Van 'n bespreking van hulle godsdiens, keer ons nou na die meer
materialistiese sy van hul lewe, en die eerste wat ons moet bespreek
is natuurlik hulle nering en hulle lewensmiddele. Die honger beheers
die wêreld, en totdat die barbaar iets gedoen het om die inwen van
sy kos effens te vergemaklik, sal ons tevergeefs soek na kuns of 'n
estetiese lewe. Die Boesman was 'n jagter; sy hele lewe het afgehang
van die wild wat sy vee was, en ons kan nie dankbaar genoeg wees
vir die eerste Boesman-voorvader wat die pyl-en-boog ontwerp het,
en vir al sy nakomelinge wat met hul vernuftigheid al die ander
kunsies uitgevinde het nie, sodat die kunstenare van die ras tyd
had om te droom, en ons van hul verskillende kunswerke iets na te
laat. Sy kennis van jag en sy metodes is dus van belang vir ons,
want dit vind ook 'n weerkaatsing in sy kuns.
As ons "jag" in sy wydste betekenis aanneem as kos soek, het die
Boesman se jagkunde bestaan uit kennis in verband met die insameling
van eetbare bolle (selfs as die blare al verdwyn het) van miereiers of
Boesmanrys (d.w.s. die larwe van die miere) van insekte, van heuning,
vis, en wild van alle groottes tussen 'n muis en 'n olifant.
Hier is daar weer 'n interessante studie--die jagmetodes van die
Boesman, en alles wat daarmee samehang. Die eerste wat 'n mens sou merk
as jy met 'n Boesman gaan jag, sou sy wonderlike skerp gesig wees. Ons
sal later weer op hierdie punt moet terugkom, maar om hier aan te toon
hoe skerp sy gesig was, afgesien van sy veldkennis wat dikwels sy gesig
gesteun het, moet ons hoor wat Lichtenstein sê van 'n seker Boesman,
ene "Flamingo," wat Generaal Jansens met hom na Europa geneem het. Hy
sê dat die Boesman se gesig so skerp was, dat hy op die reis dikwels
skepe van die dek gesien het wat die matrose, selfs van die mastoppe
met hul vêrkykers amper nie kon raaksien nie! Bye in die vlug het
hul gevolg, en op die manier die byneste gevind. Von Wielligh vertel
ook van 'n ander manier waarop hul die rigting van die neste ontdek
het. As 'n nes dan gevind is en dit hoog in 'n kransskeur sit, beklim
hul die krans, indien nodig, met behulp van penne wat hulle inslaan,
of anders kom hulle van bo af met behulp van lang rieme.
Die twede punt wat 'n blank jaggenoot van 'n Boesman sou merk, is sy
wonderlike, byna geheimsinnige, kennis van spore. Vir hom was spoorvolg
so maklik soos brieflees vir ons. Baie van die hedendaagse skrywers
beweer dat die wild altoos kort na 'n gifpyl hul tref, gevrek het; maar
die rede van hierdie bewering hoef ons nie nou te bespreek nie. Dit
kan bewys word dat dikwels, (waarskynlik met die grootste wild) dit
ure en ure geduur het voor die dier gaan lê, maar die Boesman het so
'n dier nie dadelik gevolg nie--hy het gewag tot dit tyd was vir die
gif om te werk, en toe die spoor afgeloop--deur al die duisende spore
van dieselfde soort dier! Die betekenis van die spoor en sy verhouding
tot die dier of mens self leer ons uit die geloof van die Boesman
dat, as ons sterwe, die wind kom en ons spore wegneem--"anders sou
dit nog lyk," sê hulle, "asof ons nog lewendig is."
Ja, die Boesman kon "loop en lees"! 'n Boesman kon te voet spoorvolg,
en by berede Blankes hou! En sy spoed is iets om te bewonder. Wat
nou die "record" sal wees, weet die skrywer nie, maar onlangs hoor
hy uit 'n geloofbare bron dat 'n Boesman tussen sononder en sonop
48 myl afgeloop het, en die oggend na die werk kom sonder om te wys
dat hy iets besonders gedaan het of 'n slaaplose nag gehad het; en
ook uit dieselfde bron, van 'n ander Boesman wat weer tussen 4 uur
v.m. en ongeveer 8 uur namiddag, 84 myl geloop het; en dan nog kla
dat hy vroeër sou teruggekom het, maar die Baas het nog na die ete
gaan slaap voordat hy hom die antwoord wou gee! Bleek en Lloyd se
Boesmans vertel hoe hul lewendige (d.w.s. sonder wonde) wild ingehol
het. Verbeel jou 'n springbok of 'n hasie inhol! Uit genoemde stories
blyk dit dat een man 'n hasie kon inhol, maar wat meer waarskynlik is,
is dat 'n partytjie saamgewerk het, en mekaar afgelos het soos Fritsch
dit ook beskrywe. Fritsch, soos enige man wat oor die Boesmans skrywe
moet doen, het taamlik baie aggegee op die jag, en sy opsomming van
die onderwerp is goed. Die skerpte van die sintuie van die Boesmans,
sê hy, en in die besonder van hul oë, is hulle tot groot nut gewees,
maar dit maak nie vir hom 'n jagter nie; daarby is daar sy skranderheid
en sy slimheid wat hom lei om alles aan sy doel diensbaar te maak. Hy
het vernuftige valle en vangmetodes uitgedink om die wild in sy hande
te kry wat baie van die ander inboorlinge nie eers kon naäap nie. En
dan moet ons Fritsch se eie woorde hoor:
"Er kennt die Gewohnheiten der Thiere auf's Genauste und mit
eiserner Geduld lauert er am bestimmten Ort auf seine Beute und
fühlt nicht Hunger, Durst, oder Hitze, solange noch eine Hoffnung
auf Gelingen vorhanden ist."
