DAAR RUIS ’N LIED.

Daar ruis ’n lied van lang verlee,

en stemme singend kom van ver;

en immer ruis my siele mee

met stemmelied van lang verlee--

uit d’ eeue her.

Daar ruis ’n lied van lang verlee

wanneer die wind so sag verrys;

en immer, buigend na benee,

die bometop sing klaaglik mee

eenselfde wys.

Daar ruis ’n lied van lang verlee

in d’ oseaan se maatgesang;

en immer ruis die skulpies mee

met d’eeuelied van grote see--

diep opgevang.

Og, kon ek sing van lang verlee

gelyk die skulpies so getrou,

wat opgegaar, nog kleinlik gee

die weerklank van ’n wêreldsee--

by d’ oor gehou.

Og, kon ek sing van lang verlee

gelyk die dentak hoog in top,

wat daar sy naaldjies klein-verbree,

opdat die wind sy oue wee

kan klaag daarop!

O, kom tot my uit lang verlee,

sangstemme, kom uit droomgebied,

deurruis my siel soos awendbee

van westewind, soos verre see

se golwelied!

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 31 / 122 题