aangedoen het, ook dat Dageraad haar met die asgaai wou doodgegooi
het. Toe kook Wolf se bloed van boosaardigheid. Hij neem daar en dan
'n besluit om Dageraad dood te maak.
Hij stap in die nag na die plek waar Dageraad slaap, en pak hom. Hij
vermoor hom en begin hom af te slag. Maar net toe hij die liggaam
oopsnij, vlie die skitterende Hart daaruit en trek in die lug op,
en het van toe af die Môrester geword. Dis toe dat hij sij vrouw,
kinders en kleinkinders kom haal het, om bij hom aan die sonop kant
van die lug te woon. Dog die groot blink Môrester moet ons verstaan,
is die Hart van Dageraad.
NO. 22
DIE AANDSTER IS DIE OOG VAN AANDSKEMERING.
OPMERKINGS:--Hierdie Storie het ons eenmaal hoor vertel, en wel
op die plaas Zoovoorbij, langs Hantamrivier, dist. Calvinia. Daar
was een aand in 1881 'n Boesman-danspartijtjie, toe het een van
die outas sij talent in storie-vertel laat hoor.
Die twee seuns van die Son, Dageraad en Aandskemering, het van hulle
jong dae af al nie met mekaar kon klaarkom nie. As kinders, het hulle
altijd getwis en nie bijmekaar wou slaap nie. Dageraad se werk het
met dagbreek tot sonuit geduur, en hij het nie sulke goeie oë gehad
nie--dus het hij gewoonlik saands vroeg gaan slaap. As hij in die
nag opblij, dan moet daar 'n groot vuur wees om vir hom lig te maak.
Maar Aandskemering het twee groot oë gehad, wat in die donker nes
twee vlamme vuur blink. Sij werk het met sononder begin en geduur tot
donker; dan rinkink hij in die nag, of gaan jag en kos soek. Daar hij
glad niks van sij broer, Dageraad, gehou het nie, was sij eerste werk
om sij vader, die Son, in sij bed te sit en dan kos en water vir sij
moeggeloopte vader te gee. Dan gaan hij die blouw lug, wat Dageraad
in die oggend uitgehang het, afpluk, sodat die Sterretjies weer kans
kan krij om aan die hemel te flikker en skitter.
Een oggend, toe Aandskemering van sij jag huiswaarts keer, en Dageraad
gereedmaak om lig te maak--dus net met die begin van dagbreek--,
ontmoet die twee broers en begin somaar uit die staanspoor te
twis. Hulle pak mekaar en slaan vuis. Dageraad grijp sand en stof en
wou dié in die groot oë van Aandskemering gooi--dog dit was mis. Toe
roep Dageraad uit: "Hierdie sand en stof sal Muskiete en Muggies
word, om jou saands en snags te bijt." Aandskemering, nie links nie,
grijp water, om in die nouw ogies van Dageraad te gooi--en ook dit
was mis. Toe roep hij uit: "Dit sal Douw word, om jou pad vir jou
soggends nat te maak!"
Deur Dageraad nie sulke goeie oë gehad het nie, kan almaal wat in die
oggendskemering rondloop, ook nie so goed sien nie, terwijl, aan die
anderkant, Aandskemering groot oë gehad het; daarom kan algaar beter
in die aand as grouw voor dag sien.
Wolf se dogter, wat so verlief was op Dageraad en hom nie as haar man
kon krij nie, het tog man gekrij; maar spoedig was sij weduwee deur
die sterfte van haar man. Sij word nog meer verlief op Aandskemering,
die ander broer.
Maar Aandskemering het al 'n ander mooi meisie, met groot oë, vir
hom uitgekies en was met haar getrouwd.
Wolf se dogter gaan weer na haar vader, Wolf, toe, om sij raad te vra,
en versoek hom om hierdie slag tog beter raad te gee as die laaste
keer met Dageraad. Die ou krap sij kop 'n rukkie en dink diep. Hij
gee daardie dink op en roep uit: "Loop vra vir jouw ma."
Sij stap na haar ma, wat meer kennis van sulke sake het as haar pa,
en vra haar om raad.