Oor die valle wat Fritsch van skrywe, is dit onnodig om nou verder te
spreek; maar daar is een vangmetode wat by hulle so algemeen was,
en met soveel variasies toegepas is, dat dit die moeite werd is
om dit te ondersoek. In beginsel bestaan die metode uit 'n seker
gevaarlike sentrum, en 'n tregter om die prooi op genoemde punt te
konsentreer. Die gevaarsentrum bestaan miskien uit 'n vanggat, of 'n
groepie skutters, of in die geval van vis--uit 'n mandjie, spesiaal
ontwerp en gevleg vir hierdie doel. Die tregter bestaan uit klipmure,
of uit ander jagters met veel strategie op seker punte geplaas, of
uit 'n ry stokke met koppe van met-rook-deurtrokke volstruisvere,
of in die geval van die visvang, uit 'n damwalletjie dwarsdeur die
rivier gebou. Die prooi word dan aangeja na die bek van die tregter
en by die tuit gedood.
Die vanggate van die Boesmans is ook iets wat ons aandag trek. Campbell
vertel van 'n groep van twaalf gate wat hy gesien het in die vorm van
'n halfmaan 20 voet lank, 10 voet wyd, en 5 voet diep in die grond
gegrawe, met twee rye kleintjies in die middel van elke put. Dit
is byna ongeloofbaar dat die Boesman dit met hul 'kibie-stokkie kon
gemaak het.
Toe die ander rasse Suid-Afrika ingetrek het, en die Boesman in sy
jagtery gestrem het, het hulle by die weerwraak van die Boesmans
'n ander merkwaardige kuns van die dwergies ontdek, naamlik dat die
Boesman hom so goed kon wegsteek en vermom dat jy byna op hom kon trap
voordat jy hom sien. Dit was werklik 'n groot kuns van die Boesman. Met
'n graskroon op sy kop, was hy in die gras onsigbaar; met 'n kop en
vel van 'n dier oor sy lyf en sy kort bene deur die gras bedek, het
hy wild bekruip. Hy het dit nie gewaag om diere te bekruip wanneer hy
soos een van hulle vermom was nie, maar altoos wanneer vermom soos 'n
diersoort wat gewoonlik met hul saamwei--met een uitsondering alleen,
sover die skrywer weet, naamlik in die geval van die volstruis. Is dit
omdat die voël so vreeslik dom is, so min harsings het in verhouding
met sy groot liggaam?
Maar vermom soos stof of gras, of dier of voël, het hy met sukses sy
vyand of prooi bekruip, en het ook geweet hoe om selfs sy vermomde lyf
weg te steek. Baie Boesmans is voorsien van gelaatstrekke so plat dat
'n plank tegelykertyd ken, lippe, neus, wange, en voorhoof kan raak,
terwyl die uitpuilende oë nie ver van die plank sal sit nie. Uit die
vorm van sy kop het die Boesman ook voordeel getrek, want, volgens
Stow, as hy wild bekruip, en wil sien hoe dit voor lyk, lê hy plat
op sy rug met sy voete na sy prooi en lig sy kop dan net so hoog op
dat hy oor sy wange kan sien wat hy wil sien. As hy so lê, is sy oë
(sy periskoop) feitlik die hoogste deel van sy kop, en alles te same
is daar nie een vierkant duim oppervlakte van sy kop te sien nie.
As hy naby genoeg aan die prooi kom, los hy 'n gifpyl. Sy boog is maar
klein, sy pyltjie so lig, dat hy baie naby moet kom voordat hy kan
skiet; en dan is dit alleen deur die gif dat hy iets met die wapen kan
uitvoer. Die gif is van verskillende soorte--onder ander, slanggif,
bolletjies-gif of malkopgif, klipgif, en 'Ngwagif. Die slanggif
het hulle uit die gifkliere van slange gekry; die malkopgif van die
gif-amarillis (Haemanthus toxicarus); die klip-gif (volgens Fritsch)
van seker bolle wat tussen die rotse groei. Maar die giftigste van
almal is die 'Ngwagif van die ingewande van die 'Ngwa, 'n seker soort
rispe of wurm gemaak. Al die verskillende gifte is gemeng met een of
ander soort harpuis van 'n norsboom versamel, en dik gekook, sodat
dit maklik op die pyl kan gesmeer word. Soos 'n skilder, nou hierdie,
dan weer daardie penseel gebruik, of 'n kolfspeler nou die, nou
daardie stok kies, so het die Boesman ook vir verskillende doeleindes
verskillende gifpyle uit sy koker uitgesoek. Klein wild is gou dood,
selfs met 'n swak gif; groot wild, en leeus het sterker gif nodig,
maar die sterkste is nodig om die volstruis te dood.
Die uitwerking van die aparte soorte gif was ook anders: die een het
meer op die senuweegestel gewerk--die malkopgif--die ander het weer
'n "septiese" wond veroorsaak. Die dood volg gewoonlik binne twaalf
uur van dat die man of dier deur die pyl getref is.
Gewoonlik dra die Boesman sy pyle onderstebo in sy koker, maar as hy
'n geveg tegemoet gaan, dan dra hy die pyle in 'n band om sy kop waar
hy hul maklik kan by, en dan kan hy, sê hulle, tot drie pyle in twee
sekonde skiet!