REGERINGSVORM EN ORGANISASIE.

Dit word dikwels beweer dat daar geen regeringsvorm of organisasie

onder die Boesmans bestaan het nie. Dit kom gedeeltelik deurdat

die meeste skrywers maar die mense begin bestudeer het na hul as

'n volk opgehou het om te bestaan, en gedeeltelik deurdat die ideale

regeringsvorm vir 'n volk soos die Boesmans so anders is dat dit nie

so in-die-oog-vallend vir die reisiger kan wees nie. Francis Leguat

wat in 1708 sy reisverhale gepubliseer het, sê:

"nog die Hottentotte nog enige ander nasie by die suid punt van

Afrika is absoluut sonder regering nie."

Ons het dus skriftelike beweringe aan albei kante. Laat ons die aparte

feite wat met die saak te doen het, ondersoek en sien wat ons daaruit

kan aflei. Lichtenstein, sowat 'n honderd jaar na Leguat skrywe:

"daar is maar min verkeer tussen die aparte groepies; hulle werk

selde saam, as dit nie in 'n groot onderneming is waarvoor die

verenigde krag van 'n groot getal geëis word nie."

Starrman, 'n twintig jaar vantevore, herhaal wat 'n trekboer vir

hom gesê het, naamlik dat, van die Blanke met ywer die Boesman begin

uitroei het by Bruintjieshoogte, het dié hul aantal vermeerder. Dit

steun wat Lichtenstein vertel, en wat Lichtenstein gesê het, bewys wel

die bestaan van 'n organisasie wat die mense in geval van nood bymekaar

kon roep, en dit weer veronderstel 'n hoof, d.w.s. 'n regering hoe

swak of vaag ook al vergeleke met ons stelsels. Die skrywer is dus

geneig om aan te neem wat Stow sê.

Hy skrywe dat 'n Boesman hom vertel het dat die ou Boesmans in seker

groot stamme verdeel is onder een groot hoof wat een stuk grond had

(jagterrein), taamlik goed afgebaken. Die stamme is dan verder

verdeel en onder onderhoofde geplaas wat elkeen byna onbeperkte

magte had. Maar in tye van gevaar het hul altoos weer rondom die

groot Kaptein vergader. Hulle was baie getrou.

As Stow verder reg is in sy bewering dat die Tamboekies bestaan uit

Boesmans en 'n deel van die Abatemboe wat by Boesmans beskerming

teen hul vyande na 'n burgeroorlog kom soek het, dan is die bestaan

van 'n organisasie absoluut bewys, want 'n Bantoe-stam, al is dit

verslaan, kon onmoontlik 'n veiligheidsoord by twee of drie loshangende

"huisgesinne" van Boesmans gevind het.

Iets oor die Boesmankultuur 'n Lesing gehou voor die Suid-Afrikaanse Akademie op Stellenbosch, Januarie 1920, en gedruk op las van die Akademie · 第 20 / 35 题