"Kijk, mij kind, jij is 'n weduwee; jouw man en kindjie is
dood. Aandskemering en sij vrouw het ook 'n kindjie, na wie hulle
baie gek is. Ek sal jou raai om daardie kindjie te gaan steel; en vind
Aandskemering later uit dat jij die kind het, sal hij jou trouw--net
terwille van die kind. Maar voor jij gaan, laat ek jou worteltjies
gee om die ouers van die kind te toor."
Wolf se dogter vat die worteltjies, maal dié fijn en stap daarmee
weg. Bij Aandskemering se huis staan net 'n pot op die vuur te
kook. Dit was skemeraand toe sij daar aankom, en Aandskemering was toe
nog nie thuis nie. Wolf se dogter, toe sij bij die vuur verbij kom,
roep uit: "A, watter kos kook julle vanaand? Ek het die ruik daarvan
al ver kon snuiwe."
Sij maak of sij die kos in die pot omroer, en met hierdie geleentheid
gooi sij skelmpies die toorgoed daarin.
Aandskemering het laat weggeblij. Sij vrouw het honger gekrij en begin
te eet. Intussen steel Wolf se dogter die kind, wat aan slaap geraak
het, en vlug daarmee. Want die moeder het ook vas in die slaap geval.
Toe Aandskemering die nag thuis kom, lê sij vrouw, tot sij
verwondering, vas in die slaap--dis mos iets wat sij in die dag moet
doen. Hij maak haar wakker; maar sij was glad deurmekaar. Hulle soek
die kind, maar vind dit nêrens nie. Want die moeder haar geheue het
verlore geraak, en sij kon niks vertel nie.
Die vader, bij hierdie tijd, het ook honger gehad. Hij wou van die kos
in die pot eet; maar dit het ook bij hierdie tijd bitter geword. Toe
vind hij uit dat die kos betower was. Hij gaan gouw sij eie worteltjies
grawe en eet dié; en bring daarvan ook aan sij vrouw. Sij kouw net
effentjies daaraan, word 'n bietjie reg, maar word bang, en wou nie
meer daarvan eet nie. Al wat sij toe kan herinner, is haar kind,
en dat 'n dier bij haar was. Maar sij verbeel haar dat daardie dier
'n groot Muis was. Sij word toe so venijnig op Muise dat sij hulle
vermoor waar sij hulle krij. Dog sij self verander langsaam in die
gedaante van 'n Uil. Net soos haar man, Aandskemering, skemerlig maak,
dan ontwaak sij, vlie weg om die Muise te vermoor en dan op die tak
van 'n boom te gaan sit om hoe-hoo, hoe-hoo oor haar kind te huil.
Toe Wolf se dogter dit alles bemerk, toe begrijp sij dat dit nou haar
tijd is om haar lijf na haar beminde, Aandskemering, aan te bring;
en sij kom met die kind agter haar rug aangestap. Dadelik herken die
kind sij vader, steek sij armpies na hom huilend uit; dog sij moeder,
wat in 'n Uil verander is, ken hij glad nie meer nie. Sij vader neem
hom in sij arms, dog die kind het ook verander, sodat sij vader hom
nie as sij eie kind kon eien nie. En terwille van die kind, wat hom
gedurig omhels en pa-pa noem, neem hij ook Wolf se dogter tot vrouw,
wat nou te danig verlieferig op hom is.
Kort daarop kom teen die aand 'n Hamerkopvoël aangevlie. Nou 'n
Hamerkop is 'n voël wat alles in die water kan sien wat gebeur; want
alles spieël hul in die water af. Daardie Hamerkop het oor die hut
van Aandskemering gevlie, waarin die famielie van Aandskemering sit
en gesels. Hij roep toe vir Uil, wat so treurig oor haar kind kerm;
en haar man, Aandskemering, stap saam.
Wolf se dogter sit in die hut luister hoe Hamerkop alles vertel hoe
sij die famielie betower het. Sij grijp die kind en vlug met hom op
haar rug weg. Toe hierdie bedrog ontdek word, word Aandskemering
so boos dat hij sij pijl en boog grijp om Wolf se dogter dood te
skiet. Maar hij was te laat--sij het reeds weggevlug.
