Twee dae lank was ons so-te-sê die hele tyd tussen ys. Kapt.

DAWID SE REIS NA GROENLAND

DEUR

DAVID BINNEY PUTNAM

MET ’N VOORWOORD DEUR

KAPT. BOB BARTLETT

VOORSIEN VAN PORTRETTE EN VERSIERINGS

WAT SPESIAAL GETEKEN IS DEUR DIE

ESKIMO KAKOETIA VAN KARNA OP WALVIS-SOND

VERAFRIKAANS DEUR

O. G. P. GROSSKOPF

UITGEWERS:

J. L. VAN SCHAIK, BEPERK, PRETORIA

1928

AAN

MY BESTE VRIENDIN

wat eintlik na Groenland behoort te gegaan het,

MY MOEDER

VOORWOORD.

Dawid het my versoek om ’n voorwoord te skryf vir sy boek waaraan ek

hom die laaste drie maande sien werk het. Gister het ek die manuskrip

gelees wat toe net afgetik is van die noukeurig met potlood geskrewe

bladsye van die seun.

Onder die lees het ek meer as ooit besef hoe gelukkig Dawid was dat hy

eers verlede jaar met Oom Will (Dr. Beele) sover as die

Galàpagos-Eilande wat op die Ewenaar geleë is, kon saamgaan, en nou

weer na Noord-Groenland.

Ek moet beken dat ek eers besware gehad het by die gedagte dat so’n

jong seun sou saamgaan. Hoewel dit maar net ’n somerreis was, kan ’n

mens tog in die Noordpoolstreek enigiets te wagte wees, en loop mens

gedurig gevaar om ’n taamlik slegte tyd te hê—swaar, in alle geval, vir

’n seun. Maar nou dat die ekspediesie sy end nader (en gedeeltelik was

dit baie vermoeiend), moet ek erken dat my besware ongegrond was.

Dawid is ’n doring wat regtig weet hoe om deur te druk. Elkeen wat sy

gawe verhaal lees, sal dit geredelik toegee. Van begin tot end het ek

hom goed dopgehou, en hy het uitstekend daarin geslaag om alles—en

selfs meer—uit te voer wat enigeen van hom kon verwag.

En Dawid is tog nog maar ’n seun. Hy het op die Beebe-ekspediesie, maar

ook op hierdie een baie geleer wat diep in sy jong siel sal indring. Ek

is daar verseker van dat hy in die komende jare veel sal maai van wat

hy gesaai het en wat deur ander vir hom gesaai is. Die skool is bepaald

’n goeie instelling en behoort nommer een te staan. Maar dit lyk vir my

stellig die ideale opvoeding om—as die geleentheid daartoe hom

voordoen—ondervindinge van hierdie aard met „boekgeleerdheid” te

verbind.

Ek het iemand die aanmerking hoor maak dat die arme kêreltjie g’n ware

seunslewe het nie. Enigeen wat onder die indruk verkeer, ken eenvoudig

vir Dawid nie. Hulle het hom nie, soos ek, met seuns van sy eie jare,

óf tuis met sy maats op die voetbalveld, of met die jong Eskimo’s op

die „Morrissey” en aan wal in Groenland gesien nie.

Dawid is nog maar ’n seun, maar ’n seun met taamlik rype ervaring. Hy

is nie ’n model-seun nie; hy is dood-eenvoudig ’n S-E-U-N! En hy sal

nog lang jare jonk bly met ’n jong hart en die onbedorwe varsheid en

vrolikheid van die jeug. En vir my wat in my swerwende lewe nog nie

baie jong seuns om my gehad het nie, was dit ’n ware genot om Dawid by

my te hê.

Ek wonder of baie seuns wat hierdie eenvoudige verhaal van Dawid met al

sy interessante voorvalle lees, nie jaloers sal word nie. Ek is seker

ek sou as ek die oorlosie ’n groter aantal jare kon terugsit as waaraan

’n mens graag wil dink. Watter jong kêrel sou nie graag drieduisend myl

van sy huis gaan jag en walrusse, ysbere, narwalle en wat dies meer sy,

sien nie?

Dit is die ware doel van hierdie boek.—Verstaan my goed, nie om ander

minder gelukkige seuns ontevrede te maak met hul lot nie; maar om hulle

bloed warm te maak en hulle te laat besef dat daar nog baie dinge

anderkant die rantjies is. Om so wakker geskud te word, kan hulle g’n

kwaad doen nie. Dis ’n goeie versterkingsmiddel vir jong seuns, wat

hulle jeug verkwansel en ’n slegte begin maak deur in outo’s en by

danse en klubs en dergelike dinge meer rond te flenter in plaas van in

die buitelug te gaan waar hulle vuil hande kan kry, en hulle spiere

gehard kan word en die verstand gesuiwer deur eerlike ondervindinge op

see en in verre lande.

Ek hoop dat die seuns (en hulle Vaders ook) wat in hierdie boek saam

met Dawid die weg na Groenland volg, besiel sal word met die gees van

Dawid, en self Ultima Thules sal vind wat die moeite werd is.

Robert A. Bartlett.

Aan Boord van die Morrissey,

BAFFIN-BAAI,

5 September 1926.

DAWID SE REIS NA GROENLAND

INHOUDSOPGAAF

Hoofst. Bls.

I. Ons vertrek na Groenland 1

II. Deur die Straat van Belle Isle 15

III. Ons bereik Groenland 30

IV. Langs die kus van Groenland 38

V. Upernivik en die Eende-Eilande 49

VI. Dwarsoor Melville-Baai 62

VII. Skipbreuk 72

VIII. Die „Morrissey” herstel 88

IX. Ons eerste Narwal 101

X. Ons Eskimo-kunstenaar 110

XI. Walrusjag 117

XII. Na Jones-Sond 126

XIII. Nanoek 136

XIV. By Pond-Baai 144

XV. Nog weer Bere 157

AFBEELDINGE.

Teenoor Bls.

„Hulle sit ’n Verfkwas in my Hand” 6

Die Skipper leer Dawid om Waarnemings te maak 10

’n Portret van die Skrywer in Baffin-Baai geneem 26

Nils, Dawid en Matak, die Seun van Poeadloena 42

Harry Raven, die Dierkundige, leer my om die Kopbeen van ’n

Narwal skoon te maak 107

Besig aan die Geraamte van ’n Narwal 109

Twee blonde Eskimo’s! Dawid en Nils 114

Walrusse op Dek. Die Vleis het die Eskimo’s gekry, die

Geraamtes en Velle het na die Museum gegaan 119

Genoeg Eende vir ’n paar lekker Maaltye 138

Dr. Rasmussen wys vir Dawid ’n ouderwetse Harpoenpunt van

die Eskimo’s 151

Twee Sneeuhase van Pond-Baai 154

Die Ysbeer en haar twee Kleintjies swem weg van die Ysberg 160

HOOFSTUK I

ONS VERTREK NA GROENLAND

Verlede jaar het ek saamgegaan op die Beebe-tog na die

Galápagos-Eilande met die stoomboot Arcturus, wat spesiaal vir die reis

toegerus was. Dit was ’n wetenskaplike ekspediesie na die Ewenaar om

eksemplare uit die diepte van die see te kry, waarvan sommige op ’n

diepte van byna drie myl gevang is. Die eilande waarheen ons gegaan

het, lê op die Ewenaar, seshonderd myl wes van Ecuador in Suid-Amerika,

en op pad soontoe het ons deur die Panama-kanaal gegaan.

