DIE STERRETJIE.

Goei nawend my sterretjie

met jou vrindelike groet;

jou weer te sien skitter

doen my harte so goed!

Ek staan net maar op

van my lampe-liggie,

en daar kyk ek verras

in jou kindergesiggie.

My kleintjies lê binne

in hul droompies al:

ek was bang dat die ryp

in hul ogies sou val.

Met wangetjies rond

lê die slapende bloedjies

glimlaggend te droom

van hul spelegoedjies.

En jy speel maar hierbuite

in die winternag!

En kom my nog teë

met jou olike lag!

Jy weet van geen nag,

geen koue of vrese,-

klein ligtende, laggende,

klein hemelse wese!

Jy speel in die nag

om die aard te verbly;

in my donkere berowing

kom jy laggend tot my.

En is dit my netnou hierbuite te koud,

dan vlug ek geswind weer na binne;

maar jy bly, ongesien, nog skitter daarbo

aan die hoë, hemelse tinne!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 33 / 122 题