Hij agtervolg haar tot bij Wolf se huis en skop daar toe 'n bombarie
op. Maar Wolf bring hom, na baie redeneer te hê, tot bedaring, en sê:
"Aandskemering, kom stap saam met mij na daardie klipkrans toe, en
ek sal jou daar wijs dat jouw vrouw en kind daar fris en gesond sit
en op jou wag."
Die twee stap saam, en toe hul op die rantjie van die afgrond staan,
stoot Wolf vir Aandskemering die afgrond af. Aandskemering val daar
onder. Een van sij blink oë bars op die plek, dog die ander vlie in
die lug op en word toe die groot blink Aandster.
Die kindjie treur en treur oor sij ouers en wil nou nie meer tevrede
bij Wolf se dogter wees nie. Hij het weggekwijn, tot hij 'n IJstervark
geword het, wat uitkom as dit skemeraand word en sorg om voor dagbreek
in die klipskeur thuis te wees. Uil sit nou nog te kerm oor haar kind,
terwijl Wolf nog al aande vir Aandskemering agter die westerantjie
die afgrond instort.
NO. 23
DAMPERTJIE EN SPUITERTJIE SKIET MET WEERLIG.
OPMERKINGS:--Dampertjie is 'n swart-blouw Goggatjie met
'n langwerpige ronde lijf. As hij aangeroer word dan slaan
daar 'n swart-blouw damp uit sij lijf. Spuitertjie is 'n vaal
langwerpige plat Gogga--hulle stap gewoonlik twee bij mekaar. Sodra
hij aangeroer word, dan spuit daar gewoonlik 'n helder straal
vloeistof uit sij lijf, wat vreeslik in die oë brand. In hierdie
Storie word 'n ander verhaal gegee hoe wolke ontstaan het; ook kom
die Boesman-bijgeloof uit dat swart weerlig doodslaan en nie die
blink weerlig nie. Die rijm-gedeelte het ons 'n bietjie verbeter,
daar die verteller dit uit Boesmans aan ons vertaal het.
Toe die Son nog 'n Mens van die ougeslag was en rondgeloop het, het
sij maters hom vermoor. 'n Ander man het 'n entjie daarvandaan op
'n miershoop gesit en het die hele moord aanskouw. Hij het gesien dat
Wolkop (of Wolkkop) die aanvoerder van die moordenaars was. Ook het
hij gesien hoe Wolkop se vrouw en ander meide hulle kinders gestuur
het om die kop van die Son in die lug te gooi. Na dit was hul gerus.
Toe eers gewaar Wolkop dat die ander man dit alles gesit en aankijk
het. Wolkop stap na die man toe en sê: "Hoor, as jij gaan vertel
wie die Son vermoor het, dan vang ons jou en snij jou lewendig aan
touwtjies vleis! Jij maak jouw mond nie oop nie."
Die man was maar van die bang soort en hij belowe hand en mond om
met niemand daaroor te praat nie.
Maar die moordgeheim kwel hom daarna baie, en hij voel, as hij dit nie
vertel nie, dat sij hart sal bars, en dat die spokerij snags nie bij
hom sal ophou nie. Dog aan die anderkant was hij bang om in touwtjies,
so lewendig-lewendig, gesnij te word. Daarom maak hij liewers sij
mond nie oop nie, en maak vir hom sulke kos wat hij tussen sij lippe
kan opsuie.
'n Ou Towenaar kom bij hom en praat met hom; maar die man wou geen
antwoord gee nie--te bang om sij mond oop te maak dat die geheim sal
uitvlug en bekend word.
Die ou Towenaar sê daarop: "As jij nie jouw gedagte uitpraat nie,
dan sal jouw hart bars, en jij sal op die plek doodval."
Die man voel dit, dog hij was te bang om aan vleistouwtjies gesnij
te word; hij gee nog geen antwoord nie en stap weg.
Hij voel sij hart swel, en die sweet tap hom af. Hij kom bij 'n ou
erdvarkgat, hij staan te dink, hij maak die bek van die gat toe,
en laat net 'n klein gaatjie oop; daarin praat hij hierdie woorde:
"Dis Wolkop, die vabond;
Dis Wolkop en maters;
Ook Wolkop se kinders,
Wat kwaad doen en stil blij--
Dis hulle!"
