Die maak van die pyle met sy los kop is vir ons doel van belang omdat
ons daarin sien hoe die Boesman die giftige pylkop bewerk het sodat
dit in die wond kan bly steek, al breek die pylriet af.
Ook om een ander rede is die pyle vir ons belangryk, naamlik omdat die
jagter sy eie pyl met sy eie teken merk; want hier sien ons die begin
van skrywe, en ook 'n bewys van 'n vaste eiendomsbesef wat ons graag
verder wil ondersoek. Dieselfde beginsel van 'n teken wat aandui dat
'n artiekel aan die of daardie behoort, is te vinde by die byneste wat
altoos deur die ontdekker gemerk is as sy eiendom en daarna, soos een
Boesman gesê het, soos sy melkkoei word. Kom daar 'n kolonis wat die
teken nie sien of ken nie, en die nes berowe, het die Boesman weer
'n klagte teen die Blanke wat hy dan geregtig voel om te berowe.
Die kos wat 'n Boesman gewen het, was sy eiendom, maar hy was
baie gasvry, en het gewoonlik sy kos gedeel onder die ander. Dit
word ook bewys deur die skelnaam "Vrot arm" wat hul gebruik om die
gierigaard te beskrywe. Die verdeel van kos was so algemeen dat daar
spesiale beleefdheidsvorme teenoor die gasheer ontwikkel het, soos
byvoorbeeld die terugbring van die bene na die gasheer as die maaltyd
oor is. Maar om absoluut seker te wees dat daar 'n eiendomsbesef onder
hulle was, is dit nodig om te bewys dat hulle ook koop of ruil geken
het, en ook diefstal bestraf het, want dit moet mos met eiendomsbesef
gepaard gaan. Uit die vertellinge van Bleek en Lloyd se Boesmans kan
dit gelukkig bewys word, want daarin lees ons dat die !Kun Boesmans
'n dief selfs met die dood straf, terwyl ander verhale melding maak
van die verruil van goed saggebreide karosse vir rooi-smeergoed en
gifpyle. Dit was natuurlik net onder hulselwe. Later, toe hul met
ander inboorlinge gehandel het, het hulle, so vertel Mejuffrou Bleek
vir die skrywer, velle en heuning vir ysterpylkoppe gegee (meestal
heuning). Maar daar is ook 'n ander soort handel wat hul met die
vreemdeling en uitlander gedrywe het wat interessant is in verband
met die eiendomsbesef, en dit is die grondhandel.
Toevallig is al die informasie in die verband wat die skrywer tot
dusver ingewen het, van aparte bronne, net oor die handel tussen die
Boesmans en die famielie Kok. In 1811 (of 12) was daar net een Boesman,
Oktober Bailie, op die terrein waar die dorp Campbell vandag staan, en
Adam Kok het hom 150 dalers betaal om van die fontein weg te trek. In
1819 het Cornelis Kok weer seker bome afgekap om lande te maak. Die
plaaslike Boesman-Kaptein het by hom kom protesteer teen die uitroei
van die bome wat vir hom en sy volk in die somer skaduwee verskaf
het. As skadevergoeding gee Cornelis vir hom twee osse, tien bokke,
en die wins van 'n half boesel koring (d.w.s. ses sakke).
In die ou dae, toe die Boesmans alleen Suid-Afrika besit het, het elke
stam sy eie jagterrein gehad, en geen een kon sonder toestemming op
'n anderman se terrein jag nie. Mejuffrou Bleek vertel vir die skrywer
dat dit nie soseer die grond was wat hul besit het nie, maar seker
fonteine met al die wild wat by dié fonteine suip. Vergelyk dit met
die volgende aanhaling uit Stow se "Native Races of South Africa":
"His territory extended from the Zeekoe river to van der Walts,
Buffelfontein, and in describing it 'Na 'na 'Kow used to say he
drank of the Zeekoe river and of van der Walts fontein."
In die Kaapstadse museum is daar seker bewerkte klippe wat as bakens
gedien het. By 'n ooreenkoms tussen twee naburige stamme, is die bakens
in die fontein gesink om later, indien nodig, as getuigenis te dien by
'n stryery oor die grense.
Daar bestaan twyfel of die bakenklippe dan Boesman- of Hottentotklippe
is. Hahn sê dat die Hottentotte hulle grense by fonteine bepaal het,
en die Boesmans alleen by berge, ens. As dit waar is, is die bakens
ongetwyfeld Hottentotklippe, maar van wat hierbo aangehaal is, is
dit duidelik dat die saak nog verder moet ondersoek word. Ons moet
ook nie vergeet dat die fontein as sulks 'n groot rol in die jag
van die Boesmans gespeel het nie. Dit was sy lokaas vir die diere
in die droogte. Die klein fonteintjies word toegeprop--letterlik met
'n platklip met 'n sponsgat daarin, en by die groot fontein, dan die
enigste water in die omgewing, lê hy die wild voor. Die grond dus, of
in elk geval die fonteine en die wild wat daar suip, behoort aan die
stam, en alle ander artiekels wat arbeid gekos het by die vervaardiging
daarvan, kan beskou word as eiendom, tot selfs die smeergoed wat uit
die "myn" moet gekap word. So sou daar dan eienare gewees het van die
rooi en die swart smeergoed waarmee hul hul gesmeer het, en die groen
blinkende erts waarmee die meide hulle by hul feeste gepoeier het;
die volstruiseierdop-krale wat hul so mooi gemaak het, en in snoere om
hul lyf, nek, arms en gesig gehang het; die klein 'kibie-hangertjies,
hul halssnoere van tande gemaak; hul karosse; hul sandale en ander
kledingstukke; hul skilpaddop- en volstruisborsbeen-skottels; hul
kleipotte; hul mooi versierde volstruiseierdop-waterkraffies; hul been-
en ivoorelse; hul gifklip, hul pyl- en kraal-skuurklippe; hul vuisbyle;
hul 'kibies, hul maalklippe, hul verf-potjies, hul pensele en palette,
hul velsakke, hul pyle, hul boë, hul pylkokers, hul vuurmaak-stokkies;
hul fluitjies, tamboere, goura's en ander musiekinstrumente; hul matte;
hul eiernette; hul vismandjies; hul oorbelletjies, ens. Die Boesman
het baie daarvan gehou om sy lyf te versier, maar nie soveel soos
die Bantoe nie. Hy self was nie mooi nie--sy gelaatstrekke het
ons alreeds bespreek. Die ander merkwaardige deel van sy liggaam was
sy fyn hande en klein voete. Die studie van die liggaamsbou van die
Boesman behoort egter nie hier by ons tuis nie wat meer belang stel
in sy karaktertrekke en in die ontwikkeling van sy brein.