KENNIS EN GEVOEL.

O bleke suster-tweeling van die aarde,

Jy bloedloos kind met kille lykgesig,

Wat met die skyn van bange sonnestrale,

Die nagte stil spookagtig wit verlig!

Ons kennis leer jy is ’n dorre wêreld,

Waar nooit die lag van blye lewe was.

Dat jy geen lug kan bied aan vuurge longe;

En nêrens in jou dale groei daar gras.

Jou klowe is die kraters van vulkane,

Wat eenmaal vuur was, koud en bleek soos lood

Nou gaap met angstig-oopgesperde monde,

Maar asemloos soos die verstyfde dood.

Dit leer hul my, o heerlik blanke klaarte,

Wat half die wêreld met jou lag bekoor,

En ’k neem dit aan, gehoorsaam kind van wysheid,

Maar glo nog meer wat my my hart laat hoor.

Ek hoor die lied van ewige bekoring;

Die maan gly voort op silwermelodie

Van honderdduisend tintelende sterre;

Ek hoor die woord van alle poësie!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 100 / 122 题