"Ek praat nou maar reguit:
Ek het dit gesien, ja;
Maar moet mij bek hou, of
Hul snij mij aan riempies--
Sê hulle!
"Maar hou ek mij bek toe,
Dan bars mij ou hartsak.
Nou hoor hier: Die Sonman
Het hulle gemartel--
Dis hulle!"
Voor die woorde kon uitkom, prop hij die gaatjie toe, en die woorde
blij binne in die geslote erdvarkgat. Toe was daardie man nie meer
bang om sij mond oop te maak, lekker te eet en na hartelus te gaap nie.
'n Ruk daarna hardloop 'n klomp gemsbokke oor die gat; een van die
bokke trap met sij poot 'n gat deur tot in die groot gat, en toe
kom daar 'n swart-blouw damp deur die deurtrapplek. Die damp was die
woorde wat al vermuf het. 'n Lewerkie wat daar nabij was, gaan kijk;
en toe hoor hij van daardie woorde wie aanvoerder van die moordenaars
van die ouman, die Son, was. Ewe blij vlie hij op in die lug, dartel
rond en herhaal wat hij gehoor het--iets wat hij nou nog soggends doen
om in die lug met vrolike gesang die boodskap aan die Son te bring.
Die ou Towenaar, wat 'n stokoud broer van die Son is, luister na
die woorde wat die Lewerkie sing, en hij stap reguit na die man
toe wat daardie woorde in die erdvarkgat toegeprop het, en hij vra:
"Hoekom het jij vir jou doofstom aangestel toe ek die ander dag met
jou gepraat het? Nou, omdat jij die kwaad verberg het, sal jij in 'n
Swart Goggatjie verander. Op die warm sand, wat die Son geskroei het,
sal jij trap om jouw pote te brand. En daardie woorde, wat in die
erdvarkgat vermuf het, sal 'n damp wees wat uit jouw lijf sal slaan."
En die man verander op die plek in 'n Gogga, wat ons 'n Dampertjie
noem.
Dampertjie se suster, wat naas hom gesit het, huil en gaan tekeer en
wou die Towenaar met sand of klippe gooi; dog hij verander haar ook in
'n Dampertjie, wat toe bij haar broer woon.
Dadelik stap die ou Towenaar na Wolkop toe en vra hom waarom hij en
sij maters die Son gemartel en vermoor het. Wolkop wou nog strij; maar
toe die ou Towenaar sij aandag tot die lied van die Lewerkie trek,
hoor hij dat die voëltjie sing dat dit die woorde van Dampertjie is;
en hij kon nie meer strij nie.
Toe sê die ou Towenaar teen Wolkop: "Jou sal ek ook in 'n Gogga
verander; die pijle waarmee jij mij ou broer, die Son, geskiet het,
sal nou in water verander, wat soos vuur sal brand. Voortaan sal jij
die Spuitertjie-Gogga wees, wat ook op die hete sand sal rondhol,
wat die Son so warm geskroei het." Van toe af word Wolkop die
Spuitertjie-Gogga.
Spuitertjie was nou baie boos op Dampertjie en soek nou net een streek
deur om hom, waar hij hom krij, dood te maak. In die veld krij hij
Dampertjie se suster; hij steel haar en vlug ver met haar weg.
Dampertjie het orals na sij suster rond gesoek, dog kon haar nie
vind nie. Eindelik ontmoet hij vir Hotnotsgod, en dié vertel hom
dat Spuitertjie haar gesteel en met haar gevlug het. Dampertjie was
boos, en hij stap na die plek waar sij suster sit en treur. Hij vind
haar, vat haar hand, en broer en suster vlug weer terug. Sij grijp
Spuitertjie se knapsak, waarin hij die brandwater opberg, hang dit
om haar hals, en draf naas haar broer, en die twee loop wat hul
geleer het.
