By die studie van 'n hoogbeskaafde volk, is dit gebruiklik om saam
met die regeringsvorm ook die opvoedingstelsel te ondersoek. Hier
is daar maar min te vertel. Die kleintjie word gebore en dit duur
miskien twee en 'n half jaar voor hy gespeen is. Intussen het hy al
begin ronddwaal en saadjies en bolle begin toets. Soos die kinders
van ander rasse moet hulle maar altoos klaar staan om te doen wat
die ouers sê. 'Soggens na 'n fuif, as die ouderlike tong droog
uithang van die katsenjammer, moet die kleintjies opstaan en water
haal--vader en moeder het mos nog nie uitgerus nie. Daar was nie
kweperlat in daardie dae nie, maar wat ook al die surrogaat was,
dit was doeltreffend; alhoewel daar ook 'n ander middel was om die
Boesmannetjies soet te hou, naamlik deur Paaiboelies waarvan ons
ook hoor. Verder was die speel van die kinders maar die werk van
die ouers verklein. Mejuffrou Bleek vertel die skrywer dat die ou
Boesmans klein pyle en boë vir hulle seuns gegee het, en !goin-!goins
vir die dogters. In die Kaapstadse museum is daar klein 'kibies wat
volgens Dr. Peringuey speelgoed is. As dit so is, styg die Boesman
as vader hoër in die agting van die skrywer. Watter ouer sal vandag
'n 'Kibie vir sy kind maak? Dat die seuns met hul vaders uitgegaan
het om te jag, en so kennis opgedoen het van diere en wind en spoor,
kan die skrywer nie bewys nie; maar dit is vermoedelik. Dat hul in
skyngevegte geleer skiet het, weet ons. Twee seuns (of mans) met egte
gifpyle bewapen, skiet in dié gevegte op mekaar so vinnig as hul kan,
en elkeen probeer om te koes sodat die ander se pyl hom nie raak nie.
In verband met die opvoeding van die kinders is die volgende
verhaaltjie te kostelik om uit te laat. Een van Dr. Lloyd haar klein
Boesmannetjies was 'n bietjie onmanierlik. Dit het die ander Boesmans
soseer vererg dat hulle na die Dokter gaan om beleef verskoning
vir die kind te vra, want, sê hulle, haar ouers is dood toe sy nog
'n babetjie was, en sy is by blankes groot geword!