O vaderland, verlate vaderland;
O akkerboom en ranke wit poplier
Wat my ou plaas versier,
Daar deur die voorgeslag geplant,
Nou lomm’ryk oor my vaderhuis;
Koel skadu-takke oor die sluis
Waar na die oes die meulstroom bruis--
Vaarwel, o akkerboom en wit poplier,
Vaarwel, verlate vaderland!
O blomtuin vol met tiemie en blou violet,
O vrugboom-oord en stinkhoutpaal-prieel,
Waarom die bye speel
En heuning haal en brom uit blote pret;
Waar druiwerank geklouter stryk,
Tot boontoe teen die gewel reik
En tussen klimop-rose pryk--
Vaarwel, o vrugboom-oord en ou prieel,
Vaarwel, o tiemie en blou violet.
O ouerhuis met kafhok en met kraal,
O platklipstoep en grasbegroeide brug,
Waar saands die paddas sug,
As in die skemerlig vuurvliegies dwaal,
En die aandblomme oopgaan en die nag
Sy sluier werp oor hierdie plaas se prag,
En oor die wêreld bo die sterre wag--
Vaarwel, o platklipstoep en biesiebrug,
Vaarwel, o huis en kraal!
Ons gaan die wêreld in
’n Nuwe oord te win,
’n Nuwe land te kry
Waar ons kan lewe vry.
Vaarwel, vaarwel, al is geen weersien meer;
Vaarwel, en nog ’n keer:
Vaarwel! vaarwel! vaarwel!