Kindermoord by hulle was ook niks kwaads nie--'n mismaakte of abnormale
kind word vermoor; as die moeder sterwe voordat die kind gespeen is,
moet hy dood. Selfs ouer kinders word in die graf van hul moeder
begrawe. Campbell vertel hoe Adam Kok twee Boesmanmeidjies, van tien,
en twee-en-'n-half jaar, gered het van hulle ouma wat hulle lewendig
in hul moeder se graf wou begrawe. Toe sy haar sin nie kon kry nie
dreig sy om hulle te vermoor. Ja, die lewe van 'n kind was maar
onseker onder die Boesmans in die ou dae, miskien nog meer onseker
as die lewe van die Boesman se hond, die enigste dier wat hy ooit
makgemaak het--sy enigste lewende hawe.
As 'n man sy vrou verlaat, vermoor sy die kinders. As twee mans rusie
maak, vermoor die verlieser 'n kind of wat van die oorwinnaar om die
skuld te vereffen!
En hul oumense het ook maar swaar gekry. As hulle in 'n geveg met man
of dier hul doodhou kry, kan hul vir hul maar gelukkig ag; want anders
breek die dag so seker wanneer die ou grysaard uitgesleep word om vir
wolwekos te dien, of wanneer hy met 'n klein rantsoen agtergelaat
word as die span moet trek. Dieselfde noodlot tref hul tog. Mans,
ja selfs vrouens sleep op hierdie manier hul moeders uit die grot
uit na die kaal veld, en kom terug net so kalm as wanneer hulle van
die fontein met 'n volstruiseierdop vol water terugkom.