Windjie, jy kom oor die groot blou see--
bring jy groete van Ouboeta mee?
Ouboeta sit aan die ander kant,
vèr, alleen in ’n vreemde land.
Weelde en kuns kan hy daar aanskou,
die grootste prag wat die wêreld hou;
maar dit weet ons goed, dat sy hart nog sug
na ons vrye veld en ons helder lug.
Tog moet hy daar onder vreemde bly
om kennis te win en ervaring te kry,
tot die jare verby is, die leertyd om--
wat sal ons groots wees as Boeta weer kom!
Windjie wat waai oor die groot blou see,
bring jy ook groete van Ouboeta mee?
Windjie, waai nou maar weer weg oor die see,
en dra ons groete aan Ouboeta mee;
voer in jou vlug na die ander sy
die geur van die blomme wat bloei in die vlei,
van varings wat bo teen die bergrand staan,
van vrugte, van druiwe, van goudgeel graan.
Hy sal jou boodskap verstaan, want hy weet
dat alles verlang om hom welkom te heet.
Sy ryperd staan in die stal te treur,
sy hondjie hou wag by sy kamerdeur.
Maar die jare vervlie en sy leertyd gaat om--
ag, wat ’n vreugde as Boeta weer kom!
Windjie, waai vèr oor die groot blou see,
en dra ons groete aan Ouboeta mee.