Spuitertjie ontdek die vlugterij gouw. Hij hol allangs die maanhaar
van 'n rantjie, vanwaar hij Dampertjie en sij suster mooi in die
vlakte kan herken. Hij maak wit donderwolke; want waar Dampertjie
vlug, het hij weer swart donderwolke gemaak. Spuitertjie skiet uit
die wit wolke met blink weerlig, dog Dampertjie sê aan sij suster:
"Moenie bang word nie; kom loop aan die ander kant van mij, dan kan
hij jou nie raak nie." Dampie skerm die weerligstraal weg. Die sak
met die brandwater skommel in die knapsak en ruk en pluk die suster
in haar drafstap rond.
Dampertjie kon vir Spuitertjie daar op die rantjie, en tussen die
klippe, nie goed beken nie; daarom kon hij nie raakskote met sij swart
weerlig skiet nie; dog hij peil op die plek waar die wit lig vandaan
kom. Hulle vlug en vlug haastiger. Spuitertjie kom en kom, en blij
hol langs die maanhaar van die rantjie, dan voor, dan agter die klippe.
Hij skiet weer blink weerlig, dog Dampertjie skerm dit met sij arm af,
en gooi weer van die swart weerlig na Spuitertjie se kant toe. Hij
moedig sij suster aan om gouw te loop.
Eindelik sien hij vir Spuitertjie bo teen die lug op die rantjie staan,
hij skiet 'n swart weerligstraal op hom af. Raak! Spuitertjie val en
skop met sij voete op die grond: die gedreun daarvan is die gerommel
van die donderweer.
Dampertjie moedig sij suster steeds aan om flink aan te draf. Die
wit wolke pak swaar op die rantjie, waar Spuitertjie lê en skop. Die
gedreun rommel hard. Die swart wolke pak dik bokant en om Dampertjie
en sij suster, wat nou eers hard vlug, solank Spuitertjie magteloos
op die grond lê dreunings skop.
Hulle was toe al nabij die huis. Hulle drafstap slaan oor in hardloop;
want Dampertjie soek nou na doktersgoed, daar die slaan van die wit
weerlig teen sij lijf en kop hom hoofpijn gegee het.
Sij suster het toe vir hom gedokter; want sij was blij om weer thuis
te wees. En Spuitertjie het nooit weer tot verhaal gekom om hulle
gedurig te pla nie.
Die Boesmans sê: Die swart weerlig maak geen geraas nie en slaan dood;
dog die blink weerlig maak wel 'n geraas, maar slaan nie dood nie.
NO. 24
DIE DIERE VRA OM KOS EN WATER.
OPMERKINGS:--Sommige van die Geeste-Stories van Boesmans is nogal
heel mooi opgestel; dog vir kinders, wat alte graag daarna luister,
vind die ouers dit nie so doeltreffend as gewone stories nie;
so het ons goed gevind om sulke verhaaltjies te onderdruk, en
waar hul nogal op die toneel verskijn, met hul so min kennis te
maak as moontlik; dog dié soort stories staan in nouw verbinding
met Boesmangodeleer. Die geestegedeelte van hierdie storie is
onderdruk--dus lees maar voort.
Dis lig te begrijp dat storievertellers nie altijd met mekaar
raadpleeg nie: vandaar verskeie verklarings van dieselfde
geskiedenis. So krij ons hier ander verklarings as in die
allereerste verhale.
Toe die Diere en ook die Mense gemaak was, het hulle nie kos en water
gehad nie. Toe moet die een Dier die ander se vleis eet en sij bloed
drink. Maar dit gee 'n uitroeierij onder hulle af; dog wat anders kon
hul doen? Hulle huil toe oor hulle toestand en soek om verbetering. 'n
Baie groot Olifant, wat so groot is dat hij oor 'n rantjie of koppie
kan sien, praat toe en sê: "As ek dood is, sal ek dit baie lekkerder hê
as nou. Dan is ek 'n groot Gees, wat geen kos en water nodig het nie;
want Geeste eet en drink nie; en as ek 'n Gees is, sal ek vir julle
algaar sôre. Mij bene sal ek laat bome word, wat vrugte vir julle
kan lewer; mij senings sal plante word, wat op die grond rank en vir
julle waterige waatlemoene en wilde komkommers dra, en mij hare sal
op die grond groei en gras word. Dan sal julle oorgenoeg kos hê."
Die Diere vra: "Hoelank gaan jij nog lewe? En hoelank moet ons nog
wag? Want 'n Olifant word baie oud."
