DIE VERKLEURMANNETJIE.

Daar op die vyeboom sit die vabond,

So sedig as ’n predikant;

Maar glo tog nie dat hy so vroom is:

Nee, regtig nie, hy is astrant!

As jy hom aanraak, dan verkleur hy:

Geel, rooi, grys, bruin en blou en groen;

En sy hele vel blink soos die skulpies

Se binnekant met perlemoen.

So teemrig sit hy op sy takkie

Die muggies met sy tong te vang,

En met sy ronde oë maak hy

Die spinnekoppe algar bang.

Hy draai sy nek soos ’n toktokkie,

Of soos ’n papie uit die klei,

En kyk so sedig na die vliegies

As hy die goed nie beet kan kry.

Arrie, ek hou van jou, kleurklasie!

Jy gaan jou lewe deur so mooi,

Jy steur jou nie aan wat die mense

So praat of skinder en flikflooi.

Jy steun op niemand nie, kleurklasie,

Net op jou takkie en jou tong:

Verkleur maar môre net soos gister,

En as jy oud word, bly nog jong!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 45 / 122 题