DIE SEE IS VOL VAN EWIGHEID.

Die see is vol van ewigheid,

van golwedeining op en neer--

tot wiegelwêrelde uitgespreid,

op maat van eindloos kom en keer.

Uit watergraftes diep gedolf,

rys langvergete mensewee;

die winde dra van golf tot golf,

van golf tot kus die treursang mee.

Die see is vol van klaaggeluid,

van stemme wat geen rus kan kry,

van siele wat eeu-in eeu-uit

in smart-herhaling hooploos ly.

Oor waterwydtes om en om

tot marmerrand van verre kus--

ruis daar van oos tot wes, alom,

’n eeuesang van nimmer-rus.

Die golwe kom, die golwe keer,

in vrolike spel van sonne-lus,

in pikswart nag van stormeweer--

en sing hul lied van nimmer-rus.

Daar ’s ewigheid in seegeluid,

in ver gedreun van kus tot kus--

waar golwe wieg eeu-in eeu-uit

op maat van nimmer-nimmer-rus.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 59 / 122 题