Hoe rustig stap hy aan
die edel jukgediert!
hoe waggel hy die kop
met horings swaar gesierd
en stewig ingestrop!
Hoe rustig stap hy aan
so sonder tuiggetooi,
met matte dowwe plof;
sy vel trek plooi op plooi
rondom die breë skof.
So stap hy rustig aan
vol kalme majesteit
en ongesmukte prag--
beeld van stilswyendheid
ên selfbewuste krag.
Steeds stap hy rustig aan
met rustelose drang,
by kou en sonnegloed;
maar snags versnel sy gang
om dagversuim te boet.
Nog stap hy rustig aan
as dae kommervol
laat bleek en krul sy gras;
hy skeer die hardste pol
en suip die modderplas.
Stap, stap dan rustig aan
en deel die trekkerslot;
die skaarste en owervloed,
daar in die land, waar God
ook is vir osse goed!