En soos sy idee van eerlikheid 'n verdraaide was vergeleke met ons
ideë, so was dit ook met hulle Geloof of Godsdiens of wat gewoonlik
by sulke primitiewe rasse godsdiens heet.
Die meeste outoriteite beweer dat die Boesman glad geen godsdiens,
of glad geen idee van 'n Opperwese had nie; maar daar is veel feite
wat nie maklik te verstaan is as dit werklik waar is. Om hieroor
'n duidelike begrip te kry, is dit nodig om eers te besluit wat ons
verstaan deur godsdiens. As dit 'n geloof is in bowenatuurlike wesens,
en in 'n lewe of iets na die dood, dan het die Boesmans ongetwyfeld
van godsdiens iets af geweet. Bestaan godsdiens in die geloof aan een
enkele Almagtige Opperwese, dan het daar geen Boesmangodsdiens bestaan
nie. Maar om 'n geloof aan een God te soek onder die Boesmans wanneer
die Grieke selfs met al hul ontwikkeling nie die begrip gehad het nie,
is dwaas.
Hier weer voel die skrywer die onrypheid van sy behandeling van die
onderwerp, en hier weer is 'n deel van die kultuur van die Boesman wat
'n aparte lesing vra. Die materiaal is nie alles vertroubaar nie, en
lê so ver versprei, dat dit maar partykeer moeilik gaan om, soos die
jong in die ou storie, die agterpoot en die oor bymekaar te kry. En
daar bly ook altyd die gevoel by 'n mens dat by die volgende bron wat
jy insien, jy iets sal vind wat jou ideë geheel en al omvergooi, en wat
dit nodig maak om heelwat dood te krap wat jy op 'n vroeër geleentheid
geskrywe het. Met hierdie verder waarskuwings en aanmerkings in die
oog, laat ons maar na die Geloof van die Boesman terugkeer.
Mejuffrou Bleek beweer ook dat die Boesman geen God, en dus ook geen
naam vir hom had nie. Daar was wel bowenatuurlike wesens wat hul
gevrees het, waarvan die meesgevreesde miskien die Reen of Reenbul
[5] was; maar uit wat sy sê, lyk dit asof dit nie soseer die reen,
maar meer die droogte is wat hul gevrees het. "As jy so en so doen,
of sê, dan kom die reent nie!" het hulle mekaar gewaarsku. Sal dit
nou 'n geloof wees wat hul met hul saamgebring het uit die Noorde,
of is dit iets wat hul hier in ons dorre streke opgedoen het?
In die Noorde vind ons sonaanbidders, maar sover die skrywer weet is
daar nie in die hele Suid-Afrika een enkele stam of ras inboorlinge
wat die Son as die hoof aanbid nie, terwyl vir almal die maan die
plaas van die son min of meer in hul godsdiens inneem. So het die
Boesman nou ook die maan en sterre aanbid. Op so weinig getuienis
as die skrywer het, durf hy nie 'n teorie baseer nie; maar vra
is vry. In kou, nat Europa is die son altoos 'n ding van vreugde;
maar tussen die keerkringe, of op ons dorre Karo, is dit die koelte
dikwels wat 'n mens soek. In Europa is daar rede vir sonaanbiddery;
maar sal 'n volk wat met so 'n geloof 'n trek begin en 'n duisend jaar
miskien in die nabyheid van die ewenaar vertoef nog altoos aan die
ou geloof vashou? Is dit nie redelik om te vermoed dat die heerlike
koel maanligaande hul sal verlei nie, en dat die valse maangodin hul
sal oorwin nie? Die Boesman het vir Dr. Bleek vertel dat hul hulle
oë toemaak wanneer hulle die sterre aanbid. Is dit nog 'n oorblyfsel
van die sonaanbiddery? Fakkels word ook gebruik in hul gebede, en in
hul folklore vind 'n mens ook die idee van wierook.
In bose geeste, towery en paljas het hule vas geglo, ook in die
Reenbul.
