BEKOORLIK KIND.

Bekoorlik kind! ek weet nie wat dit is

Of hoe dit kom nie; ’k weet alléén maar dit:

Dat ek nog altyd deur jou beeld aanbid

En steeds die tintel van jou oge mis.

Is dit die glans, waarvan ek nimmer wis

Dat dit ’n man so aangryp, altemit?

Of is dit net bekoring? Nee, daar sit

Oneindig veel meer agter dan jy gis.

Dit is die krag, wat digters stil laat staan

Voor al wat lief en skoon is op dees’ aard;

Dit is die Siel, wat so sy wege baan

Van hart tot hart, tot twee aanéén-gepaard

Hul hele lewe sáme verder gaan.....

Lief kind, o maak my lewe lewenswaard!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 84 / 122 题