MA EN PIETJIE.

Dis moeder Makou en haar kleine Piet.

As jy nader kom, dat sy dit siet,

dan lig sy haar kop en kyk vir jou

asof sy vra: „Wat is dit nou?

Wil jy Pietjie hê, wil jy Pietjie steel--

my liewe klein bolletjie goud-ferweel?”

En sy sê met haar omdraai en skuddend haar stert:

„Nee, die hele wêreld is Pietjie nie werd!

Kom, ons loop.” En hy volg haar in trippeldraf klein

op sy sagte voetjies van geel satyn.

As sy waak, sit hy slaap, onbewus van haar angs,

of hy trippel rond op ’n goggatjies-vangs,

pik mis en te laat na ’n motjie wat vlug,

en struikel onhandig en val op sy rug.

Die wêreld daarbuite mag staan of mag val,

ons erf is, vir Pietjie en Ma, die heelal,

want Ma het vir Pietjie en Piet het vir Ma,--

daar ’s niks wat hul meer van hul daggie vra

dan, totdat hul daggie word opgesê,

net lief te hê, net lief te hê.

TOTIUS

(Dr. J. D. DU TOIT).

Digters uit Suid-Afrika Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging · 第 23 / 122 题