-Sond

aan die Kanadese kant. Ons was eers van plan om verder noord te gaan na

Eta wat maar omtrent sestig myl vandaar was. Maar dit het laat in die

jaar begin word, en die Morrissey het vir kapt. Bob al baie moeilikheid

gegee. Al was hy goed heelgemaak, het hy darem nog ’n bietjie gelek en

’n klomp plekke het gebars. Die voorste dek het byvoorbeeld so erg

gelek dat toe die walrusvleis daar opgestapel was, die bloed afgetap

het tot in ons kajuit en die tafel, maar veral Bob Peary se kooi

besmeer het. Dit was eenvoudig onmoontlik om die dek in orde te bring,

want al die voeë moes opnuut toegestop word todat die skip weer na ’n

skeepswerf kon gebring word.

Dit het in elk geval raadsaam gelyk om nie verder noordwaarts te gaan

nie. Buitendien moes ons nog terug na Holsteinsborg om Hobbs se

geselskap te haal. As dit nie die geval gewees het nie, sou kapt. Bob

verder gegaan het na Eta.

Nadat ons een dag goed gevorder het met ’n stywe windjie vir ’n paar

uur, het ons die mond van Jones-Sond bereik, en daar is ons ontvang

deur ’n digte mis wat al ons takelwerk met ys bedek het. Nadat ons ’n

hele end in Jones-Sond geseil het in die hoop om die laerliggende land

te bereik waar ons miskien muskus-osse sou kry, is ons deur dik dryfys

teruggehou. Oornag is ook nuwe ys gevorm. Die winter was blykbaar net

om die hoekie.

Ons draai toe om en vaar weer na die mond en wag toe vir die mis om op

te klaar. Daar was aan alkante van ons volop dryfys, dus was dit nie

raadsaam om te waag om te ver in deur die ys gevang te word nie. ’n

Skielike windvlaag kon dit byvoorbeeld rondom ons vaswaai en ons totaal

verhinder om uit te kom.

Vroeg in die agtermiddag het die mis verdwyn en ons seil toe in

Craig-Hawe wat aan die noordekant van die sond by Ellesmere-Land lê.

Pa, Rasmussen, Dok en Joe, die matroos, gaan toe aan land en berig dat

die stasie gesluit was. Dit is die noordelikste poliesie-pos in die

wêreld en is gewoonlik deur die beroemde Noordwestelike

Berede-poliesiemag beset.

Tot ons groot teleurstelling was daar niemand by die stasie nie. Later

het ons verneem dat hulle verder noordwaarts getrek het na ’n nuwe

stasie op Ellesmere-Land. Ons het ’n briefie agtergelaat om te sê dat

ons daar gewees het. Daar was twee hoofgeboue, barakke en ’n pakhuis

met olievate en sakke steenkool daaromheen gepak. Alles het baie

netjies gelyk. Die geboue self was gesluit.

Toe ons Craig-Hawe verlaat, gewaar ons op ’n taamlike afstand twee

gebaarde seehonde op die ys. Toe die Morrissey naby die een kom, skiet

Art Young hom met ’n koeëlgeweer dood met ’n netjiese skoot dwarsdeur

die nek. Toe draai hy om en skiet na die ander een. Hy het hom wel

geraak, maar die seehond het van die ysskol afgeseil en waarskynlik

gesink.

Toe hulle die eerste seehonde kry, spring Jim, die matroos, wat gewoon

is om op die seehond-jag in Newfoundland gedurende die lente seehonde

dood te maak, op die ysskol en gee die seehond met ’n swaar haak wat

spesiaal vir die doel gemaak is, ’n hou oor sy kop. Dit het die kopbeen

gebreek, sodat die seehond nutteloos was as ’n eksemplaar vir

wetenskaplike doeleindes. Ek het dus orders gekry om uit te kyk na meer

van hulle, want ons wou baie graag ’n goeie eksemplaar hê.

Ons was nie seker of daar walrusse in Jones-Sond was nie. Maar Dok en

ek het spoedig omtrent ’n myl vorentoe drie diere op ysskolle gewaar

wat vir ons baie na groot seehonde gelyk het. Ons het hulle met die

verkyker dopgehou en dit blyk toe dat dit walrusse was, en dit nogal

besonder grotes.

Ons seil toe reguit na hulle toe en Carl en Dok en Cal en Pa sit in die

boeg klaar met hulle geweers. Toe hulle taamlik naby was, skiet hulle

en raak ook die walrus, maar sonder om hun dood te maak. Dit is baie

moeilik om hulle dood te kry en as daar nog enige lewe in hulle is,

seil hulle van die ys af in die water. Die arme groot walrus lig hom

toe met sy vinne op om te sien van waar die lawaai kom en wat dit

beteken.

Dit lyk of hulle in die water taamlik kwaai is, en dit is taamlik

moeilik om naby hulle te kom. Maar op die ys, lyk dit, is hulle baie

dom en treurig en lomp, soos ’n yslike lui koei. Maar daardie slagtande

van hulle is natuurlik verskriklik gevaarlik, en ek glo nie daar is ’n

dier wat met ’n walrus kan baklei nie, nie eers ’n ysbeer nie. Maar

hulle hoor en sien bepaald maar swak. En as hulle op ’n ysskol in die

son lê en slaap, en die water is so stil dat die ys nie skommel en

hulle stoor nie, dan is dit regtig maklik om baie naby hulle te kom.

Hierdie walrus, al het hy drie skote gekry, probeer om van die ysskol

af te kom. Toe skiet Carl hom met Pa se groot geweer dood. Ons laat

staan hom op die ysskol en gaan verder na die ander skol, waar nog twee

lê en slaap. Hulle het elkeen ’n raakskoot gekry, maar dit het hulle

darem nog geluk om die water te bereik. Carl gooi toe my harpoen van

die skip in die een, maar die ander een het gesink, hoewel Nielsen,

Rasmussen se bestuurder wat ons op hierdie deel van ons reis vergesel

het, hom amper met sy harpoen gekry het. Ons was jammer om hom te

verloor.

Dawid se reis na Groenland · 第 4 / 6 段