Stow beweer dat hul die Hottentotsgot, en ook 'n ander rispe aanbid
het, maar alhoewel dit waar mag wees, moet ons daardeur nie verstaan
dat dit vir hulle heilig was, of dat hul selfs soveel eerbied daarvoor
getoon het as die Bantoe vir sy "Siboko" of die Australiër vir sy
"totem" nie; want hulle het nie omgegee om die insekte te vang,
en dood te maak nie. Dat daar iets geheimsinnigs was in verband met
die Hottentotsgot of !Kaggen soos hul hom noem, was hulle van seker,
soos die stories van die diertjie getuig, maar die mees treffende
gebed wat die skrywer nog van hul gelees het, is die gebed aan die
ster Canopus, 'n ster wat in die koudste deel van die jaar net kort
voor sonop opkom. En die Boesman bid dan vir die ster om hitte in die
son te sit! Daar is ook ander pragtige stories van Gode en Godinne,
soos die van Goha en Ka wat Makoon 'n Boesmankaptein vir Campbell
vertel het, maar dit kan ons nou nie ondersoek nie. Vir al die Gode
het hul om kos gebid--om hul te wys waar die miereiers die sogenaamde
Boesmanrys te vinde is, of vir wild, of vir sekerheid by hul pylskiet.
Makoon, dieselfde Boesman wat vir Campbell die storie van Goha vertel
het, het hom ook vertel dat hy nie in 'n lewe na die dood glo nie,
maar dat as 'n mens doodgaan, jy heelternal dood is. Uit wat ander
Boesmans weer sê, sowel as uit hul gedigte, is dit weer duidelik dat
hul wel in 'n toekomstige lewe glo. En hul folklore-stories is net so
teenstrydig; maar dat daar darem onder hul 'n geloof is dat daar iets
anderkant die graf lê, is taamlik seker. Soos die ou Palaeolietiese
man, en baie ander barbare, het die Boesman die gewoonte gehad om
'n lid van 'n vinger (gewoonlik van die pinkie) af te sit. Die ware
betekenis van die afsit is moeilik om agter te kom. By seker volke
het dit duidelik iets met die huwelik te doen, by ander word dit
deur die towerdokter vir geneeskundige doeleindes aanbeveel. Dan is
dit weer 'n offerande aan die bose geeste in geval van epidemies;
ook word daar by die begrafnis van die hoof van seker volke 'n getal
vingerlitte met die grootman begrawe, min of meer soos baie volke
weduwees en ander famielie van 'n man saam met hom die ewigheid vir
geselskap instuur. Waarom volg die Boesman die gewoonte? Barrington
beweer dat die Boesmans dit gedoen het om van siektes ontslae te raak,
en Mejuffrou Bleek vertel die skrywer dat in die ongepubliseerde
materiaal deur haar vader en Mejuffrou Lloyd versamel, daar 'n storie
voorkom wat dieselfde rede gee. In die "Bushman Folklore" van Bleek en
Lloyd, word vertel dat die mans die eerste lit van die regterpinkie,
en die vrouens die van die linkerpinkie afgesit het, maar daar word
geen rede gegee nie. Stow beweer weer dat die rede is dat hul na hul
dood baie kos sal hê op hul reis na 'Too'Ga, die vergaderplek van die
oorledene. As Stow se bewering reg is, kan daar geen twyfel bestaan
dat hulle in 'n lewe na die dood geglo het nie.
Die vroeër genoemde mnr. Smit van Dasfontein het ook vir Campbell
vertel dat die lyke begrawe word met die oorlede se wapens aan sy
sy, sodat hy hom na sy opstanding weer kan verdedig, en kos verkry;
maar as die oorledene onpopulêr is, begrawe hul hom sonder wapens.
Sir George Keith (1819) in die beskrywing van sy reis na Suid-Afrika,
vertel dat na die dood van 'n vriend hul sy gees aanspreek, en
beledig hom omdat hy hul so vroeg verlaat het. Hy kon mos, sê hul,
nog 'n bietjie by hul vertoef het. Livingstone vertel weer dat by 'n
seker Boesman-begrafenis die vriende die dooie aanspreek en hom beleef
vra om nie kwaad te wees nie al wil hulle (d.w.s. die vriende?) nog
'n tydjie op die aarde bly.
Die paar aanhalings is vermoedelik genoeg bewys dat die Boesmans nie
geglo het dat met die dood alles eindig nie.
Daar is ander interessante feite in verband met die godsdiens wat baie
aanloklik is om na te gaan, maar die skrywer is huiwerig om op die
oomblik enige gevolgtrekkinge te maak, en lê die feite maar voor soos
hy hul gevind het. Almal wat met inboorlinge gewerk het, weet hoe lief
hul is om maar, ja, te sê op alle vrae wat hul nie goed verstaan nie,
en hoe moeilik dit is om die waarheid te leer. Daarby moet 'n mens nog
rekening hou met die feit dat die Boesman al jare in aanraking met
ander stamme gewees het, en daarom moet ons ook voorsigtig wees met
ons gevolgtrekkings gebaseer op die informasie deur later skrywers
verskaf. Die sendelinge het ook aan die Boesmans gearbei, en by die
oorweging van die Boesmanstories moet hulle invloed ook in die oog
gehou word. Wat die invloed van die sendeling was, het die skrywer nog
nie genoeg bestudeer nie, maar die volgende uittreksels word voorgelê,
en as hulle verteenwoordigend is, was die invloed van die sendelinge
maar gering.