Oom Willie—dit is mnr. Beebe—het my as ’n jonger gas laat saamgaan op

dié deel van die ekspediesie wat na die Stille Oseaan gegaan het. Ons

het baie nuwe ondervindinge opgedoen, party waarvan taamlik spannend

was. Daar was duikery met ’n helm te sien, en vuurspuwende berge in

werking met strome lawa wat in die see afloop, en jag op groot

seeduiwels met ’n harpoen. Alhoewel ek die jongste lid van die

geselskap was—my twaalfde verjaarsdag het ek daar by Kokos-Eiland ten

suide van Panama gevier—kon ek aan byna alles deelneem. En dit was

natuurlik baie prettig.

Kaptein Bob Bartlett is ’n groot vriend van Pa. Soos julle sal onthou,

was dit kapt. Bob wat saam met admiraal Peary gegaan het toe hy in 1909

vir die eerste maal die Noordpool bereik het. Wel, hy en Pa het dikwels

gepraat van ’n Groenlandse ekspediesie, en die kaptein het gesê dat dit

omtrent die pragtigste soort van reis is wat mens kan maak, met baie om

te doen en te sien.

Die Amerikaanse Museum vir Natuurstudie in New-York wou vir sy nuwe

Saal vir Seelewe ’n klompie dinge hê, onder ander voëls uit die

Noordpoolstreek. Toe het Pa besluit om ’n ekspediesie te organiseer om

die nodige dinge te gaan haal, waaronder narwalle, bruin Groenlandse

haaie, walrusse, allerhande seehonde en baie voëls.

Natuurlik kon ons nie alles kry wat ons gaan soek het nie, maar selfs

’n deel daarvan sou die reis die moeite werd gemaak het.

Hulle het vir my gesê ek kan saamgaan op hierdie reis na Groenland, en

onmiddellik na sluiting van die skool moes ek my na die skeepswerf op

Staten-Eiland begeef, waar hulle besig was om die Morrissey opnuut uit

te rus; hulle het gesê dat ek daar volop te doene sou hê.

Die plan is om noordwaarts te gaan tot omtrent sewehonderd myl van die

Noordpool. In die geheel sal ons meer as seweduisend myl aflê en in die

loop van Oktober terug wees. As ons miskien laat is, sal Pa my per

trein van Sydney terugstuur skool-toe. En ons vat ook ’n klompie

skoolboeke saam waaruit ek sal moet leer as daar tyd is.

Die vooruitsig van al die awonture wat ons hoop om te hê, maak ’n mens

regtig opgewonde. Ek het ’n 2.56 Newton-geweer en ’n twee-en-twintig

koeëlgeweertjie, en ek hoop ek sal ’n bietjie kans kry om te skiet,

alhoewel ek dink dit sal die prettigste wees om te help by die

wetenskaplike werk en die opstop van diere, en om die lewende beelde te

maak. ’n Deel van my pligte is om ’n dagboek te hou gedurende die

ekspediesie om dit later in boekvorm uit te gee.

Verlede jaar het Ma my saamgevat tot anderkant die Ewenaar. En vanjaar

gaan ek saam met Pa tot 780 myl noord van die Noordpoolkring dit wil sê

as ons dit gelukkig tref met die ys. In elk geval is ek gelukkig vir ’n

seun van dertien jaar!

Die skool het Donderdagagtermiddag gesluit. Vrydag het ek na Pa se

kantoor gegaan en ’n deel van die uitrusting beskou. Ek en hy is

weke-lank besig gewees met die uitrusting, ons het lyste opgestel en

algemeen voorbereidsels gemaak. Die agtermiddag het ons in ’n skuitjie

oorgery na Wes New-Brighton op Staten-Eiland, na aan Williams se

skeepswerf, waar ons skip, die Morrissey gelê het.

Die Morrissey is ’n visserskoener met twee maste. Hy is honderd voet

lank met ’n breedte van twee-en-twintig voet en het ’n diepgang van

omtrent veertien voet as hy swaar gelaai is. Nou, by die begin van ons

reis, is die diepgang waarskynlik twaalf voet. Die bemanning is algar

Newfoundlanders, wonderbare matrose in goeie en slegte weer. Kapt.

Bartlett is die eienaar en Pa en ’n paar van sy vriende het die skip

opnuut uitgerus deur ’n motor te laat insit en ander veranderinge te

maak vir die gerief van ons geselskap.

Jim is die langste van die bemanning. Hy is oor die ses voet en lyk

soos ’n „cow puncher” met smal en breë skouers. Hy is ’n knap

skeepstimmerman. Tom, die bootsman is die oudste en mees ervare. Hy kan

omtrent enigiets maak wat op ’n seilskip nodig is. Hy was op verskeie

reise na die noorde saam met Peary op die Roosevelt waaronder die een

na die Pool. Joe is die grootste van die bemanning en Ralph die

jongste.

Billy Pritchard is volgens my opvatting die vernaamste man aan boord.

Hy is die kok. Hy is taamlik klein, maar is ’n uitstekende kok en het

al veel deurgemaak op see. Hy is in die verre noorde gewees en het al

viermaal skipbreuk gely. Toe die Morrissey van Newfoundland afgekom het

om ons te haal, is hy toe die skip ruk, skoon uit sy kooi geskiet, oor

die hele kombuis en het bo op die stoof te lande gekom. Billy se

handlanger is Dom, en hy is altyd baie gaaf teenoor my.

Ons skipper is Robert A. Bartlett wat saam met Peary was en jare van sy

lewe in die Noordpool-streek deurgebring het; en hy is omtrent die mees

ervare seevaarder deur ys wat lewe. Kaptein Bob is verskriklik

vriendelik teenoor my en hy en sy broer Will Bartlett, ons stuurman,

het belowe om my die name van al die toue te leer, ook om al die punte

van die kompas in die regte orde op te noem, en sulke dinge meer. Sien,

ek het nog nooit vantevore op ’n seilskip gereis nie, en daar is baie

dingetjies om te leer.

Wel, toe ek op die skip kom, sit hulle ’n verfkwas in my hand en sê ek

moet die romp begin skilder, daar ons toe in die droë dok was om ’n gat

vir die nuwe skroefas in die agterstewe te laat boor. Daardie dag het

ek amper ’n kwart van die romp geskilder en Saterdag heeldag was daar

ander skilderwerk—kooie, kaste, deksels van luike ens. Ons het ’n klomp

Masury-verf gehad wat vir die ekspediesie present gegee is. En daar was

ook baie om skoon te maak.

Die Morrissey is in drie afsonderlike kajuite verdeel. Die bak het ses

kooie, waar die bemanning slaap. Dit word ook as kombuis gebruik. Meer

na agter is die hoof-kajuit waar die meeste van ons slaap. Daar staan

’n groot tafel in die middel van die vertrek wat ons gebruik om te eet,

skryf, werk ens. In hierdie kajuit is twaalf kooie en die draadlose

toestel, en ’n groot bo-lig is ingesit waar die luik vir die goedere

vroeër was.

