JAPIE.

Vanmôre was Japie nog hier:

Vanaand is hy dood!

Met ’n lag om sy mond het hy bruilof gevier

Met ’n klein brokkie Engelse lood.

Vanmôre was Japie by my:

Vanaand is hy--waar?

As ’n mens maar kan weet waar hy eindlik sal bly,

Wie het dan vir die toekoms gevaar?

Vanmôre was Japie my maat:

Vanaand is hy--wat?

Sal hy nog met my lag, sal hy nog met my praat,

Of my hand in die syne weer vat?

Vanmôre was Japie ’n kind:

Vanaand is hy volleerd!

Ons het baie gestry om die waarheid, ou vrind:

Weet jy nou, wie van ons had verkeerd?

Vanmôre was Japie--nee God!

Hy is nog vir my!

Want die dood kan nie skei nie, al is dit ons lot

Om alleen op die wêreld te bly.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 44 / 122 题