STILLE VRIENDE.

Ek hou van stille vriendlikheid,

Van vriendskap sonder woordepraal,

’n Stil vertrek vol innigheid,

Waar sagte gloed van haardvuur straal.

My kamer is maar arm en klein,

Die mure is so skraal versier;

Maar as die son naar binne skyn,

O dan voel ek gelukkig hier.

En meen’ge vriend het ek ontdek,

Wat dienend sonder dank te vra,

Die onsigbre arrems uitgestrek,

My wiegend op die hande dra.

Ek hou van die gemeensaamheid,

Waarmee die dinge my omring,

Wanneer ek saans in eensaamheid

Die lang-lang ure deur moet bring.

Gelukkig hy wat stilte tot

’n Vriend in eensaamheid kan maak;

Hy hoor ’n fluistering van God,

Die teerste wat sy siel kan raak.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 102 / 122 题