DIEPTE.

Wie na die oppervlakte

Van stil diep water kyk,

Gewaar alleen die blare

En slyk wat bo-op dryf;

Maar wie sy oog veel dieper,

As na die oneind’ge rig,

Hy sien die donker aarde

Vol diepte en vol lig;

Hy sien geen vuilswart water

Of modderbodem meer,

Maar in die hart van die aarde

Die hemel omgekeer.

Daar dryf die los wit wolkies

Soos skepe op die see,

Soos op ’n somerlandskap

Verspreide troppe vee.

Hy sien die hoë hemel

So diep daaronder welf,

So rein en ongemete

Soos lig en diepte self.

So is in alle dinge

’n Diepte te ontdek,

Waar suiwre siel van skoonheid

Sig aan die stof onttrek.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 101 / 122 题