OKTOBERMAAND.

Viooltjies in die voorhuis,

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

Dit is die maand Oktober,

die mooiste, mooiste maand:

Dan is die dag so helder,

so groen is elke aand,

So blou en sonder wolke

die hemel heerlik bo,

So blomtuin-vol van kleure

die asvaal ou Karoo.

Dit is die maand Oktober:

die varkblom is in bloei;

Oor al die seekoeigate

is kafferskuil gegroei;

Die koppies, kort gelede

nog as ’n klip so kaal,

Het nou vir welkomsgroetnis

hul mooiste voorgehaal.

Dit is die maand Oktober:

die akkerboom is groen;

Die bloekoms langs die paaie

is almal nuutgeboen;

En orals in die tuin rond

ruik jy sering en roos,

Jasmyn en katjiepiering,

lemoen en appelkoos.

Al was die dag, soos yster,

lang in die vuur gesteek,

Die varings in die klofies

deur hitte geel verbleek,

Tog as die son daaronder

agter die berge gaan,

Dan word oor heel die wêreld

die mooiste geur geslaan.

Dit is die maand Oktober:

die kokewiet is uit;

Boomsingertjies en kriekies

die hoor jy orals fluit;

Fiskaal is op die oorlog:

daaronder by die sluis,

Daar is ’n dor ou doringboom

sy spens en sy kombuis.

Dit is die maand Oktober:

ek dink, die mense vier

Vir ewig in die hemel

Oktobermaand soos hier!

Wat wens jy meer as blomme,

as helder dag en nag?

Wat kan jy beter, mooier,

of heerliker verwag?

Ek is nog in Oktober:

my tuin is nog so groen,

So wit met al wat mooi is,

met bloeisels van lemoen,

So pragtig in die môre,

so heerlik in die aand!

Ek is nog in Oktober,

die mooiste, mooiste maand!

Wat gee ek om die winter?

Wat praat jy nou van Mei?

Wat skeel dit as ons later

weer donker dae kry?

Ek is nou in Oktober,

die mooiste, mooiste maand

Met elke dag so helder,

so pragtig elke aand!

Viooltjies in die voorhuis,

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 40 / 122 题