Hij antwoord: "Hoelank ek gaan lewe, weet ek nie. Al wat julle te
doen het, is: julle moet julle tijd afwag."
Daarop vra die Diere weer: "Waar krij ons water om te drink?"
Hierop gee die groot ou Slang, met die blink steen op sij kop,
antwoord: "So gek om dood te gaan, is ek nie; maar ek sal oor 'n plan
nadink om water te maak. As ek dood is, kan ek dit nie doen nie."
Van al die Diere wat sterk genoeg is om die groot Olifant dood te
maak, is die groot Slang met die blink steen op sij kop die enigste;
want hij is nie alleen baie sterk nie, maar daarbij ook baie giftig.
Daardie groot Slang roep toe uit: "Groot Olifant, jij het jouw eie
vonnis uitgespreek. Jij moet woord hou! Op die plek moet jij dood,
dan sal jij en ons algaar gelukkiger wees as nou."
Hierop maak die groot Slang 'n aanval op die groot Olifant, en bijt
hom met sij gif dood. Toe het al die Diere vereers genoeg kos en
drank aan die vleis en bloed van die Olifant. Dieselfde aand sien die
Diere die groot Gees van die Olifant, met twee groot vurige oë en bek,
rondstap; maar die Gees stap weg en doen vir hulle niks nie.
So het hij aand vir aand kom kijk na sij aas, waaraan die Diere eet
tot daar glad niks meer oorgeblij het nie as net die bene, senings
en hare. Toe praat die Gees met die bene, die senings en hare, dat
hul bome, rankplante en gras moet word, wat kos aan die Diere moet
verskaf, en dat hul hulle eie sade moet dra, om hulle self verder
voort te plant.
Toe kom daar bome, rankplante en gras.
Maar daar was toe nog geen water nie. Hiervoor het die groot Slang
mos belowe om te sorg. Hieroor spreek die Diere toe die groot Slang
aan en vra hom waarom hij nog langer versuim om water te maak.
Op die plek kruip hij onder die grond en maak toe die onderaardse
waters, wat in fonteine staan of uitborrel.
Die gras en bome langs die fonteinplekke groei toe welig en geil;
maar die plante op die berge en vlaktes kwijn, verlep en verdor. Toe
huil daardie plante en soebat die Sterretjies en Maan om tog van
hulle water snags op die bome, rankplante en gras uit te giet.
Maar die Maan en Sterre antwoord dat hul net genoeg water vir hulle
eie gebruik het, en daarvan nie kan spaar nie.
Daarop huil die plante wat op die berge en vlaktes groei. Die plante
aan die waterbronne huil ook saam oor die lot van hulle broers en
susters. Hierdie rouwgekerm was te veel vir die Maan en Sterre,
wat toe ook met die dorstiges bitterlik saamhuil; en hulle trane val
snags in druppels op die blare van die plante, sodat hulle soggends
nat gedouw is.
Die geval nou is: Die Diere het genoeg drinkwater bij die fonteine,
wat deur die groot Waterslang gemaak is; ook die plante wat bij die
fonteinplekke groei het volop water; maar die berge en vlaktes is
droog en dor. Dan kom daarbij nog: Die sonstrale is warm en dorstig,
en die wind is dor en ook dorstig; daarom lek daardie sonstrale en
wind die douwtrane soggends vroeg op.
Daar was 'n groot Bees, wat baie graag gras geëet het, en hij kon nie
genoeg daarvan krij om te eet nie. Hij sê toe dat hij reën sal maak om
orals op die velde te laat uitstort. Hij neem van die waters van die
fonteine en gooi dit in die lug. Hij stap van fontein na fontein en
smijt water in die lug. Die winde kom van ver af en drijwe al daardie
waters bo in die lug saam om wolke te vorm; dan vervoer hij die wolke,
wat reën uitskud, oor die velde; en so het die eerste reëns ontstaan.
Later, as daar droogte oor die land kom, word daardie Reënbees
rondgelei om die plekke te wijs waar dit droog is. Die plekke wat hul
hom nie kom wijs nie, blij droog tot hul hom eendag daardie plekke
gaan wijs.
