Er is het geklap der zweep, en het
gehuil van het bulderen der raderen.
Nah. 3:2.
Hoor hoe sing ek my lied as die osse so stap
langs die wyd-ope veld, waar die voorslag-punt klap,
waar ’n wonder van stilte my alkant omsweef
as ek rustloos-alleen langs my grootpad bly streef;
ja daar vér in die veld, dáár word ek gehoor,
waar g’n straatklank my klinkende stem kom verstoor;
en ek sing met geweldige kiem my geluid
oor die luistrende vlak van die graslaagtes uit.
Op my lied was die bruigom so wonderlik trots
as my wiele wegrammel oor kliprug en rots;
as die seekoeivel-sweep, wat die rooispan bestryk,
in sy hande verrys om na vore te kyk;
of straks skielik weer daal, op my welvaart bedag,
om die veld te deurdreun met ’n knallende slag,
waar die osse van beef en my wiele van raas,
wyl die bruigom meteen op die kettingtou blaas.
Ons drieklank, verenig in innige band,
was die skone gesang in die trekker se land,
toe ons saam het getrek, die land in gesig,
waar ek, troue gesél, hom sy taak sou verlig.
Voor ’n wiel het kon rol in die wêreld nog wild,
het my klank die gebrul van die leeue gestild;
en ek het al gejubel met vorstelike lied
toe g’n pad was gebaan in die woeste verskiet.
Toe g’n huis nog die trekker se kroos kon beskut,
was my tent vir die kleintjies ’n veilige hut,
wat by nagtelike tog met gewieg en gesus
hulle sag het laat sluimer in salige rus.
Ja ek het met die trekker my singend verbly,
of in rampe met klaagtoon sy psalm begely.
In die stryd met Dingaan, as sy siel werd geskeur,
het my troostende stem weer sy moed opgebeur,
en ek het uit die dieptes hom weer uitgevoer
na geweste van rus vir die swerwende boer.
Maar nou val weer my lot in ’n dag van veel kwaad,
want die trekker se seun het sy plaas moet verlaat,
en ek, arme, nog lewend, het agtergebly
om weer saam met sy vrou en sy kinders te ly.
Maar my stem is nou hees en my klank is verdof
na die jare van worstling met sonbrand en stof,
en my kranke geluid word weemoedig gesmoor
deur ’n nare geklaag uit my tentjie gehoor.
Want ek rol, ek en honderde waens met my,
na die plek waar die vrouens en kinders gaan ly.