Kircher het in 1799 probeer by Zakrivierspoort om die Boesmans te
bekeer. Hy het die heiden leer bid in 'n vreemde taal met die hoop dat
hulle later sou verstaan; maar die getrouheid aan die godsdiens het
geduur net solank soos daar slagskape in die sendeling se kraal was,
en nie 'n dag langer nie.
Campbell het omtrent net so te werk gegaan. Soos die storie lui, het
hy eenkeer, blykbaar by 'n uitspan, twee Boesmanmeide uitgenooi en
begin om hul te bekeer--hoe? Dit is byna ongelooflik, maar nietemin
waar. Sy eerste stap was om hul die alfabet te leer! 'n Mens is
verplig om hier Campbell se eie woorde aan te haal:
"... two of the women persevered in attempting to learn the
alphabet till one of them knew half the letters. I left two
Hottentots as their instructors, but they soon returned to the
waggons saying their scholars had fled to the hills."
Selfs in die stad waar 'n sendeling hom vestig, was sy invloed in
daardie dae nie besonder sterk nie. Campbell vertel van die siekte van
Matabee, 'n Betjoeana-kaptein. Hy het gemeen dat dit die towery van
'n Boesman is, en laat 'n Boesman en 'n Betjoeana-dokter roep. Toe
hy gesond word, word dit publiek aangekondig dat die medisyne van
albei hom goed gedoen het, sowel as die medisyne en gebede van
die sendelinge. Geskenke is toe aan altwee dokters gegee, maar die
sendeling kry niks.
Hoe min simpatie Campbell met die volkie gehad het blyk uit die
volgende aanhaling. Hy (Campbell) het 'n Boesman se lewe gespaar;
daaroor, sê Campbell, was die Boesman bly, iets wat vir ons almal
maklik te verstaan is, maar nie vir Campbell nie: hy moes eers byvoeg
die rede: "Life is precious even to a Bushman!" Nog een aanhaling om
die verhouding tussen Boesman en Sendeling te wys, en weer moet ons
Campbell se eie woorde gee. Dit was by Ramah, nou in S.W. Vrystaat
waar hy die Boesmankaptein Kiewiet besoek het.
"I spoke to him of God, and his soul, and eternity; but he
seemed quite indifferent about these subjects, making no reply,
and asking for a tinderbox."
Met die voorafgaande waarskuwings en aanmerkings, kan die skrywrer nou
die volgende twee stories voorlê, en dit aan die geagte lesers oorlaat
om hul eie gevolgtrekkings te maak uit die wonderlike ooreenstemming
van die een met ons idee van die Drieëenheid, en van die ander met
die dood en wederopstanding van Kristus.
Stow vertel dat die kruis enkel, of in groepe van drie, 'n ou
Boesmanteken is, en van besonder nut by die behandeling van siek mense;
ook dat daar drie groot kapteins bestaan: !Kaggen, Kogas (sy seun)
en 'Qwanciqutchaa. Hulle is almal groot en magtig, maar !Kaggen het
beheer oor hul almal en gee sy bevele deur die ander twee.
Uit Bleek en Lloyd se Bushman Folklore kom die volgende baie
verkort. Kogas die seun van !Kaggen gaan stokke haal (waarskynlik om 'n
boog en pyle te maak) vir sy vader om die mense-wat-op-hulle-hakke-sit,
mee te beveg (d.w.s. die bobejane toe hulle nog mense was). Nadat
hulle die saak lank bespreek het, kom hul dit agter en slaan vir Kogas
sodat sy oog uitspring en hy self sterwe. Toe speel hulle met die
oog bal-bal. En !Kaggen sien dit en is so ontroerd, dat hy huil. Na
'n rukkie staan hy op en gaan na hul toe; maar eers dro hy sy oë
af. Toe speel hy saam, en met behulp van 'n bietjie goëlery steel hy
die oog van hulle, en gooi dit in die water waar na 'n paar dae die
seun Kogas weer aan die oog gegroei het, en splinternuut weer uitkom.