Van toe af was daar genoeg kos en water vir al die Diere.
Maar partij Diere was te moorddadig en wederstrewig en kon nie ophou
om te moor en te verslind nie. Hulle wou glad nie veldvrugte en gras
eet nie. Leeuw, Tier, Wolf, die Wildekatte, Valk, Uil en nog baie
ander het tot daardie klas behoort, om niks anders as vleis te wil eet
nie. Aasvoël het gesê hij is met die aas van die dooie Diere tevrede.
En so bestaan die wêreld vandag nog: Die een leef van die ander,
en sonder die ander kan die een nie bestaan nie.
NO. 25
BOESMAN-GEBEDE.
OPMERKINGS:--Die Boesmans is deeglik bewus daarvan dat daar hoër
Magte oor Mens en Bees geplaas is. Waar die Magte hul huisves,
is nie so 'n duidelik uitgemaakte saak bij hulle nie. Maar die
Son, die Maan, die Sterre en denkbeeldige Geeste of Diere besit,
volgens hulle beskouwing, sulke mag. Daarom wend die Boesmans
hul om hulp en leiding na daardie hemelbolle of na skeppings van
hulle eie gedagtes. 'n Boesman besit 'n groter godsdienssin as
bijvoorbeeld die Kaffers. Hij ken 'n Opperwese onder 'n bepaalde
naam: die Kaffer het nie so 'n woord as GOD in sij taal nie. Albei
rasse glo in die opstanding van die Dode; maar van 'n bepaalde
Hemel of Paradijs of Hel het hul geen begrip nie. Hulle saligheid
bestaan uit oorvloed en voorspoed, hulle straf uit honger,
verdriet en verdrukking.
Die winternagte is koud en lank. As 'n getrouwe vader moet die Boesman
vir vleis vir sij vrouw en kinders sorg en moet reeds soggends, bij
skaarste van Wild, vroeg uitkruip om te gaan jag; die meid met haar
kinders gaan soms onbeskermd veldkos in die vorm van vrugte, wortels
en uintjies soek. Daarom is hulle blij as die Son uitkom om hulle warm
te maak, sodat die daaglikse laste vir hulle nie so swaar word nie.
As die Son uitkom na 'n bitter koue en hongerige nag, dan draai die
vader of moeder hulle gesigte, met die hande voor die oë, na die
oprijsende Son; en partijkeer sê hul aan hulle kinders om dit ook te
doen. Dan roep hij of sij uit: "O, Son, ek is so blij om jou weer
volmaak terug te sien en opstaan om jouw werk, sonder moegword, te
aanvaar. Maak mij net so sterk as jij, dat, as ek agter die wild jag,
ek nie moeg, honger en dors krij nie. Jouw gesig blink van warmte: mij
tande kletter van die koue. Jouw gesig blink, omdat jij dit volop het:
mij gesig is verrimpel van koue, honger en dors. Skink mij van jouw
oorvloed. Gooi na mij daardie orige kos wat jij nie nodig het nie. Gee
mij van jouw warmte dat ek nie hoef te verkluim nie. Vat mij arm, as
ek na wild skiet, dat mij pijl die wildding mag tref. Dink daaraan:
Jij het volop: ek en mij famielie lij baie dae knaende honger."
Daarop gaan hul vleitig aan jag. As die Son te warm gedurende die
dag word, smeek hul om verligting en koelte.
Gaan die Son die aand onder, en lê 'n nag met koue en honger voor
hulle, dan draai hul weer hulle gesigte, met hande voor die oë, na
die verdwijnende Son en smeek: "Weer is 'n dag verbij, en ons mae is
nog honger, en die koue begin weer om aan ons uitgeteerde liggame
te kouw en vreet. Die Leeuw is skaam vir jou, die Tier is bang vir
jou, en die Wolf is skuw vir jou. As jij ons verlaat, dan staan hul
van hulle lêplekke op, om vir ons met ons vrouwe en kinders op te
vreet. Blij bij ons, om ons warmte en beskerming te gee. Maar as jij
moet gaan, blij dan tog asseblief nie so danig lank weg nie. Kom gouw;
want sonder jou wil ons nie alleen wees nie."