Die draadlose toestel is een vir kort golwe en word bewerk deur Ed

Manley, ’n liefhebber wat hom vrywillig vir die werk aangebied het en

wat aan die Marietta-Kollege sy graad behaal het. Die pragtige groot

radio-uitrusting waarmee ons hoop om selfs van anderkant die

Noordpool-kring tot by die huis te kan praat, is deur mnr. Alwater Kent

en die Nasionale Karbou-Maatskappy wat die Eveready-batterye fabriseer,

aan die ekspediesie geskenk.

Dan kom die masjienekamer wat vroeër die agterste skeepsruim was en

waarin hulle die vis weggepak het en die steenkool gelaai het toe die

skip nog gebruik is as vragskip. Al rondom die motor is goedere styf

ingepak, sodat hulle onmoontlik kan roer as die skip in ’n storm rol.

Party van hulle behoort aan Knud Rasmussen en party aan professor Hobbs

vir wie ons in Sidney sal oplaai. Hy gaan na Suid-Groenland om die

oorsprong van storme op die groot gletserveld daar te bestudeer. Ons

sal Rasmussen aan die Groenlandse kus by Disko-Eiland oplaai, en ons

neem die goedere vir hom na sy handelstasie by Thule, naby Kaap York.

Rasmussen is ’n groot Deense ontdekkingsreisiger en ’n deskundige oor

die Eskimo-taal.

Agter die masjienekamer is die kajuit waarin die kaptein, Pa, mnr.

Raven en mnr. Streeter slaap. Daarin is ses kooie, ’n tafel, ’n stofie

en die enigste stoel aan boord. Bokant die tafel is ’n rak met boeke,

meestal oor die Noordpool-streek en awonture. Ek het ’n paar spesiale

boeke van my eie om te lees, waaronder Two Years before the Mast,

Doctor Luke of the Labrador, The Cruise of the Cachelot en Richard

Carvel. En dan het Pa nog ’n paar boeke wat vir my wag, Latyn en

Engelse grammatika, wat nie heeltemal so plesierig klink nie.

Ons voorrade is meestal in ’n spesiale pakkamer langs die kombuis en

meer na agtertoe in die gang en die lasaret gepak, op die dek het ons

oor die vyftig vate brandolie vir ons Standard Diesel-motor wat soos

jullie seker weet, olie gebruik, en nie petroleum nie.

Ons het Saterdag, die twintigste Junie, van af die Amerikaanse Jagklub

op Long-Eiland-Sond in see gegaan. Dit was by Rye waar ons tuis is, en

die meeste lede van ons geselskap was voor ons vertrek by ons op

besoek.

Dit was ’n warm, sonnige dag, en ’n groot menigte het in bote uitgekom

en die Morrissey deurgekyk. Daar was ’n groot noenmaal by die klub, en

kommodoor Mallory het aan Pa en kapt. Bob die vlag van die klub gegee

om saam te neem na die Noorde. Omtrent kwart voor vyf was al die

besoekers van die skip af, en het ons die anker gelig en die Sond

afgevaar. ’n Groot vloot van jagte en klein bote was rondom ons en het

ons met ’n geweldige getoeter en gefluit ’n pragtige afskeid gegee.

Oupa se jag, die Ilorindia het al die moeders, susters en vrouens van

ons geselskap met Ma en my broertjie June aan boord gehad. Hulle het

tot by Sound-Strand, Connecticut, saamgegaan. En toe, nadat hulle die

laaste vaarwel getoeter het, en ons op ons mishoring geantwoord het,

was ons regtig op pad na die noorde!

Maandag was ’n heerlik stil dag, sodat ek en Art Young kans gekry het

om ons goed weg te pak. Sy kooi is net onder myne, dus moet ons ’n kas

saam gebruik. Art is die baas-skut met pyl en boog wat al in Afrika

leeus gaan skiet het. In Amerika het hy grysbere, elande [1] en

Kadiak-bere met sy pyle doodgemaak. Nou hoop hy om sy geluk met ysbere

en walrusse te probeer.

Maandagoggend, ons eerste dag op see, het ons naby Block-Eiland, aan

die oostelike punt van Long-Eiland-Sond, agtien vliegtuie gesien wat

algar in die rigting van New-York gevlieg het. Miskien wou hulle vir

kommandeur Byrd verwelkom wat binne ’n paar dae terug verwag is uit

Engeland nadat hy na die Noordpool gevlieg het. Mnr. Byrd is bevriend

met Pa en was in ons huis net kort voordat hy sy reis in die Chantier

begin het.

’n Goeie wind het gewaai en die see was heeldag taamlik stil. Dit was

lekker sonskyn, maar koud, sodat ons wol-oorhemde en jasse moes

aantrek. Dié dag het algar middag- en aandete geniet. Toe ons in die

agtermiddag deur Vineyard-Sond opseil, het ’n duikboot en ’n klomp

skepe van die kuswag by ons verbygegaan.

Toe begin dit onstuimiger word, terwyl ’n stywe suidewind waai, wat

goed was om mee te seil. Die volgende agtermiddag het ons ’n klomp

klein walvisse, van omtrent 25 voet lank, gesien. Twee of drie van

hulle het amper heeltemal uit die water gespring, en eenslag het ons

een omtrent vyftig tree voor ons skip heeltemal sien uitspring. Hy het

soos ’n ontsaglike geweerkoeël gelyk.

Daardie dag was amper ons hele geselskap siek, selfs ’n klompie van die

bemanning. Ek was meeste van die tyd op dek en het na mnr. Raven en Van

Heilner se vertellinge geluister oor speer-valle en hoe die Maleiers

valle stel om diere te vang.

Ons skip het so gerol en gekantel dat die water dikwels by die spuigate

aan bakboord en stuurboord ingeloop het. Ek het net deur ’n spuigat

gekyk toe ons ’n groot golf kry. Ek staan nog en kyk hoe kapt. Bob die

grootskoot laat skiet, en net toe ek omdraai, kom die water skielik in

en slaan my in die gesig.

Ralph, een van die bemanning, het my gewys hoe om van tou beskermings

vir die seile te maak. Dit word gebruik om te verhinder dat die seile

teen die staalkabels slaan en afslyt. En Jim het my die name van die

seile geleer, en hy begin nou met die toue.

Die laaste twee dae van die reis na Sydney was nie so aangenaam nie,

want ons het mistige weer gehad en ’n bietjie reën. Af en toe het ons

missienjale van die kus van New-Skotland gehoor, en toe die mis

verdwyn, sien ons die kus en vuurtorings. Dit is baie prettig om in die

kraaines te wees.

HOOFSTUK II

DEUR DIE STRAAT VAN BELLE ISLE

Ons het Donderdag oggend ’n paar minute voor twee-uur in Sydney

aangekom, en ek het opgebly om te sien wat sou gebeur. Gelukkig was

daar g’n mis nie, wat alles makliker gemaak het.

Die eerste wat ons in die oggend gedoen het, was om ons kajuite aan die

kant te maak, en daarna het ons aan land gegaan na ’n klein hotel waar

ons gebad het. Op die Morrissey word nie dikwels gebad nie, hoewel ons

later waarskynlik die ronde wasbalie sal gebruik wat eintlik vir ons

klere bedoel is, maar seker daarvoor ook sal deug. Toe Pa die skip op

die skeepswerf by Staten-Eiland opnuut laat uitrus het, het hulle ’n

groot waterbak van staal wat omtrent 750 gellings kan hou op die dek

gesit. Dan is daar nog die watervate; dus behoort ons regtig genoeg te

hê.

