DIT IS NAG.

Dit is nag, stille nag,

en ’n moeder hou wag,

waar ’n kindjie teer lê te sterf--

net ’n flou-floue sug

in die ruim-ruime lug,

en ’n sieltjie het weggeswerf.

En agter die huis

vlieg met woeste gedruis

die snorkende spoortrein verby;

en die nag die dreun

van sy wilde gesteun,

soos hy voort op die ysters gly.

O die tedere krag

van ’n kind, wat so sag

en so stil weer die wêreld ontstyg;

O die moeder alleen

in haar bitter geween,

as die nag op haar smeekstem swyg!

O die woeste geweld

van die trein oor die veld,

waar die moeder allenig treur;

die hemel en aard

weergalm van sy vaart,

wat die wêreld in tweë skeur.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 30 / 122 题