VERGEWE EN VERGEET.

Dat gij niet vergeet de dingen die

uwe ogen gezien hebben.

Deut. 4:9.

Daar het ’n doringboompie

vlak by die pad gestaan,

waar lange ossespanne

met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges

’n ossewa verby,

wat met sy sware wiele

dwars-oor die boompie ry.

„Jy het mos doringstruikie,

my ander dag gekrap;

en daarom het my wiele

jou kroontjie plat getrap.”

Die ossewa verdwyn weer

agter ’n heuweltop,

en langsaam buig die boompie

sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;

sy bassies was geskeur;

op een plek was die stammetjie

so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie

weer stadig reggekom,

want oor sy wonde druppel

die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare

die wonde weggewis--

net een plek bly ’n teken,

wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer

as jare kom en gaan,

maar daardie merk word groter

en groei maar aldeur aan.

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 25 / 122 题