As ons watervoorraad bo in die noorde opraak, vertel kapt. Bob my, gaan

ons eenvoudig na ’n ysberg en pomp die water uit vywers bo-op die berg

in ons waterbak. Vir hierdie doel het ons ’n soort van klein pomp met

’n stuk slang aan elke kant. Die gesmelte water op die ysberge is

heeltemal vars, tensy daar te veel skuim ingewaai is.

Die oggend in Sydney het ek ’n paar briewe geskryf aan Ma en ander

mense. Daarna, in die agtermiddag, het Robert Peary, Art Young, Ed

Manley, Fred Linekiller en ek in ons klein moterboot oorgery na die

stad Sydney. Sydney lê omtrent vyf myl ver, anderkant ’n groot baai en

is baie groter as Noord-Sydney, waar ons skip lê.

Daar het ons ’n groot, ou, vierkantig getuigde seilskip met skietgate

al langs sy sye gesien. Dit was eens op ’n tyd, ek meen in die tyd van

die ou „Ironsides”—’n fregatskip van die Britse mariene.

Ons het aan boord gegaan om te kyk of ons nie ’n ou pen van die soort

waaraan mens iets op die skip kan vasmaak (E. belaying pin) vir my

versameling kon kry nie, maar tevergeefs.

Op die volgende dag het Pa, Art Young, Carl, mnr. Kellerman en ek

uitgegaan om te probeer of daar nie kans was om forelle te vang in een

van die stroompies wat ’n paar myl van ons ankerplek in die baai loop

nie. Maar ons het niks uitgevoer nie. Toe ons ’n ruk gevis het, gaan

ons terug na die skuit wat ons ’n endjie van die kus geanker het. Maar

dit het intussen laagwater geword en ons vind die skuit amper hoog en

droog in die modder.

Ons het ’n hele ruk, tot by die knieë in die modder, gestoot en getrek

totdat ons hom eindelik weer in die water gekry het. Art het skoene

aangehad, dus probeer ek, om hom na die skuit te dra, maar hy was te

swaar. Toe bring ons die skuit nader aan die wal en Pa probeer om Art

te dra. Pa het vir Art op sy rug—Art is ’n groot man en weeg seker 190

pond—en begin net om uit te kom, toe die ekstra gewig sy voete tot

bokant sy stewels in die modder druk, en toe ons probeer om sy bene uit

die modder te trek, verloor hy sy een stewel; hulle verloor albei hulle

ewewig en val in die modder en water. Hulle het dit albei as ’n grap

opgevat en moes toe amper ’n myl omloop eer ons ’n plek kon kry waar

ons hulle maklik kon oplaai.

Op ’n ander stuk strand het ons die kos geëet wat ons saamgebring het.

Daar in die nabyheid het Art en ek die eerste buit van die ekspediesie

gekry. Nadat ons stilletjies nadergekom het, storm ons skielik daarop

af. En wat, dink julle, het ons gekry?

Dit was ’n groot menigte van „clams”. In die geheel het ons omtrent ’n

skepel van hulle uitgegrawe, en daardie aand het ons ’n lekker „clam

chowder” [2] geniet. Dit was nie heeltemal so spannend soos om ’n

walrus te kry nie, maar dit was in elk geval pret en ons het volgehou

dat die „clams” werklik die eerste buit was wat ons aan boord gebring

het.

Ons het Newfoundland op die agt-en-twintigste Junie vir die eerste maal

gesien. Dit was ’n pragtige gesig, met die sneeu wat weens die laatheid

van die jaargety nog teen die helling van die berge gelê het. Pa sê dit

lyk of daar altyd ’n buitengewone jaargety is waar ons ook al mag

heengaan. Op sommige van die heuwels het die son geskyn, terwyl op

ander skaduwees rondgedryf het. In seker opsigte het hulle gelyk soos

die meestal kaal heuwels van Montana met hulle deininge.

Net buite die Baai van Eilande, ’n groote baai aan die weskus van

Newfoundland, het ons drie visskoeners opgemerk. Ons het van vier- tot

agture geneem om oor die baai te seil. Omtrent halfagt het ons een van

die skoeners verbygeseil en iemand die kornet hoor blaas, maar nie alte

goed nie. Dit het snaaks geklink om so ’n geluid oor die afgeleë watere

te hoor aansweef.

Die sonsondergang was lieflik, so rooi, dat dit gelyk het of daar bloed

uit die hemel tap. Voor ons het die weer mooi gelyk, maar agter ons was

’n groot, swart wolk, waarin elke nou en dan die bliksemstrale gespeel

het. En dit was regtig stormagtig. Dit was so donker, dat ons niks kon

sien nie. Ek het op dek tweemaal geval, daar dit baie moeilik is om jou

weg te vind weens al die goed wat daar lê—vaatjies, platboom-skuite,

moterbote en die Hobbs-kano’s, behalwe nog ’n hele boel hout en toue.

Die wind het gewaai so al wat hy kon, en die reën het in strome geval.

Art en ek het ons oliejasse en stewels aangetrek en aan boord gegaan om

die boligte wat verskriklik gelek het, met iets te bedek. Dit lyk of

boligte nooit in goeie orde is nie. Ons het seildoeke en geteerde

bokseile oor hulle getrek. Die water het oor die boeg geslaan.

Maar die Morrissey het hom skynbaar aan niks gesteur nie, en ek dink

kapt. Bob en Will het op ’n manier daarvan gehou. Kapt. Bob is ’n

wonderbare man en is baie gaaf teenoor my. Dit lyk of hy daarvan hou

dat ek met die toue werk en soveel as moontlik omtrent die skip

uitvind.

Die weer het een- of tweekeer baie naby ons geslaan, en baiemaal was

die lug helder verlig deur die verblindende weerligstrale wat woes

heen-en-weer geskiet het.

Op die negen-en-twintigste het ons die eerste ysberge gesien, en na die

middag het ons omtrent tien verbygeseil, waarvan vier regtig groot was.

Een van hulle was omtrent vyftig voet hoog en honderd voet lank.

Omtrent een agste van ’n ysberg is bo die water en sewe-agstes onder

die water. Julle kan vir julle dus voorstel hoe groot die een wat ek

beskryf het in werklikheid was; later het ons natuurlik ysberge gesien

wat nog groter was. Die kleiner berge en blokke drywende ys word by ons

„growlers” genoem.

Net ’n week gelede het ons berig gekry dat die Straat van Belle Isle

van Labrador tot Newfoundland toegevries is, maar die suidewind wat die

laaste paar dae gewaai het, het die straat blykbaar skoongevee en ons

het sonder moeite deurgegaan. In die straat het ons twee stoombote

gesien wat waarskynlik, net soos ons, vir die eerste keer in die

seisoen deurgeseil het.

Nadat ons die straat verlaat het, het ons heeldag verspreide ysberge

gesien, tot omtrent vieruur, toe ons vir die eerste keer regtig ys

raakgeloop het. Daar was ’n menigte van blokke in een plaat wat omtrent

drie myl lank en een myl breed was. Daar het honderde van berge omtrent

so groot soos ’n ordentlike huis rondgedryf. Ek het saam met Ed Manley

in die kraaines geklim en afgekyk op die pragtige gesig. Die ys was bo

blou en onder ’n mooi ligte groen. As ’n mens bo in die kraaines is,

kan mens die voetstuk van die ysberg ver onder sien.

