O LANDE VOL GRAAN.

Vlakte aan vlakte, oor heuwels heen,

lande vol groen, vol golwende graan!

Breed sprei die sonlig sy stralende seën

oor swellende saad met beloftes belaan.

Aan miljoene, miljoene van buiende blaar

hang die windjie se asem in ruisend gesweef...

hoor die sug van verlange uit die swellende aar,

die stem van die lente wat sê: _ek wil leef!_

Verlange wat groei met die stygende son,

verlange om te ryp tot goudgeel prag--

so sterk soos die drang van ’n borrelende bron,

om te beur uit die aarde na die lig van die dag.

Die stem van die wind oor die halmgekoes,

halms nog groen van jong geluk--

is die siddering van hoop op die somer se oes

as die waens sal kraak van die gerwe se druk.

So ver as my oog oor die buiende blaar

kan wei, staan die grond met groenheid oorlaan;

en my siele wieg mee met jul spelend gebaar--

o belowende, lewende lande vol graan!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 58 / 122 题