OP KNYSNA-STRAND.

Daar is ’n kuil,

’n holte in ’n rotsbemuurde strand,

waarin die branders ewig spoel en dreun;

en in die mond van dié spelonk, daar skuim

en kook die water wild en woes, asof

die ganse oseaan wil binnedring.

Met stormgeweld en blinde woede stuif

die golwe op hul kerkermure toe,

en teen die rotsgewelwe druis en kraak

die felle branding--waar dit breek, en dan,

gestuit, verpletterd, tot die afgrond keer,

en daar verlore gaan.

Ek ken ’n siel,

nog ruimer dan die oseaan, waarin

oneindige gedagtes bruis en woel,

en met die felheid van ’n stormgety

’n uitkoms soek in enge digtertaal;

maar ag, te groot vir mensewoorde, sink

dit in die stille diepte weer terug,

waar dit gebore is.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 109 / 122 题