In die oggend was dit taamlik mistige weer en ons het baie naby party

ysberge gekom. Een slag, toe ek op dek was, het ons minder as honderd

tree van ons ’n berg gesien wat gelyk het soos ’n klein hotel, omtrent

honderd-en-twintig voet hoog en driehonderd voet lank.

Twee dae lank was ons so-te-sê die hele tyd tussen ys. Kapt. Bob sê dit

is die ysveld van Labrador. Een oggend het ek wakkergeskrik van ’n skok

deurdat ons teen ’n stuk ys gestamp het. Die boeg van die skip word uit

die water gelig en kom dan met sy hele geweld op die ys neer en

verpletter dit, of anders ry ons feitlik ’n end daarop totdat dit

losbreek. In alle geval is dit lekker om te weet dat die Morrissey van

goeie soliede eikehout gebou is, en dat daar bowendien nog ’n valse

kiel van groenhout [3] buite-om is om hom ’n bietjie teen die ys te

beveilig.

Sover as ons kon sien was daar die hele dag ys, en ’n bietjie mis. Ons

koers het heen en weer gekronkel, in en uit en om die ys. Dit lyk

snaaks om skielik op soveel ys af te kom, terwyl daar nou-die-dag glad

niks was nie. Die water is stil waar daar baie ys is, dus het ons goed

gevorder, ten spyte van al die kronkelinge wat ons moes maak.

Een aand het ons heeltemal ’n gesellige aand gehad om die tyd te

verdryf. Met ons klein Pathex-toestel het ons lewende beelde gemaak,

dan was daar lekkers, en ons „foggey-dew”-orkes het tussenin gespeel en

Art Young het solo’s gespeel op sy snaakse klein viool wat hy saam na

Afrika gehad het en orals op sy jagtogte. „Nanook van die Noorde” was

die naam van die film, en Bob Flaherty wat dit geneem het is ’n groot

vriend van ons en het my baie vertel van die Eskimo’s in die streek van

Hudson-Baai. Tussen hakies, Pa sê ons sal miskien aanstaande somer

soontoe gaan.

By tye het die son oordags lekker geskyn en Pa en mnr. Kellerman het ’n

klomp lewende beelde en portrette geneem. Mnr. Kellerman klim op die

boegspriet en vandaar op die staglyne en neem dan lewende beelde van

die voorstewe as hy deur die ys sny.

Dit is baie boeiend om te sien hoe die bemanning die skip deur die ys

bring. Een man is in die kraaines op die fokmas. Hy roept uit waarheen

om te gaan en die man aan die wiel herhaal sy woorde om te verhinder

dat daar ’n fout gemaak word.

Jy hoor die man bo skreeu, „Stuurbo-ord!”

En die stuurman antwoord aan die wiel, „Stuurbo-ord!”

Dan swaai die skip om na bakboord; want as die helmstok deur die wiel

na die een kant getrek word, dan draai die skip na die ander kant.

Dit was vir my heeltemal ’n interessante eerste Julie. Die temperatuur

was omtrent 34 grade, net twee grade bo die vriespunt. Gewoonlik swem

ek tuis in die tyd van die jaar!

Een aand het professor Hobbs van die Uniwersiteit van Michigan ’n

lesing gehou oor die groot gletserveld van Groenland. Hy glo dat baie

van die storms op die Atlantiese Oseaan hulle oorsprong in Groenland

het. Soos julle seker weet, is daardie land feitlik die ene ys. Daar is

al langs die kus, veral in die suide, net ’n smal strook land wat nie

deur die gletserveld bedek is nie. Die gedagte is dat dit miskien ’n

myl of meer dik is, maar niemand weet presies wat die afmetings is nie.

Die gletsers is tonge van die gletserveld wat as-’t-ware na die oseaan

uitlek en dan afbreek as ysberge. In die deel van Groenland waarheen

ons gaan bo in die noorde, is daar omtrent driehonderd mense. Die groot

gletserveld van Groenland en die Suidpool-streek word beskou as die

koudste dele van die wêreld, kouer selfs as die Noordpool-streek.

Toe Peary oor die noordelike gedeelte van Groenland gereis het, het hy

gevind dat die wind in sy gesig waai as hy op ’n ysheuwel klim en as hy

afdraand gaan, dan waai die wind op sy rug. M. a. w. daar was altyd ’n

wind wat van die ys afgekom het. Professor Hobbs en sy geselskap vir

wie ons na Holsteinsborg neem, sal ’n studie maak van hierdie winde,

die beweginge van die ys en ander dinge.

Een slag, omtrent ons twede dag tussen die ys, terwyl ons in en uit ons

vaarweg kronkel, sien ons iets swarts in die water. Ek skreeu vir die

ander om na die seehond te kom kyk. Dit was die eerste noordelike

seehond wat ek buitekant ’n dieretuin of sirkus gesien het. Ek het hom

te siene gekry deurdat ek op die punt van die boegspriet was met Robert

Peary, ons eerste masjinis, met wie ek baie rondspeel. Hy is ’n seun

van admiraal Peary wat die Noordpool ontdek het. Dit is sy eerste reis

na die noorde, en ek en hy is groot maats.

Julle het seker al gehoor van Eric die Rooie. Hy was ’n Noor wat ’n

skip uitgerus het en in 983 van Noorweë geseil het na ’n land wat deur

’n seker Gunbjorn ten weste van Ysland ontdek is. Toe hy die land

bereik het, wonder hy hoe hy mense sal kan beweeg om daar te gaan woon,

dus toe noem hy dit Groenland. Dit was die eintlike begin van die

teenswoordige Groenland. Daarna het hulle vee na die suidelike gedeelte

gebring en daarmee geboer.

Groenland is van suid na noord omtrent vyftienhonderd myl lank en op sy

wydste plek omtrent seshonderd myl wyd.

Ons sal Knud Rasmussen by Disko-Eiland oplaai waar, soos ek gelees het,

baie fossiele gevind word. Ek hoop om ’n paar vir my versameling te

kry. Tuis het ek ’n kamertjie wat ons my museum noem, en daarin

versamel ek ’n hele klomp goed wat werklik interessant is. Daar het ek

alreeds ’n klomp goed wat ek van die ekspediesie met die Arcturus

saamgebring het, en ander deur ontdekkingsreisigers wat ons huis besoek

het, aan my gegee. Een van my grootste skatte is ’n klompie stukke van

die dop van ’n dinosour-eier wat ek van Roy Capman Andrews gekry het,

die eerste man wat die soort eiers in Asië gevind het. Hulle is

tienmiljoen jare oud.

HOOFSTUK III

ONS BEREIK GROENLAND

Ons het op 5 Julie Groenland vir die eerste keer te sien gekry. Dit was

’n pragtige gesig met die hoë sneeubedekte berge wat uit die mis

uitgesteek het. Die hele agtermiddag het ons die kus in ’n noordelike

rigting gevolg, maar ’n taamlike end van die land. Van die Straat van

Belle Isle af het ons ver van die kus gehou; as gevolg van die mis, die

seestrome en die ys waardeur ons moes vleg, was dit dus moeilik om vas

te stel presies waar ons was.

Die volgende oggend was kapt. Bartlett besorg, want ’n sterk wind het

gewaai en ons het nie geweet of ons nie miskien ons hawe verbygeseil

het nie. Ons wou Holsteinsborg bereik. Weens die mis was ons nie in

staat om ons berekeninge te maak nie.

Ons het gedurig met die verkykers uitgekyk en omtrent nege-uur gewaar

ons iets soos ’n groot wit vlag wat naby ’n paar klein hutte op die kus

waai. Waarskynlik was dit die droë vel van ’n seeleeu of soiets. In elk

geval het die Groenlanders vir ons gesein, en ons het stilgehou, want

ons was ernstig om iemand aan boord te kry en uit te vind presies waar

ons ons bevind het.

Ons laat toe ’n klein boot neer, en Pa, Peary, die masjinis, die

stuurman en Carl gaan aan land en bring die eerste man na die skip.

Drie kajaks het hulle tegemoet gekom. Carl praat toe Noors met hom en

vra waar Holsteinsborg is. Maar hy kon nie verstaan nie, dus wys ons

hom die kaart en noem die plek. Toe verstaan hy en beduie deur gebare

dat hy ons die pad soontoe sal wys.

Dit was groot pret om te sien hoe hy in sy klein kajak op- en afgaan

sonder om om te slaan. ’n Kajak is ’n Eskimo-boot, ’n soort kano wat

gemaak is van seehond-vel wat oor ’n raamwerk van dun hout gespan is.

Dit is bo-op ook toe gemaak, behalwe dat ’n gat gelaat is waar ’n man

inklim en sy voete onder die dek insteek waar dit maar omtrent ses duim

diep is. Daar is ook ’n vel wat oor die opening pas en wat die man om

sy lyf vasmaak om die water heeltemal uit te hou. Die roeispaan is van

een stuk hout gemaak met ’n blad aan elke ent. Dit word in die middel

vasgehou en eers word die een ent in die water gesteek en dan die

ander. In Suid-Groenland is daar gewoonlik been aan die ente, van die

roeispaan, terwy die handvatsel glad gemaak is. Die noordelike Eskimo’s

het gewoonlik g’n been aan die roeispaan nie, en buitendien is daar vir

elke hand ’n kerf ingesny.

Harry Laven het prente van noordelike diere geteken en die Eskimo het

vir ons hulle name in sy taal gesê.

Omtrent vier-uur het ons in Holsteinsborg aangekom. Dit was ’n baie

goeie klein hawe in die monding van ’n fjord. ’n Fjord is ’n lang smal

baai of sond gewoonlik met steil kranse aan weerskante. Pa sê die

landskap van Groenland is baie soos die van Noorweë.

Die huise is algar verskillend van kleur, en maak ’n baie bont

vertoning. Bo-op die heuwel het ’n klein rooi kerkie gestaan en aan die

voet was die dorpie, meestal hout-huisies met sooie rondom gepak om die

koue uit te hou. ’n Paar van die sooi-huisies het van voor tonnels,

soos die ighloes in die noorde.

Die plek waar ons geland het, was ’n klein dok met ’n inleg-fabriek aan

die een kant en rakke vir die Eskimo’s se kajaks aan die ander kant.

In Holsteinsborg het ek groot pret gehad met handeldryf. Drie van die

matrose, Jim, Joe en Ralph, en ek het aan land gegaan met ’n paar ou

hemde en ’n ou broek. Ons het omtrent vyftien hutte binnegegaan. Daar

was maar vyf-en-twintig hutte in die dorp. Hulle het bestaan uit een

kamer met ’n soort van verhoog vir die bed teen die agtermuur. Alles,

tot koskook, word in die een kamer gedoen en die hele famielie slaap op

een bed. Die huise was baie bedompig en het na velle en honde geruik.

Die honde was orals te sien, tot in die tonnels het hulle gelê, sodat

mens nouliks kon verbykom.

Daardie aand om nege-uur het ons na ’n fjord, Ikortok genoem, vertrek

om professor Hobbs en sy geselskap aan wal te sit. Ons het omtrent

veertig myl die binneland ingegaan. Deur drie platboom-skuite aanmekaar

vas te bind het ons ’n vlot gemaak om sy goed van die skip te vervoer.

Een vrag was ’n bietjie te swaar, sodat die vlot amper gesink het

deurdat een van die skuite vol water geloop het.

Terwyl die laaste vrag afgelaai is, het Pa en ek met Carl ’n bietjie

gaan vis vang, maar sonder sukses. Ons sien toe aan land ’n voëlnes wat

lyk of dit ’n goeie eksemplaar kon wees. Ons probeer om dit te kry,

deur teen ’n rots uit te klim, maar kon dit nie bereik nie.

Toe ons in ons motor-bootjie die land verlaat, het ons in vlak water

geraak. Die skroef van ons Johnson-motor raak toe die grond met die

gevolg dat die motor losruk en oor boord val. Gelukkig kon ons dit weer

kry. Ons moes egter die hele pad terug roei, daar die motor vol

soutwater geword het en nie wou loop nie. Die hooggety het juis met

geweld die fjord opgekom en ons moes vir omtrent vier myl net hard

roei. Toe ons ’n stuk strand bereik, trek ons die boot uit die water,

en werk aan die motor. Ek vat toe ’n geweer om te sien of ek nie ’n

paar voëls kon kry nie wat geskik sou wees om te eet of anders om

opgestop te word. Teen die tyd dat ek die ander end van die strand

bereik het, het hulle hoop opgegee om die motor droog te kry en weer

begin roei. Hulle skreeu toe vir my dat ek maar al langs die kus moes

terugstap, daar dit dan makliker sou wees om te roei. Ek het nie veel

van die idee gehou nie, maar ek moes òf aanstap, òf daar bly. Ek het ’n

paar van die velstewels wat hulle kamiks noem, aangehad, en dit was

moeilik om daarmee oor die rotse te loop. Ek was ook bang vir honde,

want ons het aan land, nie ver van die ankerplek van die Morrissey, ’n

klomp klein hondjies gekry. Nou is ’n teef in die noorde dikwels so

kwaai soos ’n wolf as sy kleintjies het. Ek het ’n paar honderd tree af

een gesien en het dus agter ’n rots gaan sit en wag dat hy moet verder

weggaan.

Toe ek die kus naby die skip bereik het, stuur hulle ’n platboom-skuit

om my te haal.

Op die volgende dag het ons in ’n paar dorpies langs die fjord

oorgebly. Die Eskimo’s het in bootjies en kajaks gekom om met ons te

handel en die Europeane en hulle snaakse skoene te sien. Toe ons hulle

vra na visse wat geskik was vir eksemplare, bring hulle ’n seevark te

voorskyn.

Daardie agtermiddag het ons ’n groot kolonie van voëls teëgekom. Dit

was wonderbaar om te sien. Die hele sy van die rots was oortrek met

duisende neste van seemeeue. Dit is ’n soort van klein seemeeu wat in

die winter soms sover as New-York afkom. Die voëls het met hulle

aanhoudende geskreeu ’n verskriklike lawaai gemaak.

Ons het in die platboom-skuite tot teen die rots geroei en daar ’n

klompie voëls geskiet om saam terug te vat en ander om te eet. Ons het

ook lewende beelde geneem van die voëls wat al om die rots vlieg. Op ’n

afstand het die menigte vlieënde voëls presies soos ’n sneeustorm

gelyk.

Toe is ons terug na Holsteinsborg om twee mans terug te bring wat ons

daar gekry het. Om drie-uur in die oggend het ons daar aangekom en

hulle in ’n boot aan wal gesit in plaas van met die Morrissey in te

seil, want ons wou so gou as moontlik aangaan na Disko.

HOOFSTUK IV

LANGS DIE KUS VAN GROENLAND

Op pad na Disko het ons slegte weer getref en ons moes omtrent veertig

myl van Holsteinsborg agter ’n klompie eilandjies gaan skuiling soek.

Daar was glad g’n mense nie. Ons het ’n paar visse gevang en ’n paar

voëls geskiet om saam terug te neem.

Op een eiland het drie verlate sooi-huisies gestaan. Hulle was vol

modder, visgrate en bene van seehonde.

Toe ons terugkom van die hutte het ek met twee van my maats, Jim en

Ralph, gaan visvang. Ons het in die platboom-skuit ver uitgegaan tot

waar die see heeltemal ru was—ek het tenminste so gedink. Ons het ’n

paar rotskabeljoue gevang. Jim het ’n groot heilbot tot teen aan die

skuit gebring, maar net toe hy hom in die skuit wou trek, gee die vis

’n ruk en raak los.

Een aand toe ’n paar Eskimo’s langs die kus aan boord gekom het, wys

ons hulle lewende beelde van Eskimo’s wat ’n walrus harpoeneer, om te

sien wat hulle daarvan sou dink. Hierdie prente het ons in die

midskeepse kajuit gewys waar ons algar eet en die meeste van ons slaap.

Met ons Pathex-toestel het ons die prente op ’n doek gewerp wat Fred

van die oliekleedjie van ons tafel gemaak het.

Toe die geharpoeneerde walrus die Eskimojagter wegsleep, het ons gaste

geskreeu of gebrom. Dit was baie komieklik. Hulle het al van lewende

beelde gehoor, maar hulle nog nooit gesien nie. Na die noordse prente

het ons hulle ’n paar van die Suidsee-Eilande gewys. Die Eskimo’s het

nog nooit iemand sien swem nie, dus het hulle nie geweet wat om daarvan

te dink nie. Toe ’n vriend van ons wat hul taal kon praat hulle vra wat

hulle daarvan dink, toe sê hulle net hulle het van algar baie gehou,

veral die prent waarop ’n leeu met sy dresseerder speel. Hulle het nog

nooit soiets soos ’n leeu gesien nie. Daar is byvoorbeeld, soos ons

verstaan, nie ’n enkele kat in die hele Groenland nie.

Dit is baie vermaaklik om die skuite te sien wat jou tegemoet kom, en

die Eskimo’s wat so heeltemal anders is as ons en g’n woord Engels kan

praat nie, behalwe ’n paar soos „shirt”, „sugar” en „coffee” wat hulle

opgetel het. Sulke dinge wil hulle ruil vir stewels, beursies en velle.

In die suide kerf hulle sulke dinge soos kajaks, messe en penhouers uit

die ivoor van walrus-tande.

Hulle het partykeer baie gawe hoede wat van bont of eiderdons gemaak

is. Een man het twee modelle van kajaks met die hele uitrusting, tot

die klein rokkie vir die harpoentou en die figuur van ’n man, na my toe

gebring. Ek het een daarvan vir my klein museum by die huis gekoop.

Daarvoor wou hy ’n ou broek of ’n hoeveelheid twak hê. Selfs die

vrouens wil twak hê om te pruim. Ek het ook ’n paar baie mooi beursies

gekoop wat van die vinne van seehonde gemaak is en knippies van been

het. Dit is moeilik om ’n kleinigheid vir elke vriend by die huis te

kry.

Die Eskimo’s is oor die algemeen baie gaaf en eerlik. Die meeste kan

akkordion speel, en dit lyk of hulle baie musikaal is, en hulle hou

bepaald van dans.

Ons het volop goed aan boord wat vir presente en ruilhandel deug, veral

as betaling vir hulp en werk wat gedaan word. Geld beteken hier maar

min. Ons voorrade sluit in byle, messe, krale, naalde, twak, pype,

lekkers ens. Albei geslagte is lief vir gekleurde doeke, en spieëltjies

is altyd welkom.

By een van die dorpe het ons ’n trop honde ’n vrot haai sien vreet. As

’n haai ’n paar dae dood is, word daar skynbaar ammonia in die vleis

gevorm. Die honde hou daarvan, en nadat hulle dit gevreet het, lyk dit

vir my, word hulle dronk en kan nouliks loop.

Fred Linekiller, die opstopper van diere, is besig om my te wys hoe ’n

mens voëls afslag. Dit is ’n interessante werk. Die eerste wat mens

moet doen as mens ’n voël geskiet het is om watte in die wonde en die

bek van die voël te steek, om te keer dat die bloed nie oor die vere

loop nie. Dan word ’n naald deur die neusgate gesteek en die bek word

toegewerk, dat die watte nie kan uitkom nie. Dan word die vere op die

bors vanmekaar gemaak en die vel van die borsbeen tot die sagte deel

van die maag deurgesny.

Dan word daar koringmeel ingestrooi om die vel droog te hou en die

bloed en vogtigheid op te suig. Daarna word die vel nie afgetrek nie,

maar gedruk om dit nie te rek nie. Weer meel word ingestrooi hoe verder

die vel afgeslag word. As mens by die bene kom, word by die knie ’n sny

gemaak, maar so dat die been bly om die voet in posiesie te hou. Net

bokant waar die stertvere uitkom, word ’n sny gemaak en die vel

omgekeer met die binnenste na buite en die vel word versigtig opgedruk

na die kop. Dit kan tot ’n bietjie verder as die oë gedruk word. Dan

word die kop geskraap en ’n mes word tussen die kakebeen en die

agterste deel van die kop ingedruk, sodat ’n mens die harsings kan

uithaal. Dan word die vel, met die binnenste buite, met arsenikpoeier

bewerk, en daarna word dit weer omgekeer met die vere na buite en die

vere word uitgepluis. Dan is dit gereed om saamgevat te word om op te

stop en op te sit, of anders om bestudeer te word soos dit is.

Toe ek een oggend wakker skrik, vind ek dat ons in die klein, maar

goeie hawe Godhavn op Disko-Eiland was. Kapt. Bob moet meeste van die

tyd op wees, veral natuurlik as ons op pad is. Hierdie slag,

byvoorbeeld, was hy die hele nag op, en Pa met hom. Disko is ’n

moeilike plek om te land as mens dit nie verskriklik goed ken nie.

Daar is ’n klein steenkool-myn naby Godhavn. Steenkool uithaal en

visvang, is omtrent al wat die mense daar doen, behalwe dat hulle gaan

jag, veral in die winter. Die meeste werk word deur die vrouens gedoen,

terwyl die mans gaan visvang of jag. Toe ons aan land gaan, sien ons

die vrouens met groot mandjies die steenkool uit ’n bootjie haal om dit

te weeg en in ’n groot loods weg te pak.

Carl, mnr. Streeter, Art Young en ek het saam met twee Eskimo’s

uitgegaan om in die mond van die baai haaie te vang. Ons het omtrent

van een- tot vieruur gevis, maar het nie hond haar afgemaak nie. Later

het ons deur ruil ’n paar pragtige modelle van goed uitgeruste kajaks

gekry, ook van klein sleetjies met swepe en geweers daarop vasgebind

met rieme.

Ons het met die Goewerneur die hele Godhavn deurgegaan, en Carl het

opgetree as tolk. Dit is gerieflik om hom by jou te hê want hy praat

taamlik goed Deens. Hy is ’n Amerikaner, maar sy ouers is albei Noors

en by hulle huis in Minnesota het hulle baie Noors gepraat, en dit is

baie nes Deens.

Ons het die drukkery waar die enigste koerant in Groenland gedruk word,

besoek. Dit is ’n maandblad, en die drukkery is ’n klein rooi geboutjie

met een klein drukpers.

Omtrent drieduisend koerante in die Eskimo-taal word gratis onder

feitlik al die inwoners van Groenland versprei. Die Goewerneur het ons

vir ons versameling ’n ingebinde kopie present gegee. Die grootste

gedeelte word deur Eskimo’s al langs die kus geskryf en ingestuur.

Die volgende oggend omtrent halfsewe het ons die anker gelig en Godhavn

verlaat. As die anker opgetrek word, word almal na die windas geroep en

dit word met ysterstange, soos handvatsels van ’n pomp, gedraai. As dit

’n lang ent ketting is, duur dit baie lank en is dit regtig harde werk.

In die middag het Pa my georder om ’n sakkie vol te maak met goed om te

handel, want ons sou by ’n dorpie met die naam van Proven aangaan. Ons

het omtrent agtuur daar aangekom. Die hawe was baie klein, sodat die

Morrissey nie kon ingaan nie en ons die boot moes gebruik. Ons is op

die klein landingsbrug deur die hele bevolking begroet.

By die punt van die dok was omtrent agt haaie wat nog lewendig was met

toue onder die water vasgebind. Later het Harry Raven een van tien voet

lank gekry om saam te vat. Agterna het hy uitgevind dat die lewer ses

voet lank was.

Terwyl Pa en die ander tee gedrink het met die Goewerneur (al hierdie

klein dorpies in die suide het ’n Deen aan die hoof wat Goewerneur

genoem word, al is die gemiddelde bevolking net veertig), het ek

uitgegaan om ’n paar kamaks of velstewels te handel. Dit is ’n soort

van dubbele, hoë skoen of stewel wat van die vel van seehonde gemaak

word met die hare na binne en binne-in nog ’n harige stewel met gras

daaronder om dit sagter en warmer te maak.

Die harige seehond van Groenland is heeltemal anders as die seehond van

Alaska wat bont lewer. Hy het nie bont nie, maar net growwe hare, en

het g’n waarde nie, behalwe vir sy traan en vel. Ek kon verskillende

pare kamaks kry, maar hulle was omtrent net half so groot soos my

voete. Die Eskimo’s is baie klein mense, en die grootstes kom gewoonlik

omtrent net tot by my skouer. Natuurlik het hulle ook klein voete.

In Proven het ek twee broeke van seehondvel geruil, een vir ’n baadjie

en die ander vir ’n dosie lekkers en ’n wol-oorhemp. Ek het ook ’n

soort halskettinkie soos die vrouens daar dra as hul vir hulle uitdos

vir ’n steen seep, ’n stuk sjokolade en ’n soldate-spieël geruil, en ek

dink ek het ’n goeie slag geslaan, want die halskettinkies is moeilik

om te maak en moeilik om te kry.

Ons wou ook ’n kajak kry, maar dit sou gemeen gewees het om een te vat,

want die Eskimo’s is nes kinders en sal amper enigiets gee vir lekkers

en mooi stowwe. Die kajak is hul vernaamste middel om kos te kry en is

vir hulle dus verskriklik belankrik. Ons het altyd probeer om niks te

vat wat vir hulle onmisbaar is nie, en om iets regtig nuttigs in ruil

te gee vir belangrike voorwerpe, So het ons byvoorbeeld later toe ons

’n paar kajaks ruil, hout en ander materiaal waarvan hulle nuwes kon

maak, gegee. ’n Baie gewenste en nuttige ruilmiddel van ons was

Tetley-tee, in halfpond-blikkies. Dit, dikwels met ’n sakkie of blikkie

suiker, was orals baie welkom, terwyl ons dit aan boord altyd self

gedrink het.

HOOFSTUK V

UPERNIVIK EN DIE EENDE-EILANDE

Ons het omtrent middernag van Proven vertrek. Na ons vertrek uit die

klein hawe, toe ons ’n paar kaal rotsagtige eilande verbyseil, het Pa

en ’n paar ander aan land gegaan om ’n bietjie te gaan skiet. Ons het,

toe ons aankom, ’n groot menigte van voëls en eende daar sien

rondvlieg.

Hulle het van een- tot vyfuur weggebly, solank soos ek geslaap het.

Later het Pa my vertel dat dit pragtig was, die water grys en stil soos

silwer en die hemel loodkleurig met helder tinte van oranje en

lemoengeel waar die son op die gesigseinder was. Hulle het seeswaels

(E. tern), eider-eende en meeue saamgebring, sommige om te eet en ander

om op te stop.

Die volgende dag was dit mistige weer, dus het ons stadig geseil, want

ons moes op ons hoede wees vir ysberge wat ons net op kort afstande kon

sien. Omtrent nege-uur die volgende oggend het ons Upernivik bereik,

die laaste stad van enige betekenis in Noord-Groenland en, as ek my nie

vergis nie, die noordelikste stad in die wêreld. Daar woon ’n Deense

Goewerneur en ’n paar ander Dene. Sy naam is Goewerneur Otto, en hy het

ons baie goed behandel, ook later op die terugreis.

Upernivik is ’n mooi klein plek, op ’n eiland aangelê. Op die plek waar

ons geland het, was net ’n klein skeepswerf, ’n paar pakhuise en

lewensbehoeftes. Van hierdie hawe het ’n nou paadjie oor ’n steil

heuwel na die eintlike stad gelei. Die is aan die ander kant teen ’n

hang na die suide geleë met ’n pragtige uitsig op Sanderson-Hoop, ’n

taamlik groot berg wat ’n paar myl weg is en aan ’n ope fjord lê wat

gladnie vir ’n hawe deug nie. Die dorp bestaan uit ’n dosyn houthuise,

party waarvan regtig mooi is, veral die Goewerneur se woning en een vir

die dokter wat daar woon; laasgenoemde doen ook diens as ’n hospitaal.

En rondom die houthuise lê die sooihutte van die oorspronklike

bevolking wat skynbaar vashou aan hulle ou lewensgewoontes. Op ’n

heuwel by die dorp staan ’n fraai nuwe kerk.

Ons het die middag saam met Goewerneur Otto en sy dogter Ruth, ’n

meisie van omtrent twaalf jaar, in hulle huis geëet. Daarna het ons by

die hawe lewende beelde geneem van ’n Eskimo wat sy kajak omkeer. Dit

het gelyk of hy gladnie swaar kry nie. Hy val eenvoudig na een kant toe

om terwyl hy in sy kajak of vel-boot sit en kom dan aan die ander kant

weer op, deur net ’n draai met sy roeispaan te maak. Toe hy dit doen,

het hy ’n waterdigte pak aangehad en ’n soort kappie op sy kop wat hy

styf om sy nek getrek het, en om sy middel, waar hy in die opening in

die dek van die kajak gesit het, was ’n stuk vel styf vasgemaak om die

water uit te hou.

Dawid se reis na Groenland